Atterbury Trust se beursstudente kry meer as net finansiële ondersteuning, en dis juis die mentorskap van die Gro-Life beradingspan onder leiding van Leonie du Preez wat baie van hierdie jongmense tot hul grootste hoogtes aanspoor. Natalia Visagie het self vir ses jaar ’n Atterbury Trustbeurs gehad terwyl sy by Tukkies teologie geswot het, en nou dra hierdie alumna haar Vrydae op aan die Trust as berader vir die huidige beursstudente. Dít terwyl sy haar tweede meestersgraad voltooi, drie dogters grootmaak en voltyds werk as leraar. Ons hoor meer oor die paadjie wat haar tot hier gebring het.
Jy klink na ’n meester van die multitaak! Vertel ons bietjie van jou gesinslewe.
Ek het drie dogters, Marna is elf, Ruve, drie en Talita is een. Ons het in Maart na Alberton verhuis, waar ek as voltydse leraar aangestel is. Ons is in ’n baie besige lewensfase gewikkel met klein mensies wat die wêreld ontdek, uitdaag en berge verskuif. Ek en Reuben is vyf jaar getroud en geniet mekaar se geselskap en om reisgenote te wees van die lewe.
Hoe het jou paadjie destyds met Atterbury s’n gekruis en wat was jou persoonlike omstandighede in daardie stadium?
Ek was in matriek aan Hoërskool Pretoria-Wes in 2005 en my skoolhoof, Rita Coetsee, het haar voorgeneem dat sy vir my ’n beurs gaan soek. Ek het na matriek eers vir ’n jaar gewerk, en myself vreeslik jammer gekry oor my groot drome om te gaan swot nie realiseer het nie. Ek het wel in daardie tyd ’n korrespondensiekursus in Menslike Hulpbronbestuur aangepak, maar dit was nie wat ek graag wou studeer nie. As dit nie vir die beurs was nie, sou dit my baie langer gevat het om my drome te kon vervul.
Hoe het jy op teologie besluit as ’n studierigting?
Ek het geweet ek wil met mense werk. In matriek het ek begin met ’n korrespondensiekursus in Pastorale Berading en daarom het ek geweet ek wil òf berading òf sielkunde studeer. Ek het aanvanklik gereken my roeping was net om pastorale berading te doen. Eers heelwat later in my studies het ek besef dat ons deur prediking en gemeenskapsdienste voorkomend optree en sodoende juis die behoefte aan berading minimaliseer. Ek en my pa het in my Graad 10 jaar begin om ’n Bybelskool by te woon en dit het my belangstelling in teologie geprikkel.
Ek het by Tukkies my BTh en my MDiv graad voltooi en is nou al meer as tien jaar blootgestel aan teologie as vakgebied. Ek is hooked! Tans is ek besig met my tweede meestersgraad, aan die Universiteit van Stellenbosch, deur middel van ’n beurs wat die kerk van Swede aan my toegeken het om my MTh te voltooi in “Geslag, Gesondheid en Teologie”. Ek is sterk besig met my skripsie en mik om dit einde November in te dien.
|