Atterbury Trust Nuusbrief
Februarie 2020
Webtuiste
Facebook
Instagram
Twitter
E-pos

’n Nuwe jaar bring altyd weer hoop, nuwe moontlikhede en inspirasie. ’n Nuwe dekade lei ’n volgende era in. Dis 2020. Ons groot doelwit by die Trust is om meer mense te mobiliseer om met ons hande te vat om nog ’n groter impak in ons land te maak. Met ons bewese 21-jaar-lange geskiedenis van ’n 97% suksessyfer met meer as 500 graduandi sowel as ons netwerk van welwillende donateurs en ondersteuners raak ons vele terreine positief aan. Opvoeding, Afrikaans, kuns en kultuur en gemeenskapsgesondheid.

 
Vroeg in die Atterbury jaar Versnit ons. Op die lowergroen grasperk van Rust en Vrede, een van die mooiste wynplase in ons land. Al vir nege jaar lank.
Bykans R10 miljoen is reeds ingesamel deur die perfekte Versnit van Rust en Vrede, Atterbury en Lexus. Lees gerus die pragtige verhaal van die Versnitters van Rust en Vrede in hierdie Omgeenuus. Ons staan steeds dankbaar vir Jean Engelbrecht se groot hart en eg Bolandse gasvryheid, deur wind en weer, jaar na jaar.
 
Gaan verlustig julle in die gelukkige foto’s wat getuig van kosbare samesyn as jy kliek op die skakel na die Versnit Facebookalbum.
 
Dis reeds 21 jaar sedert die eerste groep van ses Atterbury Trust beurshouers begin studeer het. Met amper 700 ontvangers van Atterbury Trust beurse kyk ons jaar na jaar met dankbaarheid terug. Amper 60 grade is weer in 2019 behaal. Ons deel NWU Top 20-slimkop Xzania Watkinson wat pas haar Verpleginggraad behaal het, se storie van sukses, In diens van haar medemens.
 
Dan hoor ons ook in Akademie, en omgewingsbewustheid! die storie van Francois van Zyl, tans een van ons beurshouers, wat benewens sy BCom Risikobestuurstudies op die PUK, die platform van PUKfm gebruik het om iets vir die omgewing te doen.
 
Elke jaar begin ’n klomp belowende nuwe studente met behulp van Atterbury Trust studeer. Die briljant oud-Affie Gareth Lubbe, ‘n vars Tukkie en voornemende dokter, vertel sy inspirerende storie in Agt onderskeidings, nou pak hy medies.
 
Triomfkliniek maak ’n daadwerklike verskil in behoeftige pasiënte se lewens. Die kliniek het in die afgelope vyf jaar al meer as 1 700 pasiënte gehelp. Lees Vyf jaar van uitmuntende sorg met waardigheid in hierdie uitgawe om meer te hoor oor onlangse ontwikkelings met tandheelkundige dienste en ander Triomfstories. Skakel ook op Sondag 23 Februarie in op Via waar Coenie de Villiers se “Stories wat saakmaak” ons ’n kykie agter die skerms gee as daar met dokters en tevrede pasiënte gepraat word. 
 
Optog! 2020 is in volle swang met heelwat splinternuwe produksies. Kyk na die Optog program aan die einde van hierdie Omgeenuus en ondersteun ’n Afrikaanse kunstenaar in jou eie dorp! Alle besprekings op iTickets
 
Mag die nuwe dekade jou inspireer om ’n positiewe verskil te maak! Ons is altyd dankbaar vir mense wat hulle talente, geld en tyd met die Trust deel. Onthou, die Trustspan is altyd daar om jou hand te vat en saam om te gee.
 
#OnsGeeOm #GeeSaamOm
Op die lowergroen grasperk van Rust en Vrede Versnit ons weer saam

Om te Versnit is om te gee. Gewoonlik is ’n versnit ’n fyn vermenging van verskillende druiwe-kultivars om tussen die beste variante ’n nuwe smaaksensasie te skep. Maar dan is daar Versnit, ’n jaarlikse vermenging van die beste Afrikaanse kunstenaars, die beste geselskap op die lowergroen grasperk van die beste wynplaas, alles vermeng met ’n glasie van die beste wyn.

Oor die nege jaar van Versnit het daar ook ’n nuwe werkwoordvorm ontstaan. Nou se dae beteken “om te Versnit” ook om om te gee. Omgee vir minderbevoorregte Afrikaanse jongmense sodat dié met potensiaal met studiebeurse gehelp kan word om ook hul beste te kan bereik.

Versnitvriende het soos gewoonlik op Saterdag, 18 Januarie 2020 by Rust en Vrede ’n musiek-piekniek van formaat gehou. Die wind het gewaai en die nuus dat dit ook in die Karoo reën het dié klein ongerief mooi in perspektief gestel. Met die gewaardeerde ondersteuning van Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Lexus kon Versnit 2020 suksesvol plaasvind.

Suksesvol nie net omdat dit weer ’n uitsonderlike geleentheid was nie, maar ook omdat Versnitvriende hul harte oopgemaak het met noemenswaardige skenkings aan Atterbury Trust, sodat nog meer studente in die toekoms gehelp kan word. Alles in die gees van Versnit.

Die vertonings van ons land se heel beste Afrikaanse kunstenaars was iets om te aanskou… en te hoor. In die laaste middagstrale en vroeë aandgenot het Stef Bos, Corlea, Ruhan du Toit, Elvis Blue, Roan Ash en Riana Nel betower deur sang en gees. Hierdie aand van musiek, wyn, samesyn en omgee het ons harte laat smelt van genoegdoening.

Versnit vereer elke jaar een spesiale mens wat oor baie jare heen hul merk op ons gemoed gelaat het. Hierdie jaar was dit Koos Kombuis se beurt. Compére Johan Badenhorst het André le Roux du Toit, of later sommer André Letoit en toe Koos Kombuis se storie agter die bult gaan haal en vertel van sy Lloyd Ross / Shifty Records-dae, sy Voëlvrytoerdae en sy liefde. Liefde vir musiek, Afrikaans, en sing en dig.

Lees volle storie

Agt onderskeidings, nou pak hy medies

’n Nuwe akademiese jaar bring blink nuwe Atterbury Trust beurstudente na vore … en watter voorreg om te weet ons speel ’n rol om ’n veelsydige, toegewyde student met agt onderskeidings in matriek op die pad te sit om sy droom na te jaag – om ’n dokter te word, en mense te kan help. Ons het met die briljante 19-jarige Gareth Lubbe van Affies gesels op die vooraand van sy eerste jaar by Tukkies

Baie geluk met jou uitstekende matriekuitslae! Het jy dit verwag? Hoe het jy voorberei?
Dankie! Kyk, my plan was om so goed moontlik te presteer, maar die uitslag was steeds ’n aangename skok! Dis eerlikwaar alles te danke aan die ure se moeite en ondersteuning van my onderwysers en ouers; maar bowenal deur genade…

Ek het regdeur die jaar hard geleer en elke toets gesien as ’n geleentheid om die werk op alle vlakke te leer ken. Ek het ook probeer om elke dag te werk, maar die beste vorm van voorbereiding was om ou toetse te doen, en hersiening. Dit het veral in wetenskap goed gewerk waar ek ’n finale punt van 97% behaal het.

Was medies altyd bo aan jou lys van studierigting-wense?
Dit kom al vanaf Graad 9 toe ons die menslike liggaam in biologie behandel het – ek kon van toe af nie genoeg van anatomie en fisiologie kry nie. Toe ek klein was wou ek altyd ‘n wetenskaplike word. My ouers moes vir my Stephen Hawking se boeke koop en ek het my Graad 4-juffrou gesmeek om vir my Einstein se e=mc2 formule te verduidelik! Vir ’n rukkie wou ek ook ‘n veearts word nadat ’n vriend se ma ons op ’n toer van Onderstepoort gevat het. My ouers moes vir my diere-organe by die slaghuis koop om te dissekteer. Dis te danke aan my ouers, wat my altyd in alles ondersteun het, dat ek vandag kan swot om ’n dokter te word.

Ek het finaal geweet dis my rigting toe ek by my tannie in die plastiese chirurgie-eenheid by Robert Mangaliso Staatshospitaal in Kimberley gaan “shadow” het. Wat my die meeste getref het was die pyn en lyding van behoeftige pasiënte en die frustrasie van dokters wat hul bes probeer om met gebrekkige hulpbronne mense te genees. Ek het daar besef dat ek as dokter nie net ’n impak op mense se lewens sal kon hê nie, maar ook die kans sou hê om ons land te verbeter. Ek het my roeping gevind.

Wat sou jy gedoen as jy nie keuring gekry het nie… ons weet hoe bitter min plekke daar is?
Ek sou nie opgegee het op my droom om ’n dokter te word nie. As ek nie keuring vir MbChb gekry het nie sou ek BSc Biologiese Wetenskappe gaan swot het en na die eerste semester probeer oorskuif na medies/MBChB soos wat ’n handvol studente doen.

Lees volle storie

Vyf jaar van uitmuntende sorg met waardigheid

Die Triomf Kliniek vier vanjaar sy sesde verjaardag, en het in hierdie tyd diep spore getrap in die gemeenskap van Pretoria-Wes. Ons kyk saam met klinieksuster Adelene Boshoff terug op ses jare van groei, hoop en uitmuntende diens met waardigheid, wat danksy ’n engelspan van vrywilligerdokters steeds gratis aan die behoeftige gemeenskap gebied word. 

Die pasiënte ken jou van die begin af as die stem op die foon, en die vriendelike gesig wat hulle inwag as hulle vir konsultasies kom.  Wat staan vir jou uit omtrent jou werk by Triomf Kliniek?
Dis so lekker om die dankbaarheid op die pasiënte se gesigte te sien; die breë glimlagte veral by die tandheelkunde-klinieke as hulle ’n nuwe gebit ontvang of hulle tande word opgebou sodat waar daar net stompies was, daar ’n hele nuwe mondvol tande is. Ook by die gehoorkliniek as hulle gehoorapparate kry en weer kan hoor; en dan behoorlik straal van blydskap. Dis ook baie bevredigend om te kan aanhou leer deur met die dokters aan interessante gevalle saam te werk.

Hoeveel pasiënte is sedert die begin al by die kliniek behandel, en is daar jaarliks ’n groei in die getalle te bespeur?
Daar is daar reeds 1 739 pasiënte behandel, en ja, dit groei beslis elke jaar. Verlede jaar het ons by voorbeeld 905 mense gehelp, teenoor 2018 se 717.

Julle bied ook elke jaar nog nuwe dienste aan… wat is mees onlangs bygevoeg?
Ons was baie bly om uiteindelik verlede jaar tandheelkunde te kon byvoeg, want daar is so ’n groot behoefte aan ’n tandarts in die gemeenskap wat ons bedien. Dit het vinnig die besigste van ons afdelings geword. Berading is ook broodnodig, en dit kon ons ook verlede begin aanbied.

Lees volle storie

In diens van haar medemens

Van kleintyd af wou Atterbury Trust beursstudent Xzania Watkinson ’n verpleegster word, sodat sy mense kon help. Die 23-jarige het aan die einde van 2019 haar vier jaar as ’n B Cur Verpleegkunde-student by NWU se Potch kampus afgesluit as een van die top 20 in haar jaargroep. Die slimkop het haar toekomsplanne met ons gedeel…

Vertel ons ietsie van jou agtergrond en gesinsopset.
Ek het by Hoërskool Hugenote in Springs matriek geskryf, en ek het ‘n ouer broer en jonger sussie wat albei in menslike hulpbronne  werk. My ma is ’n finansiële beampte en my pa is ’n voorman. Ek het in my ouerhuis gebly tot nou, maar trek binnekort Witbank toe vir my gemeenskapdiensjaar.

Vertel ons van jou buitengewone naam – is daar ’n storie daaragter?
My ma het my vertel dat Zania sonskyn beteken. Sy is geskei van my biologiese pa terwyl sy swanger was met my, en het toe besluit sy sit die X vooraan my naam vir die sonskyn uit haar verlede. Sy is weer getroud en haar tweede man is die pa wat my grootgemaak het.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trustbeurs uitgekom? Het jy enige ander opsies vir befondsing gehad as dit nie sou uitgewerk het nie?
Ek het by ’n vriendin, wat reeds een van Atterbury se beursstudente was, daarvan gehoor. My ouers het by verskeie banke vir studielenings aansoek gedoen maar ons is by almal afgekeur. As dit nie vir Atterbury Trust was nie, sou ek heel waarskynlik moes opskop.

Lees volle storie

Akademie, en omgewingsbewustheid!

Elke slag as ons met een van ons beursstudente gesels, kom ons onder die indruk van die onbeperkte jong talent in ons land, en is ons dankbaar vir ons beursskenkers wat dit vir ons moontlik maak om elke jaar nog ’n groep jongmense te help op die pad om hulle volle potensiaal te bereik. Francois van Zyl is so iemand; hardwerkend in akademie in sy finale jaar van BCom Risikobestuur, maar ook betrokke op die PUK-kampus by buitemuurse bedrywighede wat saakmaak.

Vertel ons ’n bietjie oor jou agtergrond en hoe dit gekom het dat jy ’n Atterbury beurshouer geword het.
Ek kom van ’n klein dorpie in die Vrystaat, Riebeeckstad, waar ek in 2016 by die Hoërskool Riebeeckstad gematrikuleer het. My ma is ’n onderwyser en my ouer broer het in haar voetspore gevolg. My ouers is geskei en my pa bly in Kanada. Ek het die eerste keer van Atterbury gehoor by een van my ma se kollegas by haar skool, en is al van my eerste jaar af gelukkig genoeg om ’n beurshouers te wees, so dit is al drie jaar.

Het jy ander planne gehad ingeval jy nié hierdie beurs gekry het nie?
Indien ek nie die beurs gekry het nie, sou ek waarskynlik aansoek moes gedoen het vir ’n studentelening, maar met ’n enkelouer-salaris was die kanse maar skraal…

Ons hoor jy is betrokke by die kampusradiostasie – wat is jou rol daar; en hoe het jy daar beland?
Ek wou meer betrokke raak op die PUK, maar die formele kampusstrukture soos die ASV en KRS was nie vir my nie, so toe het ek in my tweede jaar by PUKfm aangesluit. En ek het regtig my tweede familie by PUKfm gevind. Ek is nou produksie- en ateljeebestuurder en is in my tweede termyn vir 2019/2020.

Lees volle storie
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Hou hierdie musiektalent dop!

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie het in 2019 baie belowende spelers gelok, maar Kapenaar Qden Blaauw het almal onder die klavier ingespeel om die algehele prys te verower. Ons het met die 15-jarige musikale wonderkind gaan gesels. 

Vertel ons iets oor jou agtergrond – waar gaan jy skool, in watter graad is jy, en hoe lank speel jy al klavier?
Ek is 15 jaar oud en het begin klavier speel toe ek agt was. Ek gaan skool by Reddam House Durbanville en is tans in Graad 10.

Is daar nog musikales by die huis? Vertel ons bietjie van jou gesin.
Nee, glad nie! My pa is in die rekenaarwese en my ma is ’n professor aan Die Universiteit van Stellenbosch; hulle is geensins musikaal nie. Ek het maar per toeval begin klavier speel. Ek het eendag vir my ma gewag na skool toe ek hoor hoe die kinders klavierlesse in een van die klasse kry. Ek het toe my ma gevra of ek ook kan begin. Sy het my ingeskryf by die skool (Welgemoed Primêr) waar ek my eerste lesse gekry het. Ek het ’n jonger sussie wat ook geensins belang stel in musiek nie – sy bak graag koek en wil eendag haar eie bakkery besit.

Watter rol speel musiek in jou lewe? Speel jy enige ander instrumente?
Ek speel ook viool, maar spandeer nie genoeg tyd daaraan nie. Musiek is baie belangrik in my lewe – ek geniet dit verskriklik om op te tree en om gehore te vermaak. Dit help ook baie met my konsentrasie op skool. Ek was ook bevoorreg om al twee keer oorsee te gaan optree… musiek stel my in staat om baie nuwe vriende met dieselfde belangstellings van oral in die wêreld te ontmoet.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust
 

Haai Leonie!

Ek was nog van plan om vir jou ’n boodskap te stuur, ek’s skoon hartseer om die NWU -tudente Whatsapp groep te verlaat... 🥺

Baie baie dankie vir die afgelope drie jaar. Ons Gro-kuiertjies het my altyd nuwe perspektief gegee en anders na goed laat kyk. Ek het soveel waardering vir jou en die positiewe energie wat jy die afgelope drie jaar in my lewe in gestoot het. Jy maak 'n groter impak as wat jy dalk dink.

Alle seën vir jou in die toekoms en weereens dankie dat jy jou studente altyd “back” en ondersteun. Ons waardeer jou!
❤


Xxx Stephanie

Radio Kalahari Orkes
6 en 7 Maart
Polokwane en Tzaneen
DUET: Jannie Moolman en Kevin Leo:
8 Maart
Pretoria
Drie van die Bestes
11 en 12 Maart
Durbanville
Schalk Bezuidenhout
14 Maart
Johannesburg
Leah
28 Maart
Hartenbos
Theuns Jordaan
31 Maart
Pretoria
Bespreek kaartjies op iTickets
Deel Deel
Tweet Tweet
Stuur Stuur
Kopiereg © 2020 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting