Atterbury Trust Nuusbrief
Junie 2018
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Ons is amper by die halfpadmerk van 2018. En die dae word eersdaags langer. Die meeste van ons studente is amper klaar met hulle halfjaareksamens. Ons vertrou dat dit goed afgeloop het en met resultate wat so stuk-stuk begin inkom, is dit duidelik dat die Trust studente skouer aan die wiel gesit het!

 
Hierdie uitgawe van Omgeenuus weerspieël bykans al die fasette van Atterbury Trust – opvoeding, kultuur en ook die gemeenskapsondersteuning by Triomfkliniek!
 
Daar is twee inspirerende studentestories – een van ’n huidige student, Michelle Volschenk wat ’n langer paadjie gestap het om te kon begin studeer, maar nou ’n hardwerkende deeltydse student is, en dan ook ’n alumnistorie. Nadat Le Roux Esterhuyse in 2009 sy graad aan NWU behaal het, is hy vandag, amper tien jaar later, ’n suksesvolle mynbouingenieur wat sy plek volstaan in die arbeidsmark en ook sy deel doen om geleenthede skep vir voornemende studente.
 
In ons fokus op opvoeding gee ons ’n oorsig van die infrastruktuur-opgraderingsprojek wat Atterbury Trust in samewerking met die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), ’n arm van die Dagbreek Trust, aangepak het. Die doel met die projek is om te verseker dat dat fasiliteite by Afrikaanse skole van ’n hoogstaande gehalte is, en Atterbury Trust is aangestel as projekbestuurder. Ons is trots om betrokke te wees by ’n projek wat bydra tot die lewering van gehalte-onderwys in leerders se moedertaal.
 
In hierdie uitgawe kan julle ook lees oor ons werwingsinisiatief om beraders vir die pasiënte by Triomfkliniek te werf. Die behoefte is baie groot, so laat weet gerus indien julle van iemand bewus is wat dalk ’n middag ’n maand kan afstaan om as berader betrokke te raak by Triomfkliniek. Luister na die podcast hier.
 
Aan die kultuurfront was dit omtrent ’n lekkerte om by die Lucas Maree-liedjieskryfwerkswinkel betrokke te wees saam met die hoofborg, die ATKV. Coenie de Villiers het die Atterbury Trust en die Atterbury Teater by hierdie wonderlike inisiatief betrek wat ten doel het om die Afrikaanse liedjieskat in ons land uit te bou deur jong liedjieskrywers te konfyt in die fyner kunsies van liedjieskryf, die wêreld van patente en die kuns van toonset. Ons sien uit na die eindproduk wat op 9 September in ’n feeskonsert by die Atterbury Teater te siene sal wees. Ons sal almal op hoogte hou!
 
Vir dié van julle wat so bevoorreg is om die wintersonnetjie in die Wildtuin te kan geniet, wens ons ’n aangename ruskans toe!
 
Die Atterburyfamilie het met hartseer kennis geneem van die afsterwe van ons beursstudent Layla Mayambala in ’n motorongeluk aan die begin van Junie. Layla was pas 23 jaar oud, en besig met haar halfjaareksamen by die Universiteit van Johannesburg, waar sy in haar finale jaar van B Com (Rek) was. Dit was Layla se droom om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word en ons was vol vertroue dat hierdie hardwerkende uitblinker haar doel sou bereik. Ons gaan Layla se vriendelike teenwoordigheid mis en stuur ons innige medelye aan haar boetie Sandile en ouma Joyce.

’n Paar dinamiese skouers vir Teresa se nalatenskap

Die Teresa Lister-toekenning lê die Atterbury Trust-familie na aan die hart, omdat dit ons nou al vir agt jaar elke jaar ’n geleentheid gee om met vol harte terug te dink aan ons geliefde kollega wat in 2009 in ’n motorongeluk oorlede is. In Teresa se naam vereer ons elke jaar die veelsydigste vroulike finalejaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria – juis hierdie veld omdat Teresa Atterbury se regsadviseur was en ons haar nalatenskap eer. Vanjaar se ontvanger, Tshepiso Mathole, het onlangs die trofee en prysgeld van R20 000 by ’n prestasiefunksie van Tukkies se regsfakulteit ontvang. Ons het dié dinamiese uitblinker ’n bietjie beter leer ken.

Wat beteken die Teresa Lister-toekenning vir jou?
Nadat ek gehoor het hoe mooi en met hoeveel waardering Mnr. Lister oor sy ontslape vrou Teresa gepraat het, is dit vir my só ’n eer om hierdie toekenning te ontvang. Ek is geseën dat die Atterbury Trust my gesien het as die beste kandidaat om haar etos as vrou te verteenwoordig: dinamies, met ’n sosiale gewete en vol lewe. Hierdie toekenning is ʼn belegging in my toekoms. Ek sal die geld gebruik om myself te finansier vir volgende jaar as ek my leerlingklerkjaar voltooi. Dis ’n wonderlike meevaller, en sal my help om die finansiële las op my familie te verlig.

Hoekom het jy regte as jou vakrigting gekies?
Ek het regte geswot omdat ek dit geniet om te debatteer en ook om voor mense te praat. Ek wou iets doen waar ek albei my passies kon gebruik. Min het ek geweet daar is veel meer as net daardie twee aspekte betrokke! Maar ek is mal daaroor.

Is daar een aspek van regte waarin jy sal wil spesialiseer?
Ek dink daaraan om in mediese reg te spesialiseer. Daar is soveel mense in hierdie land, soos ʼn familielid van my, wat slagoffers is van mediese nalatigheid, en wat sukkel daarmee om die dokters tot verantwoording te roep. Ek het al gesien hoe stresvol dit vir mense is en watter uitdagings oorkom moet word. Ek wil help en dit probeer verander.

Lees volle storie

Harde werk bewys die doemprofete verkeerd

In Graad 4 is Michelle Volschenk gediagnoseer met aandaggebreksindroom en die terapeut het haar ma aangeraai om haar na ’n spesiale skool te stuur waar sy met haar hande kan leer werk, omdat sy kwansuis nooit êrens in die lewe sou kom nie. Watwo. Danksy harde werk, ’n positiewe ingesteldheid en vasberadenheid om hierdie doemprofeet verkeerd te bewys, swot die 21-jarige vandag deeltyds terwyl sy voltyds werk, en met die hulp van die Atterbury Trust se beursfonds is sy besig om haar eie blink toekoms te bou. As jy soek vir inspirasie, hoef jy nie verder te kyk nie…

Op jou WhatsApp profiel is daar ’n aanhaling van William C Hannan: “I know this transfomation is painful, but you’re not falling apart; you’re just falling into something different, with a new capacity to be beautiful.” Wat is dit hiervan wat tot jou spreek?
Dis ’n aanmoediging vir daardie dae wat ek voel dis net nie my dag nie – sulke tye sê ek vir myself dis net een dag, dis net tydelik, vandag met sy terugslag is net ’n treetjie op my pad na ’n blink toekoms; dinge sal uitwerk.

Wie is Michelle as sy by die huis is?
Ek het grootgeword in Vereeniging saam met my ma en my sussie, wat ’n jaar ouer is as ek. Ons pa is oorlede toe ek 17 was, en dit was maar swaar. Ek het in 2016 gematrikuleer by Destinataskool in Meyerton, wat vir kinders met bepaalde leeruitdagings voorsiening maak. Die klasse is kleiner vir meer persoonlike aandag, hoewel die kurrikulum dieselfde is as in gewone skole, en jy dieselfde eksamens skryf. Ek bly steeds by my ma-hulle, maar trek een van die dae uit – ek het die geleentheid deur my werk gekry om in my eie woonstelletjie in te trek.

Ons hoor jy werk voltyds by ’n hotel terwyl jy nou ook eerstejaar onderwys swot. Dit klink uitdagend – hoe kom jy by alles uit?
Ja dit is! Ek het verlede jaar by die hotel begin werk terwyl ek nog gewag het om te hoor of ek die beurs gekry het. Ek werk skofte, wat soms onvoorspelbaar kan wees. Ek swot deeltyds deur Unisa, so dit is maar ‘n kwessie van tydbestuur… dit verg fyn beplanning, maar gelukkig was ek nog altyd baie gedissiplineerd daarmee. Tussen skofte by die werk, sit ek voor my boeke, en ek maak ook tyd om elke dag vir ’n uur gym toe te gaan en reg te eet, want gesondheid is belangrik. Ek beplan my skedule deeglik… daar is oral lysies in my kamer en op my lessenaar!

Lees volle storie

Triomf: op soek na beraders

Dit is al bykans vier jaar sedert die Triomfkliniek sy deure oopgemaak het om die behoeftige inwoners van Danville by te staan met mediese sorg wat hul menswaardigheid eerbiedig. Wat duidelik geraak het in ons betrokkenheid by die mense in die weste van Pretoria, is watter groot behoefte daar onder die gemeenskap is vir beradingsdienste; en Triomf se span weldoeners, insluitende vrywilliger-dokter Hannelie Groenewald en Atterbury Trust se mediavennoot GROOTfm 90.5, het besluit om ’n veldtog te loods om beraders op te spoor wat graag wil help. Ons hoor meer oor die planne by Dr Hannelie en Lindie Strydom van GROOTfm 90.5.

Dr Hannelie, vertel ons meer van jou betrokkenheid by die Triomfkliniek
Nadat ek na Suid-Afrika toe teruggekom het na die aanval in Afganistan waarin ek my gesin verloor het, wou ek graag terugkeer na die mediese wêreld hier en wou veral by liefdadigheidswerk betrokke raak. ’n Vriendin het my voorgestel aan Dr Marc Roscher wat die Triomfkliniek gestig het. Ek is al vir ongeveer twee jaar betrokke by die kliniek as ’n algemene praktisyn en sien pasiënte een oggend per week op ’n twee-weeklikse basis.

Hoekom reken jy beradingsdienste by Triomfkliniek sal so ’n verskil maak? Wat is die behoefte wat jy as dokter wat gereeld met die pasiënte werk, geidentifiseer het?
Al die pasiënte wat die kliniek besoek, is finansieël nie daartoe in staat om hul mediese onkoste self te dek nie. Die meeste van hulle beleef ongunstige omstandighede tuis en ’n groot persentasie van hierdie pasiënte se lewens is stukkend en hulle is getraumatiseer. Hulle het geen idee hoe om die lewe ’n beter plek te maak of selfs waar om te begin daarmee nie. Die meeste van hulle leef op oorlewingsvlak; baie kom uit huise waar verhoudings met geliefdes ’n groot uitdaging is. Baie van hulle sukkel met depressie en angs. Dit help nie om net ’n pilletjie voor te skryf as die wortel van die kwaad nie aangespreek word nie. Hiervoor is berading broodnodig.

Was daar een spesifieke geval by Triomf wat jou laat besef het hoe nodig beraders is?
Die geval wat my die meeste geraak het was ’n 11-jarige meisie wat deur haar ouma ingebring is met klagtes van slaaploosheid en geen eetlus en dat sy altyd moeg is en nie presteer op skool nie. Sy was die heeltyd sieklik en het chronies gekla van maagpyn.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

’n Hupstoot vir Afrikaanse skole

Toe die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) verlede jaar ’n projek geloods het om Afrikaanse skole, veral dié in die platteland, te help om sentrums van uitnemendheid in Suid-Afrika te vestig, het Atterbury Trust nie vir ’n oomblik geaarsel om betrokke te raak nie. Die loodsprojek, ’n nuwe kultuursentrum vir Hoërskool Nelspruit, was ’n groot sukses, en sedert die sentrum verlede Junie in gebruik geneem is, het die program verder uitgerol om verbeteringe by nóg Afrikaanse skole aan te bring. Ons hoor by Atterbury projekbestuurder Wikus Engelbrecht wat al reeds alles vermag is.

Dit is amper ’n jaar sedert die Nellies se kultuursentrum oopgemaak is. By hoeveel skole het julle sedertdien betrokke geraak en is hul almal plattelandse skole?
Atterbury Trust het sedert Nelspruit by 11 skole verbeterings help bestuur. Almal is nie plattelandse skole nie, maar wel skole wat in Afrikaans onderrig gee.

Hoe bepaal julle die prioriteite, en wie voor in die ry staan vir hulp? Hoe werk die befondsing?
Die TAO het aanvanklik die skoolhoofde van ’n aantal Afrikaanse hoërskole landswyd betrek met die versoek om aan te dui waar daar behoeftes bestaan vir oorbruggingsvoorskotte ten opsigte van projekte wat sal help om die Afrikaanse voortbestaan van die skole te verseker.

Die vereistes was dat die projek lewensvatbaar moet wees; dat dit sal bydra dat die leerdergetalle gehandhaaf kan word of sal verhoog; dat die skool ’n gelyke aanvanklike bydrae sal maak; en dat die voorskotbydrae beperk sal wees tot
R5 miljoen en terugbetaalbaar sal wees oor ’n periode van vyf jaar.

Na die suksesvolle uitrol van die Nelspruit Hoërskool se projek, het ’n aantal Afrikaanse laerskole ook aansoek gedoen vir ondersteuning en die TAO het ingestem om die program uit te brei. Daar word nie voorkeur verleen aan enige skool nie – dit was letterlik ’n geval van wie eerste aansoek gedoen het wat eerste ondersteun is.

Lees volle storie

Die “iets” wat die groot verskil gemaak het

Atterbury se nuwe alumniprogram beoog om huidige beursstudente in aanraking te bring met dié mense wat in die beginjare van die beursfonds in hulle skoene was, en vandag reeds hul plek volstaan in die arbeidsmark. Le Roux Esterhuyse is só iemand – nadat hy as ingenieur gekwalifiseer het met beurshulp van Atterbury, beklee hy ’n dekade later ’n uiters verantwoordelike pos op ’n platinummyn. Ons het gaan aanklop om te hoor op watter draaie die lewe hom geneem het.

Hoe het jy destyds by Atterbury se beursprogram uitgekom; en hoekom dink jy het jy gekwalifiseer vir die beurs? 
In my matriekjaar, 2004, het ek en my ma oral aansoek gedoen vir beurse. Ek dink sy het op die radio van Atterbury Trust gehoor… In die skoolvakansie het julle laat weet ek moet kom vir ’n onderhoud. Ons het in Carnarvon in die middel van die Karoo gebly en ek het op die bus geklim om Pretoria toe te reis vir die onderhoud. Ek reken julle het seker my toewyding gesien en besluit om my te help! Die rentevrye lening het die helfte van my studiegeld gedek vir die eerste twee jaar van my kursus by die Noord-Wes Universiteit in Potchefstroom­.

As jy terugkyk, wat het die beurs vir jou beteken? Was dit een van baie opsies, of ’n enigste opsie om verder te gaan studeer? 
Ek het in matriek gebid en myself voorgeneem ek sal slegs gaan swot as ek ’n beurs of ‘’iets” kry. Wel, toe kry ek “iets’’. Al was dit nie ’n vol beurs nie, het die hulp van Atterbury Trust dit vir my moontlik gemaak om te gaan swot, en dit was ook op die einde my enigste opsie. Die feit dat ek verder kon studeer het verseker dat ek vandag in ’n baie beter posisie is as wat ek ooit sou kon dink.

Kortliks, hoe het jou beroepspaadjie ná jy gegradueer het, verloop?
Nadat ek aan die einde van 2009 my graad gekry het, het ek as ’n junior ingenieur by Anglo American Platinum in Thabazimbi begin werk. Ek was vir drie jaar daar totdat ek my GCC-eksamen (“government competence certificate”) afgelê het, wat ’n mens kwalifiseer om op die myn te kan werk as ingenieur. Met dié kwalifikasie het ek by Mogalakwena-myn in Mokopane begin werk, waar ek steeds is. Op die oomblik is ek verantwoordelik vir die grootse enkel-stroom platinum-konsentreerder in die wêreld.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust
Beste Liedjiewerkswinkel-vennote,
 
Kunstenaars maak Suid-Afrika beter!
 
Kunstenaars dra by tot die verwerkliking van ʼn nuwe wêreld. Deur hul sang en musiek, opvoerings en konserte, drama en digkuns, debatte en dialoog tree hulle op as profete van menswaardigheid, geregtigheid en vryheid . Baie dankie dat julle saam met die ATKV jongmense slyp om deur die kunste Suid-Afrika ʼn beter plek maak. Die ATKV kan dié groot taak nie sonder julle doen nie.
 
Ek sien uit na ons volgende projek!
 
Groete

Gerrie Lemmer
Uitvoerende hoof: Taal en Kultuur

Ek wil net baie dankie sê aan die Atterbury span vir die wonderlike geleentheid om my BRekeningkunde graad te voltooi. Danksy dit is ek alreeds besig met my klerkskap en kan ek in die toekoms al die geleenthede wat na my kant toe kom met albei hande aangryp.

Dané Gous
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2018 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting