|
|
Lente is in die lug. Nuwe groei, geleenthede en hoop. Dit was ’n verrykende ervaring om die afgelope twee maande in aanraking te kom met soveel potensiële beurshouers, met hoop brandend in hulle harte. Vir hulle eie toekoms, maar ook vir hul families en veral ook vir ons land. En die sleutel wat hierdie potensiaal kan ontsluit is opvoeding. Aan die einde van September kondig ons die nuwe beurse vir 2018 aan – nog 65 jongmense wat die totaal van studente wat oor die jare deur die Trust gehelp is tot bykans 700 gaan bring. In die beursstorie in hierdie uitgawe deel ons ’n “agter die skerms” kykie na ons keuringsproses. Na finansiële behoeftigheid en akademiese prestasie, is ons in die onderhoud sterk op soek na persoonlike dryfkrag, probleemoplossingsvaardighede en optimisme vir die toekoms. Daar moet hoop en ’n sterk wil en droom vir ’n beter toekoms in kandidate sigbaar wees. Ons betrek in elke onderhoud ook twee of drie ander Atterburykollegas wat help om kandidate te evalueer en dan sommer ook loopbaanadvies en inspirasie gee. Dankie aan ons kollegas wat vanjaar tyd gemaak het om hiermee te help!
Atterbury Trust se beurshouers is ’n veelsydige groep – vol talent, met koppe vol groot drome! Ons deel vandeesmaand die storie van die talentvolle Hizel Riffel, derdejaar Musieteaterstudent aan Oakfields College. Hizel het groot drome; van ’n rolletjie in Suidooster, om oorsee te toer met ’n paar goeie produksies en om saam met van Suid-Afrika se ikone te werk. En ’n digbundel publiseer. Dan wil hy ook verder deeltyds studeer, om terug te ploeg in opvoeding. Hy wil ook eendag in onderwys werk – dalk drama aanbied of kleinskaal produksies vir uitreikprogramme doen; opvoedkundige teater by skole. Suiwer inspirasie!
Ons is baie dankbaar oor die nuwe donateurs wat voortdurend aan boord kom. Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH) stap reeds drie jaar die pad met Atterbury Trust deur hul volgehoue hulp aan die Triomfkliniek. Die raad van die ZAH het pas besluit om ’n bedrag te bewillig vir drie ZAH-beurse in ’n mediese rigting – een mediese student en twee verplegingstudente gaan ZAH beurse ontvang wat die Trust sal administreer. Hierdie studente word dan ook vakansiewerk en indiensneming by ZAH gewaarborg.
Baie dankie aan Gerard Braak, Arnold Prinsloo, Tienie van der Berg, Dawie Warmenhoven en die res van die ZAH raad vir julle vertroue in die Atterbury Trust se beursprogram.
Ons nooi graag ons ander sakevennote uit om julle by die groeiende groep donateurs aan te sluit.
’n Tweede been van die Atterbury Trust is kultuur en die uitbou van Afrikaans. Ons is baie opgewonde om betrokke te wees by ons eie Matthys Maree van die Atterbury Teater se drie produksies by vanjaar se Aardklop wat van 2-8 Oktober in Potchefstroom te siene en te hore sal wees. Gaan herleef die betowering van die gewildste Afrikaanse musiek tydens die Afri-Frans: Die Reüniekonsert. Myra Maud, Mathys Roets en Anna Davel is op die verhoog saam met ons land se voorste musikante. Woordenaars is ’n splinternuwe produksie wat ons gaan herinner hoekom Afrikaans veilig is in die pen van skrywers en “rockers” in ons land. Gaan beleef die samebindende krag van musiek, liriek en sosiale kommentaar van Stef Bos, Koos van der Merwe, Herman Kleynhans, Spoegwolf en Jo Black. En dan nostalgie. Drie van die Bestes: 20 jaar later stof ou liedjies uit hulle musikale skatkis op en durf nuwes aan – Danie Niehaus, Kevin Leo, Mathys Roets saam met die orkes van Matthys Maree, Rixi Roman, David Klassen en Mauritz Lotz. Gaan ondersteun ook gerus die vertonings by Atterbury Trust Roots Intiem Teater by Aardklop. Laat jou Afrikaanse hart warm klop by vanjaar se Aardklop!
Daar was aanbiedings van uitmuntende gehalte by die pas afgelope BoekeJol en FilmRolfees wat in Augustus in en om Lynnwood Bridge en die Atterbury Teater aangebied is. Ons wil graag in die toekoms meer en meer mense, veral jongmense, betrek by hierdie stadsfees en ons dinkhoede is op om hierdie fees se formaat te verbeter en uit te bou.
Die derde been van die Trustbedrywighede fokus op die gemeenskap en spesifiek die Triomfkliniek in die weste van Pretoria. Ons hou konsert op 27 September om fondse vir Triomfkliniek in te samel. Die veelsydige Lizz Meiring het haar dienste as seremoniemeester aangebied en kunstenaars soos Jo Black, Appel en Jacqueline Tolken tree op.
Jo se eie storie van verslawing en die pad na herstel wat hy gestap het, is aangrypend en inspirerend. So is sy liedjie “Skepe”, in sy eie woorde: “ ’n Lied wat ek hoop mense sal inspireer om aan te gaan, op te staan en ’n verskil te gaan maak. Dit maak nie saak waar jy in jou lewe is nie, dis nooit te laat om jou kop op te tel en vorentoe te gaan nie. Dis ’n lied wat met jou siel moet praat meer as wat dit vir jou ore bedoel is. Hopelik kry elkeen ’n stukkie hoop hieruit.”
Triomfkliniek is ’n plek van hoop, sorg en omgee, en met die opbrengs van hierdie konsert word daar beoog om die finale afwerking aan die tandartskamer by Triomf aan te bring sodat ons kan begin om pasiënte te ontvang.
Ek daag jou uit om in hierdie Lentemaand ook weer nuut te dink, waar jy jou talente kan gee, betrokke raak en in Jo Black se woorde “aan te gaan, op te staan en ’n verskil te maak”.
|
|
Maak ’n belegging in die toekoms met ’n beursbydrae
|
|
Hierdie tyd van die jaar is Atterbury Trust se beurspaneel druk besig met onderhoude om beurskandidate te identifiseer vir volgende jaar. Dis ’n inspirerende, maar soms ook hartverskeurende proses, omdat daar soveel jong talent en so ’n groot behoefte aan hulp is, terwyl die hulpbronne beperk is. Zahn Hulme vertel meer oor vanjaar se onderhoudveldtog, en hoe enigiemand kan help om ’n verskil te maak aan ’n jongmens se lewe.
Hoeveel beursonderhoude sover? Uit die sowat 400 aansoeke wat ontvang is, hoeveel onderhoude doen julle?
Ons het vanjaar 120 onderhoude gedoen en die land vol gereis om potensiële kandidate te ontmoet. Daar was sowat 70 in Pretoria, 20 in Stellenbosch, 8 in Bloemfontein, 10 in Potchefstroom en nog ’n paar in George en Natal.
Daar sit ten minste twee Atterburypersoneellede saam met die Trustpaneel in elke onderhoud, so as ons die aantal werk-ure wat spandeer word aan die onderhoude bereken, kom ons seker na aan 30 000 ure… ’n Betekenisvolle belegging in die toekoms van jongmense in Suid-Afrika.
Jy het genoem dat julle slegs 65 beurse kan toeken; hoe kies ’n mens?
Ons kom uit by 65 nuwe beursstudente op grond van ons jaarlikse Trustbegroting. Die Trustbegroting word gedoen op grond van die Trust se beleggings en beskikbare fondse. Daar word eerstens gekyk hoeveel van ons bestaande 220 studente van 2017 vang vanjaar graad, aangesien ’n beurs vir drie tot vier jaar se studies loop.
Ons is baie streng in die aanvanklike keuring met die behoeftigheidskriteria; met ander woorde die maandelikse inkomste van die gesin. Die aansoeker se akademiese prestasie, veelsydigheid en ook die voorgenome studierigting word in ag geneem, aangesien ons met inligting tot ons beskikking, met alle waarskynlikheid moet kan verseker dat studente eendag ’n bestaan met hulle gekose loopbaankeuse sal kan maak.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Kreatief in murg en been; dit is hoe mens musiekteaterstudent Hizel Riffel kan opsom. Hierdie vasberade jong kunstenaar is op 21 en in sy derde jaar by Oakfields College in Pretoria reeds ’n verhoogveteraan, wat sy eerste buiging op 16 op die verhoog gemaak het. Ons weet dat ons sy buitengewone naam eendag in ligte sal sien, so neem kennis...
Vertel ons ’n bietjie oor jou agtergrond. En jou naam, wat sommer klaar na ’n verhoognaam klink. Dis Hizel, soos in “fizzle”, reg?
Ek sê gewoontlik vir mense ek kom uit die wyndistrik van Suid-Afrika en die hart van Afrikaans, die Paarl in die Wes-Kaap. Ek was in Paarl Gimnasium van Graad 1 en het by Hoërskool Gim gematrikuleer. Ek het goeie skooltye gehad, mooi herinneringe en baie ondersteunende onderwysers.
My familie is glad nie in die kunste nie, so vir hulle is dit baie opwindend dat ek hierdie pad gekies het. Hulle ondersteun en bid baie vir my. Ek mis hulle, maar ek glo mens offer altyd iets op as jy jou passie volg. Wat my naam betref, my ma was omtrent kreatief met die kies daarvan. Mense spreek dit altyd verkeerd uit; ek kry óf Hazel of iets wat rym met “gazelle”... Eenkeer in saalbyeenkoms op skool het ons nuwe skoolhoof prestasies aangekondig en toe hy by my Eisteddfod-uitslae kom, lees hy “Hazel Riffel”, en neem toe weer aan dis ’n meisie. Hy kyk toe na meisies se kant en sê, “Kom dame, staan op, moenie skaam wees nie.” Baie verleë staan ek toe maar op in die seunskant heel agter. As ek nou daaraan dink is dit eintlik baie snaaks... Maar ja, jy spreek dit uit soos “fizzle”.
Hoe het jy besluit op musiek en drama as jou vakrigting?
Musiek, teater en drama was altyd in my gedagtes. Ek het net nie geweet hoe dit gaan realiseer nie. En op skool het ek ook nie geweet waar mens daarvoor studeer nie. Toe een oggend word ek wakker in Stellenbosch tydens die vakansie. Ek was by my familie, ek was gelukkig, en ek het als gehad. Dit is toe ek besef het dat indien ek bly, gaan ek te gemaklik leef. Rudyard Kipling sê in sy gedig “If” die volgende:
“If you can make one heap of all your winnings / And risk it on one turn of pitch-and-toss / And lose, and start again at your beginnings”... die gedig gaan dan aan en eindig dan met: “Yours is the Earth and everything that’s in it, And – which is more – you’ll be a man, my son.”
Ek het toe begin navorsing gedoen. My filosofie is, ek lewe nie vir gemak nie. Ek wil groei. En vir mense wat altyd vra, “Hoekom Pretoria?” antwoord ek met, “My hart het my gestuur.”
Om op die verhoog te werk is ’n roeping. Daar’s soveel spiritualiteit en geleenthede om ’n verskil te maak op ’n permanente manier. Teater bring genesing en hoop. Teater het ontstaan as ’n plek van aanbidding – vir die antieke Grieke was die teater ’n plek waar hulle hul gode aanbid het. Ek het dit oorweeg om te gaan swot om in die bediening in te gaan, maar teater het net soveel spiritualiteit en ek voel meer vervuld hier waar ek is.
|
|
Die onlangse Boekejol en Filmrolfees was omtrent ’n plesier vir Pretoria se boekwurms. Ons gesels met organiseerder Dia van Staden.
Hoe het die fees afgeloop?
Die fees het ’n groter aantal skrywers en aktuele kenners ingesluit as die vorige twee jaar. Die kwaliteit van deelnemers en gesprekvoering was van hoogstaande gehalte. Ek sou graag baie meer mense by die fees wou gehad het. Ons moet egter onthou, BoekeJol is ’n stadsfees, baie mense werk en daar moet slim gedink word om hulle ook te betrek by die fees.
Wat het jou verras omtrent vanjaar se fees? Was daar ’n onverwagse treffer?
Twee van die treffers was die eerste besoek van Antjie Krog en Etienne van Heerden aan BoekeJol. Die deelname van die leeskringe van Pretoria was ’n lieflike toevoeging tot die inhoud en van die program. Ek het vanjaar ook die wonderlikste hulp van studente gehad; die Atterbury Trust se beursstudente en nog ander van Akademia het van vroeg tot laat die emosies lig gehou. Daar is hard gewerk, maar genoeg gelag ook. Dit was ’n voorreg om dié hardwerkende jongmense in aksie te sien. Hulle maak my opgewonde vir ons toekoms. En hulle lees!
Som vir ons die Boekejol in getalle op: hoeveel skrywers, nuwe boeke, boekpraatjies, en persele gebruik?
Meer as 60 skrywers het deelgeneem en die oorgrote meerderheid boeke wat in die program ingesluit was, is dié wat gedurende hierdie jaar die lees- en boekrakke laat kreun het. Ons het byna 50 boekbesprekings oor die drie dae van die fees gehou waar die publiek die geleentheid gehad het om die skrywers van nader te leer ken. Ons program is by vier verskillende persele aangebied: Atterbury Teater, Citadeli by Citadel, City Lodge Hotel en Alkantrant biblioteek.
|
|
Die slagspreuk “It’s a matter of association” is nie verniet deel van die groter Atterbury leksikon nie, want ons netwerk van medewerkers en vennote is een van ons mees waardevolle hulpbronne. Neem nou maar vir GROOTfm 90.5, Atterbury Trust se gewaardeerde mediavennoot. Jy sal ver moet soek om ’n groep meer passievolle mediamense te kry. Mense soos omroeper Riaan Grobler, by wie ons vandeesmaand gaan kuier het...
Jy sing, jy maak radio en televisie, jy vertel stories, jy bak melktert... hoe het dit alles begin?
Ek is gebore en getoë in Pietersburg/Polokwane. Na skool het ek eers bietjie in die bank gewerk voor ek gaan drama swot het by die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria. Daarna het ek in verskeie verhoogproduksies opgetree waarvan musicals my gunsteling was. Die radiowerk het begin nadat ek as tweedejaarstudent ’n stemtoets by Rippel 90.5 geslaag het – ek het op 17 September 2005 die heel eerste keer agter die mikrofoon ingeskuif. Maar ek wou al as ’n klein seuntjie ’n radio-aanbieder wees. Ek het vas geglo die president het ’n groot masjien (soos in die 80’s film “Honey, I Shrunk the Kids!”) in sy kantoor waar hy mense piepklein maak en binne-in radio’s laat werk. As kleintjie het ek geglo daar is regte egte mense in elke radio en ek wou een van hulle wees!
En hoe het jy by GROOTfm uitgekom?
Ek het by Rippel 90.5fm begin werk, en my beroep het my ook op ’n Kaapse draai geneem waar ek as bemarker in koerante gewerk het. Maar radio was in my bloed, so ek het teruggekeer na Rippel toe, wat op die ou end na ’n oordrag van bestuur gelei het tot die totstandkoming van GROOTfm 90.5. Ek het begin in bemarking, en toe ook ’n aanbieder geword, en uiteindelik vervaardiger van Die Groot Ontbyt. Dit was lekker om van die begin af deel van die suksesverhaal te kon wees; geleenthede in TV kom nie elke dag op ’n mens se pad nie! Ek is ook ’n instaan aanbieder op Die Groot Ontbyt en geniet dit net soveel vóór die kameras as agter.
Jy was by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Hollywood ’n paar maande gelede – vertel ons meer hiervan?
In 1998 toe ek 17 was, het ek aan die Suid Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste deelgeneem in die sangkategorie, en is gekies om saam met Span SA te gaan deelneem aan die heel eerste Wêreldkampioenskap in Hollywood, Los Angeles. Die kompetisie is soos die Olimpiese Spele vir die uitvoerende kunste: sang, dans, modelwerk, instrumentaal en toneelspel. Alle ouderdome, wêreldwyd. In my eerste jaar het ek een goue medalje gewen, maar wou beter doen en het die twee jaar daarna ook deelgeneem. In 2000, my derde keer, het ek my sangkategorie algeheel gewen. Dis wat my finaal laat besluit het dat ek die vermaaklikheidsbedryf is waar ek wil werk. Ek het al die jare kontak behou en die kompetisie het geweldig gegroei sedert die klein begin. Vanjaar was die 20ste herdenking en die SA’s het my saamgenooi Los Angeles toe as ’n alumnus, om ook te help met publisiteit – wenners in die verskillende kategorieë wen deesdae studiebeurse, platekontrakte en selfs kontantpryse. Ek het ’n daaglikse oorskakeling met die Groot Ontbyt gedoen, en het ook vir eNuus en vir Maroela Media en Netwerk24 nuusstories oor die kampioenskap gedoen.
|
|
Ons Atterbury Trust
|
|
Dit voel soos gister wat ek daar by Atterbury se kantore ingestap het vir my beursonderhoud. Ek moet sê – ’n mens se hart klop baie warm van die begin af as jy met Atterbury en sy mense te doen kry. Met 'n Golfie en half-tenk petrol is ek terug Bloemfontein toe sonder enige verwagting, en toe kom julle oproep om te sê ek is aanvaar vir die beurs!
Van daardie dag in 2008 het daar ongelooflik goed met my gebeur en een van hulle was julle goedkeuring om wel verder te kon studeer. Die Here weet waar om wat te doen! My woorde is min en my dankbaarheid ongelooflik baie. Dankie vir die instansie wat julle is, om te staan vir wat goed en reg is. 'n Maatskappy met 'n vol hart, beste waardes en geloof in 'n beter toekoms, wat mense op die regte manier laat groei en wat regtig drome waar maak. Die Here loop 'n ongelooflike pad saam met ’n mens en ons moet net toelaat dat Hy Sy werke deur ons doen.
Ek het in Augustus daarin geslaag om my beurs aan julle ten volle terug te betaal. Ek sal julle altyd dankbaar wees en sal in die toekoms seker maak my bydraes stop nie... Ek sal in dieselfde rekening bydraes maak aan Atterbury Trust as dit reg so is.
Weereens soveel dankies – my hart is vol en ek is baie trots om deel te kan wees van Atterbury! Julle maak dit vir mens baie lekker. 'n Vol sport loopbaan, twee grade, my gesin en 'n ongelooflike werk. Baie baie dankie!
Mag julle al die seën ontvang van Ons Groot Hand wat julle toekom
Laat dit met julle goed gaan en soos Antie Stienie altyd gesê het – "Bye – for now!"
Vriendelike groete
Gert Erasmus
|
|
|
Beste Atterbury Trust,
Vandag kan ek met trots sê dat ek my lening ten volle aan julle terugbetaal het en hiermee ook met blydskap in my hart weet dat dit ‘n deur oopmaak vir die volgende student ná my.
Na vier jaar in die bedryf het ek nie ‘n oomblik se twyfel dat ek met grafiese ontwerp die regte studierigting gekies het nie. Dit is nie net ‘n beroep nie, maar my passie! Dit is ‘n ongelooflike dinamiese bedryf en elke projek is uniek met eindelose geleenthede. Ek streef elke dag daarna om top-gehalte werk die wêreld in te stuur... dis so motiverend en verrykend om in ’n winkel te stap en jou werk op die rakke te sien (beide nasionaal en internasionaal).
Ek is trots om te kan sê dat ek reeds vir vier jaar in 'n ontwerp-ateljee werk en vanjaar as mededirekteur aangewys is. My werk is al gewys in twee top internasionale verpakkingsontwerp-publikasies (met 'n derde op pad in 2018) en ook op verskeie ontwerp-webtuistes. Produkte met my verpakkingsontwerpe is in groot kettingwinkels in Suid-Afrika en ook in Europa, China, die VSA en die Karibbiese Eilande.
Ek sal julle nooit genoeg kan bedank vir die beurs nie. Julle het my die kans gegee om na vier jaar trots die wêreld in te stap met 'n graad in my hand, en julle het die vuur aangedryf waarmee ek my passie verwesenlik het.
Baie, baie dankie!
Tersia Verwey
|
|
|
|
|
|
|