Atterbury Trust Nuusbrief
Oktober 2019
Webtuiste
Facebook
Instagram
Twitter
E-pos

Dis Oktobermaand. Lentetyd – ’n simbool van oorgang, groei, nuwe lewe en hoop. Atterbury Trust se beursonderhoude skop gewoonlik hierdie tyd van die jaar af. Ons hoor van soveel jongmense se drome, ambisie, harde werk en die strewe na ’n beter lewe. Ons wil so graag elke verdienstelike student wat aansoek doen, help met ’n beurs, maar ons begroting is ook beperk. Daarom nooi ons potensiële donateurs uit om die Atterbury Trust met julle donasies te ondersteun. Donasies kwalifiseer vir belastingverpligting in die vorm van ’n Artikel 18A-sertifikaat en ons kan die pakket doelgemaak ontwerp na donateurs se wense.

 
Atterbury Trust se eerste Vroueoggend met Lize Beekman was ’n groot sukses. Ons vertrou dat kosbare bande gesmee is tussen beursstudente en vrouementors. Baie dankie aan vriendinne en assosiate van Atterbury en Atterbury Trust wat die spesiale oggend in die Atterbury Teater bygewoon het. Lees gerus die volle storie in vandeesmaand se Omgeenuus. Blaai hier deur die FB album.
 
September en Oktobermaand is volgepak met aktiwiteite en geleenthede waarby die Trust betrokke is. Atterbury se Evert Kleynhans en Pieter Olivier en ’n paar flukse fietsryvriende het die langpad Durban toe platgetrap vir hoop – ’n inisiatief waarby Nuwe Hoopskool en Atterbury Trust baat. Dan skop die tweede Noord-Suid T20 skolekriekettoernooi begin Oktober af – 16 van Suid-Afrika se topkrieketskole ding mee om die titel as top T20- krieketspan in Suid-Afrika.
 
Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie vind van 14 – 18 Oktober in die Atterbury Teater plaas. Suid-Afrika se beste jong pianiste word die geleentheid gebied om in wêreldklas fasiliteite op Atterbury Teater se nuwe Steinway konsertvleuelklavier mee te ding. Uitdunrondtes kan gratis deur die publiek bygewoon word; lees meer daaroor in hierdie uitgawe.
 
Optog is steeds sterk oppad en gehore regoor Suid-Afrika en Namibië kry steeds die geleentheid om van Suid-Afrika se topkunstenaars in aksie te sien. Ons deel die opgedateerde program in hierdie uitgawe. Die program vir die res van jaar is onderaan hierdie Omgeenuus.
 
Met al die positiewe gebeure om ons, is daar egter ook die teenkant – xenofobie, geweld teen vroue en die alomteenwoordige vlaag van korrupsie in ons land. Jy skep egter jou realiteit en het die keuse om ’n positiewe verskil te maak, daar waar jou lewe ’n impak het. Ons vertrou dat die nuwe seisoen ook vir elkeen wat hierdie nuusbrief lees, sal inspireer om by ’n mede-Suid-Afrikaner betrokke te raak – of jou passie geregtigheid, opvoeding, kuns en kultuur of sport is. Gebruik jou invloed om die wêreld ’n beter plek te maak... sodat môre beter sal wees as gister of vandag. Vir almal in ons land.

Atterbury Trust se vriendinne vier Vrouedag

Sowat 120 vriendinne van Atterbury Trust, insluitende’n groep van 30 van die Trust se huidige vroulike beursstudente en alumnae het onlangs by die Atterbury Teater bymekaargekom om Vrouedag en die bekendstelling van die Omgee Vriendskapgroep te vier. ’n Baie besondere oggend het ontvou, met stories, musiek, mandalas, ’n lag en ’n traan… en nuwe vriendskapsbande.

Een van Atterbury Trust se heel waardevolste bates is die netwerk van mense met groot harte en gewillige hande wat die Trust se werksaamhede al vir meer as twee dekades lank ondersteun. En die honderde studente wat danksy die Trust se beursfonds deur hierdie jare bemagtig is om hul studies aan te pak, te voltooi, en hul plek in die samelewing en die ekonomie in te neem, is beslis die Trust se grootste trots.

Saterdag se Vrouedag-viering was ’n lekker ontspanne manier om hierdie twee sleutelaspekte van die Trust bymekaar te bring en sommer ook die nuwe Omgee Vriendskapsgroep bekend te stel, vertel uitvoerende trustee Zahn Hulme. Die inspirasie vir die dag was ’n behoefte wat die beurspaneel raakgesien het onder baie van die studente, aan emosionele ondersteuning van iemand wat soms net kan luister en raadgee as die uitdagings van studentwees ’n bietjie oorweldigend raak.

“Baie van ons beursstudente is die eerste persoon in hul gesin wat verder swot, en kom uit huise waar baie van hulle ouers geen ervaring van universiteitslewe, eksamendruk of kampuskwessies het nie,” verduidelik Zahn. “Danksy die beursfonds is studente geholpe met die universiteitsfooie wat hul nodig het, maar daar is soms ook ’n behoefte om net raad te vra of gerusgestel te word deur iemand wat die druk van die universiteitsomgewing ken, en wat self daardeur is. Daar is ook baie ander behoeftes soos sakgeld, data en so af en toe ’n klein bederfie. Hul ouers kan in meeste gevalle nie hiermee help nie, en as die druk erg is, beteken dit so baie om net die foon te kan optel en te kan gesels met iemand wat ’n oor kan verleen en kwellings in konteks plaas.”

Lees volle storie
Teken asseblief Vrydag, 11 Oktober van 13:00-15:00 in jou dagboek aan. Dit is wanneer die Omgee Vriendskapgroep by die Volkskombuis in Stellenbosch bekendgestel word. Ons beplan 'n heerlike middagete van positiewe en opgeruimde samesyn saam met ons studente en vriende soos jy.
Meer inligting en kaartjies

Klaviertalent in aksie by Atterbury Teater

Groot opwinding heers onder die geledere van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, want vanjaar se deelnemers gaan die wonderlike geleentheid hê om op die Atterbury Teater-verhoog hul slag te wys op die splinternuwe Steinway-klavier wat onlangs uit Duitsland ingevoer is. Ons het meer details gekry by een van die organiseerders, Marichen Kapp.

Oor hoeveel dae gebeur die kompetisie, en is die datums al vasgestel?
Die kompetisie vind vanjaar van 14 tot 18 Oktober plaas, vir die negende keer sedert dit in 2011 ingestel is. Die amptelike opening is Maandagaand 14 Oktober, en dan vind die eerste twee rondtes oor die volgende twee dae plaas, met die semifinale op Donderdag en die finale op Vrydag die 18de, wanneer die nege finaliste sal meeding om die groot prys.

Wat maak hierdie kompetisie so spesiaal?
Dit is die enigste musiekkompetisie in die land wat eksklusief vir jong pianiste die geleentheid gee om op nasionale vlak teen mekaar mee te ding. Dit is ’n baie waardevolle platform, en ons is baie opgewonde dat daar vanjaar ’n rekordgetal van 49 kandidate gekeur is om deel te neem. En dit is vanjaar ekstra spesiaal omdat dit die eerste keer is dat die deelnemers op Atterbury se nuwe Steinway-vleuelklavier sal speel; so ’n voorreg vir enige jong pianis!

Hoe word die keuring gedoen, en wie besluit oor die deelnemers?
Soos genoem het ons drie kategorieë – 12 jaar en jonger, 15 en jonger en 19 en jonger. Die deelnemers skryf in met ’n DVD opname en daar is streng reëls oor die vereiste repertorium. Hugo Schreuder keur weer vanjaar die DVDs en vanjaar se beoordelaars is Marius du Plessis, Prof Hubert van der Spuy en Prof Wessel van Wyk.

Lees volle storie

Dis weer T20-tyd!

Die Noord-Suid T20-skolekriekettoernooi is vanjaar in sy tweede jaar, en topkrieketskole van regoor die land sal vroeg in Oktober weer in Pretoria teen mekaar te staan kom om te bepaal wie die konings van die krieketovaal is. Ons het ’n voorskou gekry by Johan Cloete, die voorsitter van die reëlingskomitee van die toernooi…

Herinner ons net weer wat die oogmerk van die toernooi is; waar het die idee daarvoor ontstaan?
Die oogmerk is ongetwyfeld om meer geleenthede vir ons jong krieketspelers te skep om nie net die kans te kry om in T20-wedstryde teen mekaar mee te ding oor provinsiale grense nie, maar terselfdertyd nuwe vriendskapsbande te smee op en van die veld af. Tydens die toernooi kom vier van die top krieketskole van die Wes-Kaap, vier van Pretoria en twee van KZN, Noordwes en Vrystaat onderskeidelik teen mekaar te staan.

Presies wanneer en waar vind dit plaas en wie is vanjaar se borge?
Die toernooi vind die naweek van 3 tot 6 Oktober by verskillende velde in Pretoria plaas. WeBuyCars is weer die hoofborg, en ander borge sluit in Atterbury Trust, GrootFM 90.5, King Price Insurance, Vibro Bricks & Paving, Puma, Camp Discovery en IXU Sport. Ons is baie dankbaar aan al hierdie borge wat die drome van talentvolle jong spelers help verwesenlik. AB de Villiers is die ambassadeur van die toernooi en Anton Ferreira die beskermheer.

Hou julle by die formule van die hele toernooi, of is daar elemente wat julle anders aanpak? Vertel meer oor wat toeskouers kan verwag?
Vier van die skole van verlede jaar se eerste toernooi is vervang met ander skole en die verwagting is dat die kompetsie selfs sterker sal wees vanjaar. Toeskouers kan uitsien na sprankel-krieket en veral die suide se spanne sal beter voorberei wees as wat verlede jaar die geval was, aangesien dit effe later in die jaar gehou word.

Lees volle storie
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Fietsry vir ’n goeie doel

Vier dae in die saal van ’n fiets sit nie in almal se broek nie, maar vir een van Atterbury se projekbestuurders, Evert Kleynhans, is hierdie avontuur ook ’n manier om terug te gee. Trap vir Hoop is ’n wonderlike inisiatief wat pas vir die tweede keer plaasgevind het. Evert vertel meer oor die hard trap na Durban…

Hoe en wanneer is die idee vir Trap vir Hoop gebore, en wanneer het julle dit die eerste keer aangebied?
Ek en Leon Olivier, ’n wiskunde-onderwyser by Nuwe Hoop Skool, het jare lank gepraat oor die idee om saam fiets te ry af Durban toe. In April verlede jaar het ons toe uiteindelik op ’n datum besluit… gelukkig het Leon dit al tevore gedoen so die roete en beplanning was die minste van ons probleme. Ons het sommer ’n paar fietsry-vriende bymekaar gekry vir die eerste toetslopie, en die eerste Trap vir Hoop het in September 2018 plaasgevind.

Wat beoog julle met die projek?
Van die begin af wou ons ’n teruggee-element hê, en het besluit ons sou geld insamel vir organisasies na aan ons harte. Die begunstigdes is Nuwe Hoop Skool en die Atterbury Trust; wat albei steun op donasies en baie baat vind by hulp van eksterne donateurs.

Hoeveel ryers het vanjaar deelgeneem teenoor verlede jaar?
Verlede jaar was ons tien en vanjaar 14. My Atterbury-kollega Pieter Olivier het ook vanjaar saamgery. Ons het ryers met dieselfde fiksheidsvlak en belangstellings gekry om saam te ry. Dis vier lang dae op die fiets en dis belangrik om as groep saam te ry; niemand mag vooruit ry of agterbly nie, ons beweeg as ’n groep saam. Dis belangrik vir almal se veiligheid. Nuwe Hoop Skool het hul skoolbussie gegee om saam te ry, so daar was heeltyd ’n voertuig voor en agter ons.

Lees volle storie

Kleur en geselligheid vir Mandela Dag

Mandela Dag is altyd ’n rooiletterdag op Atterbury Trust se kalender, en vanjaar was geen uitsondering nie. Die Trust-span het meer as 67 minute eenkant gesit, en saam met die groter Atterburyspan gaan besoek aflê by Laerskool Kameeldrift en die Anker informele nedersetting in die weste van Pretoria. Karin Dercksen vertel meer.

Hoe het julle besluit op Laerskool Kameeldrift? Hoeveel kinders gaan daar skool?
Daar is 680 kinders in die skool. Ons het vroeër die jaar matte wat ons by ’n donateur gekry het aan die skool geskenk en toe ons gaan inloer om te sien hoe en waar hulle dit aangewend het, het ons die potensiaal gesien om daar te help. Die skoolhoof is ’n wonderlike vrou, met ’n groot hart vir die kinders in haar skool; en dit het gevoel soos die perfekte plek om ons Mandela Dag-bydrae te maak.

Vertel ons meer van die plan, en wie dit vir julle moontlik gemaak het?
Ons het besluit dit sou lekker wees om die kleintjies se speelarea te verfraai met verf, omdat dit maar baie verwaarloos was en duidelik kon doen met ’n nuwe laag verf. Ons het van ons kliënte genader en voelers uitgesteek, en die plan het vorm aangeneem met almal se skenkings. Dulux het verf geskenk, Sean First Class Paint het al die voorbereiding gedoen en het ook oorgeneem en die verfwerk voltooi waar ons nie alles heeltemal kon klaarverf in die beskikbare tyd nie. Die boukontrakteur Iguana het die verwaarloosde mure by die Graad R-ingang mooi reggemaak en geverf sodat dit lyk soos ’n splinternuwe vooraansig. Ons het sakke vol lemoene gekry om vir ’n goeie dosis vitamiene C te sorg, daar was worsbroodjies vir die Graad R-kleintjies, en danksy die vrygewigheid van ’n paar mense (julle weet wie julle is), kon ons ook vir elke kind in die skooltjie ’n koeldrank en pakkie skyfies gee.

Wie het almal saamgeverf? Het die leerders/onderwysers van die skool ook deelgeneem?
Dit was tydens skooltyd so terwyl hulle besig was met klasse, het die hele Atterbury-groep ingespring en geverf! Al die skenkers wat bygedra het was daar en het ook ’n handjie bygesit met die verfwerk.

En hoe lyk die speelgrond nou? Wat is presies alles gedoen?
Die hele speelgrond is mooi geverf in helder kleure – rooi, geel, groen, pienk en blou!  Dit lyk soos ’n nuwe speelplek!

Lees volle storie
’n Kans om ’n spesialisdokter te help

By Atterbury Trust is dit vir ons ’n eer om oplossings te vind vir hardwerkende, talentvolle studente wat weens finansiële beperkings nie kan bekostig om verder studeer nie. Dis nie aldag dat ons die kans kry om ’n mediese dokter te help om hom in ’n spesialisveld te kwalifiseer, sodat hy op ’n selfs hoër vlak kan bydra tot sy gemeenskap se gesondheidsorg nie, en die verhaal van Dr JT Coetzee het ons aangegryp. Ons reik graag uit na ons wonderlike netwerk van groothartige skenkers om hierdie droom werklikheid te maak.

Stel net voor die frustrasie van ’n jong skitterdokter wat graag wil verder studeer en kwalifiseer as ’n spesialis in ’n broodnodige veld, maar omdat hy nie die regte bevolkingstatus het nie, kry hy nie keuring nie want daar is geen fondse vir mense soos hy oor nie. En dink net aan die kommer van ’n voorste hospitaal wat spesialiseer in kardiotoraks-operasies, en wat ’n dringende behoefte aan nuwe jong sjirurge het soos die bestaande spesialiste ouer word en begin aftree.

Dit is die situasie by Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH), en ook die werklikheid waarin Dr Jacobus (JT) Coetzee hom bevind in sy begeerte om ’n kardiotoraks-sjirurg te word.

Kardiologie en kardiotoraks-operasies vorm die basis van die mediese en snykundige dienste wat by ZAH aangebied word, en daar is tans vier voltydse snydokters op die span om die groot navraag na behandeling vir ernstige hart-en longkwale te hanteer. Hierdie kundigheid is in baie groot navraag, omdat kardiovaskulêre siekte naas HIV/Vigs die hoofoorsaak van dood in Suid-Afrika is. Die opleidingsowerheid vir die gesondheids- en welsynsektor het bevestig dat kardiotoraks-sjirurge vandag een van die broodnodigste kategorieë van dokters in die gesondheidswese is.

By ZAH is daar so baie kardiologie-aktiwiteit dat daar 24/7 ’n kardiotoraks-sjirurg aan diens moet wees om al die pasiënte wat hartprosedures ondergaan, te ondersteun. Die behoefte aan ’n nuwe spesialis het die hospitaal gelei om Dr JT Coetzee te identifiseer as die ideale kandidaat; en sy dit was sy indrukwekkende CV en lewenslange droom om die skoene van ‘n kardiotoraks-sjirurg te kan volstaan, wat hom in die visier gebring het.

Lees volle storie

Atterbury se klipreus kry Springbokkleure

Rugbylegende Victor Matfield het onlangs die “grootste Bokondersteuner in die wêreld” onthul – ’n vier-meter-hoë klipstandbeeld wat deur Atterbury in ’n reusagtige Springboktrui geklee is ter ondersteuning van die Bokke vir die opkomende Wêreldbekertoernooi. Matfield was deel van die legendariese span wat die Wêreldbeker in 2007 gewen het

Die massiewe “Kinders van Hierdie Klippe”, wat deur die bekroonde kunstenaar Angus Taylor vir Atterbury geskep en vroeër vanjaar buite die maatskappy se hoofkantoor by The Club in Hazelwood, Pretoria geïnstalleer is, word na “Springbok van Klip” herdoop vir die duur van die Wêreldbeker wat in Japan.

Die reuse-trui is so na as moontlik aan ’n identiese weergawe van die amptelike uniform waarin die Bokke sal uitdraf, sê Atterbury se hoof- uitvoerende beampte, Armond Boshoff.

“Ons is groot Springbokaanhangers by Atterbury… ons bloed loop groen vir die volgende maand,” sê Boshoff. “Die nostalgiese herinnering aan hoe die Bokke met hul Wêreldbeker-oorwinnings die land en al ons mense in 1995 en 2007 saamgesnoer het, het ons geïnspireer tot ’n groter as lewensgrootte gebaar om te wys ons staan bankvas agter die span en hou duimvas dat hulle weer die Wêreldbeker sal terugbring! Mens word heeltyd toegegooi onder slegte nuus, maar daar is so baie in Suid-Afrika waaroor ons positief kan wees, en ons glo die besigheidswêreld het ’n verantwoordelikheid om goeie nuus te vier en vertroue in ons land te wys.”

Willem “Boeta” Minnaar van Pretoria, wat twee jaar gelede as vierjarige harte gesteel het toe ’n video van hom wat die volkslied sing op sosiale media rondgestuur is, het weer so gemaak by The Club, en Nkosi Sikelel’ iAfrika saam met Matfield en ’n skare toeskouers in groen en goud gesing. Boeta se video het destyds ’n Kwêla-toekenning gewen vir die snaaksste video van die jaar.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust
 
Ek wil net weer eens ongelooflik baie dankie sê vir Saterdag se Damestee.....ek wonder of julle ooit regtig besef hoe baie hierdie ma julle waardeer. Ek is oortuig daarvan dat julle almal by Atterbury se paaie hemel toe geteer en alle tolgelde reeds betaal is.

Ek het daar gesit met ’n knop in my keel uit dankbaarheid… ek weet elke liewe vrou en elke student wat daar was en ook dié wat nie daar kon wees nie, baie uitdagings het om te oorkom. As daar nou iets is wat ons as vroue bemeester, dan is dit om vir niemand ons uitdagings te wys nie en vir die wêreld net ’n “poker face” wys om te sê, “Dit gaan goed,” selfs wanneer die teendeel waar is.
 
Weer eens het ek besef dat mens maar mag sê, “ Ek is nie OK nie.” Maar ek het ook besef dat as ’n ma breek, dit die huishouding laat omval… en dit wil ons nie hê nie. Ons is seker die onselfsugtigste groep in die wêreld, want ons kom altyd laaste in die ry, maar dis ons keuse…
 
Dra asseblief my dank en waardering oor aan elkeen wat verantwoordelik was vir Saterdag.
 
Ek hoop ons kuier gou weer saam....dis kos vir die siel.

Baie liefde
Sunet Sanders
OPTOG! – Laurika Rauch
15, 26 Oktober
Tzaneen en Nelspruit
 
OPTOG! – Karoo Suite: Coenie de Villiers & Deon Meyer
23, 24, 25 Oktober
Oos London, Ermelo en George
OPTOG! – Nêrens, Noord-Kaap
24, 26, 27 Oktober
Ermelo, Sasolburg en Welkom
OPTOG! – Radio Kalahari Orkes
26 Oktober
Atterbury Teater, Pretoria

 
OPTOG! – 3 Susters (Welkom)
November 15, 16
Welkom en Krugersdorp
 
OPTOG! – Nataniël Lily refuses to Listen
3 – 8 Desember
Atterbury Teater, Pretoria
Kaartjies beskikbaar op itickets.co.za
Deel Deel
Tweet Tweet
Stuur Stuur
Kopiereg © 2019 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting