|
|
Die eerste Omgeenuus van 2021 word hoofsaaklik gewy aan Terugploeg, die nuwe voedselverskaffingsinisiatief wat gedurende die grendeltyd onder die vaandel van die Atterbury Trust momentum gekry het. Ons is baie opgewonde dat die eerste sooi verlede week gespit is op die terrein, wat goedgunstiglik deur WeBuyCars beskikbaar gestel is. Dirk van der Walt het die rooi grond hoog deur die lug laat vlieg en ons is dankbaar dat die visie van ’n plek waar mense kan werk, leer en ’n beter lewe vir hulle en hulle kinders kan skep, nou besig is om ’n werklikheid te word.
Ons word ook steeds oorlaai met aanbiedinge van groothartige boere, soos Lourens en Kobus van der Linde van LFC Meule in Wesselsbron wat agt ton meel in die afgelope week afgelaai het, en Johan Eloff van Crome Traders wat maand na maand meel skenk wat ons dan verder onder behoeftige organisasies kan versprei. En daar is soveel ander… ons sien uit om in die komende maande die stories met julle te deel.
Arnold Prinsloo, HUB van Eskort, in samewerking met Saronsberg, het onderneem om die totale opbrengs van hulle gesogte welwillendheidsinitiatief, Liberi, aan die Atterbury Trust te skenk. Lees gerus die mooi storie en klik op die skakel na ons Donasiewinkel om ’n kas of drie van die uitsoek Pinotage 2017 te bestel.
’n Verdere vreugde hierdie tyd van die jaar is die suksesse van ons studente. COVID-19 het beslis nie in hulle pad gestaan nie en ons kan met trots aankondig dat 59 kandidate hulle B- of BHonsgrade behaal het. Ons spog met ’n paar van hulle en het gaan uitvind waar hulle vanjaar begin werk. Daar is ook ’n onderhoud met Jacques Fourie wat saam met sy vriend en studentemaat ’n gesogte landswye entrepreneursprys losgeslaan het.
Atterbury Trust se hande word al oor die jare sterk gemaak deur weldoeners met groot harte. Triomfkliniek baat veral by die hulp van Zuid-Afrikaans Hospitaal en ons het gaan gesels met hospitaalbestuurder Robert Jordaan oor die motivering agter hulle ondersteuning.
Ons nooi elkeen uit, veral in hierdie tyd van Lent, waar ons geroep word om ons bestaan in oënskou te neem, om te oorweeg waar jou hart jou lei om betrokke te raak by iets groter as jouself. Ons waardeer enige hulp, bydraes en ondersteuning by ons onderskeie projekte; waarookal jou passie is – opvoeding, kuns en kultuur of gemeenskapsprojekte soos Triomf of Terugploeg. Dis mense soos ek en jy, met ons unieke talente, passie en toewyding, wat Suid-Afrika ten goede verander. Vir altyd.
Ek laat jou met ’n gedagte in hierdie tyd van Lent.
Pous Franciskus het in die grendeltyd ’n boek geskryf, Let us dream, en daarin tref hy ’n vergelyking tussen die tyd waarin ons nou is en die storie van Noag. Ek vertaal vrylik: die storie van Noag en die ark gaan nie net oor vernietiging nie, maar wel wat daarna gebeur het. Die hernuwing van die menslike bestaan, wat beteken ’n terugkeer na respek vir grense, ’n einde aan die roekelose gejaag na rykdom en mag, om na die armes en die mense op die rand van die samelewing om te sien. Vrede word geskep.
Ons word geroep om die aarde te herstel, vir armes hoop te skep en vir mense om in kontak met hulle siele te kom. Dit is die genade wat nou vir ons beskikbaar is. Kom ons doen dit saam.
|
|
Terugploeg se hulp wat werk word ’n werklikheid
|
|
|
Faan en Dirk van der Walt spit die eerste sooi van Terugploeg se nuwe hoofkantoor in hul hoedanigheid as medestigters van WeBuyCars
|
|
Die eerste sooi van Terugploeg se nuwe verpakkings-, verwerkings- en verspreidingsfasiliteit is op Woensdag 24 Februarie 2021 gespit. Die ontwikkeling is strategies langs die N4-hoofweg geleë, naby die Cullinan/Rayton-afrit. Die sooispitseremonie is deur verteenwoordigers van Terugploeg se stigterorganisasies, Atterbury Trust, Vibro Bricks en WeBuyCars, sowel as ’n aantal donateurs, boere en konstruksiespanne bygewoon.
Lood Bester, ’n medestigter van Terugploeg, sê die idee vir die Terugploeg-organisasie het tydens die grendeltyd ontstaan. “’n Groeiende kosnood is in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe opgemerk. Hierdie hulpbehoewendes het geen ondersteuning vanaf amptelike bronne ontvang nie.”
Bester en sy vriende het ingespring en hulle informele voedselinsamelingsaksies het vinnig momentum ontwikkel. Só is ’n netwerk van boere ook betrek. Boere van so ver as Letsitele en Groblersdal het betrokke geraak en tonne groente, vrugte en wildsvleis geskenk. Die voorraad is by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar is die kos verdeel in kleiner porsies en met Vibro-bakkies onder ouetehuise, kinderhuise en skole uitgedeel. Instansies is geverifieer om egte nood te bepaal en om te help waar dit die nodigste is.
|
|
Maak ’n bydrae
Atterbury Trust is ’n publieke voordeelorganisasie. Donasies is belastingaftrekbaar.
E-pos: zahn@atterbury.co.za
Banksbesonderhede:
Atterbury Trust
Nedbank: 1497004187
Takkode: 149745
Donasiewinkel: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/
|
|
|
Van kuns, wyn, en welwillendheid
|
|
Atterbury Trust is in die wolke om vanjaar ’n begunstigde te wees van Eskort en Saronsberg se innoverende Liberi welwillendsheidprojek, waarmee verlede jaar R800 000 ingesamel is vir opvoeding- en voedingskemas, deur die verkoop van ’n eksklusiewe wyn-versameling. Liberi – wat in Latyns “kinders” beteken – kry vanjaar ’n nuwe baadjie danksy die kunstenaar Claudette Schreuders. Die 2021 samewerkingsprojek bestaan uit ’n beperkte produksievolume waarvan die opbrengs aangewend sal word ten bate van Atterbury Trust se beursprogram en Terugploeg voedingskema-inisiatief. Eskort se hoof uitvoerende beampte, Arnold Prinsloo, vertel ons meer oor hierdie besonderse projek.
Wyn en kuns is nie die eerste ding wat opkom as mens aan Eskort dink nie, so hoe is hierdie unieke band gesmee en waar het die idee vir die Liberi projek onstaan?
Ons glo eerstens dat ’n organisasie deel is van ’n gemeenskap en daarom betrokke moet wees, en teruggee in die gemeenskap. Ons is by verskeie skole, kerke, voedingskemas en so meer betrokke, waar ons fabrieke in Estcourt en Heidelberg is. Tweedens hou ons bestuurspan van wyn! My vriend Nick van Huysteen besit Saronsberg Kelder in Tulbagh en ons bestuur, familie en vriende koop nou vir jare al hulle wyn. Ek het ook ’n passie vir kuns en het ’n kunswerk gekoop van Sam Nlhengethwa. Met ’n besoek aan Sam se huis, het hy my vertel dat hy in Heidelberg se township, Ratanda, grootgeword het en dat twee van sy ooms vir Eskort gewerk het. Die gedagte vir Liberi is daar gebore… dit het by my opgekom dat dit die ideale geleentheid sal wees om geld in te samel vir die kinderhuis en tehuis vir gestremde kinders waarby ons reeds betrokke is. Sam het ingestem dat ons die regte kon kry om ses van sy kunswerke te gebruik op die wyn-etikette. Nick van Huysteen het my gehelp om die regte kunswerke uit te kies en Dewaldt Heyns, die bekroonde wynmaker van Saronsberg, het ’n Bordeaux-versnit gemaak waarvan 4 000 bottels gebottel is. Ek het n breë, swaar bottel gekies om die kunswerk enersyds mooi ten toon te stel en andersyds ’n illusie te skep van ’n duur, ekslusiewe wyn. Omdat die opbrengs geskenk word om die lewe van kinders te verbeter, het ek ’n gepaste naam gesoek vir die wyn. Ek het eenvoudig “kinders” gegoogle in Zoeloe, Pedi, Xhosa, Italiaans, Frans en Latyn. Die Latynse “Liberi” het mooi op die oor geval en is kort en kragtig. Ek het die idee met Nick getoets en sy woorde was “spot on”.
|
|
Hoe kry ek my hande op die 2021 Liberi wyn?
Die wyn sal einde Maart 2021 beskikbaar wees teen dieselfde prys as verlede jaar – R1 188 per kas van ses bottels. Wyn kan reeds vooraf bestel word by Atterbury Trust se Donasiewinkel, by Eskort se kantore in Irene (Leonika Peret – leonikap@eskort.com 012 345 4452), of vir Kaapse kliënte by Saronsberg Kelder, deur info@saronsberg.com.
|
|
|
Atterbury Trust verwelkom ’n nuwe spanlid vanaf 1 Maart. Jana Wilbers is aangestel as rekeningkundige beampte. Wat Jana se aanstelling ekstra spesiaal maak, is dat sy die eerste Atterbury Trust alumnistudent is wat by die Trust in ’n permanente posisie aangestel word. Jana het vanaf 2012-2014 BCom Finansiële Bestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer en daarna ook verder in Interne Ouditkunde aan Unisa.
|
|
|
Jana het vir sewe jaar in die rekeningkundige afdeling by MNK Projects gewerk en ons is baie opgewonde dat sy haar passie en vaardighede ten beswil van die Trust gaan aanwend. Ons het Jana leer ken as ’n toegewyde hardwerkende student wat vindingryk is en bereid is om hard te werk om te kom waar sy wil wees. Ons wens Jana baie gelukkige werksjare as deel van die Atterburyfamilie toe!
|
|
Die nuwe Terugploeg Karwas (voorheen Happy's Car Wash), in die parkeerterrein oorkant Atterbury se Die Klubhuis in Hazelwood, Pretoria het op 1 Maart begin motors was.
Hierdie inisiatief pas gemaklik binne die innoverende Terugploeg struktuur, aangesien dit op 'n volhoubare wyse werk verskaf deur uitstekende dienslewering as seker die skoonste motorwas in Pretoria. ’n Ekstra bonus is dat Terugploeg Karwas deur een van ons Truststudente, die bekwame Casper Vermeulen, bestuur word.
Maak seker jy maak 'n draai as jy in die omgewing is, want die Terugploeg Karwas hou jou blink kant bo.
|
|
Die groot harte agter Terugploeg – Dirk van der Walt
|
|
Die Terugploeg inisiatief om honger te bekamp sou nie moontlik gewees het sonder die insette en ondersteuning van ’n hele groep weldoeners nie. Een van hierdie sakemanne met hart is Dirk van der Walt van WeBuyCars, wat al baie lank deel is van Atterbury se sirkel van vriende en weldoeners. Ons het met hom gesels oor die illusie van sukses, die rol van harmonie, en hoe die privaatsektor ’n wesenlike verskil aan maatskaplike nood kan maak.
Kom ons begin met ’n 2021 oorsig van WeBuyCars; omtrent ’n Afrikaanse suksesstorie! Wanneer het jy en jou broer Faan die maatskappy gestig, en hoe het die idee daarvoor onstaan?
Dit het als begin met Faan se eerste kar, ’n blou Volkswagen 412, wat hy verbeter en toe verkoop het. Ons het WeBuyCars in 2001 begin, met omtrent R250 000 wat Faan gespaar het terwyl hy en sy vrou, Tanja, vir twee jaar in Engeland gaan skoolgee het, en ek besig was met my bemarkingsgraad. Ons eerste perseel was ’n kleinhoewe in Pretoria-Oos, en vir baie jare was dit net ons twee, wat alles gedoen het. In 2010 het ons ons eerste “car warehouse” in Pretoria gekoop, met plek vir 100 karre, en binne ses maande was dit ook nie meer groot genoeg nie. Ons het organies aanhou groei, landwyd uitgebrei, en in 2020 het die besigheid aanlyn gegaan wat ’n hele nuwe dimensie gebring het. ’n Hoogtepunt was toe ons in 2019 die Afrika Entrepreneur van die Jaar-toekenning (AABLA) gewen het; dit was wonderlik om die erkenning te kry. Vandag het ons sewe persele landwyd en meer as 1 000 werknemers; asook aandeelhouers om gelukkig te hou!
|
|
ZAH – ’n hospitaal met hart
|
|
Atterbury Trust se werk word soveel makliker gemaak danksy ’n goue netwerk van mense wat omgee en instansies wat altyd daar is om te help. Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) is ’n gewaardeerde vennoot wat bydra om die diens wat ons aan Triomf Kliniek se pasiënte kan bied sommer met ’n hele stel trappe op te hef. Ons gesels met ZAH hospitaalbestuurder Robert Jordaan.
ZAH vier vanjaar sy 117de bestaansjaar, wat dit een van die oudste hospitale in die land maak, en ’n ikoniese landmerk in Pretoria. Hoe het ZAH by die Atterbury Trust betrokke geraak?
ZAH is inderdaad die oudste privaathospitaal in Pretoria. Twee van die direkteure wat op die ZAH-raad dien, is betrokke by Atterbury, en ons het deur hulle te hore gekom van die goeie werk wat Atterbury Trust verrig. Die raad het toe die besluit geneem om die Trust te ondersteun.
Julle borg onder andere studiebeurse vir mediese rigtings, en vanjaar het twee verpleegsters wat danksy ZAH en Atterbury Trust kon swot, daar by julle begin werk. Is dit deel van julle beplanning – om te belê in studente wat dan by die hospitaal kan kom werk? Waarna is julle spesifiek op soek wat personeel betref?
Ja, ZAH se oogmerk is dat ons graag ons vakante poste wil vul met studente in wie ons belê het; ons belê graag in jongmense wat ’n roeping het vir medies of verpleegkunde. Zuid-Afrikaans Hospitaal het ’n spesifieke kultuur en waarde-etos waarna ons streef; daar is ’n rigiede proses waarvolgens ’n kandidaat geevalueer en met die hand uitgesoek word om deel te word van ons toegewyde span. Só verseker ons dat ons die uitmuntende pasiëntesorg waarvoor ons bekend staan, kan handhaaf. Zuid-Afrikaans Hospitaal belê in menslike kapitaal deur groei, ontwikkeling en die behoud van ons sleutelvaardighede.
|
|
Ons eie Florence Nightingales
|
|
In ons onlangse geskiedenis was daar nie nóg ’n tyd toe gekwalifiseerde gesondheidswerkers meer belangrik was as die huidige Covid-19 era nie. Twee van Atterbury Trust se beursstudente wat pas hul gemeenskapsjaar as verpleegsters afgehandel het, het vandeesmaand by Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria voltyds begin werk. Ons het met Adelei Geldenhuys en Lize Candido gesels oor hul roeping.
Julle het saam by Noordwes Universiteit gegradueer in 2019 – waar het julle toe jul gemeenskapsdiensjaar gedoen?
Lize Candido: Ek was by King Edward VIII Hospitaal in Durban, KZN.
Adelei Geldenhuys: En ek in die Wes-Kaap by Victoria Hospitaal.
Om jou opleiding af te rond gedurende 2020, midde in ’n ongekende pandemie, moes baie uitdagend gewees het. As julle terugdink aan hierdie tyd, wat is die een storie wat julle vir mense oor julle ervaring vertel?
Lize: Dit was ’n ongelooflike jaar! Dit was verskriklik moeilik om so ver van al my mense te wees en hulle nooit te kan sien tydens die inperkings nie, maar die ervaring wat ek gekry het in King Edward sal ek nie vir die wêreld ruil nie! Ek is omtrent aan die diepkant ingegooi en moes vinnig leer om sterk te swem…
Adelei: Ek het in die forensiese saal gewerk by ons hospitaal, en hoewel ons nie baie te doen gekry het met Covid-19 nie, het ek ’n ander pandemie beleef. Ek het gewerk met pasiënte wat opgeneem is weens geslagsgebaseerde geweld, kinders wat verwyder moes word van hulle ouers weens slegte omstandighede, en so aan. Ek het nooit geweet hoe erg dit werklik in ons land gaan nie. Ons het duisende vrouens, kinders en soms mans gehelp om by ’n veilige hawe uit te kom. My hart was elke dag so seer om mense te sien wat vir so lank stilgebly het oor geweld uit vrees en omdat hulle nie weet waar om hulp te kry nie. En dan was dit besonders om te ervaar hoe baie ’n glimlag en iemand wat werklik omgee vir sulke pasiënte beteken.
|
|
Planmaak lei tot ’n entrepreneursprys
|
|
Ons is sommer baie trots op pas afgestudeerde Atterbury Trust beursstudent Jacques Fourie, wat pas aangewys is as die medewenner van ’n prys vir die beste Innoverende Sake-Idee by die Entrepreneurship Development in Higher Education (EDHE) Intervarsity-kompetisie. Hy het ons meer vertel oor Stu-D-Sure, ’n slim versekerings-produk wat gebore is uit persoonlike nood.
Baie geluk met die toekenning! Jy en jou medewenner het pas julle finale eksamens geskryf, maar julle ken mekaar reeds van skooljare af, reg?
Baie dankie; en ja, ek voltooi my B Stads en Streeksbeplanning-graad, en Marco [Booyse] sy B Com Algemeen-graad dié jaar. Ons het op Menlopark se atletiekbaan bevriend geraak waar ons in die 800m teen mekaar meegeding het. Ek het in 2012 by Menlo se koshuis ingetrek en ons was daar saam vir vier jaar waar ons ’n broederskap ontwikkel het.
Hoe het die idee vir Stu-D-Sure ontstaan?
Albei van ons het al ’n module herhaal, en het dan die finansiële stres ervaar wat daarmee gepaard gaan om weer vir ’n vak te moet betaal. Om ’n module of twee te druip, is ’n realiteit vir baie studente; ons ken só baie met wie dit gebeur. En dis daarom dat Stu-D-sure gebore is – ’n oplossing wat die onkoste, of minstens ’n gedeelte van die onkoste van die herhaalde module te kan dra.
|
|
Gras ineens groener vir 39 Pretoria Country Club gholfjoggies
|
|
Vir 39 gholfjoggies is die gras nie net groener aan die anderkant van die draad nie, maar sommer tot dóér anderkant die speelveld nadat elkeen van hulle ’n splinternuwe bril ontvang het.
Hierdie 39 manne van die Pretoria Country Club-gholfklub in Waterkloof het vandeesweek met nuwe oë na die wêreld rondom hulle gekyk en die glimlagte het van oor tot oor gestrek toe hulle deur Fledge Capital, Atterbury Trust en Brooklyn Optica, van getoetse brille voorsien is.
Louis van der Watt, HUB van Atterbury, het aan die einde van 2020 ’n rondte gholf by die Pretoria Country Club gespeel en agtergekom dat sy gholfjoggie glad nie kan sien waar die bal geland het nie. Louis weet hoe belangrik dit vir ’n gholfjoggie is om behoorlik te kan sien – dit is op stuk van sake presies wat hul werk behels – en het dadelik werk daarvan gemaak. In ’n latere gesprek met Konrad Fleischhauer en Fourie du Preez van Fledge Capital het die gedagte ontstaan om al die gholfjoggies te borg vir oogtoetse en brille waar nodig.
Volgens Fourie du Preez speel die meeste van Fledge se manne weekliks gholf by Pretoria Country Club.
“Ons wou ’n verskil maak en het gevoel niemand anders kyk na die gholfjoggies nie. Sonder goeie sig is dit amper onmoontlik om hulle werk te kan doen en ons het besef dit is ’n aspek waar ons wérklik ’n verskil kan maak.”
|
|
Van tienerma tot steunpilaar
|
|
Die lewe deel nie gelyke kanse en opsies uit nie, en dit is juis daaroor dat Atterbury Trust ons studiebeursprogram met soveel sorg bestuur… die verhale wat die keuringspaneel aanhoor soos ons die kandidate se aansoeke oorweeg is dikwels hartverskeurend. Maar so hartseer soos dit kan wees, so diep is die vreugde wanneer die hulp wat die beursprogram kan aanbied, ’n lewe help omkeer. Izel Gouws, vandag ’n laerskoolonderwyseres en die ma van vier, deel haar storie van harde lesse en die mag van deursettingsvermoë en genade
Jy het op Vanderbijlpark grootgeword, maar ons verstaan alles het begin verkeerd loop toe jou pa ’n ongelukkige werkskuif gemaak het…
Ons was vyf; ek, my wonderlike ouers en twee boeties. My pa het by Yskor gewerk, maar toe skuif hy na ’n pos op ’n myn, waar dinge verkeerd geloop het. Sy salaris is nie betaal nie, en ons het vir drie maande nie elektrisiteit gehad nie – ek onthou hoe ons elke dag dennebolle gaan optel het om te kon vuurmaak vir warm water en kosmaak. My pa het ons huis aan familie verhuur en ons gesin het in die garage ingetrek, maar op die ou end was daar geen ander uitkoms nie, en hy het die huis verkoop. Ons het Pretoria toe getrek en by my oupa op die plot gaan woon; dit was moeilik, maar daar was geen ander heenkome nie.
|
|
Afgestudeerde Atterbury Trust beurs-studente se kwalifikasies is so divers soos jy kan kry, maar een ding bly dieselfde: Die trots wat ons deel om geleenthede vir jongmense met potensiaal te kan skep. Lees onder meer oor ons studente se wedervaringe na hul studies.
|
|
|
Ons beursgraduandi Miquette Joubert het pas haar gemeenskapsjaar as verpleegster by Nala Hospitaal in Bothaville aangepak. Haar 2020 was ’n donker wolk met ’n breë silwer randjie: sy’t Covid-19 gekry en oorleef, haar BSociSc Verpleegkundegraad verwerf, en in Desember getrou!
|
|
Nadat sy in 2020 ’n BSc Verbruikerswetenskappe-honneurs cum laude verwerf het, werk ons beursgraduandi Stephanie Eksteen (hier by haar drielingsussies) nou as gehalte- & voedselveiligheidsbestuurder by ’n heuningfabriek. Haar doelwit vir 2021? Meer balans na al die akademie!🐝
|
|
Ontmoet Nadine Oelofse, een van ons 2020 beursgraduandi, wat pas as Arbeidsterapeut in die Noord-Kaap by Kimberley Mental Health Hospital begin werk het. As sy nie besig is om die gemeenskap te dien nie, neem hierdie buitelugmens graag deel aan pad- en veldwedlope!
|
|
|
Ons studiebeurs-ontvangers is een en elk ’n dinamiese jongmens vol vasberadenheid om ’n impak te maak. Gert Kruger het in 2020 graadgevang en is nou as gekwalifiseerde meganiese ingenieur in die mark vir ’n voltydse pos. Skenk aan die Trust en help ons om wonderlike jongmense se studiedrome waar te maak!
|
|
|
|
Ons Atterbury Trust beursgraduandi is veelsydige presteerders... soos Jason Howlett, wat vanjaar begin onderwys gee het by Laerskool Louw Geldenhuys. Jason is nie net ’n opvoeder nie, hy is ook ’n atleet... hy het by die Statebond Judokampioenskap ’n bronsmedalje gewen!
|
|
Ons 💙 ons beursstudente! Pas gegradueerde Dr Ellen-Marie Trautmann het net A’s gekry deur haar hele 6 jaar van medies! Sy werk nou in Kimberley se Robert Mangaliso Sobukwe Hospitaal. Haar doelwit vir 2021: “Om my pasiënte altyd met deernis en bedagsaamheid te behandel.”
|
|
Ons Atterbury Trust
Liewe Zahn, Leonie
Waar begin mens? Die eerste dag toe ek die twee van julle ontmoet het, het ek twee wonderlike mense voor my gesien. Twee mensies met wie ek my agtergrond met volle vertroue kon deel, julle oë en ore was wawyd oop. Ek kan nie vir julle in woorde beskryf hoe dankbaar ek was om myself te kon wees met julle nie. Julle het my hele lewe in ’n oogwink verander, net toe ek dink daar is nie hoop nie, het jy Zahn en Leonie julle vertroue in my geplaas. Julle het aanhou glo en nooit ophou glo nie, julle was heeltyd daar al was ons in afstand so ver van mekaar.
Ek wou alles in my vermoë doen om julle trots te maak, deur hard te studeer. Ek wil vir julle twee spesiaal dankie sê en die hele Atterbury span. Julle het voorwaar ’n verskil in my lewe gemaak, julle het my laat besef dat mens nooit moet opgee nie, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Met hierdie woorde wil ek ook byvoeg dat ek gretig wag vir UNISA om my kwalifikasie te bevestig en dat ek 1 Februarie aangestel is in ’n WKOD pos. Ek voel so gelukkig en so dankbaar, want ek het altyd gewonder gaan dinge ooit beter raak. God se tyd is altyd die beste tyd.
Ek is absoluut geseënd om deel te kan wees van die Atterbury Trust span.
Ek waardeer alles wat julle vir my gedoen het opreg, nou is dit tyd om terug te ploeg. 
Baie liefde
Anthea
|
|
|
|
|
|
|