Atterbury Trust Nuusbrief
Februarie 2017
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

2017 – ’n nuwe jaar lê voor ons. Die oujaarsreën en nog meer nuwejaarsreën wat in groot dele in ons land geval het, bring ’n nuwe optimisme en ons glo en vertrou dat 2017 ’n goeie jaar gaan wees. Nuwe planne, nuwe studente en natuurlik die Januarie-hoogtepunt, Versnit.


Versnit word jaarliks ten bate van die Atterbury Trust op Rust en Vrede aangebied. In die wynbedryf word ’n uitsonderlike versnit verkry deur verskillende kultivars te kombineer op ’n kreatiewe, dog fyndeurdagte wyse. Rust en Vrede en Atterbury is twee ikoniese, eg Suid-Afrikaanse handelsmerke en wanneer ’n Stellenbosse wynboer en ’n eiendomsontwikkelaar uit Pretoria reeds vir ses jaar in ’n ry saamspan, kan ’n mens natuurlik ’n meesterstuk verwag. Versnit 2017 was ’n viering van die beste van Suid-Afrikaanse kunstenaars – Coenie de Villiers, Stef Bos, Steve Hofmeyer, Corlea Botha, Lize Beekman en nuweling Brendan Pyper – in ’n vertoning uitstekend aanmekaargesit deur Matthys Maree en Alexa Strachan. Coenie de Villiers het vanjaar die Versnittoekenning ontvang vir sy besondere bydrae tot die Afrikaanse taalskat.

’n Groot Atterbury Trust-dankie aan Jean Engelbrecht en sy bekwame Rust en Vredespan, wat sy pragtige werf, wingerd én wynkelder oopstel, en gasheer is vir meer as 600 uitgelese gaste. ’n Groot dankie aan Calvyn Hamman vir Lexus se bydrae as medeborg van Versnit 2017. Die Versnitgaste dra ook ruimhartig by en ons wil een en elkeen wat ’n bydrae gemaak het, hartlik bedank. Ons kan u verseker dat elke bydrae tot die beswil van ons groeiende aantal Truststudente aangewend word.
 
“…Slegs die Suiderkruis wag lankal daar
Ons toekoms is in Afrika” …
– Het Avondland van Stef Bos
Januariemaand is altyd ’n besige maand by die Atterbury Trust – ons ontvang universiteitsuitslae van studente, doen registrasiegeldbetalings en gee so tussen-in loopbaanadvies aan voornemende studente en hulle angstige ouers. Baie van ons studente is die eerstes in hulle families wat die voorreg van tersiêre opleiding kan ervaar. Dis baie bevredigend om dan aan die einde van ’n jaar te staan en die groei in mense se lewens saam te beleef. Amper 50 Atterbury Truststudente het in 2016 grade behaal. As ek so na ons graduandi kyk, besef ek hulle het soveel meer as ’n graad behaal – selfvertroue, menswaardigheid, leierskap en die ekonomiese bemagtiging om vir hulleself en uitgebreide familie te kan sorg, bo en behalwe kosbare kundigheid wat hulle weer terugploeg in Suid-Afrika.

Lees in hierdie uitgawe meer oor die inspirerende suksesverhale van bestaande Atterbury Truststudente en ook van die drome van ons nuwe studente. Atterbury ondersteun Akademia se Sakeplankompetisie en ons deel die wenner van die toekenning vir bestaande besighede, Willie Hamman van Star Pops, se entrepreneursakestorie. Dan vir oulaas, nog een van die Cool Capital se Hoërskolekunskompetisie se inskrywings – Hoërskool Garsfontein se pragtige mosaïek wat die natuur in die stad uitbeeld. Atterbury Trust is opgewonde om aan te kondig dat ons hande gevat het met die Trust vir Afrikaanse onderwys (TAO), ’n inisiatief van die Dagbreek Trust. Lees in hierdie uitgawe bietjie meer oor ons eerste gesamentlike projek by Hoërskool Nelspruit.

Ons hou ons Atterbury Trustbeursfunksie vir bestaande en alumnistudente op 22 Februarie. Alle “ou” en huidige studente kom kuier gerus saam met die Atterbury personeel op Woensdagaand, 22 Februarie.

As dit in jou hart lê om vanjaar ’n verskil in ’n behoeftige student se lewe te maak, onthou die Atterbury Trust het die infrastruktuur om ons beursstudente te ondersteun en te mentor. Ons doen dit graag namens ons netwerk van weldoeners wie se donasies ons in staat stel om nog meer studente te help. Word gerus deel van hierdie ketting van hoop deur ’n donasie te maak aan die Atterbury Trust se beursfonds.
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
Francois van Niekerk het onlangs uitgetree na ’n suksesvolle loopbaan as entrepreneur en sakebestuurder. Oor ’n periode van 37 jaar het sy besigheid ontwikkel van ’n sukkelbegin sonder kapitaal na ’n internasionale groep met belange in 10 verskillende industriesektore wat  aktief is in Afrika, die Verenigde Koninkryk en die EU. Gedurende die 20 jaar voor sy uittrede, het die Mertech Groep ’n saamgestelde groeikoers van gemiddeld 49% per jaar behaal.

Die praatjie is ’n getuienis van hoe God menslike mislukking steeds toenemend tot ’n globale sukses omskep. Ook oor Sy skeppende vermoë en bereidwilligheid om te reageer op ons gehoorsaamheid en voldoening aan Sy minimum vereistes. Hoe Hy onverwagte seën openbaar namate ons verhouding met Hom verdiep.

Datum:   23 Februarie 2017

Plek:       Atterbury Teater

Tyd:       Ontvangs & verversings vanaf 07:00
              Getuienis 07:45 – 09:00

Koste:      R120

Kontak:    adri@mergon.co.za

Atterbury Trust
se beursfonds: blitsfeite

  • Amper 600 jong uitblinkers het reeds met Atterbury Trust se ondersteuning die kans gekry om verder te studeer
  • In 2017 is daar ongeveer 220 studente in die beursprogram
  • Die aansoeke het in die afgelope jaar meer as verdriedubbel
  • Amper 50 Atterbury Trust-studente het in 2016 graad ontvang
  • Ons het vanjaar 70 studente op Tuks, 38 op NWU, 36 by Unisa, 17 op Maties en 11 in Bloemfontein.

Drome sonder grense

Die Atterbury Trust-beursprogram gee ons die geleentheid om inspirerende jongmense te ontmoet wat planne maak om Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te verbeter. Riaan Groenewald is so ’n jong man – hy het pas graad gevang en is klaar besig om ’n verskil te maak. Hy het reeds ’n portefeulje van besighede wat strek van kosverskaffing in Afrika, tot Suid-Afrika se eerste (en enigste) aanlynwinkel wat klassieke Vespa-onderdele verskaf!

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?
Ek het jare lank gesoek vir beurse en toevallig op Atterbury Trust se webtuiste en die beursinligting afgekom. Ek het dadelik gekontak gemaak en gevra om bystand, en is vir vier jaar deur Atterbury ondersteun.

Jy kry nou ’n MSc. Omgewingsbestuursgraad by UP, maar jy bestuur al ’n paar jaar lank jou eie ondernemings. Hoe het die skuif tussen omgewingsbestuur en besigheid gebeur?
Ek was van kleintyd af bewus van ons daaglikse impakte op die omgewing, so dit is wat my na die kursus gelei het. Maar mettertyd het ek agtergekom dat ek ’n groter bydrae tot die samelewing kan maak om die negatiewe impak op die omgewing teen te werk deur besigheid eerder as konsultasiewerk.

Wat wou jy word toe jy klein was?
Ek was vyf toe ek begin dagdroom het oor uitvindsels wat die wêreld beter kon maak… Daar was die GPS wat motors in staat sou stel om sonder ’n mense se hand veilig Kaap toe te ry (ek was ses); geheuekaarte om data op selfone te stoor op ouderdom sewe (toe selfone nog so groot soos bakstene was)… ek het altyd ’n nuwe idee in my kop! Ek is tans besig om my passie, my droom om ‘n innoverende sakeman te wees, en my roeping uit te leef..

Lees volle storie

’n Nuwe begin danksy ’n Atterbury Trust se helpende hand

Soos die jaar begin, skud 78 nuwe Atterbury Trust-beursstudente hulle stertvere reg vir die nuwe akademiese jaar. Een van hulle is 21-jarige Layla Mayambala van Johannesburg, wat haar tweede jaar BCom Rekeningkunde by die Universiteit van Johannesburg gaan aanpak.

Vertel ons van jou agtergrond – waar woon jy, saam met wie, en hoe pas jy in die familie in?
Ek woon in Diepkloof waar my oorlede ma grootgeword het. My ouma is my wettige voog sedert my ma in 2007 oorlede is; ek en my ouer boetie het by haar ingetrek toe Mamma siek geword het. Ons woon saam met my oom en sy vriendin, hulle vyf kinders, my neef en my oupa. My pa is oorsee jare voor my ma oorlede is en het eers onlangs teruggetrek Suid-Afrika toe. Hy het helaas nog nooit veel belanggestel om kontak te behou of enige ondersteuning te gee nie…

Hoe het jy deel van die Atterbury Trust-familie geword?
My geliefde “peetma” (sy’s meer soos ’n engel) het my alles van die Trust vertel, en my aangemoedig en gehelp om aansoek te doen.

Jy het jou eerste jaar in 2015 voltooi, maar moes 2016 uitsit. Wat het jy toe met die jaar gedoen?
Omdat ek weens geldelike probleme nie kon swot nie, het dit beteken ek moes werk soek om so veel moontlik universiteitskuld so vinnig ek kon, af te betaal. Ek het ’n projekbestuur-internskap gedoen by Training Force.

Lees volle storie

Atterburystudent wys aanhouer wen

Al werk dinge nie altyd die eerste keer uit nie, verrig ’n kombinasie van vasberadenheid, deursettingsvermoë en harde werk soms wondere. Heynes Kotze van Brackenfell in die Kaap het met ’n lang ompad by sy eerste akademiese keuse uitgekom, en vanjaar begin hierdie 23-jarige Atterburybeursstudent sy derde jaar van LLB-studies by die Universiteit van die Wes-Kaap. Hy het vir ons die storie agter die storie vertel.

Wie is Heynes as hy by die huis is?
Ek is die jongste van twee seuns, maar het ook twee susters wat al agt jaar saam met ons is nadat my ouers hulle vir pleegsorg ingeneem het. My ouers is baie hardwerkende mense wat enigiets sou doen en hul eie gemak opoffer sodat hulle vir hul kinders kan voorsien, My pa was in die polisie en het in 2006 afgetree weens mediese redes. My ma het haar eie eiendomsbesigheid gehad, maar in 2009 het sy dit toegemaak en begin skoolgee by HTS Bellville. Ek bly steeds by my ouers in Brackenfell en doen maar wat nodig is om uit te help by die huis.

Wat wou jy word toe jy klein was?
Ek wou ’n polisieman geword het, nes my pa! Maar hy was nooit baie gelukkig daarmee nie, so ek het begin dink ek sal dan maar ’n prokureur word, wat tog verwante werk is…

Hoe het jy destyds by Atterbury uitgekom?
Ek het in 2011 by Hoër Tegniese Skool, Bellville gematrikuleer, en het deur my onderwyser Mnr Viljoen van Atterbury se beurse gehoor en aansoek gedoen.

Lees volle storie

Ysies vir Afrika

Atterbury geniet ons borgskapbetrokkenheid by Akademia se Sakeplankompetisie geweldig, want die sakestories van entrepreneurs wat inskryf, is behoorlik ’n inspirasie. Willie Hamman het vanjaar die toekenning vir die beste bestaande sakeplan gewen vir sy onderneming wat ys-lollies verkoop, en daarmee ’n prys ter waarde van meer as ’n halfmiljoen rand ingepalm. Ons het met hom gaan gesels oor Star Pops.

Vertel ons meer oor jou onderneming.
Star Pops is nou ses jaar oud, en het begin in Polokwane, net so skuins voor die Wêreldbeker. Ys-lollies is nie nuut nie, maar ek het ’n gaping in die mark gesien omdat die gehalte van wat daar in die platteland beskikbaar was nie baie hoog was nie. Ons het sedertdien gegroei tot ons nou ook ’n tak in Pretoria het. Ons het twee fabrieke waar ons die lollies vervaardig, en ons verskaf dit aan die groot onafhanklike “Cash and Carry” groothandelaars, van waar kafees, smouse en ander kleiner handelaars dit dan aankoop.

Wat het jy voor Star Pops gedoen?
Ek was oorspronklik in die konstruksie-bedryf, en was betrokke by siviele projekte, onder andere die Gautrain en Lynnwood Bridge. Daarna is ek vir ’n ruk Mosambiek toe, waar ek alles van kroegman tot nutsman was. Die idee vir Star Pops is in daardie tyd gebore, en ek is toe Pietersburg toe waar ek en my neef daaraan begin werk het.

Wat is jou verspreidingsgebied – waar kry mense Star Pops te koop?
In en rondom Polokwane, Shoshanguwe, Limpopo, Gauteng en die oostelike dele van Noordwesprovinsie.

Lees volle storie

Teëltjie teëltjie aan die wand…

Die natuur in die stad… dit was die inspirasie agter Hoërskool Garsfontein se manjifieke mosaïek wat as deel van Atterbury se Cool Capital Hoërskoolkunsprojek geskep is. Ons het die storie agter die storie gaan haal by die twee kunsonderwyseresse, Annie van Tonder en Olga van der Merwe.

Wat beeld julle Cool Capital-kunsprojek uit? Hoe het julle op die tema en medium besluit?
Die gebou waarin ons klasgee, word die kunsteblok genoem en hier word die Departement Kuns en Kultuur gehuisves. Drama, Ontwerp, Visuele Kuns asook die kunsvakke vir die juniors word hier aangebied. Voor hierdie gebou is die kunstevierkant wat afgewerk is met beton. Ons het besluit om een muur in hierdie vierkant te versier met kleurvolle mosaїekwerk. As tema is die plante, insekte en voëllewe in die Noord-Gautengstreek gekies. Die leerders is stedelinge en ons wou hulle bewusmaak van die natuur in die stad. Elkeen moes ’n paneel ontwerp waarin ’n plant en/of ’n voël en insek uitgebeeld word. Hulle moes ook navorsing doen oor die volksname vir die plante, voëls en insekte en die woord inkorporeer in hulle ontwerpe. Dit was vir almal ’n lekker afwisseling om met so ’n positiewe tema te werk en hulle het dit geniet om ’n vrolike, kleurryke kunswerk met ’n sterk dekoratiewe element te skep. Dit het hulle ook bewus gemaak van die kosbaarheid van die natuur in die stad.

Wie was julle kunstenaar-medewerker en hoe groot was haar rol?
Ons het saam met Tineke Meijer gewerk. Sy het op ’n later stadium by ons aangesluit en het baie gehelp met tegniese advies, veral omdat nie een van die twee onderwyseresse ondervinding van so ’n groot mosaїekwerk het nie. Die deelnemers het hulle mosaїekpanele individueel op net en hardebord uitgelê in die klas. Eers later is die panele in kleiner stukke gesny en aan die muur vasgeheg. Tineke het dikwels kom saamwerk in die klas en ‘n verhouding met ons almal opgebou – dit was pure plesier en inspirasie om haar daar te hê. Sy het ook heelwat materiaal geskenk.

Lees volle storie

Saamstaan vir Afrikaans

Dit is alombekend dat gehalte-onderwys en die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur, kwessies is wat die Atterbury Trust baie na aan die hart lê. Dit is dus vanselfsprekend dat die Trust hom vereenselwig met organisasies wat hulle om hierdie gemeenskaplike doel beywer en sodoende die jeug bemagtig om hulself in die toekoms op ’n hoë vlak te laat geld. Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), wat deur Dagbreek Trust in die lewe geroep is om na Afrikaanse onderwys om te sien, se inisiatief om Afrikaanse skole by te staan, is ’n projek waarby die Atterbury Trust sonder huiwering ingeskakel het.

Abrie Swanepoel vertel meer oor die eerste gesamentlike projek – die opgradering en verbetering van bestaande fasiliteite by Hoërskool Nelspruit asook die vestiging van nuwe fasiliteite wat die groeiende behoefte aan groter kapasiteit aanspreek.

Wat is die idee agter díe projek?
Plattelandse skole is oor jare die bakermat van stewige, gehalte-onderwys. Strawwe mededinging met beter toegeruste stadskole het baie plattelandse skole geknou. Die uitdaging het ontstaan om by projekte betrokke te raak wat sal help verseker dat plattelandse, Afrikaanse skole oor kwaliteit-fasiliteite beskik om aan Afrikaanse leerders kans te gee om ook gehalte-onderwys te ontvang en ook die sterk mededinging uit die stad die hoof te bied. Hierdie verbeteringe bied ’n geleentheid tot uitnemendheid op eie bodem.

Hoekom Hoërskool Nelspruit?
Hoërskool Nelspruit is die vlagskip van onderwys en opvoeding in die Laeveld en een van ‘n handjievol Afrikaansmedium skole in Mpumalanga. Bewese suksesse op verskeie terreine het daartoe bygedra dat die skool se leerdergetalle in so ’n mate gegroei het, dat bestaande fasiliteite onder druk is. Hierdie groeiende behoefte aan groter kapasiteit op buitemuurse gebied het die skool geen ander keuse gelaat as om dringende aandag hieraan te gee nie.

Lees volle storie

Ons  Atterbury Trust


Goeiemiddag Atterbury!

Ek weet nie eers waar om te begin nie, maar “blessed in abundance” is die eerste gevoel wat ek kry as ek dink aan Atterbury. Ek was omtrent geseënd om die geleentheid te kry wat Atterbury my gebied het.

Vyf jaar se studies, twee grade later, en deur alles het Atterbury my bygestaan, nie net finansieël nie, maar ook emosioneel, deur middel van Grolife en die nuwe familie waarvan ek deel geword het en vir wie ek vreeslik lief geword het! Dankie vir alles, Atterbury; ek waardeer alles so opreg.

Liefde,
Crystal Chanté van Niekerk
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2017 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting