Atterbury Trust Nuusbrief
Augustus 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Augustus is Vrouemaand. Dit is ook die maand waarin Atterbury Trust se beursonderhoude begin. Elke jaar kom ons opnuut weer onder die indruk van soveel talentvolle jongmense in Suid-Afrika wat swaarkry, verwerping en hartseer ken, maar die hoop op ’n beter lewe brand sterk in hulle harte. Wat opvallend is in so baie van ons beursonderhoude, is die rol wat vroue – ’n ma of ’n ouma – in so baie van hierdie voornemende studente se vormingsjare speel. Soos leeuwyfies beskerm en koester ’n ma haar kroos. Vrouemoed en vasberadenheid het deur Suid-Afrika se geskiedenis ’n groot rol gespeel – of dit die spreekwoordelike kaalvoet oor die Drakensberge of die vyftigerjare se “you strike a woman, you strike a rock” optogte is. Hierdie maand vier ons Suid-Afrika se vroue se krag, maar ook hulle sagtheid; hulle dapperheid, maar ook hulle weerloosheid.

 
Velkankerdag vind tradisioneel op 1 September in Suid-Afrika plaas en Triomfkliniek is een van die deelnemende klinieke aan hierdie inisiatief waar mense gratis vir velkankerskanderings kan gaan. Lees ook in hierdie uitgawe meer oor die pas afgelope Velkankerkongres waarby Triomfkliniek se Dr Marc Roscher nou betrokke was.
 
Atterbury studente se inspirerende stories gryp ons telkens aan. Of dit nou Maritza is wat eers op 31 haar matriek gemaak het en ’n paar jaar later haar onderwysgraad behaal het, of Gabriel wat op sy eie besluit het om die sendingstasie waar hy grootgeword het te verlaat en op eie stoom verder te gaan studeer.
 
Ons het vanjaar in die omgewing van 400 beursaansoeke ontvang en ons kan slegs ongeveer 65 nuwe beurse toestaan. Ons is tans besig met onderhoude in Pretoria, Stellenbosch, Bloemfontein en Potchefstroom. Die behoefte is baie groot en die beursfonds word steeds letterlik oorval met soveel belowende jongmense wat vra om hulp. Daar is so baie matrikulante wat graag verder wil studeer om hul lot in die lewe te kan verbeter, hul families te kan help en ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te kan maak.

So baie van ons is bevoorreg en of ’n mens ’n klein bedrag skenk of ’n student vir ’n hele kursus borg, ons kan almal ’n verskil maak aan iemand anders se toekoms. Ons doen opnuut ’n beroep op Atterbury se vennote om die Atterbury Trust te ondersteun. Opvoeding is die sleutel na ’n beter lewe. Raak asseblief betrokke: as donateur, mentor of werkgewer vir talentvolle jong Suid-Afrikaners. Hulle is ons almal se toekoms.
En dan vir die feesvier. Die BoekeJol en FilmRol Fees vind van 16 - 20 Augustus vir die derde keer in en om die Atterbury Teater en Lynnwood Bridge plaas. Kom luister, leer, lag en debateer – talle nuwe boeke, insiggewende gesprekke en top produksies vorm deel van die fees.
Klik hier vir meer inligting en program
Bespreek by computicket

Goeie nuus vir velkanker-pasiënte

Op 1 Julie het die Velkankervereniging van Suid-Afrika ’n inligtingsdag oor die brandende onderwerp van velkanker by die Atterbury Teater aangebied. Triomfkliniek se eie Dr Marc Roscher was betrokke. Ons het met hom en die hoofbedryfsbeampte, Theresa de Beer, gesels.

Die inligtingdag was vir mense in die mediese en velsorg professie, maar daar is ook velkankerskanderings aangebied vir die publiek, reg? Was albei aspekte van die dag ’n sukses?
TdB: Dis reg ja. Die dag was ’n groot sukses, en ’n wye verskeidenheid van betrokkenes in die velbedryf het dit bygewoon. Ons het as gasspreker die wêreldbekende dermatoloog Dr Lindsay Sewell gehad wat die gaste toegespreek het oor die heel nuutste behandelings vir velkanker.

Luister hier na ’n onderhoud

Watter terugvoering was daar van die Velkankervereniging oor die afloop van die dag?
TdB: Almal wat deelgeneem het was baie gelukkig oor die blootstelling; dit was ’n groot sukses. Dit was die eerste keer dat die inligtingsdag by die Atterbury Teater aangebied is, danksy Dr Roscher se betrokkenheid by Atterbury Trust en die Triomf Kliniek en dit was uiters gerieflik. Lynnwood Bridge is sentraal en naby aan alles. Die Atterbury Teater se konferensiegeriewe en die professionaliteit van die personeel het alles maklik gemaak.

Wat is die brandpunte rondom velkanker op die oomblik? Watter nuwe verwikkelinge is by die lnligtingsdag bespreek?
Dr Roscher: Daar is tans nuwe middels op die mark wat werklik genesend kan wees vir dodelike kankers soos melanoom, asook onopereerbare basaalsel karsinoom. Hoe vroeër ’n velkanker-pasiënt by ’n dermatoloog kan uitkom, hoe beter – ’n korrekte diagnose en die regte behandeling wat akkuraat geïmplementeer word, kan die wêreld se verskil maak. Dis so belangrik om jouself deeglik en gereeld te ondersoek vir velkanker, want dit is die een kanker wat met die blote oog sigbaar is. Ek wil regtig almal met ’n vraag oor ’n velkwessie aanmoedig om van die Velkankervereniging se gratis velondersoeke gebruik te maak – dit gebeur jaarliks op 1 September.

Om ’n eie lewe te bou

Ons is soms stomgeslaan deur die stories wat jongmense wat voor ons beurspaneel kom sit, vertel. Ouers wat hul hulp aan hul kind onttrek en kontak verbreek omdat die kind ’n eie lewe wil maak, klink soos iets uit die Sprokies van Grimm, maar dit is ’n hartseer realiteit vir sommiges. Die aangrypende verhaal van 21-jarige NWU-student Gabriel van Eeden lees soos fiksie. Sy vasberadenheid om ’n eie onafhanklike lewe te bou het ons almal geïnspireer.

Jy het ’n baie buitengewone agtergrond gehad as jongste van vier kinders op ’n sendingstasie in die platteland van KwaZulu-Natal. Vertel ons meer – skets vir ons ’n prentjie van hoe afgesluit van die moderne lewe julle daar was.
My pa was ’n dokter en my ma ’n onderwyser, toe hulle gevoel het hulle roeping is om vrywillig by ’n sendingstasie te gaan werk. Dit was nog voor ek gebore is. My pa het sy mediese praktyk verkoop en hulle is KZN toe. Hulle kry nie ’n inkomste nie, so ons het van donasies gelewe, hoewel ons altyd genoeg gehad het. Ek is die jongste van vier kinders, maar my ouers het ’n paar jaar terug ’n klein Zoeloe-meisietjie aangeneem, so sy is nou die jongste. Ons is baie streng grootgemaak op die sendingstasie. Seuns en meisies moes uitmekaar bly. Ons sou elke nou en dan dorp toe of na sportbyeenkomste gaan, maar die meeste van die tyd was ons op die sendingstasie. Daar was nie ’n TV in die huis nie en ek het my eerste selfoon in matriek in 2013 gekry. Ons het ook nie baie flieks gekyk nie en net klassieke musiek is toegelaat.

Hoe was dit om so groot te word? Hoe het julle skoolgegaan?
My ouers het vir ons ’n baie donker prentjie geskets van die wêreld buite die sendingstasie en daarom het ek as kind die buitewêreld gevrees. Dit was soos om in ’n ander land te groot te word, en daar was baie wat ek op my eie moes leer toe ek daar weg is, omdat my perspektief op alles aan die buitekant so negatief ingekleur was. Kyk, ek het goeie eienskappe daar aangeleer: ek werk graag saam met ander mense en ek weet om dankbaar te wees vir alles wat ek het. Ek het daar geleer om Duits en Zoeloe te praat. Dit was vir my lekker daar toe ek klein was, maar soos ek ouer geword het, het ek rusteloos begin raak. Wat skool betref was daar op die sendingstasie ’n Engelse privaatskool waar ek ’n baie goeie akademiese opvoeding gekry het. Al ons kinders was bevoorreg genoeg om borge te kry wat ons skoolgelde betaal het. Gelukkig het my pa ons gedwing om Afrikaans by die huis te praat sodat ons nie ons moedertaal vergeet nie.

Vertel ons van jou besluit om weg te breek en te gaan swot. Was dit ’n moeilike besluit, en hoe voel jou familie daaroor?
My ouers wou hê ons moes almal op die sendingstasie bly en daar werk, want hulle het gevoel dit is waar hulle betekenis en vrede gekry het en ons kinders sou veilig daar wees. Maar ons het almal gevoel ons wil ons ambisies volg en ons eie toekoms bou. My oudste broer werk as ’n bestuurder vir Spar in Natal en my ander broer werk op ’n skip. My sussie het ’n paar jaar terug au pair-werk gaan doen in Amerika, omdat daar nie vir haar geld was om hier te studeer nie. Sy het haar man daar ontmoet en sy bly nou permanent daar.

Ek het ’n jaar op die sendingstasie gewerk om op ’n manier dankie te sê vir alles wat vir my gegee is en wat ek geleer het. My ouers het gesê hulle het nie geld om vir verdere studies te betaal nie. Toe probeer ek om ’n studielening te kry, maar my ouers wou my nie ondersteun nie. Hulle het geweier dat ek hul bankstate gebruik as bewys van hul inkomste en daarom kon ek vir geen studielening kwalifiseer nie. Ek het toe in 2015 besluit om ’n tweede “gap” jaar te vat. Ek het in ’n apteek in Centurion gaan werk vir sakgeld en om weer finansies vir universiteit te probeer reël. Ek is al in 2014 aanvaar by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom, maar kon nie gaan studeer nie weens die finansiële situasie.

Toe ek van die huis af weg is, het my ouers gesê hulle kan my besluite nie ondersteun nie en wil daarom nie met my kontak hou nie. Dit was die moelikste besluit van my lewe om weg te gaan, maar dit was definitief die moeite werd. My broers en suster het my voluit ondersteun en na alles wat ons saam deur is, is ons verhouding baie sterker. Ek het ook baie ondersteuning van my tannie en haar kinders gekry.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

’n Tweede kans

Daar is altyd ’n tweede kans, en wat jy daarmee doen, kan jou lewe verander. Dit is die les wat een van ons inspirerende beursstudente, Maritza Schoerie, in haar eie lewe geleer het. Haar kinderjare is in moeilike omstandighede deurgebring, sy het jonk ma geword en destyds sonder matriek as skoonmaker begin werk. Vandag is sy ’n onderwyseres wat die volgende generasie help bou terwyl sy self nog verder swot om kinders met spesiale behoeftes te help. Sy deel haar storie van aanhou droom, hard werk en tweede kanse.

Hoe het jy van toilette skoonmaak tot by onderwys uitgekom – wat het jou gemotiveer om aan te hou ondanks al die struikelblokke?
Ek is in Pretoria gebore, maar het vir die meeste van my laerskooljare in die Vrystaat gebly; dit was swaar jare. Ek het ma geword toe ek baie jonk was, en het destyds nie skool klaargemaak nie. In ’n tyd toe my man vir agt maande weg was, moes ek self die mas opkom en het toilette skoongemaak by die Booysens Beertjies kleuterskool. Ek het die mense van Beyers Bytjies in Danville leer ken en die geleentheid gekry om daar te begin werk as ’n assistent in die kleuterskool se klaskamer. Omdat ek vir myself en my gesin ’n beter lewe wou gee, het ek begin oplet hoe die juffrouens werk. Ek het die kans gekry om myself te bewys en ek het vir die kleintjies begin klasgee. Uiteindelik het ek my matriek geskryf, op 31, en vandaar af het ek ’n opvoedkundegraad begin swot deur Unisa, danky Atterbury Trust se hulp. Ek het onlangs my B.Ed grondslagfasegraad verwerf en is nou besig met ’n honneurs in “Special Needs”, ook deur Unisa, terwyl ek skoolgee by Laerskool Tuinrand. Nou bly ek en my gesin in ons eie huis in Daspoort.

Is daar een lewensles wat jy geleer het wat jou lewe verander het?
Ek het ’n paar. Die lewe is swaar, maar as jy val, moet jy dadelik opstaan. Jy kan alles doen as jy in jouself glo. En belangrikste is om nooit moed op te gee nie en vas te klou aan die Here. Niks is onmoontlik nie, en jy as ’n mens kan baie struikelblokke oorwin as jy net glo in jouself en in die Here.

Nie almal het ewe veel geleenthede nie, maar dis ’n gawe om ’n geleentheid raak te sien en daarop te reageer sodat jy die meeste daarvan maak. Hoe het jy dit in jou lewe ervaar?
Ek het werklik self ervaar dat daar nog goeie mense is wat die beste in ’n mens sien. En dit het my positief beïnvloed sodat ek nou ’n positiewe mens is wat ook net die goed in alle mense sien. Ek glo in tweede kanse...

Lees volle storie

’n Dorp se trots

Die Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuursentrum is die trots nie net van die skool nie, maar van die hele dorp; trouens, die hele Laeveld, omdat dit die drome weerspieël om Afrikaanse onderrig te ondersteun en areas van uitnemendheid te skep wat toekomstige generasies sal bevoordeel. Hoewel die Trust vir Afrikaanse Onderwys die vernuwings befonds het, het die hele gemeenskap saamgespan. Die pa-en-seun-span van Anton en Sias Bosch was nou betrokke as die keramiekkunstenaar en die argitek wat gesorg het vir die gebou se kenmerkende voorkoms. Ons het hulle uitgevra oor hul inspirasie.

Sias, jy en Gerhard Jooste van GJ Argitekte in Nelspruit was die argitekte agter die projek. Vertel ons meer oor die ontwerp van die kultuursentrum. Wat was die inspirasie en hoe het julle dit verwesenlik?
Sias: Ek neem baie inspirasie uit die natuur. Die skoolgronde was ’n groot “generator” van idees, veral met die pragtige gevestigde bome. Dit was moontlik om die gebou tussen die bome te plaas, wat die simbiotiese verhouding tussen argitektuur en natuur beklemtoon. Ek is self ’n oud-Nellie en ek onthou hoe lekker ons altyd onder die bome gesit en gesels het. Dié konsep wou ek behou. Dit het struktuur geskep vir die ontwerp om die gebou vier-dimensioneel te ervaar: onderdeur; reg om; bo-op en tussendeur. Die stoepe maak die meeste van die Laeveld se ongelooflike klimaat. Die kafeteria vloei uit onder die bome in, en die kunskamer skep geleentheid om tussen die bome te skilder. Die danssaal en sy posisie word gesimboliseer as ’n verhoog met die hoofparkeerterrein van die skool as skare wat afkyk op die kinders wat dans en oefen. So vorm die hele gebou een organisme.

Hoe, en hoekom, het GJ Argitekte betrokke geraak by die projek? Wat is julle verbintenis met die skool?
Sias: GJA het al vantevore met groot sukses saam met die skoolhoof, Louis Swanepoel, werk by Hoërskool Nelspruit aangepak; vandaar ons verhouding met die skool. Dié slag het Gerhard [Jooste, die hoofargitek van GJA] my die kans gegee om die projek te dryf, en met sy leiding kon ek weer betrokke raak by die skool waar ek destyds my spore geloop het.

Wat was die grootste uitdaging wat julle moes oorkom met die hele projek?
Sias: Beslis om die funksie en die gevoel wat die gebou uitlok bymekaar te bring. Om die kultuur vas te vang, moes die direkte omgewing en argitektuur in balans wees. Dit speel ’n groot rol om leerders toe te laat om binne die omgewing van kultuur te groei en te ontwikkel.

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust


Ek wil net bevestig dat my skuld by Atterbury Trust nou afgehandel is. Die laaste bedrag is inbetaal. Dis was vir my ’n baie groot voorreg om deur julle bygestaan te kon word die afgelope paar jaar. Ek sou so graag vir julle persoonlik wou kom dankie sê vir alles wat julle vir my gedoen het.
 
Danksy julle is ek verlede jaar deur die onderwysdepartement verkies om aan die Nasionale Onderwyserstoekennings deel te neem. Ek het niks gesê nie, want ek hou nie van grootpratery nie, maar ek is in 2016 aangewys as die beste onderwyser in Tegnologie en Wetenskap vir Tshwane en die derde beste in Gauteng. Ek is nou ’n vakhoof, ’n hoof-onderwyser-opleier en ek word in aanmerking gebring vir HOD. Julle het my lewe gered en heeltemal verander. Ek sal vir altyd dankbaar bly. 
 
Met baie liefde 
Ettienne 
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting