|
|
Een keer per jaar hou ons ’n Atterbury Trust trusteevergadering en wanneer ek so deur al die syfers, projekte, beleggings, begrotings, kontantvloeie en bedrywighede werk om alles sinvol in ’n verslag te vervat, besef ek net weereens hoe baie lewens op soveel terreine in Suid-Afrika positief deur werksaamhede van die Atterbury Trust aangeraak word.
Ek lig ’n paar uit:
|
|
Ons is oneindig dankbaar vir die onbaatsugtige bydraes van ondersteuners en donateurs wat saam met die Atterbury Trust werk om alles moontlik te maak – met geldelike bystand, donasies; tyd, soos dié van die vrywilligerdokters by Triomf en die mentors vir Atterbury Trust-beursstudente; en die ondersteuning van die Atterbury Teater en Optog!
Saam bring ons hoop. Saam gee ons om. Met jou hulp maak ons ’n verskil in Suid-Afrika. Mag ons dit aanhou doen.
|
|
Harde werk kry al die eer
|
|
Atterbury Trust-beursstudente is deur die bank inspirerend, en Simeon Kruger het met sy prestasies by NWU se onlangse prysuitdeling weer gewys hoekom. Hierdie slimkop is nie net die top-presteerder in sy derdejaar elektromeganiese ingenieursweseklas nie, hy het al die ander ingenieurstudente in die hele fakulteit uitgestof. Ons het direk by die gebore en getoë Witbanker gaan hoor hoe só ’n buitengewone prestasie bereik word…
Sjoe, ons is baie trots op jou! Wat is die geheim van jou sukses?
Uit en uit harde werk. Op skool was ek ook die toppresteerder in Hoërskool Generaal Hertzog. Ek dink nie ek is noodwendig die slimste student nie – ek dink ek werk net eenvoudig harder as almal!
Dis presies wat die universiteit gesê het van my oudste broer, Petrus, wat ook ingenieurswese geswot en ook goed presteer het. Dis my inspirasie! Ek dink as jy my klasmaats vra wie die hardste werk, dat my naam sal opkom – my vriende sê gereeld vir my “Moenie te hard werk nie” wanneer hulle my groet. Die Atterbury Trust se lewensafrigter, Leonie, het selfs met my geraas in my eerstejaar omdat ek in my tydsbeplanning nie veel tyd vir ontspanning ingebou het nie!
Die harde werk het sy nadele – ek het nie veel van ’n studentelewe nie, omdat ek meeste van my tyd agter die boeke spandeer. Mens moet bepaald sekere opofferings maak om te bereik wat jy wil, en my sosiale lewe het hieronder gely. Ek glo darem ook dis belangrik om te prioritiseer.
Dan glo ek ook mens moet vir jouself doelwitte stel en werk om by hulle uit te kom. Ek was vir 10 jaar in ’n skool waar jy self elke dag bepaal het hoeveel werk jy die dag gedoen het en hoeveel huiswerk jy wil doen. Niemand het jou gedwing nie, en as jy nie genoeg werk vir jou dag beplan het nie, het jy agter geraak. Jy moes letterlik aan die einde van elke dag neerskryf op ’n “goal card” watter bladsye jy die volgende dag gaan doen – en dit wat jy nie gedoen gekry het nie, was huiswerk. So, van kleins af het ek geleer om doelwitte te stel en verantwoordelikheid te neem vir wanneer ek hulle nie in die gegewe tyd bereik het nie.
Is jy ’n gebore ingenieur? Kan jy ’n staaltjie uit jou kinderjare deel wat dit bewys?
Ek dink nogal so, hoewel ek nie dink baie mense dit altyd raakgesien het nie. Verskeie onderwysers het gedink ek sal ’n rekenmeester wees omdat ek baie goed was met rekeningkunde.
Maar as kind was daar beslis tekens! Ek was verskriklik lief vir cowboyflieks. Ek sou hulle oor en oor kyk, en dan buite gaan en hulle uitspeel. Ek sou dan my eie perd bou: eers span ek ’n tou tussen twee pale en sit ’n kussing bo-op as die saal. Ek sou my belt fatsoeneer as ’n toom, en PicknPay-sakke onder die “saal” sit, sodat ek my voete in die handvatsels kan sit, en dit was my stiebeuels. Ek sou krieketpaaltjies,’n swaardskede, ou haelgeweerdoppies en ander goeters uit my kas gebruik om vir my ’n “Sharps rifle” te maak. En dan sou ek op die tou sit en van kant na kant swaai, en dit was hoe ek my perd gery het! My ouers het gedink dis baie snaaks, maar as as ek nou daarna kyk, was dit nogal innoverend! Dan was wiskunde was ook altyd een van my sterk punte op skool, maar ek was nie een van daardie kinders wat aan karre gewerk of elektroniese goed uitmekaargehaal en weer aanmekaar gesit nie.
|
|
“Ingenieurswese al meer ’n vrou se wêreld”
|
|
Wilmien Uys is ’n finalejaar chemiese ingenieurstudent by die Universiteit van Stellenbosch, en was ook ’n leier by haar koshuis, Irene. Ons hoor by hierdie uitblinker-beursstudent wat haar toekomsplanne is…
Vertel ons die storie van waar jy vandaan kom, en jou familie.
Ek het grootgeword op die pragtige plattelandse dorpie Montagu, waar my pa steeds ’n vrugteboer is. Ek en my sussie, wat nou ’n derdejaar- teologie student op Stellenbosch is, het albei in Montagu gematrikuleer. My oudste broer is tans in matriek op Robertson en woon by my ma en my stiefpa – my ma is daar ’n onderwyseres. Ek het ook ’n ouer stiefbroer en stiefsuster aan my ma se kant, wat albei al werkend is. My pa en my stiefma het pragtige blondekop, blouoog tweelingseuntjies van drie, asook ’n babadogtertjie van sewe maande. Ek het dan ook ’n stiefsussie aan my pa se kant, wat nou in Graad 3 is.
Hoe het jy by jou vakrigting uitgekom – was ingenieurswese van kleinsaf in jou visier? En hoekom spesifiek chemies?
Ek het ’n hele klompie beroepe oorweeg, maar ingenieurswese het die meeste vir my uitgestaan. My oom is ’n metallurg en hy en my tannie het vir omtrent sewe jaar in Botswana gewoon. Ons het elke jaar in die Junie-vakansie daar gaan kuier toe ek in die laerskool was, en hy het my altyd vertel van sy interessante werk. Ek het toe in Graad 11 in Kaapstad by sy werk gaan “shadow” en daar gesels met ’n meisie wat toe net klaar gestudeer het. Sy het my finaal oortuig om chemiese ingenieurswese te studeer. Ek het ook vir aanlegtoetse gegaan en ook by ander maatskappye gaan “shadow”. Ek het op die ou end my rigting gekies omdat ingenieurswese so ’n breë veld met baie werksgeleenthede is.
En hoe het jy by die Atterbury Trustbeurs uitgekom? Hoe belangrik was dit vir jou om hierdie beurs te kry?
Ek het toevallig saam met ’n goeie vriendin en haar ouers see toe gegaan in matriek. Daar het ek ’n vriendin van hulle ontmoet wat by Atterbury werk en sy het my potensiaal raakgesien en die inligting en aansoekvorms aangestuur. Ek het voor dit aansoek gedoen vir ’n klomp ander beurse, maar was nêrens suksesvol nie. Ek weet nie hoe en of ek ooit sou kon studeer sonder die beurs nie – of my pa met die nuwe kleintjies by die huis en ’n ouer sussie op universiteit, dit ook nog sou kon bybring nie. Atterbury Trust se beurs is dus ’n groot seën vir my.
|
|
Melkkoeie en toekomsdrome
|
|
Op 24 is Atterbury Trustbeursstudent en Tukkie Ranier van Heerden besig met sy Veekunde-meestersgraad in dierevoeding; waarvoor hy die melkproduksie van Jerseykoeie bestudeer het, onder andere ook tydens ’n onlangse studiebesoek aan een van die wêreld se top veekunde-universiteite, die Davis kampus van die Universiteit van Kalifornië. Sy droom is om ’n wêreldklas voedingkundige te word, en niks gaan in hierdie baanbreker uitblinker se pad staan nie. Hy vertel die storie van sy reis na sy droom, in sy eie woorde.
“My reis het begin toe ek einde 2013 met ’n matrieksertifikaat in die hand staan met ’n droë keel en ’n duisend vrae. Daar was soveel onsekerheid oor my toekoms. Hoe sou ek dit regkry om doelwitte en drome vir myself te vorm binne my persoonlike omstandighede?
“Ek het in 2013 gematrikuleer by Hoërskool Warmbad in Warmbad, Limpopo, ’n klein vakansiedorpie in die Waterbergdistrik. Ek het keuring by die Universiteit van Pretoria gehad; en moes skouer aan die wiel sit om die beste uitslae moontlik te behaal. My fondasie moes ek bou op die idee dat geleenthede na my toe sal kom na gelang van wat onderaan my matrieksertifikaat staan.
“Finansies – dis waar talle mense se drome, ideale en ongemynde talente verlore gaan. Ek was baie amper een van daardie mense, want dit was ongelukkig net die kaarte wat my toegedeel is. Daar was net nie geld vir universiteitstudies nie, maar ek was vasberade om dit bloot te beskou as ’n struikelblok om te oorkom… Ek is gedrewe en passievol, en het besluit om die beste van die saak te maak. Wat is dan so erg om vir twee jaar by ’n mynmaatskapy in Northam, Thabazimbi te gaan werk en te spaar totdat ek my droom kon najaag?
“En toe: die oproep, Atterbury Trust van Tannie Louise. Na hordes afgekeurde aansoeke het hierdie oproep alles verander.
|
|
Skenk ’n bietjie warmte hierdie winter, saam met GROOTfm
|
|
Daar is ’n nuwe kilheid in die oggendlug… somer is beslis verby. En hoewel ons dit geniet om ons stewels, jasse en serpe uit die motbolletjies te haal en ons elke dag warm toe te wikkel, is daar baie mense vir wie winter net koue misrabelheid beteken. Atterbury Trust se mediavennoot Grootfm het pas hul jaarlikse B&B veldtog afgehandel, waarmee hulle blikkieskos en warm winterbaadjies vir behoeftiges insamel. Lindie Strydom vertel meer.
Wat is die idee agter Blikkies en Baadjies?
Die veldtog het ’n Meimaand-tradisie by GROOTfm 90.5 geword, juis omdat ons besef dat elke oggend as ons ’n lekker warm baadjie aantrek teen die snerpende winterkoue, daar iemand net soos ons daar buite is wat nie eers een warm baadjie vir die winter het nie. Hulle slaap koud, staan koud op, en stap in die bitter koue skool toe of werk toe. Die GROOTfm familie wil ’n verskil maak, en ons samel dus blikkies kos, baadjies, beanies, serpe en ander warm klere in wat ons versprei onder ons minderbevoorregte vriende wat by een van ons vennote se opheffings- of bemagtigingsprojekte ingeskakel is.
Hoe lank loop die tradisie al en hoeveel hulp samel julle in?
Blikkies en Baadjies is vanjaar al in sy vyfde jaar; en dit is absoluut wonderlik om te sien hoe mense wil help en bydra!
Waar kom al die bydraes vandaan?
Oral! Ons kry bydraes van individue, skole, kolleges, besighede, die Voortrekkers, selfs afdelings van die stadsraad! Hoërskool Waterkloof in Pretoria asook die Voortrekkers is van die begin af by die projek betrokke. Die Klofies wys saam met soveel ander skole dat dit net so belangrik is om vir ons naaste om te gee as wat ons prestasies in die akademie of op die sportveld is. Die Voortrekkers is ook al van die begin af betrokke.
Het julle vanjaar ‘n spesifieke teiken wat jul bereik?
Dit maak nie regtig vir ons saak presies wat die getalle blikkies of baadjies is nie – dit is belangriker dat meer mense elke jaar die nood van hul medemens raaksien en ’n hand uitsteek om te help. Ons motto met al ons projekte is “groot in die klein” – die idee is altyd om groot te gaan met die klein goedjies wat dalk onbenullig lyk – die klein insette wat ons wel kan maak al is die uitdaging oorweldigend groot. Elke blikkie tel, en elke baadjie, en elke gebreide keppie of kombers – ons wil mense aanmoedig om deel te neem, want elke bydrae maak ’n wesenlike verskil aan iemand anders.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Atterbury staan gereeld verstom oor die inspirerende werk wat ons mediavennoot GROOTfm 90.5 in die gemeenskap doen. Een van hierdie gereelde projekte, #JouMenseMyMense, bring ’n bietjie liefde en empatie waar dit nodig is, deur goedgunstige borge te verbind met mense wat swaarkry. Lindie Strydom, Projekorganiseerder van GROOTfm 90.5, vertel meer van die inisiatief
Hoe het #JouMenseMyMense ontstaan, en hoeveel van hierdie besoeke het julle in die afgelope jaar gedoen?
Die omvang van die nood laat mens soms oorweldig, verlam en selfs effens lomp voel. Ek wil nie eers my vyftig randjie aanbied wanneer die hulpkreet ’n reuse sewe miljoen rand is om daardie kankerpasiëntjie in Amerika te kry vir behandeling nie, want waar sal die ander 139 999 vyftig rande vandaan kom? Ons het die #JouMenseMyMense projek begin, want net omdat ons nie alles vir almal kan doen en wees nie, beteken nie ons moet ons gewone menslike omgee verloor nie. Ons wil fokus op dit wat ons wel vir mekaar kan doen, soos om daardie kankerpasiënt se ouers te gaan besoek by die hospitaal met ’n bossie blomme of ’n gebedskussing en ’n woord van bemoediging.
Dit gaan oor klein gebare van liefde en omgee… Ons sal met liefde jou “instaan-familie” wees as tyd, geld of afstand maak dat jy nie by Ouma se 90ste of daardie geliefde wat aansterk in die hospitaal, kan uitkom nie! Ons sal die kolwyntjie vir ouma se verjaarsdag vat of ’n bossie blomme vir jou familielid in die hospitaal. Ons sal by die slagoffer van die plaasaanval gaan sit om sy roerende getuienis te hoor of die vrou met borskanker saam met haar vriendinne verras by ’n koffiewinkel. Soms wil ons net hê mense moet net die karwagte weer raaksien en waardeer en dan deel ons ’n sakkie kruideniersware en koue koeldrank uit of ons koop vir die assistant-Juffrou wat sopas uit die kinderhuis uit kom, iets vir haar nuwe blyplekkie. Dis mos die dáár wees wat tel… die gebaar van liefde en omgee, die persoonlike boodskappie en ‘n bietjie bederf.
Hoekom het julle die spesifieke naam gekies?
Ons het die naam baie spesifiek gekies om die Bybelse beginsel van naasteliefde tuis te bring. Ons neem eienaarskap van God se mense as ons mense en met die hart van ’n Barmhartige Jesus wil ons nie net bo-oor die mense op ons pad loop nie, maar mense raaksien en stop. Die ekstra myle van die Samaritaan kom gereeld van ons luisteraars, gemeenskap en vriende wat dit wat ons doen sien as ’n afskop en uitnodiging om deel te word. In 2018 was ons begroting R1 000 per week, maar soos alles van beurse, boeke en brille tot skootrekenaars, selfone en hulp met skoolfonds bygekom het, het ons ’n totaal van R200 000 vir die jaar bereik – vyf keer meer as die aanvanklike R40 000 projekbegroting!
Ons glo aan die beginsel van “vermenigvuldiging” – ons wil projekte op so ’n manier aanpak dat dit die mense wat na ons kyk en luister inspireer en bemagtig om dit wat hulle sien en leer in hulle eie huis, straat of gemeenskap te gaan doen. Dit beteken ons “vermenigvuldig die verskilmakers” en dan gaan ons mos baie meer kan bereik as wat mense toeskouers word wat op die pawiljoen van die lewe wag vir die groot ouens met die groot geld om hulle groot verskil te maak. Mense hoef ook nie net tot ons projekte by te dra nie! Terugvoer soos “ek gaan ook dit vir iemand doen” voel vir my ons het geslaag!
|
|
In die spore van Teresa Lister
|
|
Die Teresa Lister-toekenning is nege jaar gelede in die lewe geroep om jaarliks die veelsydigste vroulike regstudent by die Universiteit van Pretoria te vereer, ter liefdevolle nagedagtenis aan ’n ontslape kollega. Teresa Lister was Atterbury se regsadviseur toe sy in 2009 in ’n motorongeluk oorlede is, en daarom kies ons elke jaar ’n jong vrou in haar veld wat ewe dinamies en positief is om die toekenning te ontvang. Vanjaar se ontvanger van die toekenning, Carmi du Toit, verpersoonlik Teresa se eienskappe, en het ondanks swaarkry en beperkte hulpbronne alles ingesit om seker te maak sy kan aanhou studeer aan haar LLB. Sy het onlangs die trofee en prysgeld van R20 000 by ’n prestasiefunksie ontvang, en vertel ons meer omtrent die paadjie wat haar tot by hierdie welverdiende prys gebring het.
Was regte van die begin af jou passie? Wanneer en hoe het jy daarop besluit?
Ja, ek het in Graad 10 besef ek het ’n aanvoeling vir kommunikasie en dat ek daarvan hou om mense te help. Ek sien regte as ’n manier om verandering teweeg te bring en wil graag deel wees van daardie verandering.
Jy is die eerste lid van jou gesin wat ’n graad gaan behaal, en moes baie opoffer om te kom waar jy vandag is. Wat dink jy was die grootste uitdaging wat jy aangepak en oorkom het; en hoe het jy dit gedoen?
In my eerste jaar het ek gesukkel om my voete te vind – ek het nie geweet hoe ek akkommodasie kon kry en werk terwyl ek voltyds studeer nie. Die stres van universiteit en om te moet werk om my verblyf te betaal was soms oorweldigend. Ek het geïsoleer en geweldig gestres gevoel, maar het op die ou end daardeur gekom deur te fokus op alles wat ek kon doen, en nie toe te laat dat die onsekerheid my vooruitgang belemmer nie. Ek het ook met mense gepraat wat raad gegee het, en hulp van die studente-ondersteuningsprogram op kampus gaan vra.
Jy het jou studies help befonds deur te werk as ’n kelnerin en ’n inbelsentrum-agent… wat dink jy het dit jou geleer?
Dit het my ’n paar goed geleer, onder andere hoe om my tyd baie effektief te bestuur om seker te maak alles word betyds gedoen. Dit het my ook respek vir ander mense geleer en die vermoë om waardevolle verhoudings met ander te skep deur netwerke te gebruik.
|
|
Volstoom vorentoe met Optog!
|
|
Suid-Afrika se eerste landwye, volgehoue konserttoerkonsep loop nou al vir drie maande en bring kunstenaars en gehore in klein dorpies en groot stede bymekaar uit. Ons het by Optog! se organiseerder, Matthys Maree, gaan kers opsteek om te hoor oor geboortepyne en vroeë lesse en suksesse.
Optog! het op Valentynsdag afgeskop. Hoe gaan dit met die hele projek drie maande later? Is julle tevrede?
Ons is baie dankbaar om te trek waar ons doen met hierdie projek. Die leerkurwe is steil, maar elke tree vorentoe is ’n tree nader aan ’n struktuur wat die land baie nodig het. Daar is soveel fees- en kultuur-ambassadeurs regdeur SA, maar dis baie gelokaliseerd. Ons sal teen die einde van 2019 ’n fees sonder adres op die landskaart hê wat vir jare wat kom die kunste wiele sal gee!
Kan jy al getalle gee van hoeveel vertonings reeds gehou is, en hoeveel kaartjies verkoop is? Enige statistieke wat jy met ons kan deel?
Ons trek rofweg by 40 vertonings. Gehore van tussen 50 en 680 is verwelkom vanaf Hoedspruit tot Stellenbosch, Upington tot Oos-London en als tussen-in.
Watter vertonings was tot dusver die gewildste?
Nataniël en Laurika bly maar twee van ons land se grootste trekpleisters, en dis hoekom ons so trots is om Optog! te kon bekendstel met hulle reg aan die begin. Maar ons leer elke dag om gewildheid en sukses konstant te herdefinieër. Soms lê die grootste suksesse by kleiner gemeenskappe soos Hoedspruit, Springbok en Kuruman wat ons Optog! kunstenaars met ope arms en ‘n helde-ontvangs verwelkom.
En watter kunstenaar het tot nou toe die meeste shows gedoen?
Tot dusver loop Nataniël voor. Vanweë sy besige skedule moes ons sy vertonings vroeg in die jaar groepeer. Teen die einde van die jaar sal Jo Black egter voor in die tou staan met 27 vertonings, met 3 van die Bestes (Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo) en Laurika Rauch kort op sy hakke.
|
|
|
Jo Black (Hartenbos)
4, 5, 6, 8, 12, 13, 14 en 16 Junie
Hartenbos, Durbanville, Worchester, Kimberley, Sasolburg, Kroonstad, Parys en Polokwane
|
|
Ons Atterbury Trust
Geagte Atterbury familie
Ek stuur graag hierdie epos vir julle om dankie te sê vir jule getroue ondersteuning van my oor die laaste drie jaar, en in die hoop dat julle ook in my vreugde sal deel. Die NWU se Ingenieursfakulteit het op die 4de April ’n prysuitdeling gehou om erkenning te gee aan die toppresteerders in die onderskeie. Die Elektromeganiese Ingenieursweseklas bestaan net uit sewe studente. Onder hierdie sewe studente was ek die toppresteerder, en dus bevoorreg genoeg om genooi te word na die funksie toe.
Omdat ons egter net sewe studente is het ek nie regtig gevoel dat dit ’n noemenswaardige prestasie is nie. Maar ek is trots om te kan se dat dit bietjie verder as dit gaan. Met die aankondiging van die studente het hulle ook hul gemiddelde vir die vorige jaar uitgelees, en ek het dus aandagtig geluister na wat die ander studente se gemiddelde is om te hoor hoe ek vergelyk. Ek is trots om te kan sê dat ek nie net die toppresteerder was van die Elektromeganiese Ingenieurswese-derdejaars van 2018 nie, maar van al die derdejaars in die hele fakulteit. Dit sluit in die chemiese, meganiese, elektriese, elektroniese en bedryfsIngenieurswese. My gemiddeld vir 2018, soos julle miskien einde verlede jaar gesien het, was 91%.
Dankie vir julle ondersteuning, julle bystand, julle kuiers in Potch, julle GRO sessies en veral julle moeite en omgee.
Ek heg ’n foto aan van waar ek die sertifikaat gekry het. Heel links is Prof George van Schoor (direkteur van die Elektriese Ingenieurswese-skool), Prof Jan de Kock, Prof Willem den Huyer (nuwe direkteur van Meganiese Ingenieurswese) en dan ek. Verskoon die baard: ek het hom begin groei toe ek hoor dat my oudste broer en sy vrou hulle eerste kind verwag. Hy sal weer verdwyn na die kind gebore is.
Vriendelike groete
Simeon Kruger
|
|
|
|
|
|
|