Atterbury Trust Nuusbrief
November 2016
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Om hoop te gee


Die Atterbury Trust was vandeesmaand aktief op al vier ons doelstellingswiele betrokke – ons studente wat nou in die pylvak van 2016 is, het by ons kantore kom draai, ons kon deel in die kreatiwiteit van Cool Capital se skolekunsprojek, daar is geluister na die ongelooflike jong talent by die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie en dan bou ons ook kliphard by die Triomfkliniek.

Louis van der Watt het die Atterbury Trust-studente na ons kantore genooi en geïnspireer met sy suksesgeheime. Vasbyt, deurdruk, fokus op studies, was sy boodskap, met die motivering dat die huidige situasie hulle net sterker gaan maak en beter toerus vir die pad vorentoe. Die Atterbury Trust ondersteun vanjaar 187 studente wat tans regoor Suid-Afrika hulle 2016 eksamen skryf of voorberei vir ’n eksamen wat aangeskuif het. Hulle is op die kruispad van tersiêre onderwys in Suid-Afrika – hulle hoop op ’n kwalifikasie, ’n beter lewe as wat hulle ouers gehad het. En ons glo in hulle.

As deel van die Cool Capital skolekunsprojek, deel ons in wonderlike kreatiwiteit van skoolkinders regoor Pretoria. Een van die dinge wat my die meeste opgeval het van die afgelope Maandag se kreatiewe ingryp van Pretoria Girls High,  was weereens die boodskap van hoop. Die Graad 11-kunsklas het 55 “struggle”-helde by die Nasionale Erfenismonument by die Groenkloof-reservaat geblinddoek met linosnee-gedrukte blinddoeke met boodskappe van hoop in al 11 amptelike tale. Dit was vreedsaam, kreatief en met ’n duidelike boodskap van blindelingse hoop op ’n beter toekoms.

By die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie wat van 17–21 Oktober in die Atterbury Teater plaasgevind het, het 34 talentvolle jong pianiste deelgeneem – hulle het mense geïnspireer met hulle toegewydheid, passie en suiwer talent. Lees in hierdie Omgeenuus meer oor Swunhtat Oo wie se ouers met hoop in hulle harte van Burma na Suid-Afrika geëmigreer het.

Triomfkliniek kry vandeesmaand vier spreekkamers en ’n tandartsstoel by – ons open die nuwe gedeelte op 25 November. Dis ons trots om hoop te kan gee van waardige mediese sorg aan behoeftiges.

Dan bly ons steeds trots Afrikaans, met hoop op ’n lewenskragtige taal wat gedurig vernuwe. En ons is nie op ons bek geval nie, lees gerus die Varsgebekstorie om meer uit te vind van nuwe woorde, idiome, gesegdes en ’n opwindende Kykgoedkompetisie waar ’n groot Atterbury Trustbeurs op die spel is!

Vat hande, ondersteun die Atterbury Trust en help ons om elke dag meer hoop te gee.
Cool Capital onderhoud op die Groot Ontbyt Met Zahn en Jana
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Klaviervirtuoso raap die pryse op


Die algehele wenner van vanjaar se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is ’n onpretensieuse, plat-op-die-aarde 17-jarige van Harrismith, met ’n eksotiese naam danksy sy Burmese agtergrond en ’n paar hande wat 12 note op ’n klavier in een vat kan raakvat. Hierdie presteerder is ook ’n uithaler danser en naelloper; en die eerste leerling in sy skool se geskiedenis wat die wit erebaadjie mag dra vir sy uitmuntende akademiese prestasie (sy jaargemiddelde is sedert Graad 1 altyd 80%) en ook vir dienslewering (dubbeld die aantal ure in die afgelope jaar diens aan die skool gelewer; meer as 120 uur oor ses jaar). Ons het Swunhtat Oo ’n paar dae na sy triomfanttelike aand opgespoor vir ’n geselsie.

Eerstens, hoe spreek ons jou naam reg uit?
Dis “Swan-tah”. My vriende noem my Swan. Jy weet jou naam is buitengewoon as jy die enigste een op Facebook is. Daar is wel vier Swunhtats, maar hulle is almal ek… ek het die wagwoorde vergeet!

Jy is in Suid-Afrika gebore, né?
Ja, nogal ewe in Betlehem. Ek kan ’n bietjie Afrikaans praat, maar my woordeskat laat my soms in die steek!

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is ’n enigste kind, my ouers is van Myanmar in Burma, maar woon al hier van voor ek gebore is. Ek is in Graad 11 aan Harriston Skool in Harrismith, waar ek van Graad 1 was. Volgende jaar is ek hoofseun. Die res van ons familie is oraloor, meestal in Myanmar, maar ook in Singapoer en Kanada.

Jy is seker baie opgewonde dat jy eindelik die groot prys gewen het, want jy het voorheen ook aan die kompetisie deelgeneem en pryse gewen, dan nie?
Ja, ek het al vier keer deelgeneem, eerste keer was in 2012. En ek het al van die kategorieë gewen, maar dis baie spesiaal om die grote te wen.

Hoe lank speel jy al klavier en aan hoeveel kompetisies het jy al deelgeneem?
Vandat ek sewe was. Ek het drie instrukteurs gehad in dié tyd, Mev Martie den Heyer, Beulah van Aswegen en, sedert verlede jaar, Professor Joseph Stanford by Tukkies. Ek het seker al meegeding in so 14 kompetisies.

Lees volle storie

Pretoria-skool verhef hul stemme

Te midde van die landwye gewelddadige student-onrus, het ’n groep hoërskool-leerders van Pretoria hul stemme op Maandag 31 Oktober op ’n ander manier laat hoor. Die skool se kunsklas het die standbeelde van 55 “struggle”-helde by die Nasionale Erfenismonument in die Groenkloof-natuurreservaat geblinddoek as ’n tydelike installasie.

Die projek is gereël onder die vaandel van die Cool Capital Hoërskoolkunsprojek, wat deur Atterbury geborg is as deel van die biënnale. ’n Professionele kunstenaar is vir elke deelnemende skool toegewys om leiding te neem en saam het die kunsklas dan ’n openbare kunswerk geskep wat as deel van Cool Capital uitgestal word. Die tema vir Cool Capital 2016 is “Klein is Groot” en deelnemers is aangemoedig om werke te skep wat wys hoe klein ingrype ’n sterk boodskap kan oordra. Die betrokke skool, wat saam met die kunstenaar Diane Victor gewerk het, het besluit dat hulle projek die gewelddadige protesaksie sal teenwerk met ’n subtiele boodskap van hoop.

Lees volle storie

Meisieshoër maak ’n “kwilt” van portrette vir Cool Capital

Atterbury Trust is vanjaar weer die borg van die 2016 Cool Capital Biënnale se Hoërskoolkunsprojek. In die gees van die tema van die biënnale,  “Klein is Groot”, het die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria ’n projek gekies wat herinner aan ’n kwilt… Kunsonderwyseres Renee Barnard vertel meer.

Wat beeld die werk uit en wat noem julle die projek? Waar gaan dit staan?
Elke meisie het ’n 500mm x 500mm kunswerk geskep wat eer bring aan ’n vrou wat ’n belangrike rol in haar lewe speel, wat dan saamgevoeg gaan word in ’n groter kunsinstallasie om ’n monument van vroue te vorm.  Dit kon ’n portret van enigiemand in haar lewe wees, gemaak in die medium van haar keuse. Vroulike handwerk-items is gebruik – patrone, afval stukkies lap, naald en garing, knope, borduurwerk, naaldwerk, gereedskap, tafeldoeke, kant, krale en enige ander handgemaakte items – wat as vroulike metafore ’n dieper konsep en simboliese boodskap oordra.

Elke meisie het ook die skool se argitektoniese planne van die nuwe studentesentrum in haar kunswerk ingebring, om die werk in verbintenis met die skool te bring. Die uitstalling sal juis ook in hierdie sentrum plaasvind.  Die meisies het ook ’n kunstenaarsboek van die afsny, afval en oorblywende materiale gemaak wat ook deel gaan vorm van die finale uitstalling.

Lees volle storie

Hoe Atterbury die opvoedingskrisis benader

Atterbury probeer met sy beursprogram om op ’n sinvolle manier by te dra tot die ontwikkeling van die volgende generasie en die huidige opvoedingskrisis en voortslepende ontwrigting op so baie kampusse bring die dringendheid van hierdie behoefte skerp in die kollig. Dit is deels hoekom die beurskomitee vanjaar meer beurse toegeken het as waarvoor begroot is, vertel Uitvoerende Trustee Zahn Hulme.

“Dit is nou meer as ooit tyd vir sakeleiers om op te staan en hulp aan te bied met regte leierskap en mediasievermoëns – dit wat só ontbreek in ons huidige regering. Ons jeug het positiewe rolmodelle, mentorskap, asook leiding met die uitoefen van morele waardes, net so nodig soos finansiële bystand. Elkeen van ons moet onsself afvra waar ons kan bydra om hierdie krisis te help oplos.”

Die blote gedagte dat universiteite vir ’n hele akademiese jaar kan sluit is ondenkbaar en sal rampspoedig wees, sê Hulme. “Net in ons klein Atterbury-sirkel het ons vanjaar meer as 50 studente wat op die punt is om te gradueer en aktief te begin deelneem aan die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ons land kan nie bekostig dat ons universiteite sluit nie,” sê sy.

Lees volle storie

Nie op jou (varsge)bek geval nie…?

Afrikaans is so ’n dinamiese taal en dié van ons wat hom praat, sal weet dat daar gedurig nuwe woorde geskep word. Party is so eksoties dat dit mens ’n tydjie vat om uit te werk wat dit beteken, en dan kan jy lekker giggel vir die kreatiwiteit van Afrikaans se woordguru’s. Dink maar aan “goeterjasies” vir “gadgets”; “wolkpos” vir Whatsapp en ander sosiale kommunikasiemiddels; “potgooi” vir “podcast” en “kieriekorting” vir pensioenaris-afslag.

Dis hoekom VivA,  die Virtuele Instituut vir Afrikaans, betrokke geraak het by ’n splinternuwe inisiatief genaamd Varsgebek, om ’n geleentheid te skep waar nuwe woorde, gesegdes en idiome voorgestel kan word vir opname in ’n amptelike woordeboek. ’n Kompetisie met heerlike pryse is aangekondig om voorstelle aan te moedig, en die beste nuwe sêgoed kan selfs opeindig in die HAT, WAT of AWS.

En dit gaan ook oor meer as net woorde – Varsgebek is ook op soek na Kykgoed, en daarmee bedoel hulle visuele uitbeeldings van idiomatiese woorde. Wys hulle met ’n foto, illustrasie, animasie of video wat in jou geestesoog opkom as jy gesegdes soos “vloermoer”, “polisiekoffie” of “tong in die kies” hoor, en jy kan pryse soos tablette, selfone, geskenkbewyse en meer wen.

Atterbury Trust is soos altyd trots om betrokke te wees by die uitbou en behoud van ons moedertaal, en borg dan ook ’n baie spesiale toekenning vir skole. Leerders in graad 11 of 12 wat inskryf in die Kykgoed-kategorie staan ’n kans om ’n Atterbury Trust studiebeurs van R150 000 los te slaan vir verdere studie in enige studierigting by enige naskoolse opleidinginstansie van sy of haar keurse.

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust


Ek is in die bevoorregte posisie om die kleuterskooljuffrou by Pikanini Wolmer te wees. Ons het op die stadium 18 kinders tussen die ouderdomme van vier en ses. In die oggend gee ons die kinders pap vir ontbyt. Daarna gee ek vir so ’n uur of wat klas met die kinders in drie ouderdomsgroepe verdeel. Die groter kinders leer die alfabet en tel. Die kleiner kinders leer kleure en vorms.

Vrydae hou ons bak en brou dae. Ek maak elke oggend pap en kook by die huis vir middagete. Ek vat ook gereeld die kinders parkie toe waar hulle met sade speel-speel leer tel. Baie belangrik – ek leer ook die kinders bid, en ek leer hulle van persoonlike higiëne. Ek geniet my werk baie.
 
Vriendelike groete
Lizal Stander
Areabestuurder Wolmer

Dit is met onbeskryflike dankbaarheid dat ons u vandag bedank vir die kombuisblad wat Atterbury vir ons skool geskenk het.

 
Dit is vir ons ’n voorreg om mense soos Atterbury by ons skool betrokke te hê wat omgee, vir die skool en ons gemeenskap.

Ons het nie genoeg woorde om dankie te sê nie. Dit is ons wens dat Atterbury net sal groei van krag tot krag en dat julle, soos die Vader belowe, ontelbare SEËNINGE sal ervaar. Mag dit honderdvoudig na julle terugkom.

Met opregte, dankbare groete

Mnr S.C. Sealie
Hoof

Gal 6:9
“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslaap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel”
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting