Sonder dat hulle beplan het om deel te wees van Cool Capital 2014 het die Graad Nege klas van die Nuwe Hoop Skool vir leerlinge met spesiale onderhoudsbehoeftes iets baie spesiaal geskep, danksy die kunsstudente van Unisa. Ons gesels met Unisa se Visuele Kuns lektor Gwen Miller en Nuwe Hoop se kunsonderwyseres Hilbé Klein oor hul samewerking.
Hoe het die twee kunsafdelings saam begin werk aan die projek?
HK: Gwen se kinders is by ons op skool, en sy het ons kunsklasse al dikwels na Unisa genooi waar sy klasgee. Dit was haar blink idee om ons in te skryf vir Atterbury se Cool Capital 2014 Hoërskool Kunsprojek.
Hoekom spesifiek animasie?
GM: Animasiekultuur ontwikkel kreatiwiteit en beplanningstrategieë en gee mense selfvertroue om met nuwe tegnologieë te werk. Een van die doelwitte van ons projek was vir al die deelnemers om pret te hê terwyl hulle probleme oplos, sodat hulle selfuitdrukking beoefen en terselfdertyd leer. Die basis van die projek was die belangrikheid van die proses bo die eindresultaat, veral in kuns. En hoewel ons weet dat alle jongmense kreatiewe ontwikkeling nodig het, het gestremde kinders minder geleentheid het om met kuns om te gaan omdat hulle baie beperkte vakkeuses het, en daarom is hulle behoefte soveel groter. Ons sien dit as ’n loodsprojek wat ons in 2015 wil voortsit.
|