Atterbury Trust Nuusbrief
Augustus 2018
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Die lang wintervakansie is verby en ons beursstudente durf die laaste helfte van hulle 2018 akademiese jaar aan. Soos wat al tradisie geword het hier by die Atterbury Trust, is ons studente se halfjaaruitslae uitstekend en ek glo dat ons vanjaar weer by ’n 95% slaagsyfer gaan uitkom. Te midde van finansiële druk en die aanpassing van ons eerstejaarstudente by die nuwe wêreld na skool, beïndruk die veerkragtigheid en uiterse deursettingsvermoë van ons beursstudente my keer op keer. Hierdie studente besef dat die beurs van Atterbury Trust hulle een groot kans is en deur die bank word daardie kans benut.


Een lid van ons beursfamilie, Christie Blaauw, wie se beursonderhoud in 2012 nog helder in my gees is, vertel haar storie van hoop, deursettingsvermoë, groot drome en baie harde werk in hierdie maand se Omgeenuus. Sy het haar BSc in Mensmolekulêre Biologie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en is vandag ’n M-student wat terselftertyd haar eie besigheid op die been gebring het – lees haar storie vir suiwer inspirasie.

In die “Alles wat ons doen, gaan oor Afrikaans” onderhoud met Marlie Coetzee, bestuurshoof van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), vertel sy van die VivA app wat met die befondsing van die Atterbury Trust ontwikkel is en reeds meer as 40 000 keer afgelaai is. Atterbury Trust is trots op ons assosiasie en die positiewe verskil aan die uitbou en behoud van Afrikaans.
 
Atterbury Trust ondersteun ook gemeenskapsgerigte projekte. Een van hierdie inisiatiewe is die Triomfkliniek by die SAVF se Margaretha Ackermann ouetehuis in Vom Hagenstraat, Pretoria-Wes. Die Triomfkliniek is hierdie maand al vier jaar oud! Daar in reeds ongeveer 1 200 behoeftige pasiënte met waardigheid behandel en Triomfkliniek gaan van krag tot krag. Ons salueer die vrywilligerdokters wat onbaatsugtige diens daar in die weste van Pretoria lewer. Daar is 15 dokters en spesialiste in verskillende dissiplines betrokke, asook die Pretoria Ooginstituut en beradings- en ouerleidingsklinieke. Verskeie hospitale, soos onder andere ZAH, Centurion daghospitaal en Club Surgical centre verskaf gratis teatertyd vir Triomfpasiënte waarvoor ons baie dankbaar is.
 
Ons is steeds besig met fondswerwing om die Tandheelkunde-aanbieding by Triomfkliniek op die been te bring en daar word op 12 September in samewerking met Verryn Matlhare ’n fondsinsamelingskonsert in die Atterbury Teater gehou. Steve Hofmeyer, Robbie Wessels en Sorina (alias Flooze) tree daar op. 
 
Nog ’n fondswerwingsinisiatief kom van binne die Atterburyfamilie. Een van die projekbestuurders by Atterbury Developments, Evert Kleynhans, is ’n kranige fietsryer en hy is deel van ’n groep van 16 wat die TRAP VIR HOOP fondsinsamelingsprojek geïniseer het. Hulle gaan vanaf 20 tot 23 September van Pretoria na Durban fietstrap. Ondersteun hulle asseblief met ’n donasie wat in die Atterbury Trustbankrekening inbetaal kan word. Die fondse gaan 50:50 tussen Atterbury Trust en Nuwe Hoop skool verdeel word.
 
Die bevordering van kultuur en die kunste is saam met opvoeding een van die kerndoelstellings van die Atterbury Trust. Ons assosieer dus graag met die #Pronkpodiumprojek by die Aardklopkunstefees wat tienertoneel bevorder. Hierdie projek het verlede jaar meer as 60 inskrywings uit 40 skole gehad. Benewens die noodsaaklike ondersteuning om die produksies op die planke te kry en die ontginning van jong talent, dra die Atterbury Trust se ondersteuning ook daartoe by om die Atterbury Trust-voetspoor verder by skole te vestig en bewustheid van beursgeleenthede onder behoeftige, verdienstelike studente te skep. Aardklop is in 2018 vereer met die gesogte kykNET Fiëstas-toekenning vir Gewildste Kunstefees in Suid-Afrika. Die program is verlede week bekendgestel en almal kan weer uitsien na ‘n kwaliteit fees wat vanaf 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom gehou word.
 
Willem de Beer was die wenner van die eerste Atterbury Nasionale Klavierkompetisie in 2011. Hy het verskeie kompetisies sedertdien gewen en is onlangs aanvaar om te gaan studeer in Austin, Texas, aan die Universiteit van Texas onder die leiding van die bekende Suid-Afrikaanse pianis, Anton Nel. Hy hou op 30 Julie ’n konsert in die Atterbury Teater om fondse in te samel. Gaan ondersteun hom gerus voor hy hierdie volgende stap na die wêreldverhoë neem!
 
Tot volgende maand en amper lente!

“Alles wat ons doen, gaan oor Afrikaans”

Amper 12 000 gebruikers op die VivA webwerf, meer as 40 400 mense wat die VivA app afgelaai het… VivA het vir duisende mense verander hoe hulle omgaan met taalnavrae. Ons het met bestuurshoof Marlie Coetzee gesels oor waar VivA staan en waarna ons kan uitsien…

Vertel ons meer van die verbintenis tussen Atterbury Trust en VivA?
VivA het in samewerking met die Atterbury Trust twee apps ontwikkel: vir slimfone, tablette en rekenaars met Windows 10 ’n gratis aanlyn en vanlyn app wat dieselfde oopbron- en betaalinhoud as die Woordeboekportaal bied. Binne ’n jaar is dié twee VivA-apps, vir iOS- en Android-toestelle en Windows 10-rekenaars, reeds meer as 40 000 keer afgelaai. Gebruikers het dus met die app soveel as 60 Afrikaanse woordeboeke en woordelyste altyd byderhand; letterlik in jou sak of in jou hand.

Wat het julle oor die afgelope jaar geleer?
Dis interessant dat die helfte van die mense wat die webwerf besoek, dit via hulle selfoon doen. Ons is dankbaar dat die platform reeds so bekend is dat bykans die helfte, 48% van die gebruikers, direk na ons webwerf kom. Ons weet ook dat as iemand eers een keer die VivA-webwerf gebruik het, hulle baie waarskynlik gereelde gebruikers gaan word – 60% van die VivA gebruikers is herhalende besoekers.

Het julle baie gebruikers buite Suid-Afrika se landsgrense?
Daar is ’n gesonde klompie; die meeste van hulle is in Namibië, net so oor 1 100 nou, en die grootste ander groepe is in Amerika (86 gebruikers), Nederland met 86, Australië met 86 en Brittanje met 84. Die getalle neem maand na maand toe.

Lees volle storie

Hoe “Plan B” ’n sakevrou gebou het

Met die keuringsproses vir die Atterbury Trust beursleningfonds kyk die paneel altyd hoe ’n kandidaat die toekoms benader, en die suksesvolle kandidate is byna altyd mense met visie… hulle het idees vir hul eie ondernemings, hulle het planne oor hoe om terug te gee aan die samelewing; kortom, hulle dink gewoonlik groot. Dit is altyd lekker om later terug te gaan en te kyk hoe ons beurs-alumnae as hulle eers die arbeidsmark betree, hul toekomsvisie uitleef. Een so ’n alumna wat ons inspireer is 24-jarige Christie Blaauw, wat besluit het om op eie onkoste nog verder te studeer, en reeds tussendeur haar eie estetika-onderneming suksesvol bestuur.

Kan jy vir ons ’n kykie gee in jou agtergrond?
Ek is gebore en getoë in Vryburg, in die Noordwes Provinsie. Ek is die oudste van drie; my sussie is 21 en my boetie, 13. My sussie woon en werk in Johannesburg en my boetie is op skool en natuurlik nog in die huis. Ek woon tans in Bloemfontein en is verloof aan Jannie Venter. Ons gaan al uit van skool af, en ons trou volgende jaar op 9 Augustus.

Hoe het jou akademiese paadjie tot nou toe geloop?
Ek het BSc Mensmolekulêre Biologie geswot, daarna my Honneursgraad in BMedSc Mensmolekulêre Biologie. In 2017 het ek begin met my MMedSC Hematologie. My meesterstudie ondersoek in breë trekke die bloed van ’n bobbejaanspesie genaamd Papio Ursinus met die oog daarop om siek are te vervang met vaskulêre oorplantings. Indien ons suksesvol is, sal hierdie studie ons ’n stappie nader kan bring aan die regenerasie van organe of weefsels wat op sy beurt weer die gevolge van immuunonderdrukkende en chroniese verwerping wat ervaar word deur orgaan- of weefselontvangers help verminder of selfs heeltemal verhoed.

Jou plan A was om medies te gaan swot, reg? Wou jy van kleins af ’n dokter geword het?
Ek wou oorspronklik medies gaan swot, ja. Dit was vir my die logiese keuse omdat ek van jongs af mal was oor biologie en wetenskap.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Die klankateljee – Atterbury Teater se geheime wapen

Vir ’n teater in Suid-Afrika om winsgewend te wees, moet daar baie kreatief gedink en innoverend te werk gegaan word. Die Atterbury Teater is uniek in heelwat opsigte, en omdat dit so veelsydig is, is dit ’n suksesverhaal.  Benewens die toneelopvoerings en musiekuitvoerings in die teater, word dit ook ingespan as ’n eersteklas konferensiefasiliteit en is ook ’n lokaal waar bekendstellings van produkte en dienste in styl kan plaasvind – kompleet met bo-baas spyseniering van Stephnie’s reg langsaan. Boonop kan alles wat in die teater gebeur, opgeneem word danksy die gehalte klankateljee wat deur Atterbury Trust se medewerkers Odyssey Records bestuur word. Die klankateljee is ook ’n ekstra bate vir konferensie of korporatiewe kliënte aangesien opnames van geleenthede moeiteloos kan plaasvind. Ons het gaan kers opsteek by Fuzz Senekal, ateljeebestuurder en klankingenieur, in sy koninkryk bo-aan die ouditorium van die teater.

Hoe het dit gebeur dat die klankateljee hier by die teater gevestig is, en wanneer is die eerste werk in die ateljee gedoen? Wat was die heel eerste klankwerk?
Die ruimte sou aanvanklik oefenkamers (of dalk pakkamers) gewees het. My kollega Matthys Maree stel toe die idee van die ateljee voor. Ons kon met so ’n ateljee natuurlik aangaan met gewone albumopnames soos wat ons vir die vorige klomp jare reeds gedoen het, maar kry toe ook die opsie by om lewendige opnames van vertonings in die teater te doen. Ons het intussen die teater se klanksisteem opgegradeer wat ons toe die opsie gegee het om die hele teater ook as ‘n groot klankhok te gebruik vir opnames. Die heel eerste opname wat ons hier gedoen het was ’n afkondiging van Johan Badenhorst vir Christopher Torr en Laurika Rauch se “Stuur Groete aan Mannetjies Roux” waarmee die teater in Mei 2011 geopen is.

Is daar elders in Gauteng (of die land) nog so ’n kombinasie van teater en klankateljee en wat maak dit so spesiaal?
Daar mag wees, maar ek weet nie van ’n soortgelyke een nie. Die teater gee vir ons ongelooflike opsies vir opnames. Ons neem onder andere gereeld strykers vir ’n Switserse kliënt op – 15 van hulle op ’n slag. Ek sit bo in die ateljee, en hulle sit op die teaterverhoog, wat met sy fantastiese akoestiek ’n fenomenale ateljee maak.

Waarvoor word die ateljee die heel meeste gebruik? Hoeveel mense is julle wat voltyds hier werk?
Op die oomblik is ons drie wat voltyds hier is. In die begin het ons meestal ateljee-albums opgeneem. Die musiekbedryf het baie verander in die laaste paar jaar, en deesdae is ons meestal met oorklanking en onderskrifte doenig.

Wat is die raarste projek waarby jy nog hier by die teater betrokke was?
Ons het vanjaar ’n oorklanking gedoen in Amharies (’n Ethiopiese dialek). Dit is die raarste taal wat ek al opgeneem het, met ’n alfabet wat bestaan uit meer as 400 fonetiese letters. Ek het ook al ’n paar lekker vreemde instrumente opgeneem, van ’n saag, ’n sitar en ’n udu tot ’n trompie, ’n bouzouki en ’n traporrel… As dit by perkussie kom, bring die spelers gewoonlik ’n trommel vol vreemde goed hier aan. Die ander dag het ek byvoorbeeld ’n handgemaakte skudinstrument opgeneem wat geprakseer is uit ’n stuk Kreepy Krawly-pyp wat vol skudgoed gemaak is!

Lees volle storie

Vakansiekrieket-plesier!

Atterbury Trust se ondersteuning van Afrikaanse kultuur en opvoeding is welbekend; en nou steek ons ook ’n sportveertjie in die trust se hoed met die ondersteuning van die nuwe Noord-Suid T20 skole-kriekettoernooi in September. Ons hoor meer by Atterbury se Zahn Hulme en Cobus Pienaar, die direkteur van krieket by Hoërskool Waterkloof.

Hoe is die idee vir die toernooi gebore?
Cobus: Die idee het ontstaan by Menlopark, Waterkloof en Centurion hoërskole – ons spanne is nie betrokke by die geskiedkundige Michaelmasweek-kriekettoernooi wat by Maritzburg College gebeur nie, en daar is ’n tekort aan voorseisoen krieketgeleenthede in die Septembervakansie. KSA het die Coca-Cola T20 toernooi wat een span per “franchise” die geleentheid gee om aan die nasionale kompetisie deel te neem. Ons het besluit om ’n Noord-Suid toernooi te loods waar die top skole regoor die land teen mekaar meeding in die gewildste krieketformaat. Dit is vir ons ’n voorreg om van die top skole met ’n trotse krieketgeskiedenis te kan nooi na die toernooi.

Hoe het Atterbury betrokke geraak?
Zahn: Die skole-element van die toernooi was deurslaggewend – ons ondersteun graag aktiverings wat op skoolvlak vir die volgende generasie in ons gemeenskap die geleenthede bied om te skitter. Enigiemand wat Atterbury ken, sal bekend wees met ons ingesteldheid dat ons as ’n gemeenskap proaktief na ons eie welstand moet omsien eerder as om op die owerhede te wag om dinge te laat gebeur. Hierdie toernooi pas so reg in ons kraal, want dis opbouend en toekomsgefokus, en dit gaan vir al die deelnemers ’n wonderlike netwerk, en herinneringe skep. En daar gaan lekker krieket gespeel word!

Gee vir ons ’n oorsig van wat die toernooi behels.
Cobus: Die toernooi vind vir die eerste keer van 21 tot 24 September 2018 in en om Pretoria plaas en sal ’n jaarlikse instelling word. Sestien topskole neem deel, en ons glo die toernooi gaan ’n platform wees vir die beste skolekrieket in Suid Afrika. Die skole is uitgenooi volgens geografiese ligging en sal in vier verskillende groepe verdeel word. Twee spanne sal Noord en twee Suid in elk van vier groepe verteenwoordig in die aanvanklike indeling.

Lees volle storie

Help jou besigheid met nasiebou?

Atterbury Trust is ’n groot voorstaander van die bemagtiging van die private sektor om self in te spring en reg te maak wat verkeerd is in die samelewing, eerder as om vir die owerhede te wag om dit te doen. Dit is dus met groot plesier wat ons vanjaar as teaterborg bydra tot Nation Builder se vierde jaarlikse In Good Company-konferensie in Augustus. Die konferensie is daarop gemik om ondernemings te help met innoverende planne en kreatiewe nuwe maniere om sake te doen, en terselfdertyd sosiale probleme in die samelewing te verlig. Ons het gesels met Keri-Leigh Paschal, Uitvoerende Direkteur van Nation Builder, om meer agtergrond te kry.

Vertel ons meer van Nation Builder?
Ons glo dat sosiale ontwikkeling die heel beste kans op sukses het as sake-ondernemings, gemeenskappe, die burgerlike samelewing en die regering saamwerk. Nation Builder is ’n platform wat al hierdie verskillende rolspelers bymekaarbring om saam ’n groter impak te hê. Maatskappye weet nie altyd hoe om te meet of hulle korporatiewe sosiale verantwoordelikheidswerk werklik ’n verskil maak nie, en dit is presies waar Nation Builder kan help. In samewerking met ons netwerk van kenners en leiers in die veld, het ons hulpbronne en metodiek ontwikkel, asook ’n aanlyn-gemeenskap geskep wat maatskappye bemagtig om die effektiwiteit en volhoubaarheid van hulle sosiale verantwoordelikheid te evalueer, potensiële verbeteringe te identifiseer en te implementeer. Soos ondernemings saamspan en kennis deel en van mekaar leer, vorm ons ’n sakegemeenskap wat toenemend ’n positiewe impak het op nasiebou, tot almal in Suid Afrika se voordeel.

Watter soort maatskappye is deel van die Nation Builder netwerk?
Verskeie sektore is betrokke, van klein- tot mediumgrootte, tot multinasionale organisasies.  Almal wat hulle besighede wil gebruik om ’n positewe impak te maak in Suid-Afrika sal aanklank vind. Soos wat een van ons lede, Koos de la Rey van Oasis Water, sê: “Nation Builder bied ’n platform vir interaksie met ander sakeleiers wat jou visie deel om sosiale impak te hê en positiewe verandering in Suid-Afrika teweeg te bring. Kapitalisme het ’n gewete nodig en hier is ’n groep mense wat daardie gewete deel. Ek is trots om deel van hierdie netwerk te wees.”

Dis die vierde keer dat hierdie konferensie plaasvind, reg? Is daar ’n spesifieke tema vir 2018?
Die tema vir vanjaar se konferensie is “South Africa Matters”. Sakeleiers uit verskillende dissiplines neem deel. Die gesprekke sal oorspronklike, eg-Suid-Afrikaanse idees ondersoek om plaaslike uitdagings op kreatiewe en volhoubare maniere op te los. Groot en klein ondernemings met dieselfde visie, wat graag die leiding wil neem om sosiale verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig, sal op die dag bymekaargebring word.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust
Ek is onlangs aanvaar om te gaan studeer in Austin, Texas, aan die Universiteit van Texas onder die leiding van die bekende Suid-Afrikaanse pianis Anton Nel. Dit is egter nie die eerste keer dat ek aanvaar is vir ’n Meestersgraad oorsee nie - ek is al by van die beste en mees bekroonde skole in die wêreld aanvaar (onder meer die New England Conservatory in Boston, Manhattan School of Music asook Mannes in New York, asook die Jacobs School of Music in Bloomington, Indiana). Vanweë die gehalte van my spel, asook my hoë akademiese rekord, het ek in al die gevalle die onderskeie skole se grootste beurse ingepalm. In al die gevalle was dit egter steeds te duur vir my om die droom ’n werklikheid te maak. 
 
Ek het toe besluit om ’n Meestersgraad by UP te doen – en ek het verlede week my tesis ingehandig. Ek het weer aan die begin van die jaar na Amerika gereis om ’n oudisie te gaan aflê in Austin by Anton Nel. Alhoewel dit steeds baie duur sou wees om daar te gaan studeer, het die universiteit ’n troefkaart in hul mou gehad en my ’n baie gesogte posisie aangebied, ’n “teaching assistantship”. 
 
Dit is basies ’n deeltydse onderwyspos wat van my verlang om 12 ure ’n week les te gee aan nie-musiekstudente in ruil vir ’n volle beurs, plus sakgeld. Die droom word al hoe meer ’n realiteit, want in plaas van meer as ’n halfmiljoen rand, het ons slegs R200 000 nodig - waarvan ons reeds R100 000 ingesamel het. 
 
Ek weet Atterbury Trust het sy gestandardiseerde aansoek-proses, maar, ek het eers 16 dae gelede van my aanvaarding gehoor en eers verlede Vrydag van die Assistantship. Dit was dus onmoontlik vir my om te kon aansoek doen – hulle jaar werk mos in elkgeval anders in die VSA – mens begin reeds Augustus met die eerste klasse. 
 
Groete
Willem de Beer, wenner van die heel eerste Atterbury Nasionale Klavierkompetisie

Help om fondse in te samel vir Atterbury Trust en Nuwe Hoop Skool


Ons is op soek na maatskappye en individue wat ons sal ondersteun met borgskappe en donasies vir die 16 fietsryers wat gaan Trap vir Hoop tussen Pretoria en Durban vanaf 20 tot 23 September 2018.

Alle fondse wat ingesamel word gaan 50/50 tussen Nuwe Hoop Skool en Atterbury Trust verdeel word.

Kontak
Karin Dercksen​
Tel: 012 471 1600
Mobile: +27 82 855 3635
Email: karin@atterbury.co.za

Skenk aan Atterbury Trust
Rek naam: Atterbury Trust
Bank: Nedbank
Rek no: 1497 004 187
Takkode: 187505
Verwysing: TVH (jou naam)

’n Artikel 18 A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking.

Daar’s ’n rede om te sing!

 
Triomfkliniekkonsert beloof ’n aand van hartsmusiek
 
Triomfkliniek is ’n afdeling van Atterbury Trust wat sorg met waardigheid aan die gemeenskap van Pretoria-Wes aanbied. Gratis sorg word aan behoeftige mense verskaf.
 
Om die kliniek se fondse aan te vul sodat nog meer mense gehelp kan word, bied die kliniek jaarliks ’n musiekkonsert in Atterbury Teater aan.
 
In 2018 neem van ons land se top kunstenaars aan die konsert deel.
 
Steve Hofmeyr, Robbie Wessels en Sorina beplan om die gehoor te vermaak met musiek uit die hart. Hoekom? Want hulle gee om.
 
Omgee is die hart en siel van Atterbury Trust en al die werksaamhede van die trust. 
 
Triomfkliniek is een van die spesiale instansies wat volledig deur die trust bestuur word.
 
Die wonderlike werk van die kliniek sal op die aand uitgelig word. Almal wat ’n kaartjie koop dra direk by tot die fondse van Triomfkliniek, aangesien al die kunstenaars gratis optree.
 
Bespreek dus jou kaartjies sommer nou vir die Triomf! Rede om te sing! musiekkonsert en gee jou hart vir Triomfkliniek. 
 
Ons weet jy gee ook om.
 
Musiekkonsert: Triomf! Rede om te sing!
 
Datum: 12 September 2018
 
Tyd: 18:30 vir 19:00
 
Plek: Atterbury Teater, Lynnwood Bridge, Lynnwoodweg, Prertoria
 
Besprekings: Computicket

Baie geluk aan Mathews en Genote, Atterbury Trust vennote in die Cool Capital skolekunsprojek. Dankie vir dit wat julle in Suid-Afrika vermag!

Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2018 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting