|
|
Baie geluk aan ons stigtertrustee, Francois van Niekerk, wat op 17 Mei 2016 deur Unisa vereer is met ’n eredoktorsgraad in Besigheidsleierskap. In ’n treffende aanvaardingstoespraak het Francois sy insigte oor kontra-intüitiewe leierskap gedeel met die treffende voorbeeld van Koning Moshweshwe wat in die 18de eeu oor die Basoeto-nasie geregeer het. Destyds met die stigting van Atterbury het Francois saam met Louis van der Watt die Atterbury Trust in die lewe geroep. Vanuit die staanspoor is filantropie gevestig in die DNA van Atterbury as maatskappy, sy mense en medewerkers. Twee-en-twintig jaar later dien Francois steeds as een van die vyf trustees van Atterbury Trust en sy visie, voorbeeld, insigte en lewensfilosofie het oor baie jare ’n sterk invloed op dit wat ons doen.
|
|
Atterbury Trust se inpak het ’n wye trefwydte – opvoeding, kuns en kultuur asook die breër gemeenskap. Die grootste gedeelte van ons befondsing gaan aan die beursstudente – daar is vanjaar ongeveer 185 studente wat aan tersiêre instellings regoor Suid-Afrika studeer – lees in hierdie uitgawe ’n paar inspirerende stories van ons staatmakerstudente.
Aan die kultuurkant het ons ook vandeesmaand ’n groot mylpaal gevier. Die Atterbury Teater het in Mei vyf jaar oud geword! Vyf suksesvolle jare is in styl met twee rooitapyt-glanskonserte gevier. Drie van die Bestes het saam met ’n orkes die gaste in die volgepakte teater vermaak met ’n keur van opwindende musiek. Die teater het oor die afgelope vyf jaar 1 700 vertonings gehou en daar is ongeveer 530 000 mense wat op ons sitplekke gesit het – letterlik meer as ’n miljoen voete deur ons deure! Die teater word ook gereeld vir konferensies, danskompetisies asook die Atterbury nasionale klavierkompetisie gebruik.
|
|
Atterbury Trust was ook betrokke as hoofborg van die Cool Capital biënnale wat in Pretoria aangebied is. Ons het onlangs die wonderlike nuus ontvang dat die Cool Capital projek gekies is as Suid Afrika se amptelike uitstalling by die 15de Venesiese Argitektuur Biënnale wat van 28 Mei – 27 November 2016 in Venesië te sien is. Atterbury Trust se naam verskyn as strategiese vennoot by die ingang van die Suid-Afrikaanse pawiljoen en die Cool Capital katalogus gaan ook daar versprei word. Meer daaroor in volgende maand se Omgee Nuus!
|
|
Zahn in Venesië
Aan die gemeenskapsfront is ons besig met groot planne om Triomfkliniek in die weste van Pretoria uit te brei. Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie het addisionele spasie aan ons beskikbaar gestel en die nuwe fasiliteit moet nou opgegradeer en as kliniek ingerig word! Ons is ook kliphard op soek na meer dokters wat betrokke wil raak.
|
|
Advokaat Thuli Madonsela, Zahn Hulme, Tshephisho Somo and Bruce Lister
Die oorhandiging van die Teresa Lister-toekenning is altyd ’n geleentheid waarna Atterbury uitsien, en vanjaar was dit ’n besondere plesier om hierdie trofee te oorhandig aan Tshephisho Somo van Potgietersrus. Die toekenning is vanjaar in sy sesde jaar, en is deur Atterbury tot stand gebring ter ere van Teresa Lister, ’n gewaardeerde kollega wat in 2009 oorlede is in ’n motorongeluk. Teresa was Atterbury se regsadviseur en die trofee word elke jaar by die prestasiefunksie van Tukkies se regsfakulteit toegeken aan ’n vroulike finalejaarstudent uit ’n behoeftige agtergrond wat soos Teresa ’n akademiese uitblinker met ’n sterk sosiale gewete is.
Geluk met die prys. Wat beteken dit vir jou dat jy gewen het?
Dit laat my woordeloos dat ek gesien word as iemand wat selfs net ’n geringe ooreenkoms met Teresa Lister het. Dit laat my meer geïnspireer, gemotiveer en bekwaam voel. En dit het weer vir my bewys dat as mens vasberade, gefokus en passievol is, is niks onmoontlik nie, en ek is een stappie nader aan my doelwitte danksy julle ondersteuning. Ek belowe dat ek my bes gaan probeer om dieselfde te doen vir ander jong Suid-Afrikaners.
Het jy al gedink waarop jy jou prysgeld gaan uitgee?
Die geld sal help met my studentefooie. Dis ’n las van my en my pa se skouers af, want nou kan ek meer tyd op my studies bestee omdat ek nie deeltyds hoef te werk nie.
Vertel ons van jou agtergrond?
Ek het in Mokopane, Limpopo grootgeword en in 2012 aan Hoërskool Piet Potgieter in Potgietersrus gematrikuleer. My ma is oorlede toe ek 11 was, so my pa het ons drie kinders van toe af grootgemaak. My pa is die uitsonderlikste mens wat ek ken. Hy het so baie opgeoffer sodat ons die beste weergawes van onsself kon wees. Ek werk altyd hard omdat ek heeltyd dink dat ek nie my pa gaan ontneem van sy welverdiende reg om te sien hoe ek die mens word wat God voorbestem het nie. Ons het baie swaargekry as ’n familie, geldelik en emosioneel, maar ons het tog ook iets oorleef wat ons gedink het ons nie sou kon nie, so ek weet dat daar selfs in die donkerste oomblikke uitkoms kan wees.
|
|
Die verhaal agter die toekenning
Die hele Atterbury Trustspan was baie hartseer toe ons kollega Teresa Lister in Desember 2009 in ’n motorongeluk oorlede is. Sy was ’n gewaardeerde lid van die span, en iemand wat haar waardes en sterk sosiale bewustheid baie sigbaar uitgeleef het en almal om haar geïnspireer het.
Om haar lewe te vereer het Atterbury kort daarna die Teresa Listertoekenning begin, om jaarliks hulde te bring aan ’n buitengewone student wat dieselfde waardes as Teresa uitleef. ’n Trofee en ’n R20 000 kontantprys word elke jaar by UP se regsfakulteit se prysuitdeling toegeken aan die veelsydigste vroulike finalejaar-regstudent aan Tukkies.
Wat die toekenning ekstra spesiaal maak is dat Teresa se wewenaar, Bruce, van die begin af elke jaar betrokke is by die paneel wat die wenner aanwys.
Die trofee self, geskep deur die hoogaangeskrewe beeldhouer Angus Taylor, is ook baie besonders omdat dit verskillende aspekte van Teresa se betekenisvolle lewe simboliseer, van haar regsgeleerdheid tot haar morele inbors. Taylor het die basis van die trofee gemaak van die hout van die Swazi oordeelsboom, wat volgens Swazi-tradisie gebruik is om mense wat van misdade aangekla is se skuld te bepaal. ’n Beskuldigde sou van die boom se bessies moes eet, en as hy beswyk het, is dit gesien as ’n bewys van sy skuld. Die bessies, alombekend as Boesmansgif, was blykbaar uiters giftig.
Bo-op die houtbasis is ’n skerf van die hardste en digste graniet wat in Suid-Afrika beskikbaar is, wat Teresa se onwrikbare morele inbors simboliseer. Die bondel takkies kom van die Vaderlandswilgerboom, en is groen gekleur om ’n jong boom te simboliseer.
|
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Liné, links, saam met ’n atletiekmaat
Gebore en getoë Overberger Liné Els is as tweedejaar onderwysstudent by Maties een van die akademiese uitblinkers in haar jaargroep, en sy is boonop ’n sternaelloper in die universiteit se atletiekspan. Net soos ons van ons Atterbury Trust beursstudente hou! Sy vertel van haar studente-ervaring.
Vertel ons van jou familie-agtergrond.
Ek is op amper 20 die laatlammetjie in ons huis. My broer word hierdie jaar 27 en hy is al van kleins af een van my rolmodelle. En wat ’n voorreg is dit dat my ouers al vir 31 jaar getroud is. Ons woon al vir ongeveer 19 jaar in Caledon en dit is ook daar in die hartjie van die Overberg waar ek by Hoërskool Overberg gematrikuleer het.
Hoe het jy destyds by die Atterbury Trustbeurs uitgekom?
My broer, Luan, het ook ’n Atterbury Trustbeurs gehad toe hy teologie by Pneumatix in Somerset-Wes gestudeer het. In my matriekjaar het ons maar weer in geloof die kans gevat en aansoek gedoen.
Wou jy van kleins af ’n onnie word, of was daar eers iets anders in jou visier?
Kleintyd wou ek net ’n mamma met baie kinders word. Onderwys is gelukkig baie dieselfde! Ek het ’n groot passie vir kinders, veral kleuters wat nog so blindelings glo en liefhet. My droom is om die kinders na God te lei en hulle te help vorm tot die beste wat hulle kan wees. Op skool het baie van my vriende getwyfel wat hulle met hul lewe wil doen, maar ek het egter geen bekommernis gehad nie.
Wat dink jy voeg jou atletiek by tot jou studente-ervaring?
Om deel te wees van die Maties atletiekspan is vir my baie lekker! Dit help nie net om ’n gesonde leefstyl te volg nie, dit dien ook as ’n uur se afleiding elke dag. Op die atletiekbaan word daar nie gedink aan take wat gedoen moet word of toetse waarvoor geleer moet word nie; daar voel ek vry om net te laat gaan van alle moontlike stres. Ek oefen amper elke dag, maar akademie bly my top prioriteit. Die atletiek dra op sosiale vlak baie by tot my studente-ervaring, ek ontmoet die interessantste mense en ons almal deel dieselfde passie vir atletiek.
|
|
Ons betrokkenheid as aandeelhouer in die Isa Carstens Akademie en die nuwe kampus is ’n rol wat Atterbury baie geniet, so ons is in ons noppies met die splinternuwe Isa Dameskoshuis. Ons het by inwonende hoof Mignon Paulsen gekuier om te hoor hoe anders hierdie moderne fasiliteit is as die gewone universiteitskoshuise waar sy self vir vyf jaar tuisgegaan het…
Waar het die idee van ’n Isa Carstens-koshuis vandaan gekom?
Daar is altyd ’n akkommodasiebehoefte vir studente wat van ver kom. Ouers voel tog dat ’n koshuis ’n veilige tuiste is vir hulle kinders.
Aanvaar julle net Isa Carstens-studente? Hoeveel meisies kan julle huisves?
Ons Isa-studente kry sover moontlik voorkeur en dan maak ons die res van die koshuis vol met verkieslik UP-studente. Ons is besonder goed geleë vir meisies wat by Tuks swot. Die toelatingsproses van buite-studente word baie noukeurig gedoen met die nodige onderhoude en keuringsprosesse. Ons is op soek na hardwerkende studente wat wil deelneem en by die koshuisomgewing inskakel. Tans kan ons eerste koshuis 66 meisies huisves.
’n Moderne koshuis is seker iets heeltemal anders as die instellings wat in boomryke lanings op ons land se ou gevestigde kampusse staan…
Ja ons moes iets baie spesiaal skep wat tot die studente spreek. Net een kyk na die moderne, pragtige koshuis is egter genoeg om enigeen te oortuig dat Isa Dameskoshuis die plek is waar jy wil bly. Die kamers is ruim, sonnig, luuks afgewerk met groot kaste, genoeg pakplek, muurproppe, muurverwarmers en LED nood-studieligte (om maar net ’n paar elemente te noem). Die badkamers is pragtig, modern en daar is meer as genoeg fasiliteite in elke seksie van 16 studente om enige vroeë oggend se toustaan by die badkamers te voorkom.
Aangesien julle hoofsaaklik Somatologie-studente huisves neem ek aan daar is BAIE spieëls met baie lekker lig?
Ja! As daar nou een ding is waaraan daar nie ’n tekort is nie, is dit spieëls en pakplek en ook sommer ’n hele ekstra toesluitbare stoorplek onder die bedbasis. Mens kan sien dat Mnr Roos en sy span al ’n paar jaar met die Isa-studente te doen het en sonder twyfel weet wat die prioriteite is. Saam met dit moet ek darem noem – moenie dat die mooi gegrimeerde gesiggies jou ’n rat voor die oë draai nie. Hierdie meisies weet van toewyding en harde werk en is sonder twyfel voorlopers in die Somatologie-industrie.
|
|
Ontwerp ’n plakkaat, en red jou rivier!
|
|
Bewustheid van water en hoe belangrik dit is vir mens, plant en dier se oorlewing, is ’n kwessie wat ons almal raak, en as dit kom by rivierstelsels is daar baie om te leer. Dit is hoekom Atterbury betrokke geraak het by ’n gemeenskapsinisiatief om skoolkinders in Pretoria betrokke te maak by hulle plaaslike riviere, sodat hierdie kosbare natuurlike erfenis reg bestuur word, vertel Zahn Hulme. “Atterbury het al so baie ontwikkelings in Pretoria gedoen, en mens moet ook teruggee aan die omgewing, daarom is ons graag hierby betrokke. Ons is gelukkig om in ’n stad met so baie riviere te woon en dis belangrik dat ons almal bydra om dit te bewaar, sodat toekomstige generasies dit ook kan geniet.”
’n Kompetisie is uitgeskryf vir alle leerders by skole in die opvanggebiede van al die riviere in die ooste van Pretoria wat in die Roodeplaatdam invloei, om treffende plakkate te ontwerp oor rivierbewaring. Die skeppers van die beste plakkate sal hul pryse by die Atterbury Teater ontvang op Saterdag 4 Junie, die vooraand van Wêreld Omgewingsdag wat op 5 Junie herdenk word. Kunswerke van die wenners gaan vanaf 6 Junie by Glenfair Boulevard uitgestal word.
Volgens die organiseerder, Judy Scott-Goldman, het die kompetisie afgeskop met ’n werkswinkel vir natuurwetenskaponderwysers, wat op 25 Februarie by die JNF Walter Sisulu Omgewingsentrum in Mamelodi bymekaar gekom het. Die onnies is toegerus met inligting oor hoe om kinders in hul klasse opgewonde te maak oor riviere, en meer te leer oor alles wat in en om ’n rivier leef, en wat ’n mens alles kan wys word deur jou plaaslike rivier te bestudeer.
Wie is die organiseerders en waar kom die idee vandaan?
Judy Scott-Goldman: Die idee is verlede September gebore by ’n vergadering van die Adopt Moreletaspruit Forum. Ons het deur Rand Water by die JNF Walter Sisulu Omgewingsentrum in Mamelodi uitgekom, en deur hulle by Fanie Nel, die senior opvoedingspesialis vir natuurwetenskappe en tegnologie vir Tshwane-Suid. Fanie het die idee dadelik verwelkom en deur hom het ons die regeringskole betrek. Ons het besluit om die kompetisie wyer te gooi as net Moreletaspruit, en al drie die riviere wat die Roodeplaatdam voed, en hul sytakke, te betrek. Ons praat dus van Moreleta/Hartbeesspruit, die Pienaarrivier wat deur Mamelodi vloei, en die Edendalerivier verder oos.
|
|
Ken jy ’n slimkop wat graag verder wil studeer, maar wie se familie nie die finansiële vermoë het om studiefooie te bekosting nie? Atterbury Trust ken jaarliks ongeveer 60 beurse toe aan behoeftige uitblinkers wat kan wys dat hulle eendag ’n bydrae in die samelewing wil maak. Daar is nog ’n maand oor voordat die aansoeke vir 2017 sluit, so moenie versuim nie – ons kan nie wag om ’n groep nuwelinge by ons beursfamilie te verwelkom nie! Ons het gesels met Jacie van Rensburg, een van die mentors wat ons beursstudente op Potchefstroom ondersteun.
Vertel ons bietjie van jou agtergrond en hoe jy by Atterbury betrokke geraak het.
Ek het so twee jaar gelede afgetree as dominee… my gemeente was hier in Potch en ek was ook vir 11 jaar hier die studenteleraar, so ek ken studente baie goed. Sedert my aftrede is ek voltyds ’n “strength coach” wat werk met individue en klein maatskappye, en mense help om hul eie sterk punte te ontdek en uit te bou. Ek is baie lief vir mense, so toe Leonie du Preez van Grolife my nader om vanjaar te begin help met die mentorprogram het ek dadelik ingestem omdat dit so ’n interessante toevoeging is tot wat ek doen.
Hoe belangrik dink jy is Atterbury se beursprogram? En die mentorskap-aspek daarvan?
Ek haal my hoed af vir Atterbury dat hulle in die mens belê en nie net in die akademie nie. Die kwaliteit van die jongmense wat ek sover ontmoet het, het my verstom en is weer eens ’n pluimpie vir Atterbury vir die keuringsproses. My belewenis is dat baie van die studente se infrastruktuur maar beperk en smal is, en die mentorprogram voeg daartoe by, maak dit wyer, wat elkeen van hulle verryk.
Hoeveel studente is onder jou mentorskap en hoe gereeld sien jy hulle?
Hier op Potch sien ek ongeveer 25 studente, en ek het nog so 15 onder my mentorskap by Kovsies. Ek sien elke student twee keer per jaar, en ons begin met die eerstejaars, en volg dan met die ouens wat al verder is. Een keer ’n semester is genoeg, as dit meer gereeld was sou die gevaar bestaan dat dit voorkom of ons hulle dophou en daardie spanning sal die ondersteuning wat ons wil bied, teëwerk.
|
|
Twee Triomf-antelike jare...
|
|
Die Triomfkliniek het sedert sy opening in 2014 ’n steunpilaar vir die behoeftige gemeenskap van Pretoria-Wes geword, waar pasiënte teen geen of min onkoste uitstekende mediese sorg kan ontvang. Danksy die SA Vrouefederasie wat die spasie in ’n gedeelte van SAVF Margaretha Ackermann beskikbaar gestel het, is ’n kliniek geskep waar vrywilligerdokters hul spesialisdienste gratis lewer. Nou, twee jaar later, maak die SAVF weer so, en gee ruimhartig nóg plek sodat die kliniek kan uitbrei en nog meer mense kan help. SAVF se Marietjie van der Spuy vertel meer.
Wat ’n pragtige gebaar. Wat gaan die uitbreidings behels?
Ons onderhandel nog oor detail, maar die idee is om nog ’n deel van SAVF Margaretha Ackermann aan Triomf beskikbaar te stel, waar tandheelkundige dienste aangebied kan word, en ook ’n afdeling wat soos ’n daghospitaal sal funksioneer, waar kleiner prosedures uitgevoer kan word.
Hoe het die besluit gekom om die kliniek uit te brei?
Dit het duidelik geraak dat daar regtig ’n behoefte is aan ’n ontvangsarea en wagkamer; en toe ons daaroor begin praat het dit aan die lig gekom dat daar ander behoeftes ook is, soos plek vir ’n tandarts.
Is dit deel van ’n groter plan?
Ons voel dis noodsaaklik vir beide die gemeenskap en vir SAVF dat die diens wat Triomf bied kan uitbrei. Ons wil meer mense kan help, en ons kyk ook na die moontlikheid dat daar nog sulke klinieke elders by SAVF-fasiliteite gevestig kan word.
|
|
Ons Atterbury Trust
Leylene Kruger BSc (Geo-Informatika) UP
Dit gaan lekker besig die jaar. Honneurs is maar “tough”. Ons skryf binnekort al ons derde eksamen vir die jaar en my projek gaan goed aan. Ek is baie opgewonde oor my projek. Ek doen toetse met “compounds” op Tuberkulose (TB) om te kyk of dit ’n effek kan hê daarop. As alles goed gaan, is ek hopelik betyds klaar daarmee voor die einde van die semester soos beplan.
Ek het nog tussen deur al die gewerk my graad gekry. Ek wil net graag sê hoe ongelooflik dankbaar ek vir julle by Atterbury is. Julle het in my geglo.
Julle het my die geleentheid gegee om my studies te kan voltooi en nog verder te kan swot. Dankie vir al die ondersteuning en hulp oor die afgelope paar jare. Julle maak 'n groot verskil in soveel mense se lewens.
Groete Leylene Kruger

Liné Neumeyer BCom (Rek) NWU and BCom (Hons) Unisa
Ek wil net graag ’n tydjie vat om baie dankie se vir al die hulp, raad en ondersteuning van 2011 af.
Ek weet ons is nie meer gereeld in kontak nie, maar julle bly steeds vir my rolmodelle na wie ek opkyk.
Ek dink mens besef eers bietjie later watse groot hulp Atterbury werklik was! Noudat ek werk en ’n toekoms begin bou, weet ek hoe moeilik dit is om positief en gemotiveerd te bly en dis iets wat ek nog altyd in julle raakgesien het en admireer!
Baie dankie weereens!
Groete Liné
|
|
|
|
|
|
|