|
|
Januarie en Februarie is altyd besige maande by die Atterbury Trust. Ons het vanjaar ongeveer 240 beursstudente onder ons vlerk en is nou amper klaar met die nagaan van 2016 se uitslae en vasstel van begrotings. Die registrasiegelde vir 2017 asook eerste paaiemente en boekegeld van studente is feitlik alles oorbetaal. Ons het ook sopas ons jaarlikse Atterbury Trust beursfunksie vir studente in en om Pretoria en ook vir ons NWU-studente by ons kantore in die Bloukransgebou gehou. Ongeveer 160 Atterbury personeel en bestaande en alumnistudente het heerlik saamgekuier, mekaar leer ken en nuwe bande gebou.
Die beursfunksie is ’n wonderlike geleentheid om nuwe studente te motiveer, suksesse van bestaande studente te vier en ook te sien hoe ons alumnistudente op die loopbaanleer vorder. En vanjaar is ons weer nie teleurgestel nie. Mandie Human, tans ’n honneurs-student in ondernemingsbestuur by die PUK was verlede jaar die topstudent in die hele ekonomie- en bestuurswetenskappe-fakulteit. Sy het haar graad cum laude behaal. Daar was ’n hele aantal ander studente wat verlede jaar ook hulle grade cum laude behaal het. Baie geluk aan hulle en al die ander ongeveer 42 nuwe graduandi!
Studeer is egter nie al wat ons studente doen nie...
Lees in hierdie uitgawe oor die musikale drome van Hanru Vos, een van ons derdejaar BCom Forensiese Rekeningkunde beursstudente, wat onlangs tot voorsitter van die PUK-koor verkies is. Ons stel ook een van ons nuwelinge bekend: Johann Joubert het pas ’n Matie geword en deel sy verwagtings as ’n eerstejaar in bedryfsingenieurswese op Stellenbosch.
Daar is al hoe meer mense wat sien watter goeie werk die Atterbury Trust doen en donasies maak wat ons die gereedskap gee om nog meer mense te help. Ons het onlangs tot ’n anonieme donateur uit Engeland se aandag getrek… lees hoe sy bydrae vir Layla gaan help om eendag ’n geoktrooieerde rekenmeester te word!
As dit in jou hart lê om ook vanjaar ’n verskil aan ’n behoeftige student se lewe te maak, onthou die Atterbury Trust het die infrastruktuur om ons beursstudente te ondersteun en te mentor. Ons doen dit graag namens ons netwerk van weldoeners wie se donasies aangewend word om verdienstelike jongmense se studiedrome waar te maak. Word gerus deel van hierdie ketting van hoop deur ’n donasie te maak aan die Atterbury Trust beursfonds.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Wie is Hanru as jy by die huis is?
Ek het vir 11 jaar by my ma, ’n onderwyseres, in Pretoria gebly. In Graad 6 het ek en my broer by my pa in Naboomspruit gaan bly, waar ek my hele hoërskoolloopbaan in Hoërskool Hans Strijdom was. Ons het op ’n plaas net buite Naboomspruit gebly – my pa het op daardie stadium ’n wildsplaas bestuur. Ek sal daardie dae vir niks verruil nie. Ons is altesaam vyf kinders; ek het 25-jarige tweeling stiefsusters; ’n 24-jarige broer en my jonger halfbroer wat 17 is. Ons is ’n baie hegte familie; hulle is vir my baie belangrik.
Hoe het jy by die Atterburybeurs uitgekom?
’n Kennis van my ma het ook ’n beurs by Atterbury gehad. Sy het vertel hoe die proses werk en dat sy baie dankbaar was vir die geleentheid wat haar kind gehad het.
Wat was plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Eerlikwaar weet ek nie. My eerstejaar was nog hanteerbaar omdat ek met goeie matriekpunte ’n 100% merietebeurs by die universiteit gekry het wat klasgelde gedek het. Toe was dit maar net koshuis en etes, en tog was die finansiële druk steeds swaar. Maar die universiteit gee nie volle merietebeurse vir seniors nie, en nóg die National Student Financial Aid Scheme nóg banke kon ons help. Dit is verseker net genade dat ek by Atterbury kon inkom.
|
|
Johann Joubert (ons hoor sy bynaam op Paul Roos se rugbyveld was “Vlam”), is een van Atterbury se splinternuwe beursstudente, wat pas sy eerstejaar in bedryfsingenieurswese aan Stellenbosch Universiteit begin het. Ons het met die sportmal 18-jarige gesels oor sy eerste indrukke van die studentelewe
Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is in Durbanville gebore en was daar op skool tot Graad 7. Toe is ek Paul Roos Gimnasium toe waar ek ook in die koshuis gebly het. Ek is van kleinsaf mal oor sport… ek speel rugby, waterpolo en onderwater-hokkie en op skool het ek ook nog aan atletiek en tweekamp deelgeneem. Die see is die enigste ding waarvan ek meer hou as sport – enigiets wat met die see te doen het! Ek ry branderplank, ek “kite surf”, ek duik kreef en ek hou selfs my lyf lewensredder as ek enige tyd afkry.
Hoe het jy by die Atterburybeurs uitgekom?
My ma het by ’n kollega van julle beurse gehoor en my toe daarvan vertel.
Wat was jou plan B as jy nie die beurs gekry het nie?
Ek het nie werklik ’n plan B vir finansies gehad nie; ’n beurs was my enigste opsie en daarsonder sou ek nie kon gaan studeer nie. So ek is ongelooflik dankbaar vir die Atterburybeurs.
|
|
Atterbury en GROOTfm 90.5 – omtrent ’n wenspan
|
|
Atterbury Trust het bykans drie jaar gelede in GROOTfm 90.5 belê en is ook betrokke op bestuursvlak. Ons weet ons kan altyd op hierdie mediavennoot van ons staatmaak as ons iets spesiaal wil doen vir die kinders van een van die skole onder die Atterburyvlerk, of as die Triomfkliniek iets nodig het. Hulle doen wonderlike werk om die gemeenskap van Pretoria aan te moedig om betrokke te raak by hul medemens, en tussen die radiostasie GROOTontbyt wat soggens op kykNET kanaal 144 uitgesaai word, deel hulle daagliks soveel positiwiteit. Ons het met Lindie Strydom gesels oor ‘n paar van hulle jongste, en gewildste, inisiatiewe, waarmee hulle mense bymekaarbring.
Watter van die projekte saam met Atterbury lê jou die naaste aan die hart?
Ek deel verseker Atterbury Trust se passie vir opvoeding en opleiding! Ek glo die beste belegging om die jeug van Suid-Afrika se toekoms permanent te verander, is ongetwyfeld opleiding. Dis presies Atterbury Trust se hooffokus en die rede hoekom hulle sedert 1999 al meer as 600 studente gehelp het wat vandag ons land se ingenieurs, ouditeure, advokate en dokters is!
Julle mees bekende volgehoue projek is HOOPstoot. Hoe lank bestaan dit al, en hoe lyk dit nou in 2017?
Die basiese beginsel van HOOPstoot is om aan mense wat reeds ’n pad geloop het om hul eie omstandighede te verbeter, daardie ekstra hup-, oftewel “HOOPstoot” te gee. Ons ondersteun en versterk wat hul reeds self gedoen het en sodoente belê ons in ware hoop. Ons kies spesifiek stories wat ons glo ander ook sal inspireer om eienaarskap en verantwoordelikheid vir hulle lewe te aanvaar. Dan bring ons borge of ander hulpmiddels aan boord en kyk hoe ons die persoon kan help om hulle doel te bereik. Dit is geweldig bevredigend om iemand wat eie inisiatief aan die dag lê daardie ekstra bietjie hulp te gee om hul doel te bereik. En wat wonderlik is, is dat ons luisteraars en kykers kan deelneem, en bydra. As mediaplatform kan ons die stories vertel en hopelik bydra om ’n omgeegemeenskap te bou.
Hoeveel mense het julle reeds so gehelp, en kan jy een storie vir ons uitsonder?
Dis moeilik om ’n spesifieke storie of behoefte uit te lig, want in elkeen het ons gepoog om met ons #GROOTindieklein aanslag (getrou in die onsigbare, onbenullige, klein details) ’n spesifieke behoefte spyker-op-die-kop presies te ontmoet! Ons is baie dankbaar dat ons in 2016 saam met vriende en vennote mense kon help met van ’n rolstoel, scooter en kar, tot Bybels, bome, brille, beurse en warm baadjies, ’n tandartsstoel en operasie, skoene en skryfbehoeftes, kospakkies en kunsgoedere, rekenaars en vrieskaste, JoJo tenks en selfs mooi-maak-bederfgeleenthede!
|
|
Ons Atterbury Trust
Ons deel ’n paar dankies na afloop van die Atterbury Trust beursfunksie
|
|
|
Ek is jammer om eers dié tyd van die aand 'n boodskap te stuur, maar dankbaarheid vra nie tyd nie. Ek is stom. Ek wil vanaand net vir julle as groep dankie sê vir alles wat julle vir ons doen. Dit is een groot geskenk en mag julle nog meer en meer bereik as waarvoor beplan het. Baie dankie. Michael
|
|
|
Ek wil net dankie sê vir die funksie gisteraand en vir die tasse. Ek voel ek kan nie genoeg dankie sê nie! Groete. Richard
|
|
|
Ek het vanaand net weereens besef hoeveel julle omgee vir ons as studente. Baie dankie vir alles en al julle omgee. Ek gaan beslis nie net vir een GRO-sessie ’n jaar kom nie, omdat dis lekker om te sien watter sterk Christelike waardes julle het en hoe oop en eerlik ek kan wees. Baie dankie vir 'n lekker aand. Bianca van Bela-Bela
|
|
|
Ek wil net baie dankie sê vir vanaand. Dit was so spesiaal en lekker. Waardeer dit so baie. Naithan
|
|
|
Ek wil net opreg dankie sê vir die wonderlike geleentheid om te kon deel wees van gisteraand se funksie. Ek het dit ongelooflik baie geniet en sien uit na meer geleenthede waar ek betrokke kan raak.
Dankie vir die pragtige geskenk en al die oorvloedige ondersteuning en omgee!
Vriendelike groete Mandie Human
|
|
|
It was so lovely finally meeting you and some of the team on Tuesday. It was so lovely mingling with fellow students with different backgrounds and inspiring stories. I got to chat to Jolene who is in matric... haha we had lovely chats about high school and what we want to do.
Thanks a lot for this lovely opportunity again, I can't wait to link up again.
Kind Regards Layla Mayambala
|
|
|
|
|
|
|