Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
September 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Goue Sleutel na sukses vir Atterbury beursuitblinkers

Al Atterbury se beursstudente word met die hand uitgesoek, so ons weet hulle is klaar uitblinkers, maar dis genoeg om die hart te laat huppel as ander organisasies hulle uitsonder! Nog vyf van ons beursstudente is vanjaar verkies tot lid van die gesogte Golden Key International Honour Society, n internasionaal-erkende organisasie wat toppresteerders plaaslik, en internasionaal verbind met goue geleenthede en netwerke.

Die vyfstuks is in goeie geselskap…verskeie top Suid-Afrikaners soos Aartsbiskop Desmond Tutu, Ryk Neethling, Patricia de Lille, regter Edwin Cameron en Francois Pienaar is erelede van die organisasie. Die vereniging fokus op akademiese prestasie, leierskapontwikkeling en gemeenskapsdiens en mens kan slegs op uitnodiging ‘n lid word. Die uitnodiging word dan ook gerig aan die top 15 persent van studente wat deur hulle universiteite aangewys word, regoor alle fakulteite. Lidmaatskap is lewenslank, en dit maak vir lede deure oop op ’n verskeidenheid maniere.

As Golden Key-lede sal dié uitblinkers onder andere die kans kry om internasionale konferensies by te woon as deel van ‘n elite groep wie se akademiese prestasies internasionaal erken word, en hulle sal netwerk-geleenthede gebied word met ander studente, universiteitsleiers en korporatiewe vennote van die organisasie, wat baie deure kan oopmaak. Hulle kry ook toegang tot ’n internasionale netwerk van universiteite en die lidmaatskap is oordraagbaar tussen universiteite. Hulle kan ook aansoek doen vir eksklusiewe toekennings en studiebeurse op internasionale vlak, en kry die kans om in gemeenskapsprojekte betrokke te raak, en voordeel te trek uit leierskapsontwikkelingsgeleenthede.

Lees volle storie
Atterbury Trust plant bome in Booysens saam met GROOTfm 90.5 en Wildlands. Kyk hier na die kykNET insetsel.
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Idiome kry vlerke met VivA

Dis sowat ’n maand sedert VivA se nuwe Woordeboekportaal-app geloods is met ’n skolekompetisie wat Atterbury help borg. Die hoogs kreatiewe inskrywings stroom in, vertel projekbestuurder Marlie Coetzee…

Hoeveel inskrywings was daar sover vir die skolekompetisie?
Die skoolkinders is gaande oor die kompetisie en dis ongelooflik om te sien hoe kreatief en kunstig die Suid-Afrikaanse jeug is – ons het al meer as 160 inskrywings van regoor Suid-Afrika ontvang!

Hoe werk die kompetisie en wie kan inskryf?
Leerlinge word genooi om ’n Afrikaanse idioom (of twee) af te stof en dit op ’n unieke manier visueel of grafies voor te stel. Dit kan ’n prentjie wees wat hulle teken, ’n foto wat hulle neem, ’n video wat hulle maak, of enige eie skepping wat hul digitaal aanmekaarsit. Hulle skryf dan in deur hulle ontwerp op Instagram te plaas met @viva_Afrikaans en #viva_afrikaans, #idioom en hul #skoolnaam in die boodskap.

Hoe kies julle die wenners?
Die inskrywings word elke week vir die kunstenaar en ons medewerker Diek Grobler aangestuur en hy wys die weeklikse wenner aan. Ons kondig elke Vrydag ’n wenner aan, tot Vrydag, 4 September, wanneer inskrywings vir die universiteitsbeurs wat Atterbury Trust borg, sluit. Ons kontak dan die skool en tref reëlings met die leerling se Afrikaanse onderwyser om Vrydag tydens die Afrikaanse periode die goeie nuus aan die wenner oor te dra. Sy of haar foto en dié van haar wenkunswerk word dan op VivA se Instagram- en Facebook-platforms geplaas, en daardie middag op ons mediavennoot, RSG, se Tjailatyd word dit ook aangekondig.

Lees volle storie
 

Sien al die VivA skolekompetisie inskrywings op Instagram

 
Die pryse wat gewen kan word:
R150 000 universiteitsbeurs vir 'n graad 11/graad 12-leerling.
R15 000 kontant vir die skool met die oulikste, oorspronklikste en/of meeste inskrywings.
Onderwyser wat die WAT-leerstel ontvang vir die beste uitbeelding van een van die volgende idiome:
  • Hoe meer siele hoe meer vreugde
  • Vele hande maak ligte werk
  • Almal oor een kam skeer
  • Die kinders sit en tande tel
  • Uithaal en wys

Ons Atterbury Trust


Dankie-sê briefie van Lindie Strydom, handelsmerkbestuurder by GROOTfm 90.5

Dis nou ’n lekker en tevrede moeg!
 
Baie, baie dankie vir almal se sweet in die grond van die Booysens Gemeenskap!
 
Herman – dankie dat jy vir ons gewag het by die sentrum! Ons waardeer jou tyd ongelooflik baie! Groete vir die Helpende Hand span by die kongres en hou ons asseblief op hoogte van die vordering by die sentrum!  Ons “back” jou 100%!

Pieter – jou Spectacle Warehouse span het gekook vandag – die manne en die meisies!  Dankie vir julle gesindheid en die gees en tot die groen bome en hartjies op die wange!  Gaan nog baie van julle skinder...  Dis ’n voorreg om julle in die GROOTfm 90.5 familie te hê!

Madeleine van ons GROOTfm 90.5 span – dankie dat jy sulke oulike mense ken en tot die familie voeg!  Dankie dat jy van kamera-vrou, cheerleader tot water-gooier gespeel het!    

Annalie van Booysens Beertjies – dankie vir julle hartlike gasvryheid en die elke dag “agter-die-skerms” liefde en moeite met die kosbare kleuters! Julle het iets anders by die skool... wens mens kon dit bottel of “copy and paste”! Die broodjies, koffie en koeldrank was ’n heerlike bederf! Ons waardeer jou en jou span mense opreg!

Zahn en Leonie van Atterbury Trust – dankie vir die hart waarmee julle alles aanpak en julle getrouheid in die klein dingetjies! Julle maak gemeenskapswerk vir my so “mooi”! Daar is altyd ’n vrolikheid en opgewondenheid om nog ’n stukkie diensbaar te kan wees! Met julle storm ek nog baie bendes!

Su-An van GROOTfm 90.5 – dankie vir die gesels op lug en dankie Barries vir ons “klink soos in die ateljee” klank!

Roelien – dankie vir die waterbotteltjies! Dit het sommer krag en bietjie afkoeling gegee!  ’n GROOT dankie aan Pieter Greyling van RO Water Systems!

Etienne van ons GROOTfm 90.5 span – dankie dat jy die prentjies “verewig” het deur jou lens en ons help om die storie te vertel tot inspirasie van meer mense se betrokkenheid!

Luane van GROOTfm 90.5 – jy is die mooiste, vriendelikste, betroubaarste “slaaf” wat ek ken! Jy stel jouself heelhartig beskikbaar vir wie of wat ook al gedoen moet word!  Niks is ooit te veel moeite of onmoontlik nie!  Dankie vir jou voorbeeld!

Hendri van GROOTfm 90.5 – dankie vir die "links" en veral die entoesiasme waarmee jy oor ’n boom kan praat!  Met jou red ons ’n land!

En Danie van Wildlands – dankie vir 20 000 bome! Dankie vir al jou reëlings om reg deur die jaar ons stad en land GROEN te plant! Dankie vir al die min slaap, baie ure, laat nagte, vroeë oggende en dat jy ons innooi om deel te kan wees van ’n dag soos vandag!  Wat ’n voorreg!  Dit was verseker een van my lekkerste hande-vuil-maak geleenthede tot op hede!
 
En as ek dalk iemand gemis het – jammer!! Ek is nou bietje “deur die blare” na vanoggend!
 
Oppad huis praat ek met iemand op die foon. Ek sê vir haar: “Ons het vandag gaan bome plant en ons verbintenis tot ’n gemeenskap gewys, maar hier is vandag verhoudings gebou wat dalk nog langer as die bome gaan leef!  Sien uit na die groei en die vrug daarvan...”
 
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting