Atterbury Trust Nuusbrief
Oktober 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Ek groet hierdie maand uit Atterbury se nuwe kantore in Die Klubhuis, in Hazelwood, Pretoria. Ons is bevoorreg om in ’n inspirerende, innoverende en net eenvoudig pragtige spasie te kan werk.

 
Elke maand as ek my Trustgedagtes moet formuleer, staan ek opnuut in verwondering oor die raakwydte van die Trustaktiwiteite. En dat daar elke maand opnuut inspirerende stories is om te deel – in elke faset van die Atterbury Trust se mandaat van opvoeding, bevordering van Afrikaans en uitbou van kultuur.
 
Die beursonderhoude vir 2018 studies is feitlik afgehandel. Uit die bykans 400 aansoeke, is daar 120 onderhoude gedoen en ongeveer 70 nuwe beurse toegestaan. Die kwaliteit van aansoeke was van hoogstaande gehalte. Ons kan die impak van die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika duidelik in die finansiële behoeftigheid van aansoekers sien. Die onderhoudspaneel staan verstom oor die dryfkrag en wil om te kan studeer en ’n beter lewe maak, ten spyte van swaarkry, wat so duidelik uitgestaan het in die voornemende studente. As ons nog fondse tot ons beskikking gehad het, sou ons nog meer beurse kon toestaan, want die verdienstelike kandidate was beslis daar. Ons doen weer op ons sakevennote ’n beroep om die Trust te ondersteun. Dankie aan nuwe donateurs wat onlangs aan boord gekom het. As elke maatskappy net een student help, kan ons met ons bestaande infrastruktuur ’n soveel groter verskil maak.
 
Ons deel in hierdie uitgawe van Omgeenuus die storie van Etienne de Bruyn, een van ons afgestudeerde studente wat pas sy beurslening ten volle afgelos het. Afgestudeerde beursstudente raak sodra hulle die beroepsmark betree in effek skenkers, wanneer hulle as nuwe salaristrekkers hul rentevrye beurslenings begin terugbetaal. ’n Mens se hart klop warm wanneer die skuld mettertyd afbetaal is en die boodskap dan deurkom: ek sal aanhou skenk, want dis belangrik. Etienne, in sy eie woorde, “probleemkind”, het met die hulp van Atterbury Trust onderwys studeer, en is nou ’n uitstaande onderwyser wat gesogte pryse wen in sy beroep.
 
Op die kultuurfront het die Atterbury Trust ons eie Atterbury Teater se Matthys Maree ondersteun as medeborg van die Afri-Frans reüniekonsert by Aardklop. Met ons hulp kon Myra Maud uit Hamburg vlieg en weer die Aardklopgehoor betower. Matthys Maree gee bietjie insae in die herlewing van Afri-Frans na amper ses jaar. Matthys het ook ’n aandeel gehad in nog twee van die gewildste musiekkonserte by Aardklop, naamlik Drie van die Bestes - Twintig Jaar Later en Woordenaars. By Aardklop het Atterbury Trust ook as naamborg van die Roots Intiem Teater opgetree en assosieer ons graag met die suksesvolle fees met die uiters bekwame Alexa Strachan aan die stuur.
Nog steeds by Afrikaans, kultuur en teater.

Bespreek vroegtydig jou kaartjies vir Karoo Suite, ’n musiek- en tekswerk deur Coenie de Villiers en Deon Meyer, wat op 8 en 9 November by die Atterbury Teater aangebied word. Daar word ’n opname vir RSG gedoen wat deur die Atterbury Trust ondersteun word.

Karoo Suite het vanjaar by die KKNK gedebuteer en die Burgersentrum met 1 350 sitplekke is twee keer volgepak. Coenie en die orkes maak die musiek en Deon Meyer is self op die verhoog om die vertelwerk te doen; die aangrypende teks kom uit sy pen. Die Karoo Suite bestaan uit vier bewegings waarin Deon verhalende aspekte van die Karoo oproep: die mense, die landskap, die lag en die pyn. Deon is ’n wêreldklas-fotograaf en die Suite word begelei deur sy asemrowende foto’s van die Karoo-landskap.  Die laaste beweging (die Karoo Simfonie) het ’n siklus van foto’s wat roteer tydens die uitvoer van die musiek en teks. Talentvolle kunstenaars, ’n professionele produksie, die Karoo. ’n Belewenis. Moet dit nie mis nie!

Atterbury Trust-beursstudent Lené van Heerden, nou in haar tweede jaar van multimediastudies, is nie ’n vreemdeling vir Omgeenuuslesers nie. In 2015 het sy as matriekleerder in Swellendam die VivA-Afrikaans skole-idioomkompetisie gewen met een van haar 28 inskrywings. Sy het so pas ’n kompetisie van die Flanders Institute of Art gewen met een van haar muurskilderye. Lees meer oor hoe Lené die wêreld verander en denke beïnvloed met haar uitsonderlike talent.

Ons sluit af met nog ’n inspirerende opvoedingstorie. Atterbury Trust ondersteun die Hanna Charity se Pikanini Educare-sentrum in Wolmer deur ’n maandelikse toelaag te borg waarmee die skoolhoof Lizal Stander, noodsaaklike aankope doen. Ons stuur ook skenkings, soos die baie welkome Eggbert Eiers na die klein Pikanini’s. Ons deel ook ’n paar foto's van die kleuters wat heerlik smul aan die voedsame eiergeregte wat Lizal optower.

Dis ook amper weer tyd vir die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie by die Atterbury Teater van 23 – 27 Oktober. Daar is vanjaar ’n rekordaantal deelnemers. Publiek kan die oefenrondtes gratis bywoon.

Kom maak gerus ’n draai by ons nuwe kantore by Die Klubhuis – ons Tribeca koffie is steeds onverbeterlik!
 
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Van “probleemkind” tot
ster-onderwyser

Atterbury Trust se afgestudeerde beursstudente raak sodra hulle die beroepsmark betree in effek skenkers, wanneer hulle as nuwe salaristrekkers hul rentevrye beurslenings begin terugbetaal. Dit hou so ook die wiel aan die draai sodat nuwe studente kan inkom soos vroeëre begunstigdes klaarmaak. ’n Mens se hart klop warm wanneer die skuld mettertyd afbetaal is en die boodskap dan deurkom: ek sal aanhou skenk, want dis belangrik. Só het ons pas weer gehoor van 35-jarige Etienne de Bruyn, voormalige onderwysstudent, wat pryse wen in sy beroep. As iemand wat op skool ’n “probleemkind” genoem is, omdat die stelsel nie sy leerprobleme reg gediagnoseer het nie, verstaan hy beter as die meeste mense hoe belangrik die rol van ’n onderwyser is, en is hy besig om hierdie wonderlike insig dag tot dag uit te leef.

Jy het moeilike kinderjare gehad, en vandag is dit jou passie om kinders met leerprobleme te help. Vertel ons van jou persoonlike reis.
Ek kom uit ’n baie arm gesin in Danville, waar my ma ons drie kinders basies alleen grootgemaak het. Niemand het my verstaan nie en ek het baie min aandag gekry omdat ek geklassifiseer is as ’n probleemkind. In die tagtiger en negentigerjare was dit die norm in klaskamers om sogenaamde “probleemkinders” uit ’n klas te sit of te skors. Daar was nie so iets soos ADHD, hiperaktiwiteit of aggressie nie, net plein stout kinders. Later is daar ontdek dat hormone bepaal hoe jou liggaam reageer op stimuli; en ek is deur sielkundiges met al die bogenoemde toestande gediagnoser... Ek het al die klassieke simptome gehad: ek kon nie lank sit en luister na ’n gepratery nie, kon nie goed lees nie en moes op prentjies konsentreer, ek het ook baie vinnig geïrriteerd en kwaad geraak. Ek is uit menige skool geskors. My ouers se skeiding het sake net vererger. Op 12 het ek Taekwondo-vegkuns ontdek, en vir die instrukteur vloere en vensters gewas in ruil vir die geleentheid om daar te oefen. Ek het my hart uitgeoefen en oor ’n tydperk van 15 jaar het ek aan 10 SA nasionale kompetisies en 12 Noord-Transvaal kompetisies deelgeneem. Ek is met borge se hulp in 2000 Amerika toe waar ek die eerste Suid-Afrikaanse Taekwondo-student geword het om twee eerste plekke te verwerf tussen 150 van die wêreld se bestes.

Op 16 het my ma my uit die nes geskop omdat sy nie meer vir my kon sorg nie. My instrukteur het vir my ’n heenkome aangebied, en ek het begin om hom te help om kinders Taekwondo te leer. Ek het ook begin om kinders met aggressieprobleme te help, en het besef dat ek goed was daarmee. Toe, in my matriekjaar, is my pa, wat ek nooit regtig geken het nie, weens drankmisbruik oorlede, en dit het my so ontstel dat my lewe heeltemal buite beheer geraak het. My instrukteur het my weggejaag en ek het my eie karateskool in Sinoville by ’n kerk oopgemaak. Daar het ek tot bekering gekom en ’n nuwe blaadjie omgeslaan. Ek het ’n meisie ontmoet, wie se pa, Eugene Abrahams, die skoolhoof van Laerskool Generaal Beyers was, en toe hy my storie hoor het hy my ingeneem as sy seun en belowe hy sal my help solank ek hard werk.

In 2008 het ek by Laerskool Generaal Beyers begin werk as ’n assistent en ook my matriek by Elandspoort klaargemaak.

Ek woon tans in Mayville, en werk nog al die pad by Laerskool Generaal Beyers; ek het wortel geskiet hier. Ek het ’n meisie wat ’n meestersgraad in sielkunde het, en wat my verstaan, glo dit of nie! Ek het my ma opgespoor en ons het dinge uitgewerk, so ons kan as ’n familie saam kuier.

Lees volle storie

Die Afri-Frans romanse herleef op Aardklop

Aardklop is een van ons gunsteling-feeste en vanjaar is Atterbury Trust trots om saam met Atterbury Teater te kan deelneem as medeborg van die eenmalige Afri-Frans reüniekonsert. Ons het met musiekleier Matthys Maree gesels oor hierdie herlewing van sy ambisieuse vertalingsprojek wat gewilde Afrikaanse liedjies ’n Franse baadjie gegee het.

Kan jy vir ons kortliks opsom wat die idee destyds agter Afri-Frans was?
Ek is persoonlik baie lief vir Frankryk, sy kultuur en musiek. Maar tog baie trots op ons eie volksmusiek. Nadat ek in België en Nederland op toer was met die musiek van Jacques Brel, het die gedagte my beetgepak om ons musiek ’n nuwe baadjie aan te trek in Frans, Spaans en Italiaans. ’n Groot deel van ons land se geskiedenis bevat tog Europese gene, hetsy deur taal, kultuur, kos of musiek. Maar hier sou die ommekeer dan gebeur en ons uit ons eie skoene klim en met die ore van iemand in die buiteland na ons eie musiek luister. Na die sukses van Afri-Frans 1 wou ek onmiddellik begin met die ander tale, maar het besef dat Frans tog die magiese taal is, en het derhalwe besluit om ’n tweede Franse album uit te reik saam met die eerste Spaanse een. En daarna ’n tweede Spaanse een saam met Italiaans. Die reeks is afgesluit met ’n samestelling genaamd Afrikaans op Reis, waarop ’n keur vanaf al vyf albums was, maar hierdie keer in duet met SA kunstenaars wat hierdie liedere bekend gemaak of geskryf het.

Wanneer laas was daar ’n konsert van Afri-Frans en hoe het hierdie reüniekonsert ’n realiteit geword? Hoekom spesifiek Aardklop?
Ek dink hier om en by 2012/2013 rond het ons die laaste vertonings gehad. Daar was ’n definitiewe besluit om op ’n sterk voet af te sluit en nie die hele konsep dood te maak deur te lank daarmee aan te karring nie. Maar toe ek en Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, onlangs gedagtes ruil oor moontlike produksies vir Aardklop het die gedagte weer by my opgekom. Maar ons het besluit om net een vertoning te doen. Dit beantwoord ook maar die “hoekom Aardklop” vraag, aangesien Alexa reeds toentertyd betrokke was by van die Afri-toere in SA.

Het jy persoonlik ’n gunsteling onder die liedjies?
Nie regtig nie, maar onder dwang sou ek dalk moes sê “Lisa se Klavier”. In die vertonings was Myra Maud en Laurika se duet daarmee waarskynlik die grootste treffer.

Lees volle storie

“Ontwerp is meer as net mooi prentjies…”

Bolandse nooientjie Lené van Heerden wen gereeld pryse vir haar kreatiwiteit… sy het selfs in 2015 haar Atterburybeurs in VivA-Afrikaans se skole-idioomkompetisie losgeslaan met een van haar 28 inskrywings! En as ’n tweedejaarstudent in multimedia-ontwerp by Stellenbosch Akademie van Ontwerp en Fotografie het sy pas weer ’n grote losgeslaan…

Vertel ons bietjie meer van jou agtergrond?
Ek het grootgeword en skoolgegaan in Swellendam. Ek was daar vir die eerste 18 jaar van my lewe, en hoewel dit baie spesiaal was, is dit steeds niks in vergelyking met Stellenbosch nie! Ek bly nou in ’n woonstel saam met ’n pel van my kinderjare. Ek het van Graad 3 af geweet presies wat ek wou swot en het nooit weer daarin getwyfel nie. Ek is een van vier dogters. Al my susters is ook kunstig, maar op verskillende maniere; musikaal, digter en binnenshuise ontwerper. Dis maklik vir my om my werk te doen en te geniet wanneer hulle my omring en my ouers my ondersteun. (In my opinie ooh en aah my ouers bietjie te veel.)

Watter van daardie 28 inskrywings in VivA Afrikaans se skole-idioomkompetisie was jou gunsteling? Het jy gedink die een wat op die ou end die beurs losgeslaan het, was die beste een?
Nee, dit was nie! My gunsteling was die Elsabé Zietsman een (“Met jou hoed in die hand kom jy deur die hele land.”) Dit was lekker om van haar kant af te hoor wat sy daarvan gedink het en ook hoe ander mense dit waardeer het. Dit het klomp verskillende aspekte van Suid-Afrika en die Afrikaanse kultuur uitgebeeld, waarop ek trots is.

En onlangs het jy ’n lekker kontantprys van R10 000 gewen vir ’n muurskildery. Vertel ons meer?
Die kompetisie is deur die Flanders Institute of Art geborg en aangebied deur SAMCCSA (Street Art Meets Climate Change South Africa.) Die tema was die ernstige onderwerp van klimaatsverandering. Ek het besluit om dit regtig eenvoudig te hou, want met iets soos klimaatsverandering kan jy nie draaie loop nie. Ek wou deur my werk wys dat dit nou hier is en dat ons nou iets daaraan moet doen. Ek het gekyk na die drie verskillende omgewings waarin aardverwarming plaasvind en ons lewens beïnvloed, en daarvan illustrasies gemaak. Lug, aarde en water het dalk elk hulle eie bedreigings en battles, maar alles bou op mekaar. Hierdie kompetisie was vir my belangrik, want ek wil graag vir mense wys dat ontwerp oor meer gaan as net om dinge mooi te laat lyk – ontwerpers het ‘n verantwoordelikheid om met bewustheid te ontwerp en hulle het ook die mag om soveel mense se vorm van denke te beïnvloed.

Lees volle storie

Nuwe tuiste vir die Pikanini’s

Opvoeding is een van die hartspunte van die Atterbury Trust, en behalwe vir ons beursprogram vir studente, probeer ons om ook ’n ogie te hou oor die behoeftige skole in ons omgewing. Dis wonderlik om te kan deel wees van ’n gemeenskap wat omgee vir die kinders wat dit die nodigste het, en ons was trots om te kon help toe Hanna Charity se Pikanini Educare-sentrum in Wolmer onlangs ’n nuwe gebou betrek het. Ons hoor meer by die skoolhoof, Lizal Stander.

Hoe lank bestaan Pikanini al, en hoe het dit ontstaan?
Ons is geregistreer as ’n Educare-sentrum, en is deel van die Hanna Charity & Empowerment- Foundationse netwerk – daar is vyf Pikanini’s regoor die land en ons s’n hier in Wolmer bestaan al drie jaar. Elke tak en gebied het sy eie borge. Hier verskaf ons dagsorg aan kindertjies tussen die ouderdom van drie en vyf jaar, en ons rol is om te help, liefde te gee en twee gesonde etes per dag vir die kinders te verskaf. Ons bied die fasiliteite heeltemal gratis vir hulle aan. Ons was tot nou in ’n Wendyhuis tussen agt ander Wendyhuise waar gesinne woon. Die omstandighede was maar moeilik en nie geskik vir ’n sorgsentrum nie.

En hoe het die nuwe sentrum gebeur?
In April het ’n wonderwerk gebeur –  ons is genader deur ’n borg wat van Pikanini gehoor het, en hy het gesê hy wil help. ’n Groep mense het bymekaar gekom en het tussen hulle die geld ingesamel vir die nuwe Educare-sentrum. Die Here is goed vir ons. Sifuna Ouditeure het van ons gehoor en ons gehelp om in ’n groter asbes-vertrek in te trek. Hulle betaal ook maandeliks ons huur. Die sentrum word letterlik deur die goedgunstigheid van borge aan die gang gehou.

Wat is Atterbury Trust se rol?
Atterbury Trust betaal maandeliks vir my ’n toelaag, waarmee ek sorg dat daar kos en skoonmaakmiddels is, en dat in die basiese behoeftes voorsien word. Hulle ondersteun my baie en ek is so dankbaar.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust

Liewe Personeel van Eggbert Eiers
 
Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir julle bydrae, julle ondersteuning help ons om Pikanini ’n beter plekkie te maak.  Baie dankie vir die eiers wat ons by julle kry. Die kindertjies is mal daaroor en ons waardeer dit regtig baie. 
 
Dankie weereens vir julle ondersteuning.

Lizal Stander
Area Bestuurder Wolmer
Hanna Charity & Empowerment Foundation
Dis amper weer tyd vir die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, waar ons SA se talentvolste jong pianiste in aksie sal sien. Van 23 – 27 Oktober by die Atterbury Teater.
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting