|
|
“Die afgelope Saterdag se drie-uur-lange Manna vir die Boere-konsert is afgesluit met ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’. Toe Laurika Rauch se fluweelstem die tweede versie se refrein “O stuur ons net ’n bietjie reën” inlei, voel ek die eerste fyn reëndruppels op my skouers, en weet dat God ons hoor. En help.
“Ek was gelukkig om ’n Oupa en Ouma Bosveld en ook ’n Oupa en Ouma Vrystaat te gehad het. Soos baie van my landgenote het ek kosbare herinneringe van grootwordjare se vakansietye op die plaas – van Brahmanbeeste, skape, geil koringlande en sonneblomme. Van water – ’n groot Vrystaatse plaasdam en ’n vol Pongolarivier. Baie van ons het ’n prentjie van ’n plaas iewers op ons lewenspad. Ek dink dis een van die redes waarom die huidige droogte ons almal so aan die siel raak.
“Op die lang pad Kaap toe en terug tydens die afgelope Desembervakansie deur die Vrystaat, die Karoo, Noord-Kaap, Noord-Wes en Natal, was dit duidelik dat ons boere swaar kry. ’n Landskap van leë geploegde lande, bloedrooi droë grond, maer diere en verskroeide mielies.
“Gelukkig is daar altyd Suid-Afrikaners wat planne maak.
“Adam Tas is een van daardie mense. Die droogte het hom so aangegryp dat hy besluit het om ’n konsert te hou vir die boere. Caring Daisies het daad by die woord gevoeg en begin voer bymekaarmaak. Tonele van die eerste konvooi trokke met 496 bale voer uit Standerton na Schweizer-Reneke op 17 Januarie het baie mense se harte aangegryp.
“Groot borge het aan boord gekom – Wildswinkel, Toyota, Hinterland Vleishandelaars, Atterbury. Ons wou dié konsert ’n grote maak. Atterbury Teater se Matthys Maree en Alexa Strachan het met die groot name in die bedryf gaan praat en binne dae het 12 van Suid-Afrika se topkunstenaars aangebied om gratis op te tree. Hulle wou help om manna vir die boere los te sing by die Voortrekkermonument se Amfiteater.
“GROOTfm90.5, Media24, kykNET, RSG en KingPrice het met bemarking gehelp. Meer borge het aangesluit: John Deere en Pilanesberg Game Breeders. By Piet du Toit Wildbedryf se onlangse veiling is die R800 000 opbrengs uit die verkoop van ’n swart impala ook aan Manna geskenk. Bakkies Botha en ’n paar van sy wildsboervriende het op die dag ’n tjek vir R400 000 uitgeskryf.
“Maar dis die ondersteuning van ‘gewone mense’ wat my sal bybly. Dié wat van ver af gekom het. Elkeen van die ongeveer 8 000 Suid-Afrikaners wat ’n kaartjie gekoop het om ons boere te ondersteun. Manna bymekaar te maak. Want daar is ’n lang winter wat nog voorlê. Mag Saterdag se Manna hoop gee. En geloof. En nog ’n bietjie reën.”
Die nood bly hoog en donasies is steeds welkom. Vir meer inligting, kontak Anria van Heerden van Caring Daisies, anria@anriavanheerden.co.za. of skenk aan Caring Daisies by Rand Merchant Bank (FNB), Takkode: 222-026, rekeningnommer: 62321551906, Verwysing: Manna
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Om “Dokter” voor jou naam te kan skryf…
Dis ’n baie lang pad na dokter word, en Atterbury se beurspaneel is vanjaar besonder trots op ons heel eerste driemanskap van gekwalifiseerde dokters. Lané Dorman vertel ons hoe dit voel om MB ChB agter haar naam te kan skryf…
Vertel ons hoe jou paadjie met Atterbury s’n gekruis het.
Ek het in my matriekjaar by een van my vriende van Atterbury Trust gehoor, en was so dankbaar om te hoor daar is so ’n wonderlike besigheid wat mense met groot drome en min geleentheid soos ek wou help. Ek en my beste vriendin het saam aansoek gedoen, en was gelukkig genoeg om altwee geseën te word met studiebeurse. Ek het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, en het al ses jare saam met Atterbury en die span deurgebring.
Hoe voel dit nou om “Dokter” voor jou naam te kan skryf?
Dit voel onwerklik om myself ’n dokter te noem, veral in die oomblikke waar ek nog onseker en bang voel (waarvan daar redelik baie is!). As mense my roep as “Dokter Dorman”, moet ek twee keer omkyk, omdat ek nie altyd seker is dat ek reg gehoor het nie! Ek voel vreeslik geëerd om nou hierdie mylpaal te kon bereik, maar sou dit nie kon doen sonder baie harde werk, bystand van al my geliefdes, en natuurlik Atterbury Trust se finansiële ondersteuning nie.
Was dokter-word ‘n kinderdroom van jou?
O nee, die idee daarvan het my altyd bietjie gegril! Ek wou altyd ’n prokureur word, maar ek het later besef dat my hart te sag en te groot is om regte aan te durf.
|
|
Twee broers, twee beurse!
|
|
’n Nuwe akademiese jaar beteken 65 nuwe Atterbury Trust beursstudente tree aan vir registrasie, en in party gevalle sommer twee boeties uit dieselfde familie! Ruan Haasbroek het pas as eerstejaartjie begin by Noordwes-Universiteit, waar sy broer Lian nou in sy derdejaar in Meganiese Ingenieurswese is…
Gee vir ons ’n kort skets van julle familie en waar julle vandaan kom en skoolgegaan het.
Lian: My ma, pa en Ruan en ek is ’n baie hegte gesin, en ons bly in Potchefstroom. Ek is 20 en Lian 18. My ma-hulle was vier kinders en die hele familie kuier gereeld bymekaar en ondersteun mekaar altyd. Ons geniet veral die jonger niggies en neef. Ons oudste niggie is nou vyfde jaar op die PUK (besig met haar tweede graad) en haar suster is nou tweede jaar en volgende jaar kom hul broer ook – dan is vyf van ons almal gelyktydig op die PUK. Ons is albei baie lief vir sport en visvang.
Hoe het julle deel van die Atterburyfamilie geword?
Lian: Ons ma ken die maatskappy omdat sy ’n klein eiendomsagentskap het, en sy het ’n tyd gelede vir Mnr. Louis Van der Watt op die televisie hoor praat oor die Atterbury Trust se beursgeleenthede. Sy was baie beïndruk met hom, omdat hy so ’n “mense” mens is. Toe het albei ek en Ruan aansoek gedoen, en dis nou ons albei se eerste jaar in die program.
Ruan, wat was jou Plan B as jy nie die beurs sou kry nie?
Ons het gelyk aansoek gedoen, maar regtig nie gedink, dat ons so bevoorreg sou wees om albei beurse te kry nie. My Plan B was ’n sportbeurs. Dit het ook intussen gerealiseer, maar die sportbeurs betaal slegs ’n deel van my kursus en Atterbury dek die grootste gedeelte.
|
|
Cool Capital 2016 – dis weer tyd vir skolekuns!
|
|
Die eerste Cool Capital Biënnale, in 2014, was ’n dawerende sukses en die Jakarandastad se mense het met oorgawe deelgeneem aan hierdie “DIY guerrilla” ontwerpfees, die eerste van sy soort ter wêreld. En soos dit gaan met biënnales, is dit al weer twee jaar later, en die inwoners van SA se hoofstad word ’n tweede keer betrek om deel te neem aan die opwindende kuns- en ontwerp-installasies en -ingrypings van Cool Capital 2016. Vanjaar se fees vind vanaf 23 September tot 31 Oktober regoor Pretoria plaas.
Die Hoërskool Kunsprojek is een van die hoofprojekte van die biënnale, en sal weer gelei word deur Debbie Cloete. Elke skool sal saam met ’n praktiserende kunstenaar werk om op die skoolgrond ’n kunsinstallasie te skep volgens die biënnale se tema “Klein is Groot”. Volgens die organiseerders is die fokus op klein openbare kuns- en ontwerpaktiwiteite wat groot impak kan hê.
|
|
Atterbury Trust Beursfunksie
|
|
Die jaarlikse Atterbury Trust beursfunksie is deur ongeveer 130 Atterbury beursstudente van die Pretoria-omgewing sowel as Atterbury en Attacq personeel bygewoon. Ons het die funksie by die Bloukransgebou by Lynnwood Bridge gehou. Tydens die geleentheid het studente mekaar ontmoet en ook die kans gehad om alumni-studente en personeel te ontmoet wat as mentors gaan optree.
Ons het ’n melkskommelkafee met gemaklike sitplekke en ’n sitkamer vir “nuuskierige gesels” geskep.
Padkafeekos soos hoendersosaties, kaasburgers met slap “chips”, mayonnaise en tamatiesous, mieliewarmbrakke, bloubessietert en wafels is bedien.
Twee alumni, Wiehann Fourie en Percival van der Walt, wat in 2015 grade behaal het, het hulle ervaring gedeel van wat die Atterbury Trust en sy mense oor hulle studiejare vir hulle beteken het.
Daar is vanjaar ongeveer 200 studente wat regoor Suid-Afrika met die hulp van die Atterbury Trust studeer. In 2015 het 56 studente grade behaal.
Daar was oral spatsels geel te bespeur in die dekor vir die aand. Sonskyn se kleur is geel. Dit word met vreugde, geluk, intellek en energie vereenselwig. Geel verteenwoordig elke emosie en sosiale media status opdatering se “emoji” wat Atterbury Trust graag onder die studente wat hulle borg en ondersteun wil skep. By Atterbury Trust wil ons juis alles wat geel verteenwoordig aanwakker by die studente wat ons borg en ondersteun.
|
|
Ons Atterbury Trust
Môre aan almal by VivA Afrikaans en Atterbury Trust!
Hoop julle het 'n geseënde jaar en dat Afrikaans GROOT sal wees en bly!
Ek wil julle net weereens bedank vir die geskenkbewys wat Werner tydens verlede jaar se VivA/Atterbury Trust idioomkompetisie gewen het - hy het baie goeie diens ontvang by BlueTek en ons kan hulle sterk aanbeveel!
Ek wil julle ook graag inlig dat Werner aangewys is as die beste Graad 8 (Form 1) leerling in Afrikaans in Boys High. Hy het die toekenning gewen vir laasjaar se prestasies in Afrikaans! Ons is baie trots op hom! Hy sal hard werk om die toekenning weer in Form 2 te ontvang, en sodoende ook sy passie vir die taal uit te leef!
Groete
Marené Bronkhorst
|
|
|
|
Fondsinsamelingskonsert vir KANSA
Atterbury Teater en Atterbury Trust bied met trots op 7 April ’n aandjie uit aan ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Twee van die land se mees geliefde sangers, André Schwartz en Arina de Witt, span saam vir “One Enchanted Evening for Cansa” en die opbrengs van alle kaartjieverkope word geskenk aan die nie-vir-profyt organisasie wat met soveel deernis sorg en ondersteuning aan kankerpasiënte verskaf.
Verhoogveteraan André Schwartz is bekend vir sy wêreldklas vertolking van die titelkarakter in Sir Andrew Lloyd Webber se gewilde musiekblyspel The Phantom of the Opera. Hierdie veelsydige kunstenaar het 13 albums op sy kerfstok, heelparty met goue status en kan sy goue stem aanwend vir ’n verskeidenheid van style, van moderne Afrikaanse musiek en musiekblyspele tot “big-band” treffers. Menige van André se oorspronklike liedjies het al volksbesit geraak; dink maar aan treffers soos “Lief Vir Alles Hier”, “Ek Wil Jou Nooit Weer Sien”, “Kom Terug” en “Met Jou in My Lewe”.
Sy sangmaat vir die aand, Arina de Wit, is self ’n veteraan wat talle albums uitgereik het en ’n ou bekende is op televisie en verhoogoptredes regoor die land. Sy het nie net ’n nagtegaalstem nie, maar ook ’n repertoire van tydlose treffers in verskillende tale en genres; en die vertoning sal dan ook musiek in Afrikaans, Frans, Engels en Italiaans insluit.
“As jy lus is vir ’n aand van sielsverkwikkende musiek wat boonop ’n goeie doel ondersteun, maak seker jy bring vriende en familie en kom geniet hierdie spesiale eenmalige konsert,” sê Munnik Marais van Kansa.
Die 80-minute-lange konsert begin om 19:00 op 7 April en kaartjies is teen R150 elk by Computicket en op die volgende webwerf beskikbaar: http://www.cansa.org.za/one-enchanted-evening-for-cansa-7-apr-2016/
Een gelukkige kaartjiehouer in die gehoor sal ook ’n prys ter waarde van R6 100 wen: twee nagte, met ontbyt, vir twee mense by die baie gewilde Kloofzicht Lodge & Spa in Muldersdrift. Wat ’n lekkerte!
|
|
|
|
|
|