Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die web
November 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Atterbury Trust ken 65 nuwe beurse toe

Atterbury Trust se beursspan het pas al die onderhoude vir die 2016 beurse afgehandel. Ons hoor by Zahn Hulme hoe dit verloop het.

Hoeveel beurse kan julle volgende jaar toestaan?
Daar is 65 nuwes. Op die oomblik het ons so 170 studente in die program, met ongeveer 30 wat aan die einde van die jaar klaarmaak. So ons gaan volgende jaar nader aan 200 voltydse studente wees… die beursprogram gaan beslis van krag tot krag!

En is daar genoeg in die begroting om almal wat julle wil, te help? Hoeveel kandidate het julle gesien?
Ag, ons wens ons kon almal help. Ons het 130 onderhoude gedoen, maar op die ou end is daar mense wat ons moet wegwys. Ons het ’n begroting en dan bepaal ons op grond van die onderhoude wie die hulp die nodigste het, baie gemotiveerd is en wat ook in ons opinie eendag die grootste verskil in ons land sal maak. Dit breek mens se hart om studente weg te wys, maar op die ou end moet ons die mees belowende kandidate kies.

Julle het sekerlik roerende stories gehoor. Kan jy een of twee uitsonder?
Ja daar was baie; dié wat my bybly was die kinders wat swaar grootgeword het. Daar was die een meisie wat sulke helder, pynlike herinneringe aan kinderjare met ’n alkoholis-pa met ons gedeel het. Dit was duidelik dat sy alkohol-verwante dood ’n diep indruk op haar gemaak het. Sulke dinge ruk mens. Dan was daar een seun wat in ’n stadium in ’n park in die Paarl gebly het, maar sedertdien met die hulp van een van sy onderwysers Pretoria toe getrek het, en hy het ’n groep weldoeners wat tans bydra om hom te help. Dan ook vanjaar se hoofseun van Hoërskool Tuine in Pretoria. Hy het reeds op 18 ’n fyn ontwikkelde sin vir reg en verkeerd en sulke ongelooflike goeie waardes; sy lewensuitkyk is so uitgesorteer as mens sy omstandighede in ag neem; ek het lank laas ’n 18-jarige ontmoet wat my so beïndruk het.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Atterbury is “Cool”

Pieter Mathews, Zahn Hulme en Carla Taljaard – Foto: Fatima Cassim
Die Cool Capital Biënnale het verlede jaar gedurende September en Oktober in Pretoria plaasgevind. Inwoners het gretig die geleentheid aangegryp om op kreatiewe wyse tot Pretoria by te dra. Vir twee maande het die stad behoorlik vlam gevat met spontane straatkuns en ontwerp-idees wat Pretoria se unieke karakter gevier het. Stedelike oplewing, sosiale samehorigheid en bo alles, ’n glimlag op die gesig van inwoners is wat Cool Capital ten doel gestel het.
 
Rompslomp is beperk deur Cool Capital se oop houding teenoor kuns. Die biënnale het kreatiwiteit suksesvol gedemokratiseer deur die stad in die hande van sy inwoners te plaas. Met ’n lae begroting maar hoë ideale vir innovasie het die projekte van Cool Capital van guerrilla-tuinmaak en materiaal-bombardering tot verskeie vertonings, funksies en uitstallings gestrek. 
 
Die Cool Capital katalogus en gepaardgaande film het die werk van meer as 1 000 deelnemers grafies vasgevang soos hulle 250 kreatiewe installasies in 10 weke in die hoofstad ten uitvoer gebring het. Die film is deur Pretoria se eie Neil Human en Christo Niemand geskep, met musiek deur Ola Kobak, Jacob Israel en Bittereinder, almal ook van Pretoria.
 
Die Cool Capital wisseltrofee is aan Zahn Hulme van Atterbury Trust toegeken as hoofborg van die biënnale en katalogus. Hierdie unieke trofee is spesiaal deur die bekende beeldhouer Guy du Toit vir Cool Capital ontwerp. Elke tweede jaar sal ’n borg deur hierdie toekenning erken word. Die trofee vorm ’n geheel uit 60 snorre wat deur Pretorianers gevorm en deur Du Toit gegiet is.
 
Atterbury Trust het besluit om weer die Cool Capital Biënnale in 2016 as borg te ondersteun.

Klein maar getryn!

Die 12-jarige Kapenaartjie Leo Gevisser is die jongste wenner nog van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat onlangs by die Atterburyteater plaasgevind het. Ons gesels met hierdie wonderkind se klavieronderwyseres, Nina Schuman.

Hoe lank speel Leo al klavier en hoe lank neem hy al klas by jou?
Ek en my man gee die afgelope twee jaar vir hom onderrig; maar hy speel klavier van hy so vyf of ses was. My man fokus op die tegniese aspekte en ek gee aandag aan die musikale aspekte. Hy kom elke Saterdagoggend vir twee ure, en ons werk apart aan verskillende elemente van sy repertorium.

Wat verg dit van hom om so besonders te presteer? Sy ouers moet hom baie ondersteun.
Sy familie is geweldig ondersteunend, veral sy ma wat hom rondry na al sy verpligtinge. Hulle woon 40 minute van waar ons is, so dit vat behoorlik toewyding. Die familie is baie talentvol, sy oom is die skrywer Mark Gevisser en sy grootouma was ’n konsertpianis in Durban. Sy jonger boetie is net so musikaal.

Hoeveel uur per dag oefen hy?
Hy oefen te min! Die ding is, Leo is baie intelligent en akademies baie sterk, en hy is in Bishops wat ’n baie mededingende skool is, so hy het baie diverse aktiwiteite wat hom besig hou. Sy ouers maak seker dat hy gebalanseerd is. Hy oefen so twee uur per dag klavier, maar hy moet eintlik meer oefen. Hy het gegroei van iemand wat ’n “tutor” gehad het wat by hom gesit het, tot iemand wat self oefen en dit is deel van sy groeiproses dat hy vir himself metodes moet aanleer om effektief te oefen.

Lees volle storie

vir Afrikaans!

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans, oftewel VivA, het gedurende die jaar ’n paar reuse-stappe vorentoe gegee vir die bevordering van Afrikaans in ons tegnologie-gedrewe wêreld. Atterbury Trust is ’n trotse borg van VivA.

VivA beskryf hulle self as ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste. Dit behels die skep van waarde deur Afrikaans as digitale taal te ontwikkel, sodat dit oor twintig, vyftig en honderd jaar steeds sy hoë funksies kan vervul. Op hierdie manier wil VivA ook help om kennis en toegang tot kennis in Afrikaans te skep.

Webtuiste
VivA se innoverende webtuiste by viva-afrikaans.org bestaan uit ’n portaal wat advies bied, ’n woordeboek verskaf, inligting oordra, meer oor die Afrikaanse taal vertel en ook die wetenskaplike navorsing van Afrikaans ondersteun deur middel van ’n omvattende korpusportaal.

Die korpusportaal is vir vir Afrikaanse taalnavorsers van unieke waarde, aangesien dit die gebruik van Afrikaanse woorde wetenskaplik en in konteks analiseer.

App
Die nuwe VivA app vir Apple- en Android-fone is baie gewild en is reeds meer as 7000 keer afgelaai. Die app word gemiddeld 62 keer daagliks afgelaai.

VivA skolekompetisie
Atterbury Trust was die trotse borg van die skolekompetisie wat amper 900 inskrywings van regoor Suid-Afrika gelok het. Leerders moes Afrikaanse idiome visueel uitbeeld en die kreatiwiteit het hoog geloop.

Lesplanne
VivA se tien lesplanne vir Graad 8 tot 12 (vir die vakke huistaal en eerste addisionele taal), word deur middel van e-pos en tydens die UP Lenteseminaar en VDK-onderwyserseminaar versprei. Omtrent 130 000 leerlinge is reeds bereik deurdat die lesplanne al meer as 650 keer afgelaai is.

Gewild
VivA se gewildheid neem net toe, maar dit gaan nie net oor getalle nie. VivA wil ’n positiewe verskil aan Afrikaans op die regte manier maak. Dít kry die organisasie reeds reg. Prof Hans du Plessis stel dit so: “Wat julle vir Afrikaans doen, gaan nog baie lank onthou word.” By Atterbury Trust stem ons saam. VivA vir Afrikaans!

Triomfkliniek

’n Gemeenskap se trots

Suster Adelene Boshoff is gewoond om stories van dankbaarheid te hoor van die mense van Danville. Die gemeenskap het in die afgelope jaar geleer om te steun op die Triomfkliniek, waar hulle mediese hulp kry sonder om dae om te staan in lang toue.

Wat is Triomfkliniek se besigste dae?
Die spesiale klinieke is beslis die besigste; ons het ’n week of wat gelede ’n dermatologiekliniek gehad waar Dr Jeanette Joynt 22 mense gehelp het! Dit het duidelik geraak dat die dermatologiebehoefte die grootste is… omdat ons 1 September die velkanker-kliniek gehad het, het meer pasiënte verneem van die diens wat ons aanbied, en dit het beslis bygedra tot die navraag. Daar is reeds ’n rekord aantal van 36 pasiënte bespreek vir 20 November, wanneer Dr Marc Roscher die laaste dermatologiekliniek van die jaar sal kom behartig!

Is daar ’n tipiese kwaal waarmee mense kom hulp soek by so ’n kliniek?
Dis maar moesies, letsels en veluitslae. En daar was een pasiënt met ’n baie groot donker letsel op die skeen, en die uitslag van die biopsie wat Dr Joynt geneem het, het ongelukkig gewys dis ’n melanoom. Wat so erg is, is dat die pasiënt al voorheen by staatshospitale en ’n kliniek gaan aanklop het om hulp, maar weggewys is! In hierdie geval is dit ’n baie aggressiewe kanker en sy sal nou baie dringend by ’n onkologie-afdeling aandag moet kry, en daarvoor is Dr Joynt se ingryp so belangrik.

Is daar nog spesiale klinieke in die pyplyn voor die einde van die jaar?
Ja, die ginekoloog Dr Liz Erasmus bied op 19 November ’n ginekologiekliniek aan en daar is reeds 10 afsprake gemaak. Ons tandarts, Dr Seymour Jonker, sien pasiënte by sy spreekkamer, en hy het vanjaar nog een toegewyde dag vir Triomfpasiënte beskikbaar gemaak op 3 Desember. Hy het ook ’n mobiele kliniek waarmee hy dienste na pasiënte toe neem, en hy was vanjaar reeds by Booysens Laerskool en Booysens Beertjie Kleuterskool hiermee.

Dr Marc Roscher is op 20 November daar vir die laaste dermatologie-kliniek van 2015 en op 27 November doen Primary Eye-care Centre se Centurion-tak ’n oogkliniek.

Lees volle storie

GROOTfm 90.5 kies ’n onnie van die jaar

Atterbury se mediavriende GROOTfm 90.5 het onlangs ’n kompetisie geloods om eer te bring aan die wonderlike onderwysers wat generasies van kinders se lewens help vorm. Lindie Strydom vertel meer

Waar kom die idee vandaan?
Almal wat ooit in ’n skool was, ken ’n maak- of breek- onderwyser, en ek het ook so iemand gehad in Juffrou Martie, my dramajuffrou op Hoërskool Framesby. Ek was in Graad 10 en’n groot Egoli-kyker, toe so ’n jong outjie die rol van Stephen begin speel het. Net daar het ek vir almal wat wou luister vertel dat ek eendag in Egoli gaan speel en nie sommer nie, ek gaan Stephen se meisie speel. Dit was my droom! In my Graad 11-jaar was ek een aand by ’n dramakompetisie in Pretoria, en toe kom sê Juffrou Martie vir my dat een van die regisseurs van Egoli daar is. En sy stoot my tot langs die “oom van Egoli” om myself voor te stel. As dit nie vir Juffrou Martie was nie, het ek sekerlik nie vir 12 jaar lank in Egoli gespeel nie, en nogal agt jaar daarvan as die einste Stephen Edwards se vrou! Dis om eer te bring aan sulke onderwysers, en die groot rol wat hulle in ons kinders se lewens speel, dat ons op die idee gekom het om ’n Onderwyser van die Jaar aan te wys. Dit was mos juis op 5 Oktober Internasionale Onderwyserdag.

Vertel ons van die proses?
Ons het ons luisteraars die kans gegee om hul top onnies te nomineer, en daardie nominasiebriefies was net ongelooflik. Al kon net een onderwyser die prys wen, is soveel pragtige positiewe stories gehoor, en soveel mense se wonderlike werk het die erkenning gekry wat dit so verdien. ’n Paneel by GROOTfm 90.5 het die top 10 aangewys, deur elk hul gunsteling-nominasie te kies, en die wenner is uit daardie 10 getrek.

Lees volle storie
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting