|
|
Soms het 'n mens die voorreg om 'n oomblik met ewigheidswaarde te beleef; in uitsonderlike gevalle, 'n hele aand. Die onlangse opening van die Hoërskool Nelspruit se nuwe veeldoelige kultuursentrum was só 'n aand. Dit was 'n jarelange droom vir die mense van die Laeveld en met befondsing van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) en projekbestuur van Atterbury, saam met ruim bydraes en fondsinsamelingsprojekte in die plaaslike gemeenskap, is die pragtige gebou op 7 Junie amptelik ingehuldig. Coenie de Villiers en die Charl du Plessis Trio was die kunstenaars by die indrukwekkende openingskonsert saam met talentvolle leerders van Hoërskool Nelspruit.
Ons kan dit nie beter stel as Coenie de Villiers se woorde daardie aand nie: “Wat vanaand hier gebeur is nie net vir nou nie. Dis 'n geskenk van hierdie generasie aan generasies en generasies wat kom.” En hy begin “Die windmeul van jou siel” sing… Soos 'n sirkel in 'n kringloop, soos 'n wiel draai in 'n tol, g'n begin en ook geen einde op 'n eind’lose katrol. En die beelde draai verby soos die sirkel van die wiel in die windmeul van jou siel.
Die Atterbury Trust was een van die skakels in die sirkel in hierdie kringloop van hoop, geleenthede en uitnemendheid, wat generasies wat kom, sal bevoordeel. Ons is bevoorreg om deur die TAO vertrou te word om die projekbestuur van hierdie opwindende skoleprojek, wat daarop gemik is om Afrikaans by veral plattelandse skole te behou, te hanteer.
GrootFM 90.5 is een van ons gewaardeerde vennote en Lindie Strydom het ons genader om in Jeugmaand iets van die Atterbury Trust se hart te deel op Die Groot Ontbyt se Goeie-nuus Vrydag. Ons het dit goed gedink om ook ons huidige en alumni Trust studente te vra om hulle stories te kom deel.
Teen die sluitingsdatum van vanjaar se beursaansoeke op 30 Junie het ons reeds meer as 300 aansoeke van voornemende beursstudente ontvang. Ons is hard besig om deur die aansoeke te werk en kandidate gaan eersdaags gekontak word vir beursonderhoude.
Lees ook in hierdie uitgawe twee inspirerende studentestories van verdienstelike Atterbury Trust beursstudente wat 'n kans gekry het en die meeste daarvan maak.
|
|
Atterbury Trust op die Groot Ontbyt
|
|
Ken jy 'n behoeftige uitblinker wat graag verder wil studeer? Kyk hier na die insetsel oor die Atterbury Trust wat op Die Groot Ontbyt uitgesaai is. Lindie Strydom praat met Zahn Hulme, Leonie du Preez en ook met van die Atterbury Trust beursstudente.
|
|
“Glo in jouself en die toekoms is joune”
|
|
Een ding wat ons in al die jare met Atterbury Trust se beursfonds geleer het, is dat in ons land geweldig ryk aan talent is – jongmense wat, as hulle net die kans gegun word, alles sal insit om hul volle potensiaal te bereik. Die hart wil breek by die wete dat daar duisende ander is wat bloot weens omstandighede nooit daardie kans kry nie, en dit laat mens besef watter voorreg ons het om 'n verskil te kan maak in die lewens van dié studente wat ons pad kruis. Soos baie van ons beursstudente is 19-jarige Ally Jooste se storie een van trots en harde werk en die beste maak van elke geleentheid wat na haar kant toe kom. Sulke vasberadenheid kan net sukses tot gevolg hê!
Vertel ons bietjie van jou agtergrond.
Ek is gebore in Kimberley in die Noord-Kaap, en het tot ek nege en in Graad 3 was daar by my ouma gewoon. Toe trek ons na Boshof, 'n klein dorpie in die Vrystaat. Aan die einde van Graad 6 het ek en my ma besluit dat dit beter sou wees as ek by haar in Pretoria kom bly waar sy werk. Ek het Graad 7 by Laerskool Silverton voltooi en het toe die geleentheid gekry om na die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria te gaan. Ek het in 2015 daar gematrikuleer met vyf onderskeidings. Ek is die oudste van drie kinders (een boetie, een sussie) en die eerste een in my familie wat tersiêre onderrig te kry.
Hoe het jy besluit op jou vakrigting?
Op hoërskool het ek die beste rekeningkunde-onderwysers gehad, wat dit vir my maklik gemaak het om van die vak te hou. Ek het BCom Rek gekies omdat dit my nie in 'n boksie plaas wanneer dit kom by 'n beroep nie – anders as byvoorbeeld 'n dokter wat net 'n dokter kan wees. Met hierdie graad kan ek basies enige werk in die sakewêreld doen; en ek sien myself juis nie as 'n boksie mens nie, maar eerder as 'n “Jack of all trades”. En dan ook, omdat ek uit 'n baie arm agtergrond kom, gee hierdie graad my die geleentheid om na finansiële vryheid te streef.
Hoe het jou paaie met Atterbury s’n gekruis?
Ek het in my eerste jaar geen finansiële bystand gehad nie. My matriekuitslae het my gekwalifiseer vir akademiese afslag, en dis hoe my eerste jaar se studies gedek is. Ek het by soveel plekke aansoek gedoen vir beurse en/of studielenings en is by elke liewe een weggewys! So halfpad deur my eerste jaar was dit my realiteit dat ek nie verder sou kon swot nie omdat ek dit nie self kan bekostig nie. Susan Tintinger ('n ongelooflike vrou wat iets in my sien wat ek soms glad nie kan sien nie) het my vertel van die Atterbury Trust en vir my aansoekvorms gebring in 2016. Ons was albei teen hierdie tyd baie moedeloos, maar Tannie Suzie het gesê ons moet net nog een keer probeer en die slegste wat kan gebeur is net nog 'n “nee”. Ek was toe al so gewoond aan daardie “nee”, maar toe was Atterbury Trust gelukkig daar aan die einde van my donker tonnel!
|
|
Van somme maak en balle moker
|
|
Atterbury se beursstudente is beslis nie akademiese wrakke nie. Neem nou byvoorbeeld vir tweedejaar Pukkie Ruan Haasbroek – hy skitter in sy BCom Rek-klasse, maar het ook SA kleure in krieket en gaan eersdaags saam met sy spanmaats vir NWU by die Universiteite Wêreldbeker in Sri Lanka verteenwoordig. Die dinamiese 20-jarige vertel ons hoe hy al die spreekwoordelike balle in die lug hou.
Vertel ons bietjie van jou agtergrond.
Ek is gebore in Potchefstroom, het hier grootgeword en by Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer in 2015. Ek woon steeds by my ouers; ek is die jongste van twee seuns en ons is 'n baie hegte gesin. My broer is tans 'n vierde-jaar ingenieurswesestudent by die Noordwes Universiteit.
Hoekom het jy BCom Rek, en Potch gekies?
Ek geniet syfers al van kleinsaf – syfers is vir my 'n uitdaging, want elke som is anders. Ek het Potchefstroom gekies, omdat ek glo dat dit die beste Afrikaanse universiteit is en omdat hul krieket baie sterk is. Dit is ook 'n groot voordeel dat dit so naby ons huis is!
Ons hoor jy is ook 'n kranige sportman wat vir NWU krieket speel. Hoe hou jy al die balle in die lug, so tussen die akademie en die sportveld?
Die enigste manier hoe ek 'n goeie balans tussen die twee kan handhaaf, is deur goeie beplanning en gebed. My krieket neem ongelooflik baie tyd in beslag – ons oefen omtrent vier uur ure per dag en ek sit bo-op dit nog ekstra kolf-oefening in. Tussen klas en krieket is daar min tyd deur die dag, so ek doen maar ekstra werk in die aande by die huis, om op datum te bly. Gelukkig kan die “liggies” tot laat in die aand brand, soos my oupa altyd sê!
Toe jy klein was, wat wou jy eendag word? Was jy nog altyd 'n syferkop?
Van 'n jong ouderdom af was dit my droom om 'n Protea krieketspeler te word. Soos ek grootgeword het, het ek besef dat mens vir jouself 'n stabiele agtergrond moet skep, en ek het opgemerk dat die meeste besturende direkteure van maatskappye finansiële kennis het. Dit het my soos 'n handskoen gepas, want ek het altyd 'n passie gehad vir syfers, so ek is baie dankbaar dat ek 'n loopbaan daarvan kan maak.
|
|
’n Hupstoot vir gehalte-Afrikaanse onderwys
|
|
Atterbury se mense het vroeër vandeesmaand saam met die Laeveld feesgevier toe ’n nuwe veeldoelige kultuursentrum by Hoërskool Nelspruit amptelik geopen is. Hierdie eerste fase van ’n projek wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys geloods is om Afrikaanse skole in veral die platteland by te staan om hoekies van uitnemendheid te skep, is ’n dawerende sukses, vertel Atterbury se uitvoerende trustee, Zahn Hulme. Zahn en die skoolhoof van Nelspruit Hoërskool, Dr Louis Swanepoel, deel hul indrukke.
Zahn, hoe het Atterbury by hierdie projek betrokke geraak en wat behels hierdie betrokkenheid?
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) wat deur die Dagbreek Trust befonds word, het ten doel om Afrikaanse skole in veral die platteland in staat te stel om steeds gehalte-onderwys in Afrikaans aan te bied en talentvolle leerders te behou. Die TAO befonds die projekte en die deelnemende skole betaal dan die kapitaal oor ’n tydperk van maksimum tien jaar aan TAO terug. Vanweë die sinergie tussen Atterbury Trust se doelstellings en dié van die TAO, en Atterbury se bewese ontwikkelingskundigheid, is ons genader om die projekbestuur namens die TAO te hanteer.
Wat was vir jou die hoogtepunt van die opening?
Z: Die gesigte van al die opgewonde leerders toe ons deur die nuwe fasiliteit gestap het het my hart geraak, en ook om te sien in hoe ’n mate die Laeveld se mense raakvatters is. En ek is stomgeslaan deur die aandag aan detail en afronding van die fasiliteite – soos die pragtige tuine en die muurkuns deur Anton Bosch by die veeldoelige kultuursentrum. Coenie de Villiers, wat by die inwydingskonsert opgetree het, het dit vir my so goed in woorde raakgevat: “Wat ons hier sien is nie vir nou nie, dis vir generasies en generasies wat na ons kom.” Ek voel bevoorreg om ’n rol te kon speel in iets wat ewigheidswaarde het.
Louis, ons verneem die gemeenskap van Nelspruit het geweldig baie bygedra tot al die verbeteringe, van asfalt vir die hokkie-astro tot keramiek-muurkuns van die kultuursentrum. Wat dink jy beteken hierdie projek vir die dorp en die gemeenskap as ’n geheel?
Daar is oor die jare heen ’n kultuur by Hoërskool Nelspruit gevestig om aan die gemeenskap die kans te gee om te deel in die skool se drome. Die gemeenskap het ’n reuse-aandeel in die sukses, funksionering en voortbestaan van die skool. Die Laeveld-gemeenskap beleef op die oomblik ’n gevoel van vervuldheid, dankbaarheid en seën na die voltooiing van ’n projek wat ’n enorme impak op die skool se leerders gaan hê.
|
|
NHS vier kultuursentrum-droomprojek
|
|
Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuur- en veeldoelsentrum is Woensdag 7 Junie 2017 amptelik en op ’n feestelike wyse in gebruik geneem met optredes deur Coenie de Villiers en die Charl du Plessis Trio.
Byna 400 vriende van die skool het die geleentheid bygewoon en is verras met skouspelagtige verhoogeffekte en die gelui van die klok as seremoniële inwyding om die voltooiing van hierdie droomprojek te vier. Musikale items deur NHS-leerders het van die talent in die skool ten toon gestel. Die aand is met Coenie se ou gunstelinge en klavierspel afgerond terwyl Charl se trio met hul opgewekte en moderne styl beïndruk het. 'n Hoogtepunt van die vertoning was 'n spesiale weergawe en verwerking van Coenie se “Karoonag” begelei deur die trio.
Die bou van die sentrum asook die nuwe astro-hokkieveld en nuwe B-rugbyveld is moontlik gemaak deur die inkomste wat deur die skool se mees onlangse “fiesta”-jaar gegenereer is (NHS hou elke vyf jaar – dus een keer in 'n leerder se hoërskoolloopbaan – 'n grootfondsinsamelingsprojek) tesame met groot rolspelers soos die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Atterbury Trust en die breë skoolgemeenskap.
Deur nuwe en moderne fasiliteite soos dié word NHS se kapasiteit op buitemuurse gebied verhoog. Dit strek direk tot voordeel van die leerders en sal hulle in staat stel om op 'n hoër vlak teen stadskole mee te ding en te presteer.
Die kultuur- en veeldoelsentrum huisves ook 'n daghuis vir die veilige versorging van kinders wat smiddae na skool geen heenkome het, todat hulle ouers hulle laatmiddag kom haal nie. 'n Goed toegeruste kafeteria is ook hier ingerig, waar ouers in gemak kan wag vir kinders wat aan buitemuurse aktiwiteite deelneem hulle kinders aan buitemuurse aktiwiteite deelneem. Daar is ook 'n klerewinkel waar skool- en sportklere aangeskaf kan word. Die groeiende getal leerders wat aan 'n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite deelneem, het die oprigting van 'n kultuursentrum wat hulle behoeftes aanspreek, genoop. Die kultuursentrum het 'n noodsaaklikheid geword omdat meer leerders aan 'n wye verskeindenheid kultuuraktiwiteite deelneem. Die gebou sluit dus onder andere ‘n dansateljee, kunsateljee asook ‘n klankateljee in. Daar is ook 'n nuwe museum om hulde te bring aan die indrukwekkende spore van oudleerlinge soos die Hertzogpryswenner Chris Barnard, die gevierde skrywer Marita van der Vyver, en Springbokke Duane Vermeulen en Werner Kok.
|
|
|
Mandeladag is om die draai….
Ons gaan Triomfkliniek toe!
Die Trustspan onder leiding van Karin Dercksen was die afgelope jaar druk besig met Triomfkliniek, asook die verbetering aan die gebou, en die opgradering van die fasiliteite. Kom neem gerus deel en bring asseblief tuingereedskap saam.
Ons gaan vir 67 minute gras plant, bome plant, bossies uittrek en bietjie verf.
Wat benodig die Triomfkliniek?
- Gras
- Bome
- Plante
- Blomme
- Duranta plante
- Kompos/Kunsmis
- Potte
- Tuinslang
Jy kan ook 'n donasie maak waarmee ons die nodige sal aankoop:
Atterbury Trust
Nedbank: 1497004187
Takkode: 187505
Verwysing: Mandeladag
By die Triomfkliniek word pasiënte met waardigheid hanteer, sodat pasiënte sonder mediese fondse verwys kan word om goeie mediese sorg te ontvang.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
’n Ware fees kom vir boekliefhebbers
|
|
Die BoekeJol- en FilmRolfees vind vanjaar vir die derde keer van 16–20 Augustus in en om die Atterbury Teater plaas, en vanjaar se tema is “Kort-Kort”. So gaan daar kort-kort kans wees vir deelneem, debatteer, lag, lees en oordenking, verduidelik feesorganiseerder Dia van Staden.
Hoe het die fees gegroei van die heel begin af? Is Boekejol waar jy wou hê dit teen vandag moet wees – het dit jou verwagtinge oortref?
Die bywonertal het in 2016 feitlik verdubbel. Die groei van ’n fees lê egter in meer as getalle. Dit beteken meer innoverende idees, die ontwikkeling van verskeidenheid in die program, groter betrokkenheid van ’n lojale gemeenskap en sterker bande met vennote. Ons sal probeer om elke jaar hierop te bou.
Hoekom het jy destyds die fees begin?
BoekeJol is gebore omdat daar in Gauteng ’n duidelike leemte was vir deelname van ons talentvolle Afrikaanse skrywers en kenners op verskeie gebiede, insluitende interaksie met die leserspubliek.
Wat glo jy beteken die fees vir boekliefhebbers/Pretoria?
Die fees gee mense kans om skrywers beter te leer ken en iets van die ingesteldheid van sulke gedissiplineerde individue te beleef. Die wye verskeidenheid sorg vir afwisseling en poog om alle genres se voorkeure aan te spreek. Boekliefhebbers is leer- en leesgierig. BoekeJol wil graag aan dié mense ’n ruimte bied waarin daar geïnspireer, gekuier, gedink, gesels en kort-kort gelag kan word.
Wat beteken Atterbury se betrokkenheid vir jou as organiseerder?
Die Atterbury Trust is baie meer as ’n vennoot. Dit is ’n besondere voorreg om deel te hê aan die visie van ’n instansie wat in die taal en toekoms van Suid Afrika belê. ’n Spesiale band ontstaan wanneer daar met oorgawe ingekoop word in ’n projek waarby ’n breë gemeenskap baat. Tyd, insette, kwaliteit deelname en opbouende kritiek vorm deel van ’n gesamentlike gesprek tussen BoekeJol en die Atterbury Trust as vennoot.
|
|
Ons Atterbury Trust

Lindie van Eeden van GrootFM het die volgende geskryf ná die Atterbury Trustspan en studente onlangs op die ontbytprogram verskyn het.
Hallo Zahn
Julle manier van doen is werklik soos ’n “ingryping” in iemand se lewe – waar julle vir ’n drie tot vier jaar tydperk intensioneel inbou en inspreek en hy/sy – en ook die mense en die gemeenskap om hulle - daarna nooit weer dieselfde is nie. Ons is ontsettend trots om saam met julle te kan werk en dit wat julle doen te bevorder, waar of hoe ook al ons kan!
Groete, Lindie
|
|
|
|
|
|
|