|
|
Dit was ’n wonderlike voorreg om as hoofborg van die Cool Capital biënnale wat in 2014 in Pretoria aangebied is, die openingsfunksie van die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die 15de La Biennale di Venezia by te woon. Die Department van Kuns en Kultuur het Mathews & Associates as die kurator van Suid-Afrika se pawiljoen aangewys en hulle het die Cool Capital-projek as Suid-Afrika se uitstalling gekies. Die tema was “Reporting from the front” en die doel was dus om terug te rapporteer oor ’n gebeurtenis wat reeds plaasgevind het. Die meer as 150 projekte wat deel gevorm het van die “doen-dit-self” guerrilla Cool Capital biënnale was dus ’n logiese keuse van ’n daadwerklike inisiatief waar gewone mense, kunstenaars en besighede betrokke geraak het om hulle stad ’n beter plek vir almal te maak.
Wat vir my die meeste beteken het was die 20 stoele van Garsfontein se projek as deel van die skoleprojek wat deur Atterbury befonds is. Die stoele was sentraal tot die Suid-Afrikaanse pawiljoen en is as teater uitgestal. Elke stoel het verskillende aspekte van lewe in Pretoria uitgebeeld en het baie aandag in Venesië getrek. Lees gerus meer daaroor in die onderhoud met Pieter Mathews. Tot die invloedryke The Venice Insider verwys na die Suid-Afrikaanse pawiljoen en spesifiek die Garsfontein Hoërskool se stoele, as een van die hoogtepunte van vanjaar se biënnale!
Die sluitingsdatum vir ons beursonderhoude kom nou vinnig nader en ons het reeds begin met beursonderhoude. Daar is tans ongeveer 200 studente wat vanjaar aan verskillende tersiêre instansies studeer, met 50 studente wat in 2015 graad gevang het. Ons hoop om vanjaar weer ’n hele aantal verdienstelike studente by te kry! Onthou asseblief dat ons ’n PBO is en vir jou bydrae tot die Trust kan ons ’n Artikel 18-A sertifikaat verskaf wat verseker dat jou donasie belastingaftrekbaar is.
Lees in hierdie Omgeenuus ook meer oor die Adopt Moreletaspruitkompetisie waar Atterbury Trust betrokke geraak het by Wêreldomgewingsdag, en meer as 170 inskrywings vir ’n plakkaatkompetisie ontvang is ter bewusmaking van besoedeling.
Ons sien ook baie uit na die Boekejol- en Filmrolfees wat van 18 tot 21 Augustus by Lynnwood Bridge aangebied word. Maak solank ’n nota in jou dagboek vir die boekbesprekings met jou gunsteling Afrikaanse skrywers!
En laaste, maar nie die minste nie..! Ons hier by Atterbury Trust is ook mos nie “op ons bek geval nie” en vanweê ons betrokkenheid by die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) ondersteun ons die nuwe VarsGeBek inisiatief en is ons betrokke by die paneel wat nuutskeppings in Afrikaans beoordeel om só te verseker dat Afrikaans nuut en lewenskragtig bly. Sien die VarsGeBek artikel en stuur jou nuwe Afrikaanse woorde in! Daar is groot pryse, ook studiebeurse vir hoërskoolleerders, om te wen!
|
|
Video
Johrné van Huyssteen praat met Zahn Hulme van die Atterbury Trust en argitek Pieter Mathews van Mathews & Associates oor die Cool Capital projek
|
|
|
Pretoria verower Venesië!
|
|
Om na die Venesiese Argitektuur Biënnale genooi te word, is soos om te hoor jy gaan Oscars toe, en om boonop gevra te word om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig met jou uitstalling, voel soos om self die Oscar te wen! As hoofborg van die oorspronklike 2014 Cool Capital in Pretoria was Atterbury Cool Capital se trotse “plus een” by die amptelike opening in Venesië op 27 Mei. Ons gesels met die kurator, Pieter Mathews, oor hierdie groot eer wat Pretoria te beurt geval het.
Wanneer het julle gehoor julle is aangestel as die kurators vir die Suid-Afrikaanse pawiljoen by die Venesiese Argitektuur Biënnale, en wat was jou eerste reaksie?
Ons is op 22 Maart 2016 amptelik aangestel. So is ons dus net meer as agt weke gegee om te ontwerp en vervaardig, en vervoer, doeane, verskeping, verblyf en nog vele meer reëlings te tref! Om die tydsfaktor in perspektief te plaas: normaalweg het kurators meer as ’n jaar-en-’n-half tyd om te beplan. Ek was in Botswana toe die nuus kom en die kantoor moes my naarstiglik probeer opspoor. My eerste opdrag was dat hulle die Stigting in Venesië moet bel en oortuig om Suid-Afrika in die internasionale katalogus te kry. Dit is dus die eerste keer dat ons in hierdie gesogte publikasie opgeneem is.
Wat presies gebeur by die Biënnale en hoekom is dit so ’n groot eer om as kurator gekies te word?
Die Venesiese Biënnale is waar die beste idees van regoor die planeet ten toon gestel word. Dit is ook die mees gesogte Biënnale, of skouspel van idees; deels vanweë die groot en langdurige nalatenskap en ook vanweë die plek waar die stigting geleë is. Elke land het die voorreg om hul kurator of kurators te kies om die spesifieke land op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Dit het my die geleentheid gegee om van die wêreld se beste argitekte te ontmoet, insluitende meeste van my argitektuur-ikone. Die Biennale fokus afwisselend een jaar op kuns en die daaropvolgende jaar op argitektuur.
|
|
Kompetisie wys behoefte aan omgewingsopvoeding
|
|
Hoeveel inskrywings het julle ontvang vir die kompetisie?
Daar was ’n totaal van 170!
Hoe was die standaard – het die kinders met innovatiewe idees vorendag gekom?
In die laerskoolkategorie was die standaard bevredigend, maar ongelukkig het die hoërskole nie baie inskrywings opgelewer nie, en hulle standaard was nie so hoog soos ons gehoop het nie. Daar was ’n paar innovatiewe idees, maar dit is ook baie duidelik dat baie werk nog voorlê om kinders bewus te maak van die kwessies rondom ons plaaslike riviere en hul opvanggebiede. Dit was duidelik dat die passie van onderwysers by die onderskeie skole ’n groot impak gehad het op die uiteindelike kwaliteit en hoeveelheid inskrywings.
Wie het die pryse gewen?
Daar was baie nadruk op waterbesparing en die maniere waarop mense water gebruik, en misbruik. Daar was twee laerskoolkategoriëe en twee vir hoërskole en die wenners was as volg:
Graad 1–4: Isobel Govender-Bateman (Laerskool Glenstantia)
Graad 5–7: Jennifer Mouton (Laerskool Lynnwood)
Graad 9–10: Chioma Okoye (Hoërskool Willowridge)
Graad 11–12: Thabiso Setlau (Lehlabile Sekondêre Skool)
Laerskool Lynnwood en Mahube Valley Primary School in Mamelodi het die skolepryse ontvang vir die skole met die meeste inskrywings.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Vroeë kykie na vanjaar se Boekejol- en Filmrolfees
|
|
Atterbury Trust het verlede jaar ons betrokkenheid by Pretoria se eerste Boekejol- en Filmrolfees terdeë geniet, en is baie trots om vanjaar weer as hoofborg betrokke te wees. Die oogmerk van die fees – om ’n liefde vir lees aan te wakker en waardering te kweek vir die krag van woorde in Afrikaans – is so reg in ons kraal!
Vanjaar se fees, wat van 17 tot 21 Augustus plaasvind is selfs groter en beter, en in lyn met Atterbury se ondersteuning van opvoeding, reël ons dié keer ook spesiale aktiwiteite vir skole. Baie van die aanbiedings gebeur weer by die Atterburyteater, en die hele Lynnwood Bridge sit handjie by met spesiale promosies om die feestyd spesiaal te maak. Ons het die agtergrond gaan kry by die organiseerder en aanbieder, Dia van Staden. Saam met haar bekwame bestuurspan wat Graffiti boekwinkel se Sonja van Rensburg, Zahn van Atterbury, Paulette Reyneke van die Atterbury Teater en Yolande Steyn van Citadel insluit, gaan vanjaar se Boekejol een vir die boeke wees!
Wanneer is die besluit geneem om die fees weer vanjaar aan te bied?
Dit was voor 2015 se fees al die plan dat dit ’n jaarlikse instelling sou word. Ek poog om nooit so iets slegs een keer te doen nie.
Was daar enige spesifieke uitdagings om die fees weer aan te bied? Wat beteken Atterbury se betrokkenheid vir jou?
Daar is altyd uitdagings, en dit laat jou as mens ook groei. Die bou van ‘n nuwe netwerk in ’n nuwe stad was seker my grootste uitdaging, maar ook my grootste vreugde. Mense is my kos. Atterbury Trust se betrokkenheid verseker dat daar kwaliteit skrywers genooi kan word en Atterbury se trots lê ook in kwaliteit en verskeidenheid opgesluit. Die publiek moet bederf word met die beste wat die skrywerskorps tans kan bied.
Is die program reeds gefinaliseer en kan jy al hoogtepunte met ons deel?
Ja en ja! Daar is baie hoogtepunte waarna die publiek kan uitsien. Die program sluit skrywers soos Deon Meyer, Carla van der Spuy, Bettina Wyngaard, Theuns Eloff, Valda Jansen, Wynand du Toit, Martjie Maré en Danie Marais in. Daar word gedig, gesels, aktueel bepeins en selfs geskryf tydens vanjaar program. Ander hoogtepunte is ’n digitale fotoaanbieding van uitsoek-fotograwe, ’n aktuele sportgesprek oor kwotas, ’n dankdiens wat deur Riekert Botha gehou sal word en ’n keur van musikante wat die verhoog van die Atterbury Teater, saam met uitmuntende skrywers, sal inkleur. Die musikante sluit Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Lize Beekman, Anna Davel, Gisela de Villiers en Robert Brooks in.
|
|
VarsGeBek
vir nuwe Afrikaans
|
|
Hoop jy nog hete kole op iemand se voorhoof, of sit jy eerder iemand in die oë? Het jy ’n Afrikaanse ekwivalent vir “dab” (as ’n fietsryer met sy/haar voet aan die grond raak; iets wat bergfietsryers vermy), ’n “bae” (“before anyone else”), of “YOLO” (“You only live once”)?
VarsGeBek is ’n splinternuwe kompetisie wat alle sprekers van Afrikaans die geleentheid bied om nuutskeppings, vars uitdrukkings of nuwe idiome in te stuur en daarmee lekker pryse los te slaan.
Afrikaans is ’n polsende, lewenskragtige taal met ’n enorme reikwydte, maar soos enige ander lewende taal, is daar uitdrukkings en woorde wat in die volksmond bestaan wat nie in woordeboeke opgeteken word nie. Daarbenewens het ons vaktaal nodig wat met ons geïndustrialiseerde en gedigitaliseerde wêreld moet tred hou.
Taalgebruikers het die geleentheid om sulke nuwe woorde, vakterme, uitdrukkings, idiome of streektaal wat nog nie in woordeboeke of ander taalbronne opgeteken is nie, by VarsGeBek in te skryf. ’n Paneel kundiges sal elke maand die inskrywings beoordeel en ’n weninskrywing aanwys. Die wins vir die taal is dat al die inskrywings aan leksikograwe voorgelê word vir moontlike opname in woordeboeke en databasisse – en so bewaar ons ’n erfenis vir die hele taalgemeenskap.
Daar is twee kategorieë waarvoor deelnemers kan inskryf. In die Sêgoed-kategorie kan enige talige skepping wat nuut, vars of onbekend is, ingeskryf word. Daar is elke maand ’n wenner en aan die einde van die jaar word VarsGeBek se algehele wenner aangekondig. Daarvoor is daar ook ’n gewigtige prys op die spel.
Daar is nog ’n kategorie, Kykgoed, waar grafiese voorstellings van bestaande of nuwe woorde en idiome ingestuur kan word. Dit kan ’n prent, foto, grafiese ontwerp, illustrasie, video of animasievideo wees, solank dit ’n eg Afrikaanse woord of uitdrukking uitbeeld. Enigiemand kan deelneem, maar ’n graad 11- of 12-leerder kan ’n studiebeurs van R150 000 in hierdie kategorie wen. Skole en leerders word dus veral aangemoedig om hiervoor in te skryf.
|
|
Ons hou duimvas vir Vastfontein
|
|
Vroeër vanjaar het ons berig oor hoe twee van Atterbury se beursalumni, susters Chrisna en Rolindi Devenish, ’n groep behoeftige kinders van die NPO Vastfontein Community Transformation op ‘n seevakansie geneem het. Nou staan Vastfontein ’n kans om ’n internasionale skenking van bykans R150 000 te wen, om ’n mediasentrum vir die kinders in te rig, en almal hou duimvas dat hulle genoeg aanlyn stemme gekry het, vertel Chrisna.
Vertel ons meer!
Fluor is ’n Fortune 500 maatskappy wat wêreldwyd projekte vir diverse kliënte bestuur, en hulle het ’n globale gemeenskapsprojekfonds waaruit hulle jaarliks 10 projekte van reg oor die wêreld befonds met ’n skenking van $10 000 elk. Die idee is om behoeftige gemeenskappe internasionaal op te hef, en dit werk op ’n nominasiebasis. Om ’n lang storie kort te maak, Vastfontein en die projek wat ons graag sou befonds is genomineer, en toe deur Fluor aangewys as een van die 30 finaliste! Dis is sulke wonderlike nuus, want die Vastfontein Batho Pele Christian School doen ondanks swaarkry sulke wonderlike werk, en met die skenking kan ’n mediasentrum ingerig word wat die skool en sy leerders vir jare sal baat met topklas opvoedkundige hulpbronne.
Wie is die ander finaliste?
Daar is projekte van regoor die wêreld, maar Vastfontein is die enigste Suid-Afrikaanse projek – daar was 11 inskrywings uit ons land, maar Fluor het ons projek geidentifiseer as die een wat die beste kans staan om ’n groot verskil te maak.
En hoe word die wenners gekies?
Die projekte met die meeste aanlyn stemme wen – vyf uit die VSA en dan vyf uit die res van die wêreld. Die stemme het gesluit, so ons wag nou om te hoor hoe ons gedoen het! Stem is so maklik soos om die “stem” knoppie te kliek; en die 10 finaliste met die meeste stemme, wen die skenkings. Dis so eenvoudig soos dit.
|
|
The Venice Insider ons

Dit lyk asof Cool Capital, ons hoofstad se guerilla biënnale wat Atterbury Trust ondersteun, steeds in die nuus is in Venesië. Die invloedryke webtuiste The Venice Insider het onlangs hul gunsteling uitstallings van die Venesië Biënnale se Arsenale-saal bekendgemaak.
Suid-Afrika se uitstalling daar, geskep deur Cool Capital, word genoem as een wat nie gemis moet word nie. Volgens The Venice Insider is die Cool Capital projek van spesiaal-geverfde stoele met historiese gebeure en mense gebruik om Pretoria se unieke kultuur aan besoekers van die “Teater van Stoele” bekend te stel.
http://www.theveniceinsider.com/12-exhibitions-2016-architecture-biennale/
|
|
|
Gholfdag ten bate van Die Krans
Atterbury Trust het ’n 50% aandeel in die geboue van Laerskool Die Krans bekom.
Laerskool Die Krans, met die ondersteuning van Atterbury Trust, hou op 22 Julie ’n gholfdag om fondse in te samel om die skool verder uit te brei. Die fondse sal aangewend word om verbouings te doen sodat daar volgende jaar plek kan wees vir die eerste Graad 6 klasse en die tweede Graad 4 klas.
|
|
|
|
|
|