Atterbury Trust Nuusbrief
November 2020
Webtuiste
Facebook
Instagram
Twitter
E-pos

Dit is ’n voorreg om ’n uitdagende 2020 met ’n storie van hoop af te sluit. Ons laaste Omgeenuus van die jaar word hoofsaaklik gewy aan Terugploeg – die nuwe voedselverskaffingsinisiatief onder die vaandel van Atterbury Trust wat amptelik op 17 November in die Atterbury Teater bekendgestel is. Ons is sedertdien oorweldig met die aanbiedinge van hulp wat aanhou instroom.

 
Terugploeg is ’n inisiatief wat in die grendeltyd ontstaan het deur ’n netwerk van weldoeners wat intens bewus geraak het van die kosnood onder spesifiek Afrikaanse gemeenskappe. Boere is genader en spoedig het vragte groente, vrugte en wildsvleis van so ver as Letsetele, Groblersdal en die Waterberge ingestroom.
 
Ons noem dit “hulp wat werk” en daarom die groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes en ons wil sulke geleenthede fasiliteer.
 
Daar word vroeg in 2021 begin met die konstruksie van ’n voedselverwerkings- en bergingsperseel langs die N4 by die Cullinan/Raytonafrit. Die perseel is aan Terugploeg beskikbaar gemaak deur Faan en Dirk van der Walt van WeBuyCars.
 
Die grootste gedeelte van Trustfondse word steeds aan opvoeding spandeer en ons het vanjaar net meer as 180 studente ondersteun. Daar word verwag dat amper 60 van ons finalejaar-studente vanjaar gaan gradueer! Ingenieurs, veeartse, onderwysers, rekenmeesters, bourekenaars, regsgeleerdes, verskeie mediese rigtings, inligtingstegnologiespesialiste, en nog meer. Ons is trots op die studente wat ten spyte van uitdagings met gedwonge afstandsonderrig, beperkte fondse vir data en isolasie deurgedruk het. As daar van ons medewerkers is wat belangstel om van hierdie nuwe graduandi in diens te neem of geleenthede vir internskappe het, kontak gerus vir jani@atterbury.co.za of leonie@atterbury.co.za vir besonderhede.
 
Die Trust se ander gemeenskapsinisiatief, Triomf Kliniek, was in Julie vanjaar ses jaar oud en bykans 3 700 behoeftige pasiënte is reeds gratis deur ons netwerk van vrywilligerdokters gehelp. Daar is ook vanjaar ’n klerebank by Triomf gevestig om weerlose gemeenskappe verder by te staan.
 
Baie dankie aan elkeen wat die Trust op een of ander wyse vanjaar ondersteun het. Ons waardeer elke gebaar opreg en kan ieder en elk verseker dat dit met vrug aangewend word – hetsy vir ’n behoeftige student of ’n skool met nood of by Triomf Kliniek of Terugploeg.
 
Ek wens jou die seën, vrede en liefde wat die Feestyd bring – mag dit vir jou altyd beter wees om te gee as om te ontvang.
Terugploeg se hulp wat werk
Agter: Vasti Kirchner (Vibro Bricks & Paving), Leonie du Preez, Jani Doms, Ananja Koen (almal van Atterbury Trust), Herman Marx (Vibro Bricks & Paving), Lood Bester en Louis van der Watt (HUB van die Atterbury Groep)
Voor: Mariaan Keulder (StartupClub), Zahn Hulme (Uitvoerende Trustee van Atterbury Trust)

Die COVID-19 pandemie het baie swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad.

Terugploeg is een so ’n idee wat nou tot sy volle reg gekom het. Volgens Lood Bester, mede-stigter van Terugploeg, is hierdie konsep gebore in gesprekke tussen hom en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks.

Bester sê toe hulle gedurende die inperking bewus geraak het van die enorme kosnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie, wou hulle graag help. “Reg aan die begin het ons kos aangekoop, wat ons dan self in van hierdie gemeenskappe rondom ons versprei het. Later het ons gaan aanklop by ons boere-vriende om ons idees met hulle te deel. Almal het dadelik ingestem om vir ons kos te skenk. So stuur ons byvoorbeeld deesdae een van Herman se trokke na ’n plaas toe, wat ons skenkers vol laai met tussen 3 en 8 ton groente of vrugte. Dit word daarna by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar word die kos verdeel in kleiner porsies, op bakkies gelaai en verder versprei onder ouetehuise, kinderhuise en skole wat ons geïdentifiseer het, waar daar spesifiek kosnood is.”

Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes.

Lees volle storie
Terugploeg is ’n woord wat wikkel

Daar is ’n hoofletter T in “Teruggee”, en daardie T is ook in Atterbury Trust en Triomf Kliniek en nou die T van “Terugploeg” – die jongste inisiatief waarby die Trust betrokke geraak het. “Omgee” en “teruggee” was nog altyd in Atterbury se DNS, en “terugploeg” bo-aan die lysie van die Trust se daaglikse take. Na afloop van die amptelike bekendstelling van Terugploeg in die Atterbury Teater op 17 November 2020, het Uitvoerende Trustee Zahn Hulme saamgespeel om die blokkies van die woord uit te pak…

T staan vir Ton…

soos in die tonne kos wat reeds deur goedgunstige boere geskenk is:

Ons kon reeds 68 ton kos aan 25 liefdadigheidsorganisasies en skole uitdeel!

E staan vir Etes…

dít wat Terugploeg heel eerste verskaf:

Ons wil hê niemand in Suid-Afrika moet honger gaan slaap nie: kinders, bejaardes, mense wat hulle werk verloor het… Die ekwivalent van ongeveer 272 000 etes is reeds voorsien sedert die projek in April vanjaar informeel begin het.

R staan vir Reëlmaat…

dít wat ons ons weerlose medemense toewens – ’n gereelde inkomste, gereelde werk, gereelde etes.

Die realiteit is dat die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien in baie gevalle geen elektrisiteit, yskaste, oonde of behoorlike gaarmaakgeriewe het nie. Baie mense bly in Wendyhuise en hulle kan dus nie groot hoeveelhede kos veilig berg nie. ‘n Gereelde ete is dus vir hierdie mense meer betekenisvol as ’n groot sak kos wat dalk kan bederf. Dit is waar die gedagte aan ’n bykomende verwerkingseenheid ontstaan het.

U staan vir Uitbrei…

ons begin met kos, maar ons glo in groot planne maak.

Toe ons verder dink, het ons egter besef dit kan ook bydra tot werkverskaffing aan mense uit daardie gemeenskappe – die ou storie van leer iemand eerder om vis te vang as om net vis verniet weg te gee!

Ons het groot planne vir die die Terugploeg perseel, wat ons van Faan en Dirk van der Walt van WeBuyCars ontvang het.

G staan vir Gemeenskap…

ons mense, en ons omgee vir ons gemeenskappe is die rede hoekom ons almal betrokke raak; die rede hoekom Atterbury Trust, en Terugploeg, in die eerste plek ontstaan het.

Atterbury Trust is al vir meer as 20 jaar betrokke by behoeftige gemeenskappe – ons het geloofwaardigheid in die liefdadigheidsfeer en mense weet hulle kan ons met hulle donasies vertrou.

Lees verder om die res van ‘Terugploeg” uitgespel te sien
Nuut by die Trust

Dinamies, entoesiasties en reg vir enige uitdaging… dit is Jani Doms, Atterbury Trust se nuutste spanlid, ’n regte mense mens. Sy is verantwoordelik om seker te maak dinge verloop glad met die administrasie rondom die Trust se grootste trots, ons beursstudente, maar dis nie al nie! Sy is ook projekkoördineerder van twee groot gemeenskapsprojekte wat onder die vaandel van die Trust bestuur word – Triomfkliniek en die Trust se splinternuwe inisiatief, Terugploeg.  Ons het gaan hoor wat die flinke jong Pretorianer motiveer en inspireer.

Watter draaie het die lewe met jou geneem voor jy by Atterbury uitgekom het?
Ek het in Pretoria groot geword, BA geswot by Tukkies en toe ’n hele paar avonture gehad! Ek het in 2016 begin werk as ’n assistant-onderwyseres in Pretoria, toe is ek Kaap toe om op ’n wynplaas te werk tot middel 2017, waarna ek Katar toe getrek het en as ’n lugwaardin vir Qatar Airways gewerk het. Ek het middel 2018 teruggekom en toe weer skoolgehou in Pretoria totdat ek by die Trust aangesluit het in September 2020.

Hoe het jou paadjie met dié van Atterbury Trust gekruis, en wat het jou laat besluit om aan te sluit by die Trust-span?
Ek wou al baie lank vir Atterbury of die Trust werk, hoewel die regte geleentheid nog nie voorheen op die regte tyd gekom nie! Maar al my hartsmense sal kan bevestig dis wat ek wil doen… My beste vriendin vandat ek kan onthou woon nou in Nieu-Zeeland en haar man was die een wat die advertensie op LinkedIn gesien het – hy het dit vir haar aangestuur en sy stuur dit toe vir my  met die boodskap “hierdie klink soos jy”. Ek het aansoek gedoen en ’n week later, 1 September 2020, het ek by die Trust aangesluit as Studente- en Projekkoördineerder.

Lees volle storie
Afrikaans – ’n hupstoot vir ’n beter toekoms

Uitvoerende trustee Zahn Hulme het onlangs deelgeneem aan ’n paneelbespreking op ’n webinaar aangebied deur die Afrikaanse Taalraad. Die onderwerp was die belangrikheid van Afrikaans in die opvoedkunde-arena, in ’n tyd waarin universiteite toenemend verengels. Zahn se onderwerp was: Afrikaans – ’n hupstoot vir ’n beter toekoms. Hier is haar praatjie:

Met universiteite wat toenemend verengels, blyk dit al hoe meer dat Afrikaans se dae as akademiese taal getel is.  Waarheen nou met Afrikaans, en moedig mens steeds studente aan om in Afrikaans te studeer? Hoe kan studente deur Afrikaans uitreik en versoen, nie net met ander Afrikaanssprekendes nie, maar ook met die anderstaliges van die land?

Goeiemôre aan almal wat vandag deel is van hierdie virtuele gehoor. Baie dankie ook aan die Afrikaanse Taalraad vir die uitnodiging. Ek ag myself bevoorreg om deel te vorm van so ‘n uitgelese paneel dinamiese, trots Afrikaanse vroue!

Spesifiek aan jou, Merlyn, dat jy deurgedruk het met hierdie Vrouedagprojek. Toe ek en jy aanvanklik in Augustus 2019 gesels het hieroor, het ons nooit kon dink dat ons leefwêreld só ingrypend sou verander nie.

Lees volle storie

Maak ’n bydrae

Atterbury Trust is ’n publieke voordeelorganisasie. Donasies is belastingaftrekbaar.

E-pos: zahn@atterbury.co.za

Banksbesonderhede:
Atterbury Trust
Nedbank: 1497004187
Takkode: 149745

Donasiewinkel: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/
Graadvang tydens grendeltyd

Daar was nog nie in ons leeftyd presies so ’n uitdagende akademiese jaar nie… Atterbury Trust se afstuderende beursstudente wat vanjaar hul welverdiende grade sou ontvang, het hulself in teenstelling in grendeltyd bevind. Maar die dinamiese jongmense in ons beursfamilie laat hulle ook nie terughou nie, en so het ons foto’s van ’n paar “virtuele” gradeplegtighede ontvang! Pas gekwalifiseerde mediese dokter Etienne Roberts het sy storie met ons gedeel…

Watter graad het jy verwerf, by watter universiteit, en wat was die plan vir 2020 voor die pandemie getref het?
Ek het deur die genade van God my MBChB verwerf by die Universiteit van Pretoria en is tans besig met my internskap-periode by Tembisa Hospitaal.

Waar was jy was toe die grendeltyd aangekondig is… en hoe het dit jou lewe geraak?
Ek was met verlof in Clarens toe grendeltyd aangekondig is. Dit het my verlofplanne so ’n bietjie omver gegooi, want ons moes dadelik terugkeer Gauteng toe voor die inperking op Vrydag 27 Maart ingeskop het.

Lees volle storie
Grendel-graadvang as dit moet!

Grendeltyd het studente besonder hard geslaan, en vir diegene wat vanjaar graadvang, het dit onder meer beteken hulle kon nie soos graduandi nog altyd gedoen het, hul graad by ’n rektor ontvang tydens ’n regte ouskoolse gradeplegtigheid nie. Maar Atterbury Trust beursstudente is vindingryk bo alles; lees hoe 21-jarige Stephanie Eksteen virtueel gradeplegtigheid gehou het…

Vertel ons waar jy was toe die grendeltyd aangekondig is… en hoe het dit jou akademiese lewe geaffekteer?
Ek was pas terug in die koshuis na ’n Sondagaand van groepwerk saam met mede-honneurs studente toe ek die nuus gekry het. Ons het die volgende dag gehoor dat alle klasse en toetse vir die kwartaal uitgestel is, en ons vakansie het toe dadelik begin, ’n week vroeër as beplan.

Grendeltyd het nie op daardie stadium my akademie so erg geaffekteer nie. Ek het regtig moeite gedoen om die aanpassing te maak om produktief by die huis te werk. Dit was ook makliker omdat ek vir my honneurs meestal navorsingsprojekte moet voltooi wat ek in elk geval op my eie doen. Ek kon deur gedissiplineerd te bly relatief op die normale jaarprogram aangaan soos dit vir ons aan die begin van die jaar uiteengesit is. Die kommunikasie met dosente en medestudente was die eintlike struggle en dit het groepwerk en groepstake baie moeilik gemaak. Iets wat mens binne ’n halfuur vinnig in die biblioteek kon afhandel, het nou baie langer geneem omdat kommunikasie net soveel stadiger was. Daar was ook ’n hele paar misverstande en noue ontkomings en ek sukkel partykeer nou nog met sekere goedjies. Maar die feit dat ek half geforseer was om in die huis te bly, my boude op die stoel te plak en te werk, het oor die algemeen my akademie besonder goed gedoen oor die afgelope paar maande!

Lees volle storie
Triomf Kliniek vier ses jaar van sorg met waardigheid aan kwesbare pasiënte

Triomf Kliniek – die baanbreker- liefdadigheidsprogram vir mediese dienste wat gestig is, in stand gehou word en in ’n groot mate geborg word deur Atterbury Trust – vier ses jaar van die voorsiening van kwaliteitsorg aan van die kwesbaarste lede van gemeenskappe in die Pretoria-Wesomgewing.

Volgens Zahn Hulme, die uitvoerende trustee van Atterbury Trust, een van die vernaamste rolspelers wat vir die stigting van die Triomf Kliniek verantwoordelik is, was die program die resultaat van samewerking tussen ’n groep mediese professionele en versorgingsorganisasies wat die groot behoefte na gespesialiseerde versorging onder Pretoria se behoeftigste gemeenskappe geïdentifiseer het.

“Uit die staanspoor was die oogmerk om ’n platform te hê wat as infrastruktuur vir mediese praktisyns kon dien om hulle dienste gratis aan behoeftiges te bied. Aanvanklik was die vernaamste fokus van die kliniek se dienste kinders en die bejaardes, maar die visie het gegroei en het die stigting van ’n uitgebreide gemeenskapsdiens ingesluit wat gespesialiseerde mediese en verwante dienste bied aan dié wat dit nodig het,” verduidelik Hulme.

Lees volle storie
Operation Healing Hands-OHH se gratis oogkliniek by Triomfkliniek op 10 Oktober het 86 pasiënte gehelp met oogtoetse, gratis brille en meer, sonder enige onkoste; danksy die vrywillige hulp van vier oogartse en ’n oftalmoloog. Dankie ook aan Zuid-Afrikaans Hospitaal, Spectacle Warehouse en almal anders wat bygedra het tot dié wêreldklas diens!
Ons  Atterbury Trust en Triomf Kliniek

Die verskil wat Atterbury in die weste van Pretoria maak is fenomenaal. Ek is ’n onderwyser by ’n skool hier in die weste van Pretoria, en kan duidelik sien dat die omstandighede van die gemeenskap sedert die begin van Covid drasties verswak het. Die mense ly honger, baie ouers het hul werk verloor. Met Terugploeg, die Atterbury Trust en die Triomf Kliniek raak Atterbury Trust so baie mense se basiese behoeftes aan. Baie dankie aan die verskil wat julle maak. Dankie aan al die donateurs wat dit moontlik maak. Julle is great!
Deel Deel
Tweet Tweet
Stuur Stuur
Kopiereg © 2020 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting