Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
Augustus 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Kom jol met boeke en film!

Pretoria is besig om sy stertvere reg te skud vir die BoekeJol en FilmRolfees wat in Augustus plaasvind. Kultuurvrate is omtrent in vir ’n fees met die vierdaglange viering van Afrikaanse skrywers en filmmakers se werk.

Atterbury is een van die kernvennote vir die projek, die Boekejol en Filmrolfees, wat van 26 tot 29 Augustus in die Atterbury Teater plaasvind. Die fees is in Maart by die Atterburyteater met ’n woord-en-musiekaand bekendgestel. “Ons hou van die idee van ’n mini-kunstefees by die teater. Ons wil graag meer toneelopvoerings by die Atterburyteater sien en die idee van ’n fees, soortgelyk aan die Woordfees in Stellenbosch, is iets wat ons baie opgewonde maak!” sê Atterbury se Zahn Hulme. “Hierdie is n manier om ’n wyer verskeidenheid van die kunste by die Atterbury Teater te verwelkom, alles in Afrikaans, so ons sien baie uit!”

Die propvol program is vol hoogtepunte, soos Woensdag, 26 Augustus, se Boekbohaai om 19:00, waar sanger Chris Chameleon, Solidariteit se Flip Buys en die ATKV se Dr Danny Titus sal deelneem aan ’n witwarm gesprek met die tema Die Lewensare van Afrikaans. Die debat sal gelei word deur Tim du Plessis, kykNET se hoof van nuus en aktualiteit. Musiekvermaak is daar ook – FAK met Stiletto’s is heerlike verwerkings van ou geliefde FAK-liedjies, gesing deur Gisela de Villiers en Robert Brooks. Kaartjies is R150 elk.

Die volgende aand, Donderdag, 27 Augustus, om 19:00, is Atterbury Teater weer die plek om te wees; hierdie keer om te luister na die reisverhale en -ervarings van drie reisigers in Suid Afrika en Afrika: Op reis met stories en musiek. Die vertellers is almal manne met wonderlike stories, so ons kan uitsien na ’n heerlike vermaaklike aand: Voetspore se Johan Badenhorst, skrywer C Johan Bakkes en Huisgenoot-joernalis en skrywer Dana Snyman. Al drie se boeke sal die aand te koop wees, en dis net die kans om ’n handtekening te kry! Anna Davel sal sorg vir die musiekvermaak. Kaartjies kos R150 elk.

Atterbury se eie Louis van der Watt is ook in aksie by die fees. Hy gesels Vrydagoggend, 28 Augustus om 8:00 met Theo Vorster en Brand Pretorius en die tema is: Werknemers verlaat bestuurders, nie besighede nie.

Vrydagaand, 28 Augustus, raak dinge ernstiger, met ’n gesprek oor die knelpunt: Maak die media nog plek vir die kunste? Top mediakenners Adriaan Basson van Media 24, Kobus Burger van RSG en skrywer en dramaturg Schalk Schoombie vorm die paneel wat die vraagstuk met Freek Robinson gaan bespreek. Die musieklegende Amanda Strydom verskaf die musiek vir die aand, wat om 19:00 by die Atterbury Teater begin. Kaartjies weer R150 elk.

Dinge raak behoorlik warm Saterdagoggend 29 Augustus om 09:30 by die Atterbury Teater wanneer Prof. Kobus van Rooyen, voorsitter van die Uitsaaiklagtekommissie, met die skrywer Anemarie Jansen gesels oor haar opspraakwekkende boek oor die berugte ysterhand van die Vlakplaas moordbende: Eugene de Kock – Sluipmoordenaar van die staat. Jansen se boek is deels gebaseer op Prime Evil se dagboeke en tronkgeskrifte, sy sielkundige verslae asook baie ure se onderhoude wat sy oor drie jaar in die tronk met hom gevoer het. Die manne van CH2 sal die musikale lafenis verskaf tydens die gesprek. Kaartjies is R150 elk.

Dit gaan ’n volgepakte vier dae wees, so maak seker jou dagboek is skoon!

Vir die volledige program en meer inligting oor wat alles by Lynnwood Bridge gebeur tydens die fees, besoek Boekejol se Facebookblad en die webwerf.

Boekejol Facebook
Boekejol webwerf
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Eerste wenners van VivA se skolekompetisie aangekondig

Prysoorhandiging by Pretoria Boys High School. Zahn Hulme (Atterbury Trust), Werner Bronkhorst (pryswenner), Gerhard van Huyssteen (VivA)
Me. J. Jacobs, Harni Hattingh van Meisieskool Oranje in Bloemfontein (pryswenner) en Me. M. Matthee. Baie geluk Hanri! Sy is die tweede wenner in VivA se 2015-skolekompetisie.

Moedertale en die Bybel

Behalwe die kunstenaars wat hul talente op die verhoog vier, is die Atterbury Teater ook die tuiste van Odyssey Records se ateljee, en dis waar die teater se mede-eienaar, die musikant Matthys Maree, besig is met ’n projek om die Bybel in talle Afrikatale te vertaal.

Wat is die grootste uitdagings as dit kom by Bybelvertalings?
Dis beslis die soeke na die mees kultuur-korrekte beelde in vertaling, en om steeds so na as moontlik aan die oorspronklike teks te bly. Daar is menige terminologieë wat doodeenvoudig net nie bestaan in sekere Afrikakontekste nie en dan soek ons na parallelle wat dieselfde boodskap of beelde oordra. Nie alle verskille is versoenbaar nie, en die waarheid van die Bybel moet natuurlik steeds onverdun oorkom, maar om skielik in eeue-oue kulture in te stap met potensieel volksvreemde tekste is definitief nie eenvoudig nie! Gelukkig gebeur sendingwerk al vir baie jare en is die weg gebaan om nuwe vertalings na Afrikagemeenskappe te bring of slegs bestaande vertalings te herbesoek. Die opnames waarmee ons besig is gaan gratis aan mense beskikbaar gestel word in klank-formaat, vir diegene wat nie lees magtig is nie.

Het enigiemand voorheen die Bybel in Afrikatale vertaal?
Ja, maar hierdie vertalings is argaïes en dateer maklik uit die veertiger- of vyftigerjare. In oorleg met taalkundiges in elk van hierdie tale word die ouer vertalings hersien en nou opgeneem tesame met die druk van nuwe Bybels.

Met hoeveel vertalings is julle nou besig?
Ons is bykans klaar met die tweede taal (Luganda uit Uganda) en reeds klaar met Shona (Zimbabwe). Ons het verder reeds stemtoetse gedoen vir Yoruba (Nigerië) en Asante Twi (Ghana) waarmee ons eersdaags begin. Chichewa (Malawi) is ook bevestig vir die nabye toekoms.

Lees meer

Atterbury Trust studente

As ’n kinderdroom waar word


Ons vergeet so maklik om dankbaar te wees, totdat mens ’n storie soos Atterbury beursstudent Caren Du Venage s’n hoor. Dis vir ons so ’n eer om ’n hand te kan uitsteek na ’n belowende jongmens wat ondanks ’n moeilike agtergrond alles doen om haar potensiaal te bereik.
Lees meer

’n Bleeksiel en trots daarop!


Atterbury beursstudent Emile Bouwer is heel gelukkig om homself ’n tipiese bril-jantjie bleeksiel te noem, en tog te nonchalant oor sy toekenning as top-presteerder in IT-studies in sy graadgroep aan die Wesrand! Ons sal hom sommer slimjantjie noem…
Lees meer

Atterbury gee om :)

 
Atterbury Trust het hul 67 minute vir Madibadag by Booysens Beertjies kleuterskool spandeer en GROOTFM 90.5 het hul vergesel. Booysens is die area waar Atterbury Trust in samewerking met Solidariteit Helpende Hand besig is om 'n Gemeenskapsentrum op die been te bring.

Daar is hamburgers gebraai, sappies uitgedeel,
n springkasteel het ure se vermaak besorg en n piñata propvol lekkergoed het behoorlik gesorg dat glimlaggies heeldag bespeur kon word.

Ons Atterbury Trust


Hoe begin ons om julle ALMAL te bedank vir hierdie fantastiese dag saam met ons kleuters. Aan elkeen wat bygedra het om of ’n kleuter op te tel of net te druk of om wegkruipertjie te speel, vleis te braai, te verf; die gidshond, die springkasteel... Om nie eers te praat van al die lekkergoed en skryfbehoeftes wat almal aan ons geskenk het nie; baie dankie!
 
Leonie, dankie dat julle ons kleuterskool deel van julle dag gemaak het. Dankie dat julle almal uitgekom het en net aandag en liefde gegee het.
 
Ons bly julle dankbaar en ons word deur en deur geseën deur ons Vader Abba.
 
Ons sien julle weer!!!!
 
Vriendelike groete
Elbet
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting