Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die web
Februarie 2016
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Musiek, wyn en samesyn ten bate van die Atterbury Trust

Vir die vyfde agtereenvolgende jaar het Atterbury, Attacq en wynmaker Jean Engelbrecht van Rust en Vrede saamgespan om op die laaste Saterdag in Januarie ’n onvergeetlike aand in die Stellenbosse wynlande aan te bied.
 
Versnit 2016 was soos in vorige jare ’n wonderlike samesmelting van die beste in Afrikaanse musiek, die beste wyne van die streek, ’n asemrowende buitelug-ligging en ’n geselskap van vriende met groot harte. Die doelstelling? Om die Atterbury Trust se werksaamhede vir die jaar ’n geldelike hupstoot te gee, en weer eens was die sakke diep en die bydraes ruimhartig.  Oor die afgelope vyf jaar het Versnit-donasies nie minder nie as R2,5 miljoen rand ingebring, wat Atterbury in staat stel om onder andere ’n groeiende aantal belowende studente te help om hul volle potensiaal te bereik. Die jaarlikse Versnittoekenning vir besondere bydrae tot die Afrikaanse taalskat is vanjaar aan televisielegende, Riaan Cruywagen gemaak.
Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Atterbury en Mertech filantroop skryf unieke sakehandboek

Atterbury se medestigter, Francois van Niekerk, is ’n gevierde filantroop wat net duskant 70% van sy maatskappy, die Mertech Group, se aandeelhouding vir liefdadigheid en Koninkryksuitbreiding aanwend – deur ’n onafhanklike trust, die Mergon Foundation. Sy nuwe boek, Doing Business for a Purpose: Beyond Success to Significance, ’n sakehandboek en terselfdertyd sy getuienis, het pas op die rakke verskyn.  


1. Wat het jou juis nou laat besluit om jou boek te skryf en het jy ’n spesifieke mylpaal wat jy met die boek wil bereik?
Die jare stap aan en ek wou bloot my getuienis op rekord sit. Primêr hoe God ’n amper-insolvente eenman-besigheid gegroei het tot ’n internasionale groep. Dan ook die bestuurslesse; wat het gewerk en wat nie.

2. Hoe sou jy die boodskap van die boek in ’n sin opsom?
Die pad na werklik betekenisvolle sakesukses is minder van jouself, meer met ander en veral meer as instrument in die Groter Hand.


Doing Business with Purpose… Beyond Success to Significance se winkelprys is sowat R200, maar kan by Atterbury Trust teen R150 plus posgeld bestel word (waarvan R75 aan die Atterbury Trust geskenk word).  Stuur bewys van betaling en afleweringsadres aan Karin by Karin@atterbury.co.za. Vir meer oor die Mergon Foundation, besoek mergon.co.zaVir meer oor die boek, besoek www.doingbusinesswithpurpose.com
Lees volle storie

“Dr Knoetzen na Ongevalle!”

Atterbury is baie trots om vanjaar drie splinternuwe mediese dokters die wêreld in te stuur.  Monique Knoetzen, wat by die Universiteit van Stellenbosch se Tygerbergkampus klasgeloop het, het pas na haar eed-aflegging met ons gesels.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom, en hoe lank was jy een van ons beursstudente?
In my tweede jaar het my kêrel my aan Atterbury Trust voorgestel. Hy was op daardie stadium ’n beurshouer en ek het dringend na koshuisverblyf gesoek. Atterbury het my van verblyf voorsien en my laaste twee jaar ook my studie-onkoste gedek. Ek is dus bietjie langer as vier jaar deel van die Atterburyfamilie.

Wou jy van kleinsaf ’n dokter geword het?
Ek het op ’n baie jong ouderdom geweet dat ek ’n verskil wil maak in mense se lewens, maar ek het eers in Graad 11 besluit op medies.  Ek wou eers ’n sielkundige word, of dalk ’n onderwyser en ek het selfs ingenieurswese oorweeg. My liefde vir biologie en soektog na antwoorde en oplossings het my in die rigting van medies gestuur.

Lees volle storie

Atterbury alumni raak 18 kinders se lewens

Hoe twee Atterbury beurs-alumni ’n groep behoeftige kinders op ’n droomvakansie geneem het.

Een van die oorwegings van die Atterbury Trust se beursfonds is om studente te help om hul drome waar te maak, sodat hulle eendag kan terugploeg in die gemeenskap. So dit is ontsettend lekker om stories te hoor soos dié van Chrisna Devenish en Rolindi Visagie, wat oor die somertyd ’n groep behoeftige kinders op hul eerste seevakansie ooit geneem het.

Dié twee sussies van Pretoria, albei Atterbury Trust alumni, is al vir ’n paar jaar betrokke by die NPO Vastfontein Community Transformation, waar Chrisna gereeld vrywillig werk as arbeidsterapeut. Hulle het gesien dat die kinders wat permanent in pleegsorg by die fasiliteit is, nie baie geleenthede het om uit hul onmiddellike omgewing te kom nie, en so het hulle op die idee gekom om borge te kry en ’n baie spesiale seevakansie vir 18 kinders te reël.

Hoekom juis ’n seevakansie?

Chrisna: As arbeidsterapeut werk ek elke dag met kinders en dis wonderlik om te hoor hoe hulle dinge beleef, wat hulle van die wêreld maak en wat op hulle jong hartjies ’n indruk maak. En toe, een aand in Oktober 2014, ervaar ek skielik so sterk die besef, asof direk uit God se hart, dat hierdie kinders in Vastfontein Care Home ook ’n behoefte het, en verdien, om “wow” ervarings te beleef saam met die mense vir wie hulle lief is. Ons was so bevoorreg om as kinders elke Desembervakansie by die see te kon spandeer, en ons wou Vastfontein se kids ook sulke herinneringe gee. En toe ons dit met die bestuur bespreek, was ons verbaas om te hoor die Here het lankal hierdie droom ook in hulle harte geplant. So, die vakansie kom regtig uit gehoorsaamheid aan Sy opdrag in geloof dat Hy sou voorsien.

Lees volle storie

Eerstejaar en reeds ’n Atterbury veteraan!

Jacques, heel regs, met sy skoolvriende.

Atterbury Trust se studiebeurse is gemik op tersiêre opvoeding van jong uitblinkers wat finansiële hulp nodig het, maar van tyd tot tyd kom ’n spesiale geval van iemand wat nog op skool is onder ons aandag. Jacques Fourie van Pretoria was so iemand. Na sy pa in ’n motorongeluk breinbeserings opgedoen het, is die hele gesin in trauma gedompel. Jacques was in Graad 9 en dit het duidelik geraak dat sy skoolwerk sou begin ly onder die stres. Dit was vir Atterbury ’n voorreg om ’n hand van hulp uit te steek sodat Jacques van Graad 9 in Die Hoërskool Menlopark se skoolkoshuis kon bly. Vanjaar gaan hy universiteit toe…

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust uitgekom? Hoe lank na jou pa se ongeluk is jy koshuis toe?
My pa se ongeluk was op 11 Augustus 2011. Hy was vir vier weke in ’n koma en vir drie maande in rehabilitasie. In rehab moes hy leer om van voor af te loop, te praat, te eet. Dit was baie erg. Toe hy begin praat, was alles vreeslik deurmekaar en dit was duidelik dat sy geheue erg aangetas is. Toe my pa huis toe kom, het ons gedink alles gaan beter word, maar dit het nie! Hy was skielik baie aggressief en ons gesin het maar ’n taai tyd beleef... veral my ma! ’n Vriendin van my ma het ons vertel van die Atterbury Trust. Dit het alles baie vinnig gebeur… een oomblik was ek nog by die huis en die volgende oomblik in die Menlo koshuis. Dit was ’n jaar na die ongeluk, in Augustus 2012.

Lees volle storie

Die plaasskooltjie in die stad

Atterbury is geweldig opgewonde om ‘n aandeelhouer te wees in die eiendom van Laerskool Die Krans, die hartsprojek van stigter en skoolhoof Janetta van Niekerk, wat passievol is oor haar roeping as toesighouer oor kindertjies in hul eerste skooljare. Sy vertel ons hoe haar filosofie oor onderwys gelei het tot hierdie unieke “plaasskooltjie in die stad”

Hoe het Die Krans tot stand gekom?
Ek is in 2004 gevra om ‘n kleuterskool te begin vir NG Skuilkransgemeente, en so het Kransjakkers begin. Die skool was deel van die jeugbediening, so hulle het fasiliteite tot ons beskikking gestel en die gemeente het ons met passie ondersteun. Later het Kransjakkers Laerskool Die Krans geword, en ons skooltjie is nou 11 jaar oud.

Hoeveel kinders gaan hier skool en hoe vergelyk dit met heel aan die begin?
Ons het in 2004 begin met 12 kinders en in 2016 gaan daar 330 wees. Ons bedryf die skool as drie afsonderlike afdelings (Kransjakker kleuterskool, Die Krans Grondslagfase en Die Krans Intermediêre fase). Kleintjies van 18 maande tot vyf jaar is by die kleuterskool, van Graad R tot 3 is hulle in die grondslagfase van Laerskool Die Krans. In die Intermediêre fase het ons nou ons eerste Graad 5s. Ons glo dat elke ouderdomsgroep besonders is en dat ‘n kind die kans moet hê om daardie fase ten volle uit te leef sonder dat ‘n ouer kind domineer of meerderwaardig toekyk.

Lees volle storie

Triomfkliniek bied dokter ’n nuwe begin

Skaars ’n jaar gelede is Dr Hannelie Groenewald se lewe brutaal verander toe haar man en kinders in hul huis in Afganistan deur ’n Taliban moordbende uitgewis is. Die familie het vir 12 jaar in die hoofstad, Kaboel, gewoon, en sy het die aanslag slegs oorleef omdat sy by die werk was en nie tuis waar haar man ook sy kantoor gehad het nie.  Sy het haar geliefdes huis toe gebring en in Pretoria begrawe, en in die afgelope jaar stadig begin om weer haar voete te vind. Atterbury is geweldig trots om haar te verwelkom by die Triomfkliniek, waar sy nou elke twee weke diens lewer as algemene praktisyn.

Dit was op 29 November ’n jaar sedert jou groot verlies. Hoe oorleef ’n mens so ’n verskriklike trauma?
Jy weet, ek glo die Here bring niks op ’n mens se pad wat jy nie kan hanteer nie. Daar is ’n rede hoekom ek oorleef het, en ek glo ek moet my getuienis deel en uitleef. Hoewel dit baie swaar is, het ek geweldige vertroosting in die Here gevind. En wat ek hiervan oorgehou het, is ’n ontsettende nou band met die Here, en ’n verdieping van my geloof, wat my daagliks dra en wat ek vir niks sal verruil nie.

Lees volle storie

Ons Atterbury Trust

Goeiemiddag Louise en almal by Atterbury Trust

Graag wil ek as ma van die geleentheid gebruik maak om een en elkeen te bedank vir die geleentheid wat julle my kind Mario gegee het.

Was dit nie vir julle mense nie, sou my kind heel waarskynlik nie sy voltydse studies kon voltooi nie. Maar dis engele soos julle wat mens se pad langs kom en wat vir ons kinders omgee, en geleenthede gee. Julle het ’n geweldige groot bekommernis van ons as ouers se skouers afgehaal deur hom te help.

Mario het verlede jaar sy BCom Agri Besigheidsbestuur-graad aan UP verwerf. Waaroor ek ook ongelooflik dankbaar is, is dat ons Hemelse Vader vir Mario in sy studierigting ’n werksgeleentheid gegee het, iets wat ook nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie. 

Mario het op 4 Januarie 2016 in Bloemfontein begin werk.

Dankie is ’n bitter kleine woordjie, maar dit kom opreg uit my hart uit. Ek dink nie julle sal werklik besef wat jul hulp vir ons beteken het nie.

My bede is dat ons Hemelse Vader jul maatskappy en elkeen van julle wat so uitreik na ons kinders, ryklik sal seën, in julle besigheid, maar wel ook in jul
persoonlike lewens.

’n Dankbare ma!
Christelle Botha

Manna vir die Boere Konsert

Atterbury span saam met ’n groep van die voorste kunstenaars in die land en ander borge soos Wildswinkel, Toyota SA, Hinterland Vleishandelaars, King Price, Media24 en kykNET om 'n musiekkonsert aan te bied om geld in te samel vir droogtehulp. Caring Daisies doen die verspreiding van die fondse.

Inligting

Datum: Saterdag, 20 Februarie 2016, 15:00 – 18:00
Plek: Voortrekkermonument, Amfiteater
Hekke open: 13:00
Gratis parkering en busvervoer
Kaartjies: Computicket
Koste: Volwassenes R200. Skoolkinders: R100. Voorskoolkinders: Gratis
Verversings (kos en drank) beskikbaar vir eie rekening
Eie piekniekmandjies welkom. Geen eie alkohol word toegelaat nie
Kunstenaars soos: Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Dr Victor, Adam Tas, Corlea Botha, Pieter Smith, Jak de Priester, Pieter Koen, Jannie Moolman, Beeskraal duo en André Venter.
Musiek en orkes: Onder leiding van Matthys Maree

Al het dit onlangs mildelik gereën in sekere gebiede van droogtegeteisterde Suid-Afrika, is dit nog nie genoeg om werklik ’n langtermyn verskil te maak nie. Baie boere bly steeds aan groot finansiële druk blootgestel, veral omdat saad nie geplant of diere gevoed kon word nie. Skuld hoop op en geld is skaars.

Lees volle storie
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting