Atterbury Trust Nuusbrief
November 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos
Soos die einde van 2017 nadersnel, hardloop Atterbury Trust hier in die laaste pylvak op al ons silinders: opvoeding, kultuur, Afrikaans en gemeenskapsdiens.
 
Heelwat van Atterbury Trust se beursstudente is amper klaar met hulle 2017 eksamens. Ons is saam met ons studente verlig dat 2018 se eindeksamens vir die meerderheid heelwat vreedsamer verloop as verlede jaar. Daar is meer as 50 Atterbury Trust beursstudente wat vanjaar hulle graadstudies voltooi. Ons vertrou dat hulle die Suid-Afrikaanse arbeidsmark met hulle nuutgevonde vaardighede sal verryk.

Die Atterbury Trust het oor die afgelope 20 jaar geloofwaardigheid opgebou en die kwaliteit, afgeronde studente wat die pad met die Trust gestap het, is gesog by werkgewers. Ons hier by Atterbury Trust  is bevoorreg om toenemend die rol van fasiliteerder van geleenthede tussen ons studente en besighede te speel. So is ons weer onlangs deur Dischem genader om behulpsaam te wees met hul internskappe. As daar enige van ons besigheidsvennote is wat geleenthede vir onlangse graduandi het, laat weet ons asseblief.
 
Die sewende Nasionale Atterbury Klavierkompetisie het vanaf 23-27 Oktober in die Atterbury Teater plaasgevind. ’n Rekordaantal van 46 talentvolle jong pianiste het vanjaar deelgeneem. Hulle het die stampvol Atterbury Teater tydens die gala-aand geïnspireer met hulle toewyding, passie en suiwer talent.

Lees in hierdie Omgeenuus meer oor die talentvolle jong Pretorianer Louis Nel wat vanjaar skoonskip in die kompetisie gemaak het. Ons kuier ook by verlede jaar se wenner Swunhtat Oo en hoor van sy planne om medies te gaan studeer.
 
Op die Afrikaanse toneelfront het Atterbury Trust ’n deel van die teaterhuur geborg vir Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Suite, wat vandeesmaand in die Atterbury Teater aangebied is. Kaartjies was lank voor die vertoning reeds uitverkoop. Almal is dit eens dat hierdie unieke aanbieding een van die grotes van 2017 was. (Karoo Suite word later vanjaar op RSG uitgesaai.)

Vir ’n laaste stukkie kultuur het ons met die inspirerende Alexa Strachan gesels om haar hartklop vir Aardklop te hoor. Met 45 000 besoekers aan die feesterrein en 33 000 kaartjies wat vir produksies verkoop is, het sy en haar haar bekwame span gesorg dat Aardklop 2017 beter as ooit was. Ons is trots om met Alexa geassosieer te wees – sy laat dinge gebeur.
 
By Triomfkliniek is ons ’n stappie nader aan die voltooiing van die visie om ’n tandartsfasiliteit daar te stel. Met die hulp van Verryn Matlhare Ingelyf en die talentvolle kunstenaars Jo Black, Appel, Jacqueline Tolken en Lizz Meiring is ’n suksesvolle Triomfkonsert in die Atterbury Teater gehou waartydens R53 000 ingesamel is.

Triomfkliniek benodig egter ’n laaste R150 000 om die tandartsprojek suksesvol te kan voltooi. Laat weet ons asseblief as jy kan help.

Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat ons na drie jaar die duisendste pasiënt by Triomf kon help. Ons is dankbaar dat Pretoria Ooginstituut betrokke geraak het by Triomfkliniek. ’n Noemenswaardige hoeveelheid gratis katarakoperasies is vir pasiënte gedoen. Oogtoetse word vir die nuwe jaar beplan. Verder werk ons daaraan om brille teen billike pryse te kan voorsien. Twee-weeklikse ouerleidingsklinieke word ook sedert Oktober in samewerking met CMR by die kliniek aangebied.
 
’n Spesiale dankie aan Claasen Auret Raadgewende Ingenieurs wat Atterbury Trust aangewys het as die begunstigde van hulle onlangse gholfdag. Met julle bydrae word nog ’n student se studies in 2018 geborg.
 
Alles van die beste vir die laaste maand of wat – Desember wink… ek sluit af met ’n uittreksel uit Karoo Suite... ’n voorsmakie vir dié van ons wat die pad deur die Karoo aandurf:
 
As jy kan luister na die klanke en jy hoor die melodie
van die Groot Karoo se massakoor, sy lewenssimfonie,
Sal dit al die eensaam wegwaai en al die seer wegspoel
Tot jy een word met die vlaktes en die Heelal in jou voel.”
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Van “balletjuffrou” tot belastingspesialis

Een van die lekkerste aspekte van die Atterbury Trust beursprogram is om te sien hoe ons studente goeie besluite vir hul eie toekoms maak en te weet ons beurse bemagtig hulle om te kan fokus op wat belangrik is, sonder daaglikse stres oor studiegeld. Ons is trots op slimkop Lorenza Lombaard wat vanjaar haar BCom (Rek) Honneurs afhandel en volgende jaar haar klerkskap by PricewaterhouseCoopers gaan aanpak. Hier is haar storie.

Vir hoe lank is jy al deel van Atterbury se beursprogram en hoe het jy destyds daarby uitgekom?
Ek is al drie jaar deel van die beursprogram en het Atterbury Trust nogal op ’n interessante manier gevind. In my matriekjaar het my ma my hope en hope beursaansoeke laat invul en Atterbury se aansoekvorm was onder hulle. Aan die einde van my eerste jaar het Atterbury my gebel en ’n onderhoud geskeduleer. Dit is waar alles begin het.

Wat kan jy ons van jou grootwordjare en jou gesin vertel?
Ek het in Pretoria grootgeword en by Laerskool Tuine skoolgegaan, tot ons na Middelburg verhuis het. Daar het ek by Hoërskool Middelburg gematrikuleer. Ek het ’n jonger broer wat ’n besonderse mens is. Hy beteken die wêreld vir my. Verder is ek altyd die een wat Sondae help kookkos maak en het beslis my kookvaardighede by my pa geërf. My ma is ’n huisvrou en my pa ’n tegnikus by Polyoak Packaging.

Hoe het jy by rekeningkunde uitgekom – was jy van kleinsaf ’n syferkop? Wat wou jy word toe jy klein was?
Toe ek klein was wou ek ’n balletjuffrou geword het, maar het sommer vroeg op laerskool al gevind dat ek syfers snap. Dit was eers net wiskunde en toe later op hoërskool rekeningkunde. Ek kan vandag beslis sê dat ek ’n syferkop is en dat ek die uitdaging geniet om te sukkel-sukkel totdat ek iets verstaan en regkry.

Lees volle storie

Dis net vorentoe en boontoe vir Aardklop

Twee jaar onder nuwe leierskap en alle aanduidings is dat Aardklop op die regte spoor is na ’n suksesvolle 2017. Ons het met feesorganiseerder Alexa Strachan gesels oor die lesse wat sy geleer het en waarheen sy die fees wil neem.

Het jy nou al herstel na die geweldige druk en opwinding van die fees?
Mens herstel nie so vinnig nie, bloot omdat die fees nooit afgehandel is nie, daar is die eindelose klaarmaak, verslagdoening en dan... oeps, ons moet geld en vennote kry vir volgende jaar, voordat besighede sluit vir die vakansie.

Natuurlik is mens van daardie adrenalien-inspuiting af: die Sondag ry jy terug, in gietende reën waarvoor jy as blote aardbewoner in ootmoed staan, maar aan die ander kant wens jy dit was eerder in die Kaap, hulle het dit immers nodiger gehad as ons in Potch. Maar jy arriveer tuis, dankbaar dat die fees ’n sukses was, dankbaar vir jou eie bed en vir die feit dat jou huismense jou nog skynbaar liefhet.

Hoe het dit vergelyk met die vorige fees?
Aardklop 2017 sou altyd ’n groter uitdaging as 2016 wees. Laat ek verduidelik: almal hou van bietjie sensasie, almal hou van die “underdog” en in 2017 het die logiese en vir my voorspelbare wanopvatting ontstaan: Aardklop is mos nou gered – dis besigheid soos normaalweg. Die onvoorwaardelike welwillendheid het verdwyn. Maar ’n ware kunstefees is nooit “gered” nie, dit bly ’n voortdurende uitdaging: ons wil die kunste bevorder midde ’n ekonomiese realiteit waar mense in ons land kners om oorlewing en hou altyd in jou agterkop: ons voorgangers het die fees na 19 jaar gesluit juis omdat hulle gevoel het dit is nie ’n finansieel werkbare ding om te bly doen nie.

Die gekerm daar gelaat: Ons het hierdie jaar ’n ongelooflike program aanmekaar gesit en ons feesgangers voel duidelik dieselfde.

Hoe het Atterbury se bydrae vanjaar ’n verskil gemaak?
Louis van der Watt het ’n opmerking gemaak wat ek (on)gelukkig gehoor het: “Ons is ’n eiland van uitnemendheid.” By die nuwe Aardklop het ons ’n konsep “Intieme teater” begin waar ons kleiner, intieme, kwaliteit produksies aanbied. Hier tree die kunstenaar op met rou energie en kan die klein gehoor met ’n glasie wyn in die hand byvoorbeeld luister na ’n kunstenaar bloot op sy kitaar, geen foefies nie. Kunstenaars soos Jannie du Toit, Mauritz Lotz, Laurinda Hofmeyr, De Klerk Oelofse en Koos van der Merwe en die opwindende vars stem Des-Lee McKenzie is voorbeelde van kunstenaars wie se spesifieke produksies mens nie noodwendig in ’n groot saal wil aanbied nie.

Maar natuurlik kos dit steeds geld, die feit dat die lokaal net 100 teatergangers toelaat verminder nie die feit dat ons steeds die lokaal moet inrig en beman met tegnici nie, dat kunstenaars steeds moet reis, eet en iewers bly nie en kan Aardklop nie op sy eie hierdie niche-projek befonds nie. Sonder ondersteuning sal die projek, wat ons graag wil behou en uitbou, in die stof byt.

Die konsep binne ons groter prentjie is ook belangrik: Ons wil vir verskillende kustenaars en verskillende gehore iets bied – nie alle feesgangers stel in die groter of meer kommersiële produksies belang nie. Ons glo Aardklop bied ook ’n “eiland van uitnemendheid”.

Lees volle storie

Triomfkonsert samel R53 000 in vir Triomfkliniek

Triomfkliniek wil al lankal tandartsdienste aanbied, maar die toerusting is duur en die begroting nie baie groot nie, veral omdat die behoefte aan mediese sorg so groot is. Maar Atterbury Trust se netwerk bestaan uit wonderlike mense met ruim harte en mens staan gereeld verstom oor die slim planne wat uitgedink word om ’n goeie daad te doen. So het een van ons vennote op die idee gekom om ’n musiekkonsert te hou ten bate van Triomfkliniek. Ons gesels met Dirk Pelser, die man wat die trein op die spoor gehou het.

Waar het die idee van die konsert vandaan gekom en hoekom juis ’n musiekkonsert?
Verryn Matlhare Prokureurs is van die begin betrokke as regsadviseur toe die Triomfkliniek-projek begin het.  Ek doen al Verryn Matlhare Prokureurs se bemarking en openbare betrekkinge en dit was ons direkteur Ferdi Verryn se blink idee om iets vir Triomfkliniek te doen om bietjie terug te gee. Hy het reeds die mense geken, so dit was ’n maklike keuse. Omdat ek self ook my voet in die vermaaklikheidsbedryf het, het ons natuurlik gedink kom ons hou ’n musiekvertoning. En ons weet dat Atterbury Teater aan Atterbury Trust behoort, so alles het sin gemaak.

Wat was die oogmerk met die konsert – wat wou julle bereik?
Ons het besluit die opbrengs van alle kaartjieverkope gaan aan Triomfkliniek se tandartsprojek.

Hoe het julle op die spesifieke kunstenaars besluit? Het jy al voorheen met Jo Black en die ander saamgewerk?
Omdat ek reeds met baie van hulle te doen het in my persoonlike hoedanigheid, was dit nie te moeilik om met die regte mense te praat nie. Die kunstenaars van die aand (Jo Black, Appel, Lizz Meiring en Jacqueline Tolken) was almal bereid om ons te help en dit het (sonder dat ons dit so beplan het) op ’n tema uitgeloop van “Nuwe Hoop”.  Ons almal soek tog hoop vir ’n beter toekoms.

Lees volle storie

Syfers en note

Vanjaar se wenner van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie het seker die trotsste ma ooit… as een van die organiseerders van die kompetisie weet Marichen Kapp Nel hoe hoog die standard elke jaar moet wees. Wat ’n trotse oomblik toe haar 16-jarige seun dus vanjaar die algehele prys wen. Ons het met Louis Nel gesels kort na sy groot aand en gehoor dat hy nie net talentvol is met note nie, maar ’n passie het vir wiskunde en syfers. Ons hoor ook van verlede jaar se algehele wenner, Swunhtat Oo van Harrismith, wat hy alles uitgerig het in die jaar sedert hy die groot prys verwerf het.

Baie geluk met jou prys. Nadat jy in 2016 die wenner was van die 15 jaar en jonger kategorie en algeheel derde was, het jy gedink jy staan dalk vanjaar ’n kans om te wen?
Ek het gedink dat ek ’n kans het om goed te doen, maar ek het nie verwag dat ek sou wen nie. Daar was ’n paar kinders wat ek voorheen gehoor speel het wat ek geweet het baie goed is.

Jou ma is op die reëlingskomitee van die kompetisie, so ek neem aan julle LEWE klaviermusiek in julle huis? Is daar nog musikales in die onder julle?
Ek het ’n jonger suster wat fluit speel en baie sportief is. My ouma was ’n klavieronderwyseres. Die res van my familie het egter nie musiek geneem nie, maar almal stel daarin belang.

Ons hoor jy is tans in Graad 10 by St Alban’s College. Het jy tussen die klavierspeel deur tyd vir enige ander tydverdrywe?
Ek het, ja, ek lees graag, en ek sal sê wiskunde en programmering is my stokperdjies.

Watter pryse het jy alles gewen benewens die grote as algehele wenner?
Ek het die pryse gewen vir die beste barok, romantiese en moderne stukke. Ek was ook die wenner in die 19 jaar en jonger kategorie.

Hoeveel het jy gewen, en het jy al besluit wat jy daarmee gaan maak?
My totale prysgeld is omtrent R55 000. Ek gaan dit in aandele belê.

Lees volle storie
Atterbury Nasionale Klavier Kompetisie 2016

Klaviervirtuoso raap die pryse op

Die algehele wenner van 2016 se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is ’n onpretensieuse, plat-op-die-aarde 17-jarige van Harrismith, met ’n eksotiese naam danksy sy Burmese agtergrond en ’n paar hande wat 12 note op ’n klavier in een vat kan raakvat. Hierdie presteerder is ook ’n uithaler danser en naelloper en die eerste leerling in sy skool se geskiedenis wat die wit erebaadjie mag dra vir sy uitmuntende akademiese prestasie (sy jaargemiddelde is sedert Graad 1 altyd 80%) en ook vir dienslewering (dubbeld die aantal ure in die afgelope jaar diens aan die skool gelewer; meer as 120 uur oor ses jaar). Ons het Swunhtat Oo ’n paar dae na sy triomfantelike aand opgespoor vir ’n geselsie.

Eerstens, hoe spreek ons jou naam reg uit?
Dis “Swan-tah”. My vriende noem my Swan. Jy weet jou naam is buitengewoon as jy die enigste een op Facebook is. Daar is wel vier Swunhtats, maar hulle is almal ek… ek het die wagwoorde vergeet!

Jy is in Suid-Afrika gebore, né?
Ja, nogal ewe in Betlehem. Ek kan ’n bietjie Afrikaans praat, maar my woordeskat laat my soms in die steek.

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is ’n enigste kind, my ouers is van Myanmar in Burma, maar woon al hier van voor ek gebore is. Ek is in Graad 11 aan Harriston Skool in Harrismith, waar ek van Graad 1 was. Volgende jaar is ek hoofseun. Die res van ons familie is oraloor, meestal in Myanmar, maar ook in Singapoer en Kanada.

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust

Liewe Leonie

Ek wil jou en die res van die Atterbury Trustspan bedank dat julle altyd die ekstra myl vir ons stap.

Hierdie jaar het ek die voorreg gehad om die Mindfulness- en Beleggingswerkswinkel by te woon. Dit is vir my so spesiaal dat julle ons nie net finansieël bystaan nie, maar ook as mense verbeter terwyl ons saam hierdie pad stap.

Ek wil dankie sê dat julle die geleentheid skep vir ons om oor dinge soos beleggings en aandele te leer in die veilige omgewing van Atterbury. Ek voel ek kan oom Renier vertrou omdat julle hom vertrou. Julle bied vir my geleenthede waaraan ek nooit andersins blootgestel sou word nie. Julle rus my toe met vaardighede en tegnieke wat ek vir die res van my lewe kan gebruik en ek waardeer dit verskriklik baie.

Mag julle so geseënd wees in die laaste deel van hierdie jaar.

Groete
Sheree Michau
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting