Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
Februarie 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Versnit 2015

Die Atterbury en Rust en Vrede Versnit is vanjaar vir die vierde keer deur Rust en Vrede, Atterbury Trust, Atterbury en Attacq aangebied. Die spesiale geleentheid, wat ten bate van die Atterbury Trust aangebied word, het oor die afgelope paar jaar soos n goeie versnitwyn ontwikkel en in statuur gegroei. Talentvolle Afrikaanse kunstenaars — sommige al volksbesit oor jare en ander splinternuut — het die uitgelese gehoor vanjaar meegesleur op ’n nostalgiese reis.

Wanneer Suid-Afrika se beste Afrikaanse kunstenaars bymekaar kom om ’n vertoning soos Versnit aan te bied, is dit ’n voorreg om na hulle te kan luister. Om dit saam in die wonderlike natuur by Rust en Vrede te geniet, is voorwaar ’n geleentheid om te onthou.

Ons het na ou, ou liedjies van Laurike Rauch geluister. Liedjies soos Blou Kafee en Nostalgie het ons teruggeneem na tye van mooi wense wens en drome droom. Elvis Blue het ons laat terugverlang na die dae toe ons jonk was. Steve Hofmeyr het ons herinner aan die vrou agter elke man, maar ook die voete laat jeuk met Pampoen!

Tussendeur het ons verder die pad met Amanda Strydom saamgeloop. Jannie Moolman het ons laat dink aan swaarkry as die wintermaande nader kruip op die Boereplaas en eensklaps is ons verras deur die nuweling, Joshua na die reën, se Sekelmaan en Lig op die Horison.

Riana Nel het ons laat opkyk na die hemel, weg van jouself af op ’n heerlike somersaand op Rust en Vrede. Saam met Adam Tas het ons gevra: Is dit hoe die hemel lyk, is dit hoe die hemel proe? 

Hierdie aand kan net plaasvind as gevolg van die insette van baie mense agter die skerms. Jean Engelbrecht en die Rust en Vrede mense, Louis van der Watt, Zahn en Karin van die Atterbury span, die infrastruktuur- en dekorspan van Cotton Events en die administratiewe personeel, chefs en kelners.

’n Groot dankie ook aan Matthys Maree, Alexa Strachan en die orkes, asook compére Johan Badenhorst.

Sien al die foto’s hier
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn

Op die drumpel!


Die akademiese jaar begin hierdie maand vir talle nuwe Atterbury beursstudente… Onthou jy nog die vlinders in die maag van eerstejaartjie wees? Kyk wat hierdie voornemende studente te sê het oor waarna hullle uitsien.
Twintigjarige Rikus Boshoff moes ’n jaar wag om te begin studeer want sy ma kon nie bekostig om hom universiteit toe te stuur nie. Met die hulp van ’n Atterbury Trustbeurs is die 20-jarige boorling van Potgietersrus nou gestewel en gespoor om sy eerste jaar LLB by PUK aan te pak.
 
Altus Bisschoff is 19 en het verlede jaar by Hoërskool Menlopark gematrikuleer, met nie minder nie as nege onderskeidings! Die slimkop is by Tukkies aanvaar en is vanjaar ‘n eerstejaar meganiese ingenieurswese-student.
Lees meer

’n Voorsmakie van ’n eksotiese land


Atterbury alumnus en voormalige Tukkie, Heindrich Paul, het verlede jaar die geleentheid gehad om Indië te besoek. Hy deel sy reisdagboek met ons...
“Op 2 September 2014 het ek die voorreg gehad om in Indië aan te kom vir ’n besoek van ’n volle maand, vir my werk by Standard Bank. Ons bestemming was Bangalore of soos dit in Indië bekend staan, Bangaluru, in die staat van Karnataka. Dis in die suide van Indië en een van die grootste stede in die land. Die rede vir ons besoek was hoofsaaklik vir opleiding vir Standard Bank.

Wat ’n ervaring! Gedurende die maand het ek baie nuwe en vreemde goed ervaar en gesien. Van die kos en die gewoontes tot hoe die mense daar vervoermiddels gebruik en rondreis was ’n belewenis en heeltemal anders as wat ons hier gewoond is...

Lees meer

Ons ❤︎ Atterbury

My reis saam met Atterbury

My reis met Atterbury het in 2010 begin toe ek nie n idee gehad het hoe dit vir my moontlik gaan wees om te studeer nie…

Atterbury het vir my ’n deur gegee wat net gewag het om oopgemaak te word! Die geleentheid om te studeer. Ek is een van die geseënde mense wat, ten spyte van ’n paar struikelblokkies, die voorreg gehad het om te studeer in Suid-Afrika.

Van kampe en “Grow” sessies saam Leonie, jaareindfunksies en lekker lag tot laaaaaang ure se sit en leer, gepaard met min slaap was Atterbury al die pad saam my.

In die afgelope vier jaar het my paadjie met my droomman s’n gekruis, ek het verloof geraak, getrou, van die wonderlikste avonture van die lewe geniet en my graad in BCom Bemarkingsbestuur voltooi deur Unisa. Nou vir my reis by GROOTfm…

Dankie Atterbury vir al julle liefde, ondersteuning, finansies en geleenthede. Dankie dat julle in my lewe belê het. Ek is geseën tot in my kleintoontjie.

Sterkte en geluk aan al die nuwe studente van Atterbury Trust. Al die lang ure en min slaap is die moeite werd. Druk deur. Gryp elke geleentheid wat God op jou pad bring. Geniet elke oomblik.

Madelaine Viljoen

Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting