Atterbury Trust Nuusbrief
Junie 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Tuks se Herfsgradeplegtighede het sopas gebeur en ons hier by Atterbury Trust vier met trots die sukses van al ons graduandi. Geluk aan elkeen van ons 53 graduandi van die Klas van 2016!

 
By geleenthede soos dié kom ek telkemale onder die indruk dat die geleentheid vir tersiêre studies soveel meer in ’n student se lewe beteken as net ’n graad. Soveel van ons beursstudente gryp die geleentheid om verder te kan studeer met beide hande aan en onderskei hulleself nog meer op akademiese, leierskap, kultuur- en sportgebied. Dis ook vir hulle belangrik om op gemeenskapsvlak verder uit te reik na mense rondom hulle – lees gerus ’n paar stories in hierdie Omgeenuus oor die verskil wat Kanya, Zonika en Christie reeds in ons land maak.
 
Atterbury Trust ondersteun graag goeie Afrikaanse projekte, soos die verhoogproduksie van PG du Plessis se nimlike Koöperasiestories wat reeds duisende harte aangeraak het. Die produksie het by vanjaar se Woordfees gedebuteer, was ook by die onlangse Klein Karoo Nasionale Kunstefees die tweede topverkoper en het in April ’n draai gemaak by die Bellville Burgersentrum. Pretorianers het kaartjies opgeraap en daar was ses vol sale in die Atterbury Teater van 18 tot 21 Mei.
 
Atterbury Trust assosieer graag met Alexa Strachan wat die verwerking gedoen het, Sandra Prinsloo as regisseur en die rits uitstekende akteurs wat ons laat lag, huil en onthou het. As jy nog nie gaan kyk het nie, is daar nog kans by Innibos in Nelspruit, die Vryfees in Bloemfontein en ook by Aardklop in Oktober vanjaar.
Ons nuusbrief sluit af met twee inspirerende Cool Capital stories, waar die vader van Cool Capital, Pieter Mathews, en sy regterhande, Carla Taljaard en Jana Kruger “agter-die-skerms” insigte gee. Ons vertel ook meer van die suksesvolle Saadjies wat al reg oor die wêreld gaan draai maak het.
 
Die wêreld word ’n beter plek as gewone mense rondom hulle die nood raaksien en ongewone dinge doen. Ek daag jou uit: kyk rondom jou, sien raak waar jy ‘n positiewe bydrae kan lewer en maak ’n verskil met wat jy ontvang het.

’n Teatermens in murg en been

Kunstenaar, feesbestuurder, skrywer, regisseur… Alexa Strachan is ’n vermaakmens in murg en been en ’n gereelde medewerker by die Atterbury Teater. Haar nuutste projek, die splinternuwe produksie van Koöperasiestories, het dan onlangs ook voete natgemaak in Pretoria. Ons het gaan gesels met hierdie vuurwarm kampvegter vir die kunste

Hoekom is jy opgewonde oor Koöperasiestories? Gee vir ons jou top drie redes hoekom die speelvak in Atterbury Teater bykans heeltemal uitverkoop het?
1) Die hele KKNK-gehoor kan mos nie verkeerd wees nie, of hoe? Ons is baie dankbaar dat ons pas die tweede top-verkoper by die Klein Karoo Naionale Kunstefees was. Nogal ’n prestasie vir teater – dis dikwels eerder die musiekproduksies wat die grootste gehore trek.
2) Dis ’n uur se wegbreek, ontspan en lag dat die trane rol vir die hele familie. Ek dink almal van ons kan doen met momenteel ontvlug van ons daaglikse realiteit vol spanning en kommer.
3) Selde sal jy weer die kans kry om te sien hoe divers sekere akteurs werklik is. Mense glo byvoorbeeld nie altyd dat Margit Meyer-Rödenbeck iets anders as Dowwe Dolla kan wees nie. Nie een van die akteurs speel net een rol nie, en hulle speel ook oor die geslaggrense heen. Om vir Marion Holm byvoorbeeld as beide Mietie en Oom Botes te sien, is ’n belewenis.

Wat was jou eerste produksie by die Atterbury Teater en hoe het jy destyds by die teater uitgekom?
My pa het altyd gesê dit gaan nie oor by watter bank jy is nie – dit gaan oor jou verhouding met jou bankbestuurder. Ek dink dit geld oor die algemeen: Mens het nie verhoudings met ’n instansie nie, jy het verhoudings met mense. Ek en die hoog aangeskrewe musiekregisseur Matthys Maree stap al jare lank ’n pad. Atterbury Teater voel vir my soos my “tuisteater”.

Wanneer jy produksies daar opvoer, voel jy veilig, want vanaf Paulette voor in die foyer, tot by Allewyn agter by die klank en ligte, weet jy almal werk hulle oor ’n mik ten einde ’n professionele sukses van die konsert te maak. Hulle dra ook hul teatergangers / kaartjiekopers op die hande – iets wat werklik belangrik is, soos met elke besigheid. Deesdae strek my verbintenis met Atterbury ook natuurlik wyer – ek werk gereeld saam met die Atterbury Trust: watter voorreg om ook betrokke te wees by Versnit, hul groot jaarlikse fondsinsameling vir behoeftige studente by Rust in Vrede in Stellenbosch.

Lees volle storie

’n Geheime wapen vir Atterbury Trust se studentesukses

Vir Atterbury Trust is dit geweldig belangrik om benewens die finansiële hulp wat ons namens ons borge bestuur, vir elkeen van ons beursstudente soveel moontlik ondersteuning te gee sodat elkeen sy of haar heel beste kan doen. ’n Belangrike deel hiervan is die persoonlike aandag en die mentorsessies wat elke student by Leonie du Preez van Gro Life Coaching kry. En die resultate spreek vanself – bykans 97% van ons beursstudente slaag, wat vir almal wat betrokke is, van die student tot die beursborge tot ons ondersteuningspan, die grootste prys is. Ons het met Leonie gesels oor hierdie “geheime wapen” vir sukses.

Hoe werk die Gro Life benadering?
Gro Life Coaching is passievol oor die persoonlike ontwikkeling van elke individu. Vir my persoonlik gaan dit regtig om ander mense te help “Gro” – dis so bevredigend om iemand te kan help groei in alle aspekte van sy of haar lewe; geestelik, emosioneel, fisies en intellektueel. Ons beywer ons ook om jongmense te help om ’n gebalanseerde uitkyk en positiewe houding oor die toekoms, hul lewe en Suid-Afrika te beleef.

Vertel ons hoe Gro Life en jy en Atterbury bymekaar uitgekom het.
Ek het vrywillig gewerk by die MAD Foundation, Francois Pienaar se welsynsorganisasie, en daar het iemand een mooi dag vir my Zahn Hulme se nommer gegee. Ek het Zahn gebel, ons het ontmoet, en sy het my net daarna laat weet dat ek die volgende Maandag al kon begin. Dit was soos ’n droom. Ek is al vanaf 2011 by Atterbury Trust se beursstudente betrokke.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

“Ek wil werk skep wat gehore uitdaag”

Vierdejaar BA Teaterproduksie-student Kanya Viljoen was van kleinsaf ’n avontuurlustige, spitsvondige Eisteddfod-koningin, en nou hou hierdie Atterbury Trust-beurshouer boonop Afrikaans se vaandel hoog by die Engelstalige Universiteit van Kaapstad!

Teken vir ons ’n Kanya-prentjie…
ʼn Goeie plek om te begin is met my naam: Kanya beteken in Suid-Afrika se Nguni-tale “Lig”. In Sanskrit beteken dit “klein/jong meisie”. Ek is nie baie groot nie so dit is nogal gepas! Ek is die oudste van vier, my ma is ʼn musiekonderwyseres en my pa werk in Angola in projekbestuur en -ontwikkeling. Ons het baie rondgetrek toe ek klein was en ek dink dit is juis dit wat gemaak het dat ek so graag nuwe dinge ontdek en alles bevraagteken. Ek het op Somerset-Wes skoolgegaan en was van kleinsaf baie bedrywig, altyd op soek na ʼn storie om te vertel of ʼn speletjie om te skep en te speel.

Hoe lank is jy nou al ’n Atterbury Trust-beurshouer?
Dis al my vierde jaar – en ek is só dankbaar dat julle my die geleentheid gegee het om te studeer. Dit is eintlik aan my ma te danke dat ek van die beurs gehoor het.

Hoekom Teaterproduksie?
Teater was nog altyd ’n uitlaatklep in my lewe en ek dink nie ek het veel van ʼn keuse gehad in die saak nie – ek weet nie wat anders ek met my lewe sou aanvang nie. Dit is, en sal altyd, my lewenspassie wees. Ek glo boonop dat die toekoms van Suid-Afrika in die kunste lê. Elke keer as ek in die teater sit, of op die verhoog trap, besef ek opnuut die krag van die teater.

Lees volle storie

Mooi woorde, mooier dade

Praat met enige Atterbury Trust beursstudent, en daar is ’n goeie kans dat jy verstom sal staan voor die goeie dade en groot harte van hierdie spesiale jongmense, wat dikwels sommer nog op universiteit al werk maak daarvan om ander te help. Finalejaar onderwysstudent Zonika van Zijl is maar 23, maar sy het die hart van ’n digter en maak reeds ’n verskil in die lewe van ’n groep behoeftige hoërskoolmeisies.

Vertel ons meer oor Zonika as sy by die huis is.
Ek is die baba in ons gesin, het ’n sussie wat vier jaar ouer as ek is en onderwysbloed loop deur beide van ons se are. Ek was in Laerskool Saamspan en Hoërskool Hercules in Pretoria en albei skole het my geleer dat daar ’n verskeidenheid mense in die lewe is en dat daar altyd iets is wat jy by iemand kan leer. Ek woon nog by my ouers en is dankbaar vir my ma se kookvernuf!

Hoe het jy van die Atterbury Trust-beurs gehoor?
My sussie het ook ’n Atterbury Trust-beurs gekry, so ek het al geweet ek wil aansoek doen toe ek nog op skool was. Ek is so geseënd om al vir vier jaar deel van die Atterbury-familie te wees.

Wat geniet jy die meeste omtrent studentelewe?
Ek waardeer dit dat dit mens tyd gun on jouself te ontdek en die grootmenswêreld treetjie vir treetjie te begin toetree. Mens word nie net vir die wolwe gegooi nie.

Lees volle storie

Navorsing in haar bloed

Christie Blaauw is 23 en besig met haar M.Med.Sc in hematologie, ’n studie van die bloed, by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Haar liefde vir navorsing en die tipiese baanbreker-gesindheid van ons Atterbury Trust-beursstudente gaan sorg dat hierdie uitblinker beslis eendag ’n deurbraak in die mediese wêreld gaan maak!

Vertel ons bietjie van jou agtergrond en hoe jy deel van die Atterbury Trust-familie geword en in Bloemfontein beland het.
Ek is gebore in Vryburg in die Noord-Wes provinsie, en het by Hoërskool Vryburg matriek geskryf. Ek is die oudste van drie; ek het ’n 20-jarige suster en ’n 12-jarige boetie. Die beurs was te danke aan my tannie – toe ek in matriek was, het sy op die radio daarvan gehoor en die proses aan die gang gesit. My drie voorgraadse jare en ook ’n gedeelte van my honneursjaar is deur die beurs gedek. En ek het Kovsies gekies omdat ek op ’n plattelandse dorpie grootgeword en ’n boere-hart het – ek wou nie juis na ’n stadsuniversiteit gaan nie!

Wat was jou Plan B indien die beurs nie gebeur het nie?
Ek het aan die begin van my matriekjaar 24 beursaansoeke uitgestuur en net Atterbury Trust was suksesvol. Ek glo nie in toeval nie, maar wel in wonderwerke uit die hand van God. Ek het gebid vir ’n uitkoms en het geweet God sou voorsien. Ek het met my hele hart geglo dat God ’n uitkoms sou gee, en Hy het.

Lees volle storie

Wie is wie by Cool Capital?

Pretoria se tweejaarlikse guerrilla kuns-ekstravaganza is na twee aflewerings nog maar in sy kinderskoene as mens dit met ander biënnales in die wêreld vergelyk. En tog het dit reeds ’n enorme impak op die stad, en het selfs al ’n internasionale draai gemaak. Wie sou kon raai dat dit grootliks die breinkrag van net drie mense is? Ons het gaan aanklop by Pieter Mathews en sy spannetjie om agter die kap van die byl te kom…

Nee dit kan nie wees nie – net drie mense? Eerstens, wie is elk van julle en hoe het julle by Cool Capital uitgekom?
Pieter M: Ek het die idee gekry vir Cool Capital tydens die Venesiese Biënnale in 2012 nadat ek ’n plakkaat gesien het wat gesê het: “We expect the discussion to go beyond Venice.” Ek het besluit om ’n guerillafees in Pretoria te probeer.
Carla Taljaard: Ek het na ek my studies voltooi het vir ’n “gap year” die Cool Capital projek aangepak in 2014.
Jana Kruger: Ek het in ’n breuk tussen my honneurs- en meesters-studies vir ’n internskap by Mathews & Genote kom werk en so by die projek betrokke geraak.

Hoe bestuur mens iets so groot soos Cool Capital? Is daar ’n basiese beginsel wat julle inspan?
Dit is belangrik om te noem dat dit nie slegs ons drie is nie – daar is onsettend baie mense wat ons op informele wyse daarmee help. Die beste illustrasie hiervoor is Wikipedia: daar is mense wat die “servers” en webwerf van Wikipedia administreer (dis ons drie en almal wat ons bystaan in die Mathews & Genote kantore), maar die inhoud van Wikipedia word beslis nie slegs deur hulle geskryf nie!

Lees volle storie

Saadjies – Piepklein kuns gaan groot

Mikrokuns wat die wêreld vol reis en kreatiwiteit op speelse wyse uit die formele opset van ’n galery haal… dit was die inspirasie agter die Saadjies-projek, een van die Cool Capital biënnale se mees opwindende kunsgrepe. Ons kry die storie agter die storie van Pieter Mathews, argitek en die vader van Cool Capital.

Vertel ons meer van die Saadjies.
Ons het as deel van Cool Capital 2016, Klein is Groot, ’n oop uitnodiging gerig aan beeldhouers om werke wat niks groter as 180 x 180 x 180mm is nie, in te skryf as deel van die “Saadjies” projek. Daar was geen voorskrif anders as die grootte nie, en dit was bloot omdat dit vervoer moes word. Die reaksie het ons wildste drome oortref – 75 kunstenaars het ingeskryf, met meer as 80 werke, van gevestigde beeldhouers soos Sybrand Wiechers, Angus Taylor, Daniel Mosako en Gordon Froud, tot studente en kunsliefhebbers.

Waar het die idee vandaan gekom?
Nadat ek in 2012 van die Venesiese biënnale teruggekom het, het ek gedink hoe koel dit sou wees om die volgende Biënnale in 2016 te “sculpture bomb” met werk uit Suid-Afrika. Die Biënnale is so oorgereguleer en daar is soveel burokratiese rompslomp, so my plan was om ’n paar beeldhouers se werk saam te neem en in protes hierteen te wys wat kan gedoen word as kreatiwiteit gedemokratiseer word. Ek wou die kurator van die 2016 Suid-Afrikaanse pawiljoen aanvat hiermee… en min het ek toé geweet dit sou ek wees!

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust


Liewe Zahn (en almal by Atterbury Trust)
 
Ons hoop dit gaan baie goed by julle!   
 
Ons wil uit die diepte van ons harte dankie sê vir die geweldige groot bydrae tot Beyers Bytjies en die omgewing van Danville elke maand. Ons waardeer dit opreg en ook die lang pad wat julle al met ons loop. Julle speel ’n baie groot rol in die lewens van baie mense in Danville en omgewing en ook in die voortbestaan van ons kleuterskooltjie! Dankie dat ons nie net julle finansiële bydrae kan ervaar nie, maar ook julle omgee en liefde.
 
Met opregte dank en groete
Chrisna Venter

Dankie Atterbury Trust

 
Ek het nie altyd die “perfekte onderhoud” antwoord as mense my vra hoekom ek Bedryfsingenieurswese gaan swot het nie, maar my storie gee my net soveel meer sekerheid dat ek werklik in my roeping stap. En ek is oneindig dankbaar teenoor Atterbury Trust wat vir my die geleentheid gegee het om my droom te verwesenlik.

Na matriek het ek op ’n oorsese sendingjaar gegaan en vertrou dat Jesus in die jaar vir my sal wys in watter rigting ek moet swot. Teen September het ek steeds geen idee gehad nie, omdat ek, soos altyd, die perfekte keuse wou maak. Na familielede en vriende Bedryfsingenieurswese voorgestel het, na aanleiding van my belangstellings, het ek my ma uit Nepal uit gebel en gevra dat sy namens my aansoek doen vir Bedryfsingenieurswese, alhoewel ek geen idee gehad het wat dit behels nie.

Lees volle storie
Om ’n student by die Universiteit van Pretoria te kon wees was ’n voorreg. Ek onthou nog toe ek in Graad 12 was, en onseker oor my spesifieke beroepskeuse, toe skryf ek in vir BA Inligtingsontwerp omdat dit een van my belangstellings was. Op die oomblik kan ek nie my lewe indink sonder Inligtingsontwerp nie. Die afgelope vier jaar was maar rof, maar by Tuks het ek geleer hoe om met moeilike kliënte en spertye te werk. Ek onthou nog my sessies met Leonie, my “life coach”, wat deel is van die Atterbury Trust studenteprogram. Ek kon nie wag om die sessies by te woon nie. Hierdie is die beste gedeelte van Atterbury Trust, hulle is nie net ’n maatskappy wat lenings gee sodat jy die studies kan voltooi nie, maar belê ook in die studente wat hulle kies. Bou ’n verhouding. Bou ’n familie.
 
Ek mis jou Leonie! Maar dit gaan baie goed by die werk, hulle hou my lekker besig... partykeer te besig :) maar ek kla glad nie!
 
Geseënde dag vir jou!
 
Groete en Liefde
Danieka de Bruyn
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting