Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die web
Oktober 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

My Maandag in Atlantis

Dit was vroeg in die dag op Blouberg se strand. Ek moes seker geweet het dat ’n spesiale dag op my wag, toe ek vroegoggend onverwags die bloedrooi maan deur die gastehuis se venster oor die see sien hang het. Ek is donkeroggend, net voor ses, af strand toe. Die dag gaan groet langs die see. ’n Stappie gestap – op Blouberg se strand. ’n Koelronde grys klippie in die oseaan gegooi. Gevra vir insig en krag vir die dag.

Ek vat die R27, Weskuspad, Atlantis toe en dink hoe bevoorreg ek is dat dít vandag my pad werk toe is. Langs die pad sien ek lappies geel en pienk – die laaste van die lenteblomme. Dis my tweede besoek aan Atlantis, die eerste keer dat ek self ry.  Ek verdwaal so bietjie tussen al die fabrieke aan die suidekant van die dorp. Met Rudi se hulp, vind ek die pad weer redelik vinnig, verby die Weskus Kollege tot ek die Atlantis kliniek se teken sien. By die CPA se kantoortjie aangekom, sien ek al ’n klompie jongmense wag. Ek sien hartseer in die oë, maar voel tog die hoop in hulle harte aan. Party kyk my direk in die oë, ander meer skugter en hier en daar bespeur ek ’n bietjie agterdog, is dit nou regtig? Ek sien ook vir Caroline, mooi getooi in pers en swart, wat my met ’n breë glimlag en ’n hartlike druk inwag. En aunty Hellen met ’n nuwe blikkie Ricoffy, spesiaal vir vandag gaan koop. Rudi, Gerald, Issie en oom Pieter – hulle voel al soos ou bekendes. Opgewondenheid hang in die lug, want vandag gaan ons die eerste beursonderhoude doen. Hulle wag al lank vir hierdie dag. Twintig jaar al.

Die vorige dag is daar ’n dankdiens in Atlantis gehou. Vir wat nou by Richmond Park gaan gebeur. Selfoonvideo’s word gewys. Hulle spog met “ons eie” kinders wat die musiek gemaak het – gesing het, keybord gespeel het. Onder aan die program staan: “As God vir Richmond is, wie kan teen ons wees.” Ek glo dit ook.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Atterbury Nasionale Klavierkompetisie 2015

Die room van Suid-Afrika se jong pianiste gaan vanaf 12 - 16 Oktober weer in die Atterbury Teater in Pretoria bymekaarkom vir die vyfde Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Daar is reuse pryse op die spel.

Die algehele wenner van die eerste prys stap weg met ’n kontantprys van R30 000. Daar is ook ’n verdere R80 000 se pryse beskikbaar vir pianiste in die verskillende ouderdomskategorieë.

Die drie ouderdomskategorieë waarin die pianiste deelneem is 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Daar is vanjaar 39 kandidate van regoor die land.

Die amptelike openingseremonie vind plaas Maandagaand 12 Oktober om 18:30. Tydens hierdie geleentheid sal André Breet, verlede jaar se algehele wenner, ’n kort program lewer. Die wenners van die Suid Afrikaanse Komposisie Kompetisie gaan daarna aangekondig word en die werk van die wenner sal voorgedra word. Laastens word die deelnemers van 2015 aan die gehoor voorgestel.

Lees volle storie
 

Cool Capital 2014 katalogus

Ons koffietafel kan nie wag vir die @CoolCapital katalogus nie; loer hier vir ’n voorsmakie op YouTube:

GROOT op die klein skerm!

Dis net mooi ’n maand sedert GROOTfm uitgebrei het na die kassie toe, met Die GROOT Ontbyt op kykNET. Hierdie hibriedresep tussen radio en televisie is werklik ’n wêreldeerste en ons gesels met die vervaardiger Riaan Grobler oor hoe dinge agter die skerms gaan…

Hoe was die eerste maand?
Dit was werklik interessant, maar ook baie uitdagend.  Niemand het regtig geweet presies hoe die program in realiteit gaan werk nie en vanaf die eerste episode kon ons dadelik agterkom wat werk en wat doen nie…

Hoe lyk die terugvoering?  
Tot dusver baie goeie en positiewe terugvoering.  Die kyker en radioluisteraar geniet die program en dit is lekker om van oral uit Suid-Afrika terugvoer te kry. Ons kan sien, veral met die kookinsetsel met ons Griekse Sjef Dino, dat die kykers dit geweldig geniet.

Wat is Die GROOT Ontbyt se formule? Wat is julle ideale storie?
Die formule is dat radio en TV ontmoet en om daardie resep reg te kry is nogals ’n storie.  Ons inhoud moet kan werk vir radio en TV en die tegniese uitdaging om dit op altwee mediums te laat werk, is nie kinderspeletjies nie. Ons moet kyk na nuus, weer, verkeer en uiteraard na goeie aktuele stories wat relevant tot die kyker en luisteraar is en ook vermaak daarby gooi.

Lees volle storie

Wat is daardie woord op die tippie van jou tong?

Dit is skaars twee maande sedert VivA se nuwe Woordeboekportaal app geloods is en dis reeds omtrent 3 800 keer afgelaai. Prof Gerhard van Huyssteen, uitvoerende direkteur van VivA, deel ’n paar statistieke.

Watter terugvoering kry julle op die app, en op VivA in geheel?
Die positiewe terugvoering is werklik oorweldigend! Die mense beskou dit as ’n belangrike ontwikkeling in en vir Afrikaans, met die potensiaal om by te dra tot die bemagtiging van Afrikaanse mense. Ek dink mense gaan ook nog meer verras en beïndruk wees wanneer meer en meer van VivA se produkte en dienste later in die jaar en volgende jaar bekendgestel word.

Dis omtrent indrukwekkende aflaai-statistieke…
Ons is so bly daaroor! Die Android weergawe is meer afgelaai, maar die iOS is net ’n kortkop agter… Ons is ook opgewonde dat ons sosiale-media-netwerk lekker groei; ons het al meer as 1 100 Facebook likes en meer as 320 mense volg ons reeds op Instagram. Boonop het ons altesame 879 inskrywings vir die skolekompetisie ontvang wat Atterbury geborg het!

Wat is volgende vir VivA – gaan daar nog by die app bygevoeg word?
Die Woordeboekportaal (waartoe die app jou mobiele toegang gee) is maar net die oortjies van die seekoei. ’n Klomp nuwe woordeboeke – waaronder die splinternuwe HAT én ’n blokkiesraaiselwoordeboek – sal op ons webwerf beskikbaar gestel word. Later in die jaar word VivA se Adviesportaal bekendgestel: jy sal dan ons taaladviseur per telefoon, WhatsApp of e-pos kan kontak met jou taalvrae. Ons hoop dat dit veral ’n bydrae sal lewer om die kwaliteit van advertensiekopie te verbeter. Vele ander dienste en produkte volg ook, soos ons terminologiediens, ’n omvattende beskrywing van Afrikaans se grammatika, ensovoorts.

Lees volle storie

En die VivA wenner is...

Baie geluk aan Lene van Heerden van Hoërskool Swellendam wat die algehele wenner van VivA se 2015 skolekompetisie is. Lene wen ’n R150 000 universiteitsbeurs met trots geborg deur Atterbury Trust.

Amper nie meer eerstejaartjies nie!

Skaars tien maande gelede was Altus, Juvan en Rikus nat agter die ore en splinternuut op kampus… Ons het weer gaan inloer by hierdie drie Atterbury beursstudente om te hoor of die eerste jaar uitgespeel het soos hulle verwag het.

Altus Bisschoff is amper klaar met sy eerste jaar in meganiese ingenieurswese by Tukkies

Kan jy glo jou eerste jaar is al amper verby?
Nee, dit is ongelooflik hoe vinnig die tyd verby gevlieg het! Hulle sê mos: “Time flies when you are having fun” en dit is voorwaar die waarheid. Studentelewe is besig, maar uiters lekker! Dit is net belangrik dat jy altyd bybly met jou studies. Daar is ’n tyd om te speel en ’n tyd om te werk, en die kuns lê daarin om die balans te vind.

Wat was vir jou die grootste aanpassing?
Grootste aanpassing, sou ek sê, is die feit dat niemand jou werk nagaan en kyk dat jy dit wel doen nie. Self-dissipline speel dus ’n baie belangrike rol in studentwees. Verder is die groot klasse ook ’n aanpassing. Om van ’n klas met 30 leerlinge te gaan na een met 550 studente kan nogal intimiderend wees.

Geniet jy nog koshuislewe? Mis jy enigiets van by die huis woon?
Die koshuislewe is uitdagend, maar genotvol. Dit hou mens verskriklik besig, maar leer mens uiterse goeie tydsbestuur. Moederskos is altyd iets wat ’n koshuisganger sal mis!

Lees volle storie
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting