Atterbury Trust Nuusbrief

 

Geseënde Somerkersfees!

Desember/Januarie 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Hier aan einde van 2016 – in baie opsigte ’n uitdagende jaar vir baie Suid-Afrikaners, maar ook wyer in die wêreld – groet ek graag met Karen Zoid se woorde wat my weer onlangs by Afrikaans is Groot aan die hart gegryp het:

 
“En as jy ooit voel
die lewe is net een groot gesuffer
reik jou hande uit en help ’n ander
met minder as jy
 
Gaan maak iemand bly
want dan sal jy
altyd kan saamsing
as die musiek begin speel
en dans in die somer se reën
en soek vir die reënboog
langs die pad, my skat”
 
Blaai saam deur ons laaste Omgeenuus van 2016 – ons deel stories van swaarkry in Suid-Afrika, maar gelukkig is hande uitgereik, mense is bly gemaak, mense word gesond gemaak by Triomf Kliniek en kindertjies lag oopmond oor ’n stukkie Kersfees wat al in November na Danville toe gekom het.
 
Gaan maak iemand met minder as jy bly hierdie Kersseisoen, want dan sal jy altyd kan saamsing en dans in Suid-Afrika se somerreën.

Vat ons hande… Ons het die infrastruktuur en netwerk by die Atterbury Trust om jou donasies by jou hartsaak aan te wend. Of jy nou geld skenk om ’n behoeftige student se klasgelde te betaal of boeke te koop, ’n onderwyser se salaris te betaal, vir ’n honger kleuter skoolklere of ’n skoolmiddagete te borg en of jy jou dienste of donasies by Triomf Kliniek aanbied – ons kan jou verseker dat jou bydrae met ons hulp en netwerk by die regte plek sal uitkom. Maak gerus ’n donasie waarvoor ons ’n Artikel 18 A-belastingsertifikaat kan uitreik.

Ons wens elkeen van ons Omgeefamilie ’n Geseënde Somerkersfees en ’n voorspoedige 2017 toe.
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Afrikaans is Groot, Groter, Grootste!

Die sesde jaarlikse Afrikaans is Groot konsertreeks het pas weer die balke gelig by Moreletapark Ouditorium met agt massiewe konserte oor ’n tydperk van drie weke. Ons het agter die skerms gaan loer saam met vervaardiger en regisseur Barry Pretorius.

Hoe het Atterbury Trust by Afrikaans is Groot (AIG) betrokke geraak?
Ons het Atterbury so twee jaar gelede gekontak om betrokke te raak as borg. AIG is die grootste Afrikaanse geleentheid wat jaarliks in die land aangebied word, en omdat Atterbury so ’n sterk voetspoor in Pretoria het, het dit sin gemaak. AIG is baie duur om aan te bied, so ons is heeltemal afhanklik van borge soos Atterbury Trust, wat graag belê in ons taal en in die Afrikaanse kultuur.

Wat was vanjaar se hoogtepunte?
Ek het die konsert aanmekaargesit – ek kan nie een kind voortrek nie! Maar oorkoepelend dink ek die groot teatrale nommers wat amper soos ouskool “musicals” was, met baie rekwisiete en dansers, het die “wow” oomblikke geskep. Dit gaan oor die musiek, en dit is wat AIG spesiaal maak. Die songs is net so lekker, en daar is verskillende genres, van pop tot alternatief en rock, selfs ’n bietjie country… om almal mee te sleur.

Het julle vanjaar enigiets anders gedoen as verlede jaar?
Ek dink daar was meer substansie as in die verlede; al is dit ’n show van treffers, het dit het nie net gegaan oor ligte kommersiële popmusiek nie. En wat die aanbieding betref, is dit elke jaar natuurlik anders, en om die verhoog en al die elemente daarvan te bou was soos ’n legkaart. ’n Deel is in Doebai aanmekaargesit, ’n ander deel in Holland, nog een in Duitsland… wat die tegniese aspekte betref, vergelyk AIG nou met vertonings in Las Vegas of New York. Vir een nommer het ons ’n donderstorm met reën op die verhoog geskep, regte egte water wat uitsak oor die verhoog! Die vervaardigers van X Factor in Londen het ons met die logistiek daarvan gehelp…

Lees volle storie

’n Nuwe baadjie vir Triomf Kliniek

Triomf Kliniek het pas ’n splinternuwe vleuel ingelyf, met ekstra spreekkamers en ’n gemaklike wagkamer, en die deure sal vroeg volgende jaar amptelik vir die mense van Danville en omgewing oopgegooi word. Een van die kliniek se heel eerste betrokkenes, Jula van den Broek, het by die opening vertel watter impak die kliniek op die gemeenskap het. Ons het by haar gaan aanklop om te hoor wat in die binnekringe gesê word.

Jy het uitgehelp en fone beantwoord voor Triomf Kliniek nog ’n verpleegsuster gehad het. Hoe het jy betrokke geraak?
Ek was ’n huisvrou en het voorheen by die CMR gewerk as ’n sorgwerker, so ek het gehoor van die kliniek toe dit nog in die ontwikkelingsfase was. Ek het aansoek gedoen om daar te werk as ontvangsdame, en het nog saam met Iris Roscher rondgegaan en mense vertel van die kliniek. Tans lewer ek administratiewe diens by CMR Noord se kinderbeskermingseenheid, maar ek vertel nog steeds vir almal wat na ons toe kom van Triomf.

Wat het jy destyds gedink toe jy hoor die kliniek maak oop? Wat was in daardie stadium die grootste behoefte onder die mense in jou gemeenskap?
Die kliniek lewer ’n baie waardevolle diens vir die behoeftiges van Danville – hierdie mense leef met geweldige armoede en as siekte ook nog bykom by die daaglikse stryd is dit baie moeilik. Plaas jouself in die ma se skoene – haar kind se neus bloei skielik aanhoudend en sy weet nie wat is verkeerd nie. Sy het niemand om raad te vra nie. Sy kan nie apteek toe gaan nie, want sy het heel moontlik nie ’n kar nie en het ook nie geld vir medisyne nie. Sy kan dalk ’n plan maak en die kind na die naaste staatshospitaal vat, wat in Pretoria-Wes is, waar hulle dan maklik agt ure lank in ’n tou kan sit en wag om moontlik gehelp te word. As sy ’n werk het, gaan haar baas nie baie daarvan hou dat sy vir ’n onbepaalde tyd wil afhê vir iets wat dalk nie so ernstig is nie. Noudat die kliniek daar is, het sy iewers waar sy net kan gaan raad vra, waar die suster mediese kennis het en haar dalk kan help met ’n salfie of net ingeligte raad, of ’n afspraak maak om die dokter te sien. Dit doen soveel vir die menswaardigheid van iemand wat nêrens anders met waardigheid behandel word nie.

Lees volle storie

Die Bytjies is plesierig en dan maak hulle so…

Kersfees is om die draai, en dis altyd een van Atterbury Trust se grootste vreugdes om die kleintjies van Beyers Bytjies kleuterskool te bederf met ’n Kerspartytjie. Ons hoor by skoolhoof Frances Delport hoe die feestelikheid afgeloop het, en vra vir die Bytjies self ’n paar Kersvrae…

Hoe het die Atterbury Trust Kerspartytjie vanjaar afgeloop? Wat was die lekkerste deel daarvan?
Ons Kerspartytjie met Atterbury Trust was wonderlik, omdat hulle altyd soveel moeite en liefde in so ’n dag sit. Hulle het kom worsbroodjies braai, en tussen die braai en die gebaljaar op die springkasteel en die lekker speel en kuier met die kleuters, was dit ’n heerlike dag vir almal.

Is die partytjie iets waarna die kinders baie uitsien – bou julle op daarnatoe by die skool?
Ons as kleuterskool, dit sluit die kleuters en personeel in, is altyd baie opgewonde as Atterbury Trust kom partytjie hou omdat hulle dit altyd met soveel omgee doen. Wanneer hulle hoor Atterbury kom kuier word die slapies behoorlik afgetel…

Het “Kersvader” persente gebring?
Hulle het ons verras met die wonderlikste geskenk vir elke klas – ’n kunskrat met alle soorte kunsmateriaal waarvoor ’n juffrou maar kan vra. Papier, skêre, gom, boeke, verf… noem maar op, alles splinternuut. Nou kan ons die nuwe jaar met ’n glimlag begin! Elke kleuter het boonop ’n rubber-hopballetjie gekry, waarmee hulle omtrent die personeel malgemaak het!

Lees volle storie

Lank lewe Cool Capital!

Cool Capital 2016 is pas verby en weer eens was Pretoria se eie guerrilla DIY biënnale ’n groot sukses. Ons gesels met projekkoördineerder Jana Kruger oor die hoogtepunte en die lesse wat geleer is.

Hoe het 2016 se biënnale vergelyk met die eerste een in 2014?
Cool Capital 2014 het ons baie waardevolle lesse geleer, eerstens dat mens nie alles kan doen nie! Dus het Cool Capital vanjaar besluit om te fokus op kwaliteit, eerder as kwantiteit. Die biënnale was ook korter: vyf weke in vergelyking met 10 in 2014. Nietemin was ons verstom oor wat in dié kort tydperk aangepak is! Daar was ’n groot verskeidenheid en daar is veral gefokus op projekte wat kreatiwiteit al hoe meer by die man op die straat uitbring.

Was daar baie nuwe deelnemers, en het die mense/instansies wat in 2014 deelgeneem het, weer saamgespeel?
Verskeie van 2014 se deelnemers het weer ingespring, soos Atterbury Trust met die skolekunsprojek en PPC met die openbare bankies. Ons is bly oor al die nuwe deelnemers wat aan boord gekom het, veral onder die skole. Hierdie jaar het verskeie skole deelgeneem wat geensins kuns aanbied nie en die projekte was ’n wonderlike manier om kuns in hulle leeromgewings bekend te stel. Projekte soos ‘Saadjies’, die Cool Capital miniatuur beeldhouprojek, het goed gewerk om meer deelnemers te betrek aangesien dit geleentheid bied vir byna 90 kunstenaars.

Wat het 2014 julle geleer wat julle in 2016 kon toepas?
Goeie verhoudings met medewerkers, belangstellendes en Cool Capital-deelnemers is die kern van enige suksesvolle projek. Wonderlike vriende is in 2014 gemaak en hulle was weer staatmakers hierdie jaar. Ons het geleer om onnodige vergaderings te vermy – dit mors tyd wat aan die projekte bestee kan word. Ons het ook geleer dat projekte wat waarde toevoeg nie een persoon se beuel blaas nie, maar eerder ’n groot klomp mense betrek om saam ’n oomblik van kreatiewe vreugde te beleef. En ook dat projekte wat buite, in die openbare ruimte, ’n nalatenskap laat, verkieslik is, omdat dit bydra tot die stad en sy inwoners.

Lees volle storie

Sitplekke met siel

Cool Capital is verby, maar die nalatenskap van Pretoria se guerrilla biënnale sal nog lank gevoel word by Prosperitus Sekondêre Skool in Eersterus. Dié behoeftige skool het min hulpbronne en die leerders het nie eens die geleentheid om kuns as vak te neem nie. En tog is soveel kreatiwiteit aan die dag gelê, vertel Izanne Wiid, die beeldhouer wat die Atterbury Trust-geborgde kunsprojek by die skool gelei het.

Vertel ons meer van Prosperitus se kunsprojek.
Omdat die skool nie kuns as vak aanbied nie, was daar nie die tipiese kunsinfrastruktuur wat mens dalk gewoond is om by ’n hoërskool aan te tref nie. Dis ook hoekom ek as buitestaander die projek gelei het, eerder as die kunsonderwyser wat dit by ander skole doen. Die skoolterrein is stowwerig en leeg, en daar was nêrens plek vir die kinders om eers te sit en hulle middagete te eet nie… so is die idee gebore om mooi bankies te maak. Dit sou die terrein verfraai en ook ’n blywende, praktiese verbetering aanbring wat die hele skool baat.

So die bankies is nou ’n permanente deel van die skoolterrein? Het julle die projek ’n naam gegee?
Heeltemal reg, die kinders het nou iewers om te sit tydens pouses! Die projek het nie ’n naam nie, hoewel die leerders wat betrokke was hul bankies name gegee het – hul eie name in baie gevalle!

Wie het almal deelgeneem, en hoe is die werk verdeel?
Omtrent 25 leerders het deelgeneem, in spanne van twee en drie. Atterbury Trust was so gaaf om ‘n bietjie ekstra te skenk, so ons kon 10 sementbankies koop, saam met die verf en kwaste, en die kinders is gevra om hul verbeelding vrye teuels te gee. Dit was vir my ‘n openbaring… hierdie leerders kom uit baie behoeftige omstandighede en daar is nie vir hulle baie geleenthede nie; en die skool is so ver verwyderd van die soort opvoeding wat kinders by ons meer gegoede skole as vanselfsprekend aanvaar. Die beoefening van kuns is ‘n luukse in sulke omstandighede, waar daar soveel dringender behoeftes is. En tog, die bankies het ‘n verbeeldingswêreld gewys wat getuig van kreatiwiteit en hoop, veral met sekere van die deelnemers.

Lees volle storie

Oog op die trofee

Akademia se jaarlikse Sakeplankompetisie, waarby Atterbury Trust betrokke is as borg, identifiseer ster-entrepreneurs met belowende ondernemings wat groeipotensiaal het. Wenners is op 26 Oktober in die Atterbury Teater aangewys. Vanjaar se wenner van die beste sakeplan vir ’n nuwe onderneming is Elize Roux van Sequel Taxidermy in Vanderbijlpark. Ons het met hierdie passievolle sakevrou gesels oor haar buitengewone dagtaak.

Baie geluk met jou prys! Vertel ons meer van jou onderneming.
Ek is die alleeneienaar en stigter van Sequel Taxidermy, wat ek in 2014 gestig het; en toe het ek ’n looiery bygevoeg in 2015. Dis my speelpark waar ek myself elke dag kan uitleef. Ons vervaardig jag-trofeë en gelooide wildsvelle op aanvraag aan ons kliente. Taksidermie en looiery is meer as net werk vir my, dis ’n passie en my droom is om ’n volhoubare besigheid te bou. Ek het nou 10 voltydse werkers, en ons is ’n span wat saamwerk en ons suksesse saam vier.

Dis omtrent ’n buitengewone dagtaak – hoe groot is die aanvraag?  Hoe en wanneer het die idee vir die onderneming ontstaan?
Taksidermie is ’n skaars bedryf, maar die aanvraag is geweldig groot. Jou naam en reputasie is baie belangrik, aangesien die meeste jagters in ’n area mekaar ken en aan dieselfde jagverenigings behoort. My liefde vir diere en die bosveld het my op taksidermie se pad laat beland. Dit gaan oor respek vir die diere, wat beslis ook my jagter-kliënte beskryf.

Kry jy ooit snaakse kyke omdat mense nie regtig ’n vrou in hierdie besigheid verwag nie?
Interessant genoeg, die vroue is besig om oor te neem in taksidermie! Ons vrouespesie het mos die energie om tyd te verspil op klein goedjies, en dis dan juis wat vroue so goed maak hiermee. Elke ooghaartjie moet presies in die regte rigting lê, selfs die oor-haartjies moet realisties lyk…

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust


Hallo Dr Roscher en almal,
Ek wil namens die agt Thusa kleuterskole van Wes-Moot ons dank uitspreek dat ons kon deel hê aan 'n heuglike dag by Triomf Kliniek, wat werklik van krag tot krag gaan. Dis so verblydend dat wonderlike, geseënde mense hulle harte en beursies oopmaak vir minderbevoorregtes wat dit so broodnodig het. Hoe trots kan hulle nie voel om in hierdie pragtige nuwe, versorgde, skoon kliniek gehelp te word nie. Dis voorwaar uitnemende sorg met waardigheid.
Ons is geëerd om deel van hierdie inisiatief  te wees.

Ons sê so opreg dank.
Elsa Meyer
Thusa
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting