Atterbury Trust Nuusbrief
Oktober 2018
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

’n Wens vir my land

 
Septembermaand, Erfenismaand, was ’n goeie een by die Atterbury Trust. Ons was besig! Die Lucas Maree liedjieskryfkonsert op 9 September het vars jong Afrikaanse stemme saam met gesoute liedjieskrywers soos Lize Beekman en Elvis Blue laat opklink in die Atterbury Teater. Drie dae later het ons ’n “uitverkoop”-konsert gehou ten bate van ons Triomfkliniek wat omsien na minderbevoorregte mense in die weste van Pretoria. Amper 200 belowende krieketspelers van top krieketskole regoor Suid-Afrika het vanaf 21-24 September in Pretoria deelgeneem aan die Noord-Suid T20 kriekettoernooi waarvan die Atterbury Trust een van die borge was. Die wonderskone Karoo Suite koffietafelboek, wat met finansiële ondersteuning van die Atterbury Trust die lig gesien het, is op 30 September in die Atterbury Teater bekendgestel, ten bate van opvoeding van kinders in die Karoo.

Atterbury Trust leef hoop en geloof in ons land deur geleenthede te skep. Ons voel sterk oor vier aspekte – die krag van opvoeding, Afrikaans, bevordering van kuns en kultuur, en hulp aan minderbevoorregte gemeenskappe.

Maar ons het jou hulp nodig – ons kan soveel meer doen as jy met ons hande vat. Soos Coenie de Villiers en Deon Meyer gedoen het deur geen sent vir hulself toe te eien toe die Karoo Suite koffietafelboek geskep is nie. Coenie se musiek en lirieke, en Deon se wonderlike Karoostories en asemrowende Karoofoto’s is saamgevat in hierdie versamelaarsitem waarvan slegs 1 000 gedruk word – elkeen genommer en geteken deur Coenie en Deon. Ons sê dankie aan hierdie twee kreatiewe Afrikaners wat hulle talente met ons gedeel het – vir die kinders van die Karoo. Indien jy een van hierdie boeke wil bestel, klik op die skakel.
 
En dan vra ek ook: kom ons raak weer trots. Kom ons gee om. Vir mekaar. Vir hulle wat niks het nie. Kom ons maak weer ons stede mooi. Plant ’n boom. Plant ’n saad. Van hoop, van omgee, van uitreik. Bou, moenie breek nie. Bid, moenie bekommer nie. Luister, moenie skree nie, ook nie kla nie. Soek die mooi – spreek die goeie. Glo. En doen goed.
 
Waaroor voel jy passievol? Ek wil jou uitdaag: raak betrokke by ’n saak waaroor jy sterk voel. As elkeen in Suid-Afrika iets doen om ten minste een ander mens se lewe beter te maak, watter verskil sal dit nie in ons land maak nie?
 
Hierdie aanhaling inspireer my:
 
“Hoop is om die melodie om die toekoms te hoor. Geloof is om nou reeds op die maat daarvan te dans”
 
Mag jy in die maand wat kom hoop en glo én dans, maar ook doen.

Coenie de Villiers & Deon Meyer se Karoo Suite met orkes

Coenie de Villiers en Deon Meyer se gewilde Karoo Suite is op 30 September vir die tweede keer in die Atterbury Teater opgevoer. Beide vertonings was uitverkoop en aan die einde van elke vertoning het die gehoor ’n staande applous gelewer.

Hierdie vertoning het bestaan uit ’n eerste gedeelte waarin Coenie en sy orkes (Jaconell Mouton: klawers en regisseur; David Klassen: perkussie; Mauritz Lotz: kitare) ’n keur uit sy werk gespeel het, onder meer van die komposisies op sy albums Emoji en Pure Coenie. Die tweede en grootste deel van die program het bestaan uit die Karoo Suite, ’n musiek- en tekswerk deur Coenie en Deon wat verlede jaar by die KKNK gedebuteer het en sedertdien vir vol teaters regoor Suid-Afrika gesorg het.

Coenie en die orkes maak die musiek en Deon Meyer is self op die verhoog om die vertelwerk te doen; die aangrypende teks kom uit sy pen. Die Karoo Suite het bestaan uit vier bewegings waarin Deon verhalende aspekte van die Karoo oproep: die mense, die landskap, die lag en die pyn. Deon is ’n wêreldklas-fotograaf en die Suite word begelei deur sy asemrowende foto’s van die Karoo-landskap. Die laaste beweging (die Karoo Simfonie) het ’n siklus van foto’s wat afwissel tydens die uitvoer van die musiek en teks.

Ilza Roggeband sluit haar resensie van die vertoning in die Krit soos volg af: “Hierdie was ’n produksie wat die hart geraak het. ’n Mede-feesganger het selfs oorgeleun na my en vir ’n snesie gevra. Talentvolle kunstenaars, ’n professionele produksie, die Karoo. ’n Belewenis”.

Tydens hierdie geleentheid is die Karoo Suite koffietafelboek, gefinansier deur die Atterbury Trust bekendgestel. Indien jy een van hierdie versamelaarsboeke wil bestel, klik hier.

Bestel ’n Karoo Suite boek

Na aanleiding van die sukses van Karoo Suite het die Atterbury Trust in oorleg met Deon Meyer en Coenie de Villers besluit om die Karoo Suite woorde, musiek en fotografie in ’n pragtige koffietafelboek te verewig. Die Atterbury Trust dra die volle koste van produksie en Deon en Coenie verskaf die inhoud, wat ’n Karoo Suite CD insluit, gratis.
Bestel jou boek hier

Die ondersteuning en ontwikkeling van talent lê Aardklop en Atterbury Trust beide na aan die hart.

Tydens Kunste Onbeperk se pasafgelope Teksmark, het een jong skrywer die gehoor en teaterkenners laat regop sit. Die teaterstuk Mank is ’n dapper poging om gesprek rondom studenteprotes en die #Feesmustfall-beweging te begin. Wat hierdie prestasie nog meer spesiaal maak, is dat die skrywer Kanya viljoen vir die afgelope vier jaar ’n Atterbury Trust beurshouer was.

Dit is ’n oorlog, ja. Ek gee nie om wat jou posisie is nie, dis ’n oorlog in jou land. Dis ’n oorlog waarin kinders se tonge uitgesny word. Hande gebind word. Later gearresteer word. Dis ’n oorlog van taal, van woorde, van iets noem. (Kanya Viljoen)

Dit is dus vir Aardklop en Atterbury Trust ’n voorreg om aan Kanya die geleentheid te bied om haar teks volledig te ontwikkel, deur middel van ’n teksbeurs.

“Teater se een doel is om te sê: Kom ons praat, kom ons vra vrae, maar veral – kom ons luister. Alle sinvolle teater begin by een enkele ding: ’n teks. ’n Skrywer met ’n spesifieke stem wat die moed het om te gaan sit, en homself bloot te stel, is die onvervangbare eerste, die fondament. Daarná kom die regisseur, die akteurs, die ontwerpers, maar sonder die teks wat die werklike inhoud en debat aan die gang sit, is daar niks, daar is blote versiering. Maar hoe moet skrywers oorleef, wat sal maak dat hulle aanhou delf en dink?” (Alexa Strachan, Aardklop)

“Ons is passievol oor Afrikaans, kuns en kultuur en oor die noodsaak van opvoeding, Daarom het die Atterbury Trust oor die afgelope 20 jaar al meer as 600 studiebeurse aan behoeftige Afrikaanse studente toegestaan. Daar lê krag in die skep van geleenthede. Kanya was een van ons beursstudente wat die geleentheid met albei hande aangegryp het. Sy het verlede jaar haar Dramagraad aan die Universiteit van Kaapstad Cum Laude verwerf. Ons belê graag verder in haar toekoms en glo dat haar nuwe stem ’n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat in ons land gaan lewer.” (Zahn Hulme, Atterbury Trust)

Aardklop vind vanjaar van 2-7 Oktober in Potchefstroom plaas.
Produksiekaartjies is beskikbaar by Ticketpro.
Vir meer inligting besoek die webblad www.aardklop.co.za; volg Aardklop op Facebook.

Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Lucas Maree  Liedjieskryfkonsert

Coenie de Villiers wou graag terugploeg in die musiekbedryf en het in samewerking met die Atterbury Trust en die ATKV die Lukas Maree – Liedjieskryfskool vir graad 11 en 12 leerders asook studente by Afrikaanse Hoër Seunskool begin om jongmense te inspireer om oorspronklike hoë-kwaliteit liedjies te skryf en toonset.

Die werkswinkel is aangebied deur groot name soos Hunter Kennedy, Elvis Blue, Lize Beekman, Coenie de Villiers, Karin Hougaard, Anna Davel, Jannie du Toit en vele meer. Op 9 September het die Liedjieskryfkonsert plaasgevind by die Atterbury Teater waar 'n paar van die uitblinkerstudente op die verhoog deelgeneem het met Elvis Blue, Lize Beekman, Coenie de Villiers, Jannie du Toit en Thean Kotze.

Jong pianiste kom wys hulle slag

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie word vanjaar van 22 tot 26 Oktober vir die agtste keer in die Atterbury Teater aangebied. Ons hoor wat om te verwag by organiseerder Marichen Kapp, en gesels ook met die heel eerste wenner van die kompetisie, Willem de Beer, wat onlangs na Amerika vertrek het vir verdere studies vir sy tweede Meestersgraad.

 
Hoe lyk die program vir die kompetisie?
Die kompetisie skop Maandag 22 Oktober af, met rondte een en twee op Maandag en Dinsdag. Agtien semifinaliste dring dan deur na rondte drie wat Donderdag plaasvind; en Vrydagaand 26 Oktober, ding die nege finaliste mee om die algehele wenner aan te wys. Al die uitdundae is oop vir die publiek om gratis te kom kyk; en kaartjies is vir Vrydagaand se galavertoning te koop by die teater of by Computicket.
 
Wat is die prysgeld?
Daar is vanjaar amper R115 000 se kontantpryse, insluitende R40 000 vir die algehele wenner, R20 000 vir die naaswenner, met ouderdomskategorie-pryse, genrepryse en pryse vir die afrigter-onderwysers van die wenners. Maar die grootste prys is sekerlik die blootstelling wat die jong pianiste kry om in wêreldklas-fasiliteite op te tree en hul toegewydheid te meet teen hul eweknieë.
 
En hoe lyk vanjaar se deelnemers?
Ons het vanjaar 41 inskrywings, en dis wonderlik om te sien hoe die kompetisie oor die jare gegroei het om jong deelnemers van heinde en ver in te sluit – selfs so ver as Stellenbosch. Soos gewoonlik het ons drie ouderdomskategorieë – 12 en onder, 15 en onder en 19 en onder. Ons jongste deelnemer vanjaar is maar net sewe jaar oud – haar naam is Annabel Shen en sy is van Midrand. Daar is ook twee sussies van Irene in Pretoria, Lara en Nika Meiring. Die vroulike geslag is meer verteenwoordig met 25 meisies teenoor 16 seuns wat deelneem. Die gehalte van die inskrywings was baie hoog en ons sien uit na ’n uitstekende kompetisie vanjaar.
 
Die heel eerste algehele wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie sewe jaar gelede, Willem de Beer, vertel ons meer oor sy ervaring.
 
Willem, hoe oud was jy destyds toe jy gewen het; en waar was jy op skool?
Ek was 19 en reeds besig met my eerste jaar van BMus by Tukkies.
Lees volle storie
Atterbury Nasionale Klavier Kompetisie 2018 vind plaas by die Atterbury Teater

Opening – 22 Oktober. 18:30 - 20:30
Rondte 1 – 23 Oktober. 08:00 - 18:30
Rondte 2 – 24 Oktober. 08:00 - 18:30
Rondte 3 – 25 Oktober. 13:00 - 18:30
Finale rondte – 26 Oktober. 19:00 - 22:30

Atterbury teater webwerf
 

Noord kraai koning by eerste Noord-Suid T20 skoletoernooi

Die heel eerste Noord-Suid T20 skole-kriekettoernooi het oor die Erfenisdaglangnaweek in Pretoria plaasgevind, en Hoërskool Menlopark het in die eindstryd vir Hoërskool Centurion met vyf paaltjies uitgestof om die prysgeld van R50 000 huis toe te neem. Atterbury was as een van die trotse borge langs die veld vasgenael vir die stryd. Zahn Hulme vertel meer.

 
Is daar naels gebyt langs die veld – hoe taai was die stryd?
Die finaal op Tuks se krieketovaal het heelwat naelbytoomblikke opgelewer. Centurion het eerste gekolf en ’n mededingende 164 op die bord gehad. Menlopark se openingskolwers het ’n baie soliede openingsvennootskap op die telbord gesit, maar toe ’n paar vinnige paaltjies val, was die skaal weer in Centurion se kant. Openingskolwers Stephan Kruger se 73 en Jaco Britz se vinnige 43, saam met die standvastige middelorde het egter gesorg dat Menlopark die wenlopies in die laaste kolfbeurt geslaan het, met drie balle oor.
 
Met twee Noord-spanne in die eindstryd, beteken dit dat Noord deurgaans die oorhand gehad het? Enige teorieë daaroor?
Ek moet sê, die Noorde het oorheers, en sewe van die boonste agt spanne was uit die Noorde. Daar kan seker geredeneer word dat die kolfblaaie en omstandighede die plaaslike spanne begunstig. Met die droë winters in die Noorde begin krieket vroeër as in die Suide. Baie Kaapse skole kan eers in September begin met hulle seisoenvoorbereiding, aangesien velde voor dit nog te nat is.
 
Was daar ’n “man of the match” – enige speler wat in besonder uitgeblink het?
Grey College se kaptein, CP Klijnhans, het twee honderdtalle behaal; en in totaal 329 lopies teen ’n gemiddeld van 109.67 lopies per beurt aangeteken tydens die toernooi. Hy is aangewys as Speler van die Toernooi.
Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust

Liewe almal-wat-alles-moontlik-gemaak-het:
 
Baie, baie dankie dat julle geglo het die Lucas Maree-projek het meriete, en daad by die woord gevoeg het om dit te laat gebeur.

Zahn, Paulette, Louis – almal aan die Atterbury-kant: dankie vir julle gasvryheid, hulp, ondersteuning, gebruik van die teater, moed inpraat, nuusbriewe … die lys is eenvoudig te lank om alles te noem.
 
Dankie Affies vir julle gul en warm gasvryheid en die gebruik van julle ongelooflike fasiliteite, asook aan een en almal by die skool wat dit so maklik en lekker gemaak het – ek dink nie ek het almal se eposse nie, maar maak asb seker een en almal weet!
 
Dankie Nita, Gerrie, Hannelie en die ATKV-span dat julle “ja” gesê het, en vir julle ongelooflike harde (en dikwels onsigbare!) werk agter die skerms: lyste, admin, wroeg, regmaak, mooimaak – julle weet waarvan ek praat.  Ek is so bly dit het goed uitgespeel, en hoop dis iets wat in die toekoms kan voortgaan.

Sou dit nooit sonder julle kon doen nie – baie, baie dankie!  Hoop dit gaan van krag tot krag.  En – soos ons aan die begin gesê het – as ons net één skrywer ontdek wat dit kan doen, en net één great song, dan was dit die moeite werd.  Wel, ek dink ons weet ons kan daardie boksie maar tiek!
 
Voorspoed en vrede –
Coenie
Liewe Zahn en Coenie

My hart is vol en ek wil graag vir julle elkeen baie dankie sê vir die groot geleentheid om hierdie lekker projek saam met julle te kon doen!

Dis ’n voorreg en ek het dit so baie geniet! En die show was ’n reuse sukses en die boekverkope hoor ek het ook baie goed gegaan gister

Zahn – baie dankie vir die twee kaartjies wat jy gereel het vir my ma en sussie – hulle het dit so vreeslik baie geniet!!

My ma was skoon aangedaan en met die knop-in-die-keel-mooi-hartsgoeters wat julle gedeel het met almal (van die musiek tot die boodskap tot die verhoog en geleenthede vir die Karookinders), het jul beslis ’n paar hartsnare geroer en mense geînspireer om hartsdinge te besing en uit te reik na ander, ten spyte van al die nare werklikhede daar buite. En dit – is myns insiens – die belangrikste ding wat enige een van ons kan doen met die talente en resources wat ons gekry het.

So weereens, uit die diepte van my hart, baie dankie! En baie geluk ook!

Ek hoop ek kry weer die kans om saam met julle te werk – dit was heerlik - klop-dissel-boom
Lekker week!
Annemart
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2018 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting