Atterbury Trust Nuusbrief
April/Mei 2016
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Wie is ons beursstudente?

Derik
Stephano

Met Paasnaweek agter ons, beteken dit Atterbury se splinternuwe beursstudente is amper nie meer nuwelinge op universiteit nie! Vanjaar is daar in totaal 188 belowende jongmense in die beursprogram, en 64 van hulle het vanjaar by ons aangesluit, danksy die ruimhartige skenkings van al Atterbury se wonderlike donateurs.

Kyk mens na die getalle, sien jy die volgende patrone: die skone geslag is in die meerderheid, met 114 meisies teenoor 74 ouens. Die Universiteit van Pretoria is waar die meeste van hulle ingeskryf is – 70 in totaal – en die res swot by Noordwes Universiteit, Unisa, Stellenbosch Universiteit, Universiteit van die Vrystaat, AROS, CPUT, Belgium Campus, Isa Carstens en nog ’n handvol ander instansies… Ons het ook twee hoërskool-leerders, een in Graad 10 en die ander in Graad 11.

Onderwys is by verre die gewildste studierigting, met 42 van ons studente wat besig is om hulle as onderwysers te bekwaam. Met opvoeding so hoog op Atterbury se prioriteitelys voel ons besonder trots om te dink aan die wonderlike bydrae wat hierdie groep eendag gaan maak deur terug te ploeg in die onderwys.

Wetenskapsrigtings kom tweede, met 32 studente wat ingeskryf is vir BSc-grade, in ’n verskeidenheid van rigtings van Veeartsenykunde en Aardwetenskap tot Spraakterapie en Genetika. Die ander grootste groepe is BCom met 32 en ingenieurswese, met 27 studente, hoewel regte ook gewild is – daar is 11 LLB studente. Ses studente swot medies, en die kunste word ook verteenwoordig, met fotografie en ontwerp, teaterproduksie en skone kunste.

So hoe gaan dit met die nuwelinge noudat ’n kwart van die eerste jaar verby is? Derik Venter, ’n BCom student aan UJ en Stephano Roodt, wat BSc by Stellenbosch swot, deel hulle eerste indrukke:

Hoe het julle by Atterbury uitgekom?
DV: Ek het na matriek begin werk omdat ek nie kon bekostig om dadelik te gaan studeer nie. Ek het ‘n bietjie deeltyds geswot, en die laaste werk wat ek gedoen het was om ekstra wiskundelesse aan te bied vir hoërskoolkinders. My ma het uitgevind van Atterbury Trust se beursprogram en ek het dadelik aansoek gedoen. Ek het baie geluk en dankbaarheid in my hart dat ek deel van die Atterburyfamilie kan wees!

SR: My suster, Suné, het een van Atterbury se beurse, so dit is hoe ek geweet het van die program. Ek het styf duimvas gehou dat ek ook so gelukkig sou wees!

En as die beurs nie gematerialiseer het nie, wat was Plan B?
DV:  My Plan B sou wees om aan te hou werk en later te probeer om my studies deeltyds te voltooi.

Hoekom het jy jou vakrigting gekies?
DV: BCom Finansies interesseer my omdat finansies so ’n belangrike deel is van elke individu en alle besighede se bestaan. Ek sal graag mense en besighede wil help om hulle finansies beter te bestuur. Ek vind dit verskriklik interessant hoe verskillende faktore finansiële besluite kan verander. Dis ’n veld wat gedurig verander en ontwikkel en dit sal mens op jou tone hou!

SR:  Ek het besluit op BSc Veekunde omdat ek graag met diere werk, en graag buite is. Dis ’n veld met baie werksgeleenthede, wat ook my besluit beïnvloed het.

Wat was die grootste aanpassing tussen skool en universiteit?
DV: Die werk is baie meer as op skool en mens het nie iemand wat heeltyd kyk of jy wel jou werk doen nie. Dis moeiliker werk, wat nogal ‘n aanpassing is, maar as mens bybly en jou deel doen, maak jy sake makliker vir jouself.

SR: Ek stem! Die hoeveelheid werk, en die feit dat jy self moet verantwoordelikheid neem daarvoor is beslis die grootste verskil tussen skool en universiteit.

En wat is die lekkerste deel van studentwees sover?
DV: Ek reken dis die tyd wat jy het om saam met vriende en familie deur te bring, mits jy natuurlik bybly met jou studies! En dis so lekker om so baie verskillende soorte mense te ontmoet.  Die lang Desembervakansies is ook nie te versmaai nie!

SR: Alles is nuut, en dis so ’n avontuur! En ek geniet dit om so baie nuwe mense te ontmoet.

Waarna sien jy uit vir die res van die jaar?
SR: Ek swem vir Maties se nasionale span, en ek sien geweldig baie uit na my swemtoekoms dié jaar… Ek oefen twee tot drie keer per dag, en het onlangs eerste gekom by ’n swemkompetisie by die V&A Waterfront in Kaapstad, so ek kan nie wag om te sien wat ek vanjaar gaan bereik nie!

Om by te dra tot die Atterbury Trust se beursfonds, klik hier.

Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Van bloed trek tot babas vang…

Werner du Preez van Centurion voltooi die driemanskap van Atterbury-beursprogram se eerste gekwalifiseerde mediese dokters wat 2016 die arbeidsmark betree. Hy is vanjaar met sy huisdokterjaar besig by Kalafong Hospitaal.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom, en hoe lank was jy een van ons beursstudente?
Ek was in dieselfde eerstejaarklas as Lané Dorman, wat toe reeds ’n Atterburybeurs gehad het, maar ek was op my eie onkoste daar. Na die eerste jaar het ek besef ek sal dit nie kan bekostig sonder hulp nie. Lané het my toe vertel van Atterbury en ek het aansoek gedoen. Ek was gelukkig om aanvaar te word, so van my tweede jaar tot ek verlede jaar graad gevang het, was ek deel van die beursprogram.

Wou jy van kleinsaf ’n dokter geword het?
Nee, definitief nie… ek het nog in Graad 12 omgekap as ek bloed sien! Ek het gereken ek sal ’n prokureur word, maar op die ou end het dit net nie gevoel na die regte beroep vir my nie. My punte het half gewys in die rigting van medies, maar ek was nie seker nie, so toe het ek die jaar na matriek in Unitas Hospitaal gaan werk om ’n gevoel te kry. Ek het by die patoloë gewerk en het gedink ek sal maar net algemene werkies doen soos skoonmaak en bloedmonsters ronddra.

Maar op die eerste dag al het hulle gesê hulle sal my liewer oplei, omdat ek my andersins sou doodverveel. So daar beland ek wat omgekap het as my bloed getrek word, in die patologie-departement van ‘n hospitaal waar ek self leer bloed trek – hoe ironies! My bene het maar gebewe daai eerste dag en ek het nie gedink ek gaan dit maak nie, maar voor ek my kom kry, was die eerste week verby, en ek het gewoond geraak soos hulle gesê het! Na die jaar by hulle het ek by Tukkies aansoek gedoen vir medies en is eers nie gekeur nie, so toe skryf ek in vir BSc met dieselfde vakke.

Na ses maande is my punte hersien en ek is toegelaat om oor te skuif medies toe. Ek het ook by die patoloë aangebly vir deeltydse studentewerk, en het sodoende darem ’n klein inkomste gehad.

Lees volle storie

Die “koshuis” van die toekoms

CampusKey verskaf premium verblyf aan studente by ’n groeiende aantal Suid-Afrikaanse universiteite, en het saamgespan met Atterbury om twee van ons beursstudente te help met akkommodasie. Ons hoor meer by Leon Howell, besturende direkteur van CampusKey.

Hoe het CampusKey en Atterbury begin saamwerk?
Ek en my vier CampusKey-vennote het oor baie jare, in ons eie hoedanighede, ‘n sterk verhouding opgebou met Atterbury, Louis en Zahn. CampusKey se verblyf bied ‘n lewenstyl aan studente om hul die beste kans te gee vir akademiese sukses en met die noue betrokkenheid by die welsyn van ons studente, maak dit net sin dat CampusKey hande vat met Atterbury.

Hoe en wanneer het CampusKey ontstaan?
Die maatskappy is gestig in 2012, nadat Neno Haasbroek, Antoin van Rensburg, Mark Mouton en Chris Heunis ’n gaping in die mark geïdentifiseer het: veilige studente-akkommodasie wat ook ’n dinamiese studentelewe bied. CampusKey het in ‘n relatiewe kort tyd tot die markleier gegroei.

Waar is julle oral?
Ons bied leefstyl-fasiliteite by meeste universiteite in Suid-Afrika en is reeds in Stellenbosch, Pretoria, Bloemfontein, Potchefstroom en Port Elizabeth. Ons sal gereed wees vir innames by UCT in Kaapstad aan die einde van die jaar.

Hoeveel studente landwyd bly in CampusKey verblyf?
Tans huisves CampusKey amper 2 500 studente en dit sal groei na 3 400 in 2017, met ongeveer 1 000 ekstra beddens wat ons jaarliks byvoeg.

Lees volle storie

Atterbury Teater word vyf!

Lynnwood Bridge se gewilde Atterbury Teater vier binnekort sy vyfde verjaardag en gaan partytjie hou met ’n baie spesiale konsert. Teaterbestuurder Paulette Reyneke deel ’n paar beduidende syfers en herinneringe…

Hoeveel kaartjies is deur die jare reeds verkoop?
Ons het nie al die syfers reg van die begin af nie, maar net vanaf 2014 tot nou is kaartjies ter waarde van R12 976 832 deur Computicket verkoop! Ons is die Computicket afsetpunt met die hoogste kaartjieverkope in Suid-Afrika.

Sjoe! En hoeveel vertonings was al op die verhoog?
Daar was al meer as ’n duisend…

Wat was tot dusver die grootste vertonings?
As ons praat van langste speelvak, is dit “Stuur Groete aan Mannetjies Roux” wat vir ses weke gespeel het net toe ons oopgemaak het, in 2011. Tweede is Nataniël se “How Moon Got her Name” wat in Desember 2015 en en vir ’n verdere twee weke in Januarie en Februarie 2016 op die planke was. Die grootste getal kunstenaars nóg in een vertoning was juis in “Stuur groete aan Mannetjies Roux” – omtrent 10 van hulle. En as ons kyk na die vertoning wat die grootste getal van die regte top-kunstenaars gehad het, is dit ons jaarlikse “A Night with The Stars” vertoning wat ons vir FNB doen met ’n orkes en vyf van die beste kunstenaars in ons land.

Wie is die kunstenaar wat sover die heel meeste in Atterbury Teater opgetree het?
Nataniël, met sy gereelde seisoen-kombuise en ook sy vertonings, wat bykans altyd uitverkoop is.

Lees volle storie

Ons Atterbury Trust


Liné Els is ’n tweedejaar BEd Grondslagfase student by die Universiteit van Stellenbosch. Sy is aangewys as as een van die universiteit se top-presterende eerstejaarstudente vir 2015!

Ek wil aan almal in die Atterbury-span net baie dankie sê vir die invloed wat die beurs op my lewe het.

Sonder u hulp sou ek nie hierdie geleentheid gehad het nie.

Vriendelike groete,
Liné Els

Fondsinsamelingskonsert vir KANSA


Atterbury Teater en Atterbury Trust bied met trots op 7 April ’n aandjie uit aan ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Twee van die land se mees geliefde sangers, André Schwartz en Arina de Witt, span saam vir “One Enchanted Evening for Cansa” en die opbrengs van alle kaartjieverkope word geskenk aan die nie-vir-profyt organisasie wat met soveel deernis sorg en ondersteuning aan kankerpasiënte verskaf.

Verhoogveteraan André Schwartz is bekend vir sy wêreldklas vertolking van die titelkarakter in Sir Andrew Lloyd Webber se gewilde musiekblyspel The Phantom of the Opera. Hierdie veelsydige kunstenaar het 13 albums op sy kerfstok, heelparty met goue status en kan sy goue stem aanwend vir ’n verskeidenheid van style, van moderne Afrikaanse musiek en musiekblyspele tot “big-band” treffers. Menige van André se oorspronklike liedjies het al volksbesit geraak; dink maar aan treffers soos “Lief Vir Alles Hier”, “Ek Wil Jou Nooit Weer Sien”, “Kom Terug” en “Met Jou in My Lewe”.

Sy sangmaat vir die aand, Arina de Wit, is self ’n veteraan wat talle albums uitgereik het en ’n ou bekende is op televisie en verhoogoptredes regoor die land. Sy het nie net ’n nagtegaalstem nie, maar ook ’n repertoire van tydlose treffers in verskillende tale en genres; en die vertoning sal dan ook musiek in Afrikaans, Frans, Engels en Italiaans insluit.

“As jy lus is vir ’n aand van sielsverkwikkende musiek wat boonop ’n goeie doel ondersteun, maak seker jy bring vriende en familie en kom geniet hierdie spesiale eenmalige konsert,” sê Munnik Marais van Kansa.

Die 80-minute-lange konsert begin om 19:00 op 7 April en kaartjies is teen R150 elk by Computicket en op die volgende webwerf beskikbaar: http://www.cansa.org.za/one-enchanted-evening-for-cansa-7-apr-2016/
Een gelukkige kaartjiehouer in die gehoor sal ook ’n prys ter waarde van R6 100 wen: twee nagte, met ontbyt, vir twee mense by die baie gewilde Kloofzicht Lodge & Spa in Muldersdrift. Wat ’n lekkerte!
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy daarop ingeteken het.

Ons adres is:
Atterbury Trust
Atterbury Property Holdings
Lynnwood Bridge
Pretoria, Gauteng 0081
South Africa

Add us to your address book


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting