Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
April • Mei 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Syfers syfers syfers…
So lyk ons 2014 graduandi

Ons het vanjaar ’n rekord aantal B Com graduandi en ’n hele paar regsgeleerdes. Maar dis nie waar dit eindig nie... Die Atterbury Trust het ook ons eerste dokter opgelewer!

Van ’n wildbewaarder en ’n voedseltegnoloog, tot twee kunstenaars en ’n handjievol ingenieurs… verlede jaar se oes van Atterbury afgestudeerdes wat in 2015 die mark betree, is reg om op ’n wye verskeidenheid velde tot die ekonomie by te dra.

Sewentien jaar nadat Atterbury vir die eerste keer studiebeurse toegeken het, het ons aan die einde van 2014 ’n rekordgetal van 53 studente gehad wat grade of diplomas ontvang het. Dit bring die totaal van jongmense wat sedert 1998 met die hulp van Atterbury verder kon studeer tot ongeveer 420!

Sewentien lede van die 2014 groep het besluit dis nog nie klaar met swôt nie, en het teruggegaan boeke toe om vanjaar hulle Honneursgraad aan te pak, en nog een doen vanjaar ’n meestersgraad. ’n Verdere 17 van die afgestudeerdes is tans besig met prakties, internskap of klerkskap. Dit bring ons by 31 Atterbury alumni wat òf reeds ’n beroep betree het, òf hard aan die soek is vir ’n pos.

Lees meer

Atterbury studente beursfunksie

Ons studente lê ons baie na aan die hart.

By Atterbury Trust is ons baie erg oor ons beursstudente. Vanaf die aanvanklike aansoek en onderhoud tot by die gradeplegtigheid en daarna volg ons hierdie groep uitblinkers van heinde en verre.

Ons hou jaarliks 'n beursfunksie waartydens ons die kans kry om op te vang, lekker te gesels en wedervaringe te deel. Hierdie jaar se geleentheid in ons nuwe Bloukrans hoofkantoor was iets besonders.

Nie net om die verskil te sien wat opvoeding in ons studente se lewens maak nie, hoe hulle groei en ontwikkel in hulle menswees nie, maar ook om die kans waar te neem om dankbaar te wees oor wat ons het, maar ook wat ons kan gee. Want by Atterbury Trust gee ons om.
Sien al die foto’s
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Ingenieur was al op laerskool ’n sakeman

Min dinge maak ons so gelukkig soos om te hoor hoe Atterbury se beursprogram toegewyde jongmense ’n hupstoot gee. Leer ken vir alumni Johan Roos van Kuilsrivier in die Kaap, nou ’n siviele ingenieur.

Hoe het jy destyds van die Atterbury beurs te hore gekom en hoekom het jy op jou vakrigting besluit?
In my matriekjaar (2007) is ek reeds goedgekeur vir verskeie technikon beurse, maar ek wou baie graag liewer ’n universiteitsbeurs hê. Een van Atterbury se werknemers by die destydse Kaapse kantoor was glo ook in HTS Bellville en het gesê hulle moet kyk of daar ’n potensiele beurskandidaat is vir ’n beurs. My skoolhoof het my aanbeveel en Zahn Hulme het met my ’n onderhoud by my skool kom doen. Ek het toe die beurs gekry en ek was baie dankbaar. Ek was van kleins af prakties aangelê en het daarvan gehou om met my hande te werk. Ek het ook van laerskooldae af my eie houtwerk “besigheid” gehad.

Vertel ons ’n bietjie van jou agtergrond.
Ek is van Kuilsrivier in die Kaap, en was by Hoër Tegniese Skool (HTS) Bellville. Ek het ’n ouer broer en my pa is onlangs oorlede na ’n lang siekbed van drie jaar. Hy het voltyds sorg nodig gehad, wat maar moeilik was op my en my ma. So op die oomblik bly ek nog tuis, want ek kan haar nie op dié stadium alleen los nie. Na matriek het ek siviele ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch geswôt, en ek het in Dagbreek gewoon. In 2011 het ek my BIng-graad verwerf en in 2012 voltyds begin met my Meesters.

Lees meer

 ’n Skool wat sy lig laat skyn

Met sy leuse “Laat Jou Lig Skyn”, leef Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Claremont die beginsels van naastediens behoorlik uit, en alles te danke aan die toewyding van ’n skoolhoof met ’n droom, Chris Sealie.

Een van die bevredigendste aspekte van Atterbury Trust se werk in die gemeenskap is om te doen te kry met ’n organisasie of ’n individu wat ook gemik is daarop om mense te help, en wat daadwerklik ’n verskil maak in die lewens van diegene wat minder het as hulle. Chris Sealie is die skoolhoof van Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Claremont, Pretoria en hy werk al 18 jare onvermoeid om sy skool ’n hawe te maak vir die behoeftiges van die omgewing.  Hoewel die 84-jarige laerskool een van Pretoria se behoeftigste skole is, is dit meer as net ʼn plek waar leerders kom vir lesse in lees en skryf: daar is ook ʼn voedingskema om honger kinders se magies te vul, asook gesondheidsdienste wat gratis gehoorapparate vir behoeftige ouers verskaf, en baie meer.

Met die beplanning tans aan die gang om ’n volledig ingerigte gemeenskapsentrum in Booysens te vestig, is dit baie waardevol om met ’n goeie laerskool in die omgewing kragte saam te span, verduidelik Atterbury se Zahn Hulme. “Die gemeenskapsentrum sal ’n na-skoolse fasiliteit insluit waar kinders kan kom huiswerk doen onder toesig, en ons verwag dat heelwat van Genl Nicolaas Smit se leerlinge hiervan sal kan gebruik maak.”

Lees meer

Ons Atterbury Trust


Dis ’n Triomf!


"Graag wil ons jou van harte bedank vir die verwysing na Triomf Mediese Kliniek op 9 Maart 2015. Ek en Babs was baie beïndruk met die professionele diens wat ons tydens ons besoek ontvang het. Die ontvangs en ondersteuning deur die suster aan diens was vriendelik en hulpvaardig. Die belangstelling en aandag wat Dr Tommie Swart aan beide van ons geskenk het was buitengewoon. Hy het in detail ons individuele mediese geskiedenis en huidige simptone aan ons verduidelik. Ons was baie beïndruk met die professionele en persoonlike aandag en uiters belangrike advies wat wat ons ontvang het. Die simptone, oorsake en gevolge was baie sinvol aan ons uitgespel."
 
Nogmaals baie dankie
Pieter & Babs Van Den Berge

Meer inligting oor Triomfkliniek hier
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting