Atterbury Trust Nuusbrief
April/Mei 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

“Klein is groot”

 

Dit was die tema van die 2016 Cool Capital guerilla DIY biënnale. Vandat Pieter Mathews en sy Cool Capital-span ons hier by Atterbury Trust in 2014 genader het om betrokke te raak by hierdie wonderlike burgerlike inisiatief, staan ons bankvas agter Pretoria en sy kreatiewe mense. Veral by die skole en skeppende leerders van Pretoria.

 
Die wêreldklas Cool Capital tydskrif, wat die uitkomste van die tweede Cool Capital biënnale op ’n kreatiewe wyse dokumenteer, is op Menseregtedag in die Atterbury Teater vrygestel. ’n Aantal kortfilms wat die hoogtepunte van die verskillende projekte vasvang, is ook in die teater vertoon. Ook die Saadjies miniatuur beeldhouwerke wat al in Venesië, Amsterdam, Stellenbosch en Richmond te siene was, is tydens die geleentheid in die foyer van die Atterbury Teater uitgestal.
Pretoria en sy mense het weer nie teleurgestel nie. Bykans 400 geïnspireerde Pretorianers het die geleentheid bygewoon en almal was dit eens dat Pretoria werklik die coolste stad is! Ook dat Pretoria maar die titel van “Beeldhouhoofstad van Suid-Afrika” met trots kan dra.
 
Pretoria se mense, soos Suid-Afrika se mense in die breë, stel nooit teleur as dit by innovasie, kreatiwiteit en saamstaan kom nie. Ons het net weereens onder die indruk gekom dat sulke spontane burgerlike inisiatiewe en positiewe intervensies van gewone mense, nou nog meer as ooit nodig is in ons land.
 
Atterbury Trust is trots deel van Cool Capital en verder bevoorreg om te kan saadjies plant – in skoolkinders en kunstenaars se harte – om groot te kan droom en ’n verskil te kan maak om Pretoria, Suid-Afrika en ook die wêreld ’n beter plek vir almal te maak.
Cool Capital Guerrilla Design tydskrif video
Cool Capital 2016 skole projek video
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Wiskunde haar kos, diens haar droom

Om met voormalige Atterbury beurshouer Tamaryn du Preez te gesels, is om te besef watter waardevolle hulpbron die volgende generasie is, en hoe belangrik dit is om sulke jongmense te identifiseer en te help om hul volle potensiaal te bereik. Ons is geïnspireer deur hierdie briljante wiskundige met die groot hart en baie planne om die land se fondasie van onder af te versterk.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond?
Ek het in Pretoria grootgeword en skoolgegaan by Pretoria Tuine. Ons is vyf kinders in die gesin, ek is tweede. My pa het weer getrou en drie kinders by my stiefma (ek en stiefma kom baie goed oor die weg, uit my hele gesin dink ek sy verstaan my die beste!) Ek is nie net die eerste een uit my gesin wat op universiteit is nie, maar die eerste aan beide my ma en pa se kant, my ooms en tannies het meestal vroeg begin werk of het later eers diplomas gekry, soos hulle meer gevestig was.

Hoe het jy van die Atterburybeurs gehoor? En vir hoe lank het jy ’n beurs gehad?
My LO juffrou, Juffrou Joubert, het ons vertel van Atterbury Trust. Ek dink in my jaar was daar drie leerders van my skool wat die beurs gekry het.  Ek het die beurs van 2010 tot 2016 gehad.

Ons hoor jy is ’n wiskundefundi wat selfs jou honneursgraad gecum het! Wat wou jy geword het toe jy klein was – was dit altyd ’n wiskunderigting?
Ek wou seker alles onder die son geword het; ek dink dit het halfjaarliks verander tot en met Graad 10 se kant! Ek was nog altyd lief vir wiskunde, dit was soos tweede natuur vir my.  Ek het dit altyd geniet om iets vir my klasmaats te verduidelik en te sien hoe hulle ’n konsep snap as gevolg van my verduideliking – dit was regtig ’n “kick”.

Lees volle storie

Genis en kie herleef op die planke

Hier by Atterbury Trust is ons groot liefhebbers van teater, en veral toneelopvoerings. Om ’n toneelstuk op die planke te bring is ’n duur storie, en om dit op toer te neem sodat meer mense die kans het om dit te geniet, is dikwels bo die vuurmaakplek van teatergeselskappe. Akteurs moet reis en verblyf hê vir elke aand van die toer en die vervoer van ’n teaterstel van een teater na ’n ander aan die oorkant van die land is omtrent ’n operasie. Dis hoekom ons nie altyd so baie toneelopvoerings in die Atterbury Teater aanbied as wat ons graag sou wou nie; en hoekom ons met groot graagte betrokke geraak het om Koöperasiestories voete te gee om ook hier in Pretoria ’n draai te kom maak. Ons gesels met Alexa Strachan, wat die teks verwerk het, oor die opvoering wat in Mei by Atterbury Teater op die planke sal wees.

Van waar die besluit om Kooperasiestories weer te laat herleef? Kan jy ons jonger lesers herinner aan die geskiedenis van hierdie stuk?
PG du Plessis se Koöperasiestories het oorspronklik verskyn as kortverhale/essays, lank voor die geliefde TV-reeks van die 80-erjare; en ons het teruggegaan na hierdie verhale eerder as die TV-reeks om dié stuk te skep. Koöperasiestories was ’n maklike keuse vir ons, omdat PG se werk so diep in almal van ons se harte gekruip het – sy menslikheid, (soms baie stout) humor, deernis en fyn waarnemingsvermoë is uniek. Ook het sy verhale en karakters ’n tydloosheid aan hulle – ons erken onsself nog steeds in die mense van jare terug se sondetjies; hulle eiewaan, inhaligheid, skynheiligheid, ambisie, vooroordele, maar veral hulle geskinder. Mense bly inherent mense; ons maniere van doen verander net – 40 jaar terug het ons byvoorbeeld op die stoep geskinder, en nou doen ons dit op Facebook. Aan die ander kant stel ons onsself bloot aan kritiek: om aan so ’n stuk volksbesit te torring, is amper heiligskennis. Ons maak moderne, skreeusnaakse volksteater. Dis ’n stuk vir gewone mense, regtigwaar vir oud en jonk. Jy hoef nie ’n ou teaterganger of -kundige te wees om die show te geniet nie. Bravo se kameraspan het ons kom verfilm, en jongmense wat glad nie eers bewus was van die oorspronklike skepper hiervan se gravitas of die gewigtige geskiedenis nie, het so gelag dat ek vermoed die kameras het dalk bietjie gebewe.

Wanneer was dit die eerste keer op die planke?
Ons het vroeg in Maart in Stellenbosch by vanjaar se US Woordfees geopen – voor uitverkoopte sale, en staande toejuigings, waarvoor ons bitter dankbaar is.

En vertel ons van hierdie toer – waar het dit begin, waar speel dit oral, hoe lank is die speelvak?
Ons is nou oppad na KKNK, waarna ons drie weke by die Bellville Burgersentrum optree en dan volg Atterbury Teater, Innibos en Vrystaatfees. Dan hopelik ook na Aardklop, en daarna sal ons baie graag ’n plattelandse toer wil doen, en veral graag vinnig na Namibië ook.

Lees volle storie

Van beurshouer tot kollega

Dis een van die groot vreugdes vir die Atterbury Trust beurspaneel om te kan waarneem hoe ’n skugter matrikulant oor ’n paar jaar kan transformeer in ’n bekwame professionele jongmens wat met vertroue sy of haar plek in die arbeidsmark kan vol staan. Atterbury probeer met elke student soveel as moontlik bystand gee vir agterna, en ons netwerke gebruik om te help dat ons beurshouers werkgeleenthede kry. Gewoonlik skei ons paaie merendeels na hulle afstudeer, omdat ons nie soos baie ander beursprogramme slegs studente befonds vir graadkursusse wat binne ons maatskappy se veld val, sodat hulle hul beursverpligtinge intern kom terugwerk nie.

Maar net partykeer is daar ’n afgestudeerde beursstudent en ’n vakante pos by een van ons noue vennote wat perfekte pasmaats is, en dis ’n groot voorreg om dan verwysings te kan doen, en ons verhouding met ’n student te kan omskep in ’n meer professionele een. So het reeds twee voormalige beurshouers by Parkdev SA aangesluit – Ulrich Paul twee jaar gelede en Donné Pistorius in 2017. Ons het met hulle gesels oor die aanpassing.

Hoe het dit gebeur dat dier twee van julle by Parkdev aangesluit het? Vertel ons van julle werk?

Ulrich: Zahn het my gebel en vertel dat daar ’n krediteureklerk-pos by Parkdev SA oop was. Ek het aansoek gedoen, en sommer op dieselfde dag dat ek vir die onderhoud was, het hulle laat weet die pos is myne! Dit was twee jaar gelede; en intussen het my rol verander… ek is nou ’n finansiële spesialis wat werk met enige vorm van finansies; beleggings tot strukture, kontantvloeibeheer. Dit gaan uitstekend en ek geniet my werk ongelooflik baie, dis ’n voorreg om by ervare kollegas te leer!

Donné: Verlede jaar tydens my eindeksamen het Leonie my laat weet dat Parkdev iemand nodig het. Sy het gehelp reël dat ek gaan vir ’n onderhoud… sjoe, ek was op my senuwees, want dit was my heel eerste formele onderhoud! Maar hier is ek nou! Ek is ’n krediteureklerk, so ek is verantwoordelik vir al die “admin” takies wat met krediteure te doen het. Ek leer nog hoe dinge werk, maar ek kom al mooi reg!

Hoe lank het julle ’n Atterburybeurs gehad? Hoe voel dit om nou nie meer ‘n beurshouer te wees nie, maar ‘n kollega?

U: Ek het vir twee jaar ’n Atterburybeurs gehad, maar ek het nooit kon dink dat dit my ook na ’n werk sou lei nie nie. Om deel te wees van die groter Atterburyfamilie is iets uniek wat jy nie regtig kan verduidelik nie. Die betrokkenheid en ondersteuning wat die Atterbury Trust van verskillende mense in die sakewêreld ontvang, is werklik merkwaardig.

D: Ek was ’n beurshouer vir een jaar. Vir my voel dit nog steeds presies dieselfde omdat die Atterburyfamilie so ’n hegte band vorm met al hulle beurshouers. Die gevoel van “jy behoort” is blywend – dis so ’n aangename gevoel.

Lees volle storie

Regte en geregtigheid

Een aspek wat alle Atterburybeursstudente in gemeen het, is dat hulle wyer kyk as akademie, en almal besig is om hul ook voor te berei vir ’n lewe waar hulle diens kan lewer aan ander en ’n impak kan maak in hulle gemeenskap. Ons gesels met Oelof Stander, nou in sy finale jaar van LLB aan NWU Potchefstroom, waar hy in Veritas Manskoshuis woon en ook in die studenteraad dien.

Waar kom jy vandaan, en hoe het jou pad destyds met Atterbury s’n gekruis?
Ek is gebore en getoë in Riversdal in die Wes-Kaap. Ons het later Vrystaat toe getrek waar ek in Bethlehem op hoërskool was en matriek geskryf het. Ek het ook ’n sussie, Mariska, wat ’n tweede-jaar rekeningkunde student is. Wat die beurs betref, ek het deur ons studenteraadsvoorsitter, Paul Maritz, daarvan gehoor, en ek is bevoorreg om nou al vir twee jaar ’n Atterburystudent te wees.

Wat beteken die Atterburybeurs vir jou?
Die beurs het dit vir my moontlik gemaak om my LLB-graad te voltooi sonder enige probleme of stres en my die kans gegee om te groei en deel te neem die studentelewe wat Potch bied, met al die voordele soos die student-leierskapstrukture en die koshuislewe saam met al die sport.

Wat wou jy geword het toe jy klein was?
Soos elke seun wou ek ’n rugbyspeler word, of iets in die lyn van Batman! Op ’n ernstiger noot, ek het daaraan gedink om ’n fisioterapeut te word of iets anders sportverwant.

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust

Studentwees is lekker, maar om ’n Puk-student te wees is lekkerder! Studentwees is seker een van die lekkerste, hoewel stresvolste tye in mens se lewe. Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek elke oomblik as student ten volle benut en geniet het – elke geleentheid, elke vroeë oggend en laat aand, elke vyf-minute-voor-die-tyd-stres-sessie – was absoluut alles die moeite werd! Baie dankie PUK vir die great ervaring om ’n Pukki te kon wees; en baie dankie aan die Atterbury-familie vir die bystand gedurende die laaste jaar!

Donné Pistorius
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting