|
|
Dis altyd ’n plesier om die stories van geleenthede bied en omgee van die Atterbury Trust met ander te deel. Ek was bevoorreg om hierdie week ’n praatjie oor die werksaamhede van die Atterbury Trust by ’n dameskring-geleentheid te lewer. Ek het vertel van finansieel behoeftige studente wie se lewens sedert 1999 vir altyd verander is deur ’n beurs van die Atterbury Trust. Die onmiddelike reaksie was: “Jy het ons vandag sommer baie hoop vir die land gegee!”
In dieselfde week het ons onderhoude met ’n aantal vroulike finale-jaar regsstudente by die Universiteit van Pretoria gevoer. Dit is nou die agtste jaar wat ons studente keur om ’n wenner te kies vir die Teresa Lister-prys, ter nagedagtenis aan Atterbury se regsadviseur wat in 2009 tragies verongeluk het. Soveel veelsydige, dinamiese, sosiaal-bewuste Tuks-regstudente het voor ons gesit en my onmiddelike reaksie was: “Jongmense soos julle gee vir my hoop vir ons land.”
Die jaarlikse Atterbury Trust beursfunksie is ’n hoogtepunt op die Trustkalender. Ons het vanjaar ekstra moeite gedoen om uit te reik na alumni van die afgelope 20 jaar. En groot was ons vreugde om altesaam 170 alumni, huidige studente, en Atterbury personeellede op 27 Maart by Die Klubhuis bymekaar te bring. Hoe heerlik om al die stories van sukses en loopbaanvordering te hoor en te verneem hoe ons alumni hul plekke in die wêreld volstaan. En hoe lekker om ons huidige studente in die oë te kan kyk, te hoor hoe dit met die studies gaan, en hulle bloot net beter te leer ken.
Dis ’n waardevolle geleentheid om die hele uitgebreide familie onder een dak bymekaar te bring. Nie net vir die alumni om ook te kan sien hoe die beursprogram sedert hulle jare ontwikkel het nie, maar ook sodat hulle bande met die huidige beursstudente kan smee, om dalk ’n student onder die vlerk te neem as mentor, of selfs om vakansiewerkgeleendhede vir studente te kan fasiliteer by hul plekke van werk.
|
|
Tienie van den Berg en Dawie Warmenhoven het ook op die aand beurse van die Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) aan twee mediese en een verpleegstudent – Lize-Mari Boje, Damian Fourie en Adelei du Plooy – oorhandig. Ons sê weer baie dankie aan Gerard Braak, Arnold Prinsloo en die res van die ZAH-raad vir hierdie ruimhartige gebaar en vertrou dat hierdie die begin van ’n lang verbintenis sal wees. Ons wil ook ander donateurs uitnooi wat ’n beurs via die Atterbury Trust wil bewillig. Atterbury neem verantwoordelikheid vir al die administratiewe reëlings en monitering van studente en lewer twee keer per jaar terugvoering oor studente se vordering. Skenkers ontvang boonop ’n Artikel 18A-sertifikaat, aangesien donasies aan die Atterbury Trust belastingaftrekbaar is.
Dan, op die kultuurfront, het Atterbury Trust hande gevat met die Nasionale Teaterinisiatief (NATI) om een van hulle suksesvolle produksies, Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran, wat rekordgehore by Aardklop, Woodfees en die KKNK getrek het, in die Atterbury Teater aan te bied. Lees in hierdie uitgawe van Omgeenuus die storie agter die storie! En bespreek gerus ’n kaartjie vir 21 of 22 April!
Die teater is ook geskik vir ander doeleindes… lees gerus Jane van Litsenborgh van die Atterbury Teater en Stephnie Stander van Stepnies se storie oor die konferensiefasiliteite by die Atterbury Teater.
Vir dié van julle wat ’n blaaskans kan vat einde van die maand, geniet die vakansiedae en kom vol nuwe hoop en moed terug werk toe.
|
|
Treffer-toneelstuk by Atterbury Teater op die planke
|
|
Die Nasionale Teaterinisiatief (NATi) is die medeborg van die treffer-drama Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran wat eersdaags by die Atterbury Teater op die planke gebring word. Ons hoor by NATi se Cornelia Faasen en die vervaardiger van die produksie, Hugo Theart, hoe dit alles bymekaar gekom het.
Cornelia, vertel ons meer van NATI, wat is julle oogmerke, en wat is julle werksaamhede? Hoeveel produksies borg julle jaarliks?
NATi is ’n befondsings- en ontwikkelingsinisiatief van verdienstelike teater wat ’n perspektief of narratief toevoeg tot die Suid-Afrikaanse narratief. Ons is werksaam in Afrikaans, maar posisioneer Afrikaans as ’n inheemse taal van Suid-Afrika wat gelykstaan aan ander inheemse tale en graag met ander taal- en kultuurgemeenskappe saamwerk. Die hoeveelheid produksies wat ons borg wissel jaarliks afhangend van die aanbod. Ons werk nou saam met die groot vervaardigende feeste en teaters in die land om die regte produksies in ’n jaar te identifiseer om die teaterlandskap te dien (ons ondersteun jong en ouer kunstenaars, nuwe, innoverende werk, maar ook klassieke werk, ons ondersteun ook werk wat genre-vernuwend is en ook werke wat ons weet by ons meer tradisionele gehore aanklank sal vind). Ons probeer dus leemtes aanspreek, maar ook grensverskuiwend te wees. Ons wil graag gehore uitdaag om opnuut te dink oor die politieke situasie in die land en oor die stand van die wêreld en die rol van “Afrikaner”. Maar ons wil ook graag teater maak wat gehore opgewonde maak en sal laat terugkeer na die teater.
Die waarheid is dat ons maar bietjie van ’n “mixed bag” is en konstant moet aanpas by die bedryf en die behoeftes van die onderskeie rolspelers. Ons feeste is ons grootste vennote en elke fees het sy eie karakter en unieke gehore, en ons moet hierby aanpas en dit respekteer.
Hoe het NATi by hierdie produksie betrokke geraak; en presies wat is julle rol?
Cornelia: Ons rol wissel van produksie tot produksie. Ons is soms meer betrokke in ’n vervaardigende hoedanigheid en soms minder. Die rede vir ons betrokkenheid wissel ook van projek tot projek en produksie tot produksie, maar dit word grotendeels bewerkstellig deur samewerking met feeste.
|
|
Hoe om ’n bobaas konferensie “op die planke” te bring
|
|
Met sy sentrale posisie in Lynnwood Bridge is Atterbury Teater nie net geliefd onder Pretoria se teatergangers nie; dit is ook ’n gewilde lokaal vir korporatiewe funksies, en met goeie rede. Ons hoor wat alles moontlik is by Jane van Litsenborgh, korporatiewe bestuurder en Stephnie Stander, eienaar van die teaterrestourant, Stephnies, die wenspan wat die teater gereeld in ’n korporatiewe konferensielokaal omskep.
Watter van die teater se unieke fasiliteite maak dit besonder geskik vir ’n korporatiewe funksie, en hoe is dit beter as baie ander lokale in die omgewing?
Die hoogstaande tegnologie ten opsigte van klank, beligting en beeld, saam met die dienste van ons hoogs gekwalifiseerde tegniese personeel, verseker voorleggings en funksies van ’n baie hoë gehalte. Ons het ook ’n volledig toegeruste kroeg wat vir alle funksies oop is en wat unieke versoeke kan deurvoer; Stephnies Restaurant het direkte toegang tot die teater se voorportaal vir die vinnige bediening van warm kos; en natuurlik die baie gerieflike ligging naby die N1 Lynnwoodwegafrit, met hope veilige parkering en 24-uur sekuriteit. Die City Lodge hotel wat deel vorm van die Lynnwood Bridge ontwikkeling is ook baie gewild onder konferensiegangers sowel as kunstenaars wat by die teater optree.
Watter soort funksies werk goed hier, en hoe word die teater se uitleg benut? Hoeveel mense kan julle vir ’n konferensie akkommodeer?
Daar is twee tipe funksies wat veral uitstaan. Eerstens kan die teater omskep word in ’n korporatiewe aanbiedingslokaal deur die voorste skerm te laat sak, sodat voorleggings gemaklik aangebied kan word. Met hierdie tipe funksie kan ons 400 gaste akkommodeer in gemaklike stoele in ’n lugverkoelde teater. Die voorste paar rye stoele is ook toegerus met ’n opslaanskryfblad. Hiermee saam kan vingeretes vir 400 gaste in die voorportaal aangebied word.
’n Funksie met ’n aansit-ete in die voorportaal is ook ’n opsie. Hiervoor kan ons tot 140 gaste gemaklik akkommodeer. Die teater kan gebruik word vir ’n vertoning gekombineer met iets soos prysoorhandigings of selfs toesprake. Kunstenaars wat teen voorkeurtariewe optree, kan ook deur bemiddeling van die teaterpersonnel gereël word.
Ons bou unieke funksies rondom die kliënt se behoeftes; deur die dag is dit meestal konferensie-styl en in die aand ’n aansit-ete of ’n skemerkelkiefunksie.
|
|
Atterbury Trust beursalumni Elrinda Rost het nie net ʼn buitengewone naam nie, sy maak ook ʼn spesiale en betekenisvolle bydrae tot ander mense se lewens by die Assmang Khumani Ysterertsmyn naby Kathu. Dis ’n lang pad van Potchefstroom af waar sy in 2004 as een van Atterbury se nuwe beursstudente aangemeld het by die Universiteit van Potchefstroom om uiteindelik ’n B.Com. Kommunikasiebestuur en ʼn Honneurs in Bemarkingbestuur en Entrepreneurskap (cum laude) te verwerf. Terwyl ons terugkyk op twintig jaar van die beursfonds, is dit heerlik om te hoor waar in die wêreld een van ons uitblinkers haar deesdae bevind…
Gee vir ons ’n oorsig van hoe jou paadjie verloop het sedert jou studentedae en hoe jy uitgekom het waar jy vandag is.
Ons bly tans in Kuruman, maar ek werk 30km buite Kathu. Ek ry elke dag sowat 80km werk toe en 80km terug! Ek het grootgeword op ʼn klein plattelandse dorpie, Jan Kempdorp in die Noord-Kaap, het gaan swot in Potchefstroom en in Desember 2007 begin werk by die ingenieursfirma Aurecon in Kimberley. Ek is verplaas na Aurecon se Kurumankantoor in 2010, en ons het soontoe verhuis. In 2014 het ek by Assmang Khumani Ysterertsmyn begin werk, net buite Kathu. Ons bly tans baie lekker in Kuruman en het ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk met familie wat ook hier bly, en het wonderlike vriende gemaak.
Kan jy ons iets oor jouself vertel?
Ek sien myself as ʼn baie energieke persoon en leef my passie uit om ander te ontwikkel. Ek het ʼn kreatiewe kant wat ek graag stimuleer deur ontwerpprojekte aan te pak in my vrye tyd. Ek is ook betrokke by my kerk as organiseerder van ons jaarlikse Ogiefees (ʼn basaar en pretlopie). Ek is getroud en ons het twee pragtige kinders, ʼn dogtertjie (vyf jaar) en ʼn seuntjie (twee jaar). Ons is baie lief vir die buitelug, braai graag saam met vriende, en geniet dit om te kamp. Ek het nooit juis daarvan gehou om te lees nie, maar deesdae lees ek graag motiveringsboeke. Ek lees tans “Droom Jy Groot Genoeg?” Die kinders verg heelwat aandag en hulle is ook maar ons ontspanning. Ek doen pilates as deel van my oefenprogram.
Wat presies behels jou werk?
My posbenaming is bestuurder van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid (corporate social responsibility manager). Ek is tans verantwoordelik vir twee subafdelings – sosio-ekonomiese ontwikkeling, die myn se gemeenskapsontwikkeling, asook ʼn strategie om ekonomiese groei te bevorder en armoede te verlig. Ons help omliggende gemeenskappe as deel van ons maatskappy se sosiale verantwoordelikheid. Dit sluit projekte in soos die ontwikkeling van infrastruktuur, opvoedkundige ondersteuning, gesondheidsdienste en beursprogramme.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
As jong student weet meeste van ons maar bitter min van finansiële beplanning, en kennershulp is nie altyd maklik bekombaar nie. Maar gelukkig het Atterbury ’n netwerk van kenners wat skrik vir niks – mense soos beleggingsbestuurder Renier Holtzhausen van Anchor Capital, wat al twee werkswinkels vir Atterbury Trustbeursstudente aangebied het. Ons het met Renier gesels oor die belangrikheid van assosiasie.
Vertel ons meer van jou assosiasie met Atterbury en waar die idee vir die werkswinkels vandaan gekom het.
Sedert skooljare stap ek ’n pad saam met ’n paar van die Atterbury-mense en ons ken mekaar goed. So ’n jaar gelede het ek ’n behoefte onder werkende jongmense raakgesien oor basiese finansiële dinge soos hoe jongmense moet begin spaar. Daar is veral onduidelikheid en onsekerheid onder jong én ouer beleggers oor beleggingsaspekte soos die verskil tussen aandele en effekte asook tussen ’n aftreeplan en ’n belastingvrye spaarrekening. Ek het toe Atterbury Trust genader om die behoefte vir so werkswinkel te bespreek. Hulle het gehou van die idee maar het, net soos ek, nie ’n idee gehad wat om te verwag nie. Ons het toe besluit om met die eerste werkswinkel ’n oop agenda te handhaaf en sommer dadelik het die beurshouers my gepeper met vrae! Dit was vir my baie opwindend om te sien hoe die studente begin oopmaak het en toe ons besef het ons het die spyker op die kop geslaan.
Hoekom het jy besluit om jou spesialisdienste gratis aan te bied?
Die Atterbury Trust beurshouers het net soos die res van ons behoeftes en was bereid om met hulle spesifieke finansiële behoefte na vore te kom deur aansoek te doen vir studiebeurse. Daardeur demonstreer hulle onder andere hulle leergierigheid maar sodoende ook hulle kwesbaarheid. Ek het die afleiding gemaak dat hulle hulle leergierigheid op ander terreine soos beleggings ook sou wou toepas en omdat hulle bereid was om van hulle kant af so hulle kwesbaarheid te openbaar, het ek besluit om met my behoefte op daardie kwesbaarheid te antwoord, en dit is om my ervaring en kennis as’t ware terug te ploeg in hulle lewens, eerder as om soos vele ander individue self ’n persoonlike finansiële donasie tot die trust te maak. Hierdie epos van ’n beurshouer na een van die werkswinkels het my ’n knop in die keel gegee en is die mees gepaste opsomming van dít wat ek wou bewerkstellig:
“Ek het die voorreg gehad om die Mindfulness en Beleggings werkswinkel by te woon. Dit is vir my so spesiaal dat julle ons nie net finansieël bystaan nie maar ook as mense verbeter terwyl ons saam hierdie pad stap.
Ek wil dankie sê dat julle die geleentheid skep vir ons om oor dinge soos beleggings en aandele te leer in die veilige omgewing van Atterbury. Ek voel ek kan Oom Renier vertrou omdat julle hom vertrou. Julle bied verseker vir my geleenthede wat ek nooit andersins aan blootgestel sou word nie. Julle rus my toe met vaardighede en tegnieke wat ek vir die res van my lewe kan gebruik en ek waardeer dit verskriklik baie.”
|
|
’n Prentjiemooi toekoms lê voor vir een van ons nuutste alumni studente
|
|
Pieter Burger het in 2017 sy kwalifikasie in animasiekuns by die gesogte Vega-skool ontvang. Hy kon sy kardinale derdejaar suksesvol voltooi met die hulp van ’n Atterbury Trustbeurs, en was nie net ’n uithaler student nie, maar het in die proses ook sommer ’n Loerie gewen. Hierdie prys is soos die Oscars van die plaaslike advertensiewese. Ons het by die jong presteerder gaan aanklop om meer uit te vind.
Baie geluk met daardie Loerie; dis indrukwekkend om as student al een van die mees gesogte pryse in jou bedryf te wen! Jy moet baie trots wees...
Die Loerie was eintlik ’n groot skok vir my, ek het nie eens geweet ek was ’n finalis totdat ek in Durban aangekom het nie; ek was amper in trane toe ek dit hoor. Ek het vir maande aan die projek wat gewen gewerk, so ek was verskriklik trots toe ek gehoor het ek is ’n finalis. Die aand self was verby wonderlik en ek het ek baie professionele mense in die bedryf ontmoet. Toe ek my naam sien het ek amper uit my nate gebars, ek was baie trots op myself...
Wat het jou op animasie as vakrigting laat besluit?
As kind het ek baie animasieflieks en -stories gekyk; dit was vir my baie interesant hoe die tekeninge beweeg, hoe die agtergronde lyk, en hoe dit die storie beïnvloed. As kind het ek nooit geweet hoe dit gemaak word nie, en ek het geen idee gehad dat dit ’n moontlike beroepskeuse kon wees nie, totdat ek eendag ’n program daaroor gesien het. Dis hoe ek by Vega uitgekom het. Ek het multimedia geswot, wat ’n kombinasie van animasies, webontwerpe en advertensies is. My drie jaar by Vega was eerlikwaar van die beste tye van my lewe. Ek het goeie pelle daar gemaak, werk gedoen wat ek geniet het en meer geleer oor animasie (my gunsteling vak). Ek het baie kennis opgedoen oor die advertensiebedryf, hoe dit werk en hoe ek as ʼn ontwerper dit kan verbeter.
|
|
Ons Atterbury Trust
Ek wil net baie baie dankie sê vir alles en dat julle die beursfunksie-aand so lekker vir ons gemaak het. Dankie dat ek deel kan wees van julle, en vir die geleentheid wat julle vir my gegee het.
Groete
Bianca Bosman
|
|
|
Ek wil net weereens baie dankie sê vir ’n wonderlike beursfunksie-aand. Soos gewoonlik het julle julself oortref.
Ek is baie bly om deel van die Atterbury-familie te kan wees.
Vriendelike groete
Altus Bisschoff
|
|
|
|
|
|
|