Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
Julie 2015
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Lekker luister én kyk met GROOTfm 90.5

By Atterbury Trust is ons baie opgewonde oor ons radiovennote GROOTfm 90.5 se groot nuus.
 
Vanaf 10 Augustus 2015 gaan DStv se kykNET GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram – Die GROOT Ontbyt – elke weeksoggend vanaf 06:00 tot 08:00 regstreeks op dié kanaal uitsaai. Nou word lekker luister ook sommer lekker kyk!
 
Dié unieke kombinasie is ’n eerste vir Afrikaanse media. Terwyl luisteraars op pad werk toe na Die GROOT Ontbyt op hulle radio’s luister, gaan diegene by die huis ook op televisie in die opwinding kan deel. Die aanbieders gesels met die GROOTfm 90.5 luisteraars, maar gesels ook in beeld met kykNET kykers by die huis.

Zahn Hulme van Atterbury Trust sê dat ons almal hier by die Atterbury Trust baie opgewonde is oor die groter platform wat kykNET bied om die aktiwiteite van die Trust bekend te stel en sodoende meer mense te bereik. Ons het destyds ’n belegging in GROOTfm 90.5 gemaak met die oog om meer mense vir ons opvoedkundige en gemeenskapsprojekte te mobiliseer, verduidelik sy. Al die winste wat deur GROOTfm 90.5 gemaak word, word teruggeploeg om die lewens van mense in behoeftige gemeenskappe in Pretoria beter te maak.
 
Die radio- en TV-persoonlikheid Johrné van Huyssteen gaan as aanbieder by Die GROOT-ontbyt aansluit, met Nadia Beukes as sy regterhand. As aanbieder van programme soos Gons en DeKat en meer onlangs as radio-omroeper by OFM in die Vrystaat, het Johrné reeds sy staal in beide radio en televisie bewys, terwyl Nadia al diep spore in Afrikaanse harte getrap het in programme soos Boer soek ’n Vrou en Getroud met Rugby.
 
Die GROOT Ontbyt word verder bygestaan deur Hendri Myburgh wat na verkeersake en sosiale media gaan omsien, Elsa Esterhuizen as nuusleser en Rouchelle Liedemann as Kaap-korrespondent.
 
Atterbury Trust is trots daarop dat luisteraars en kykers kan uitsien na ’n program propvol aktualiteit, nuus, verkeer, weer en natuurlik goeie Afrikaanse musiek. Op die radio en op televisie. Dubbel die genot!
 
Hardus Zevenster, hoof uitvoerende bestuurder van GROOTfm 90.5, sê dit is die volgende logiese stap vir ons gemeenskapradiostasie. Die fokus was nog altyd gerig op die Afrikaanse mark van Pretoria. GROOTfm 90.5 se aanslag is só goed ontvang dat ’n nasionale aanvraag ontstaan het. Die vennootskap met kykNET gaan hierdie aanvraag op ’n unieke, vars wyse aanspreek. Dit is net die begin van nog dinge wat gaan kom.
 
GROOTfm 90.5 het op 1 Augustus 2013 in Pretoria begin uitsaai en het sedertdien reeds gegroei na ’n luistertal van 97 000. Vir internetradiotoegang tot GROOTfm 90.5, laai die app af op jou selfoon of tablet, of luister by www.grootfm.co.za.
 
Karen Meiring, M-Net Direkteur: Afrikaanse kanale, is opgewonde oor hierdie nuwe projek. “Ons is baie entoesiasties oor so ’n vars en inspirerende aanbod vir ons kykers. kykNET hou van eerstes, en ’n dubbelmedium tussen radio en televisie maak sin vir beide partye en gaan die aanbieders die geleentheid gun om hul talentvolle vlerke nog wyer te sprei.”
 
Ons almal by Atterbury Trust gaan sommer lekker luister én kyk en vertrou dat julle dieselfde gaan doen!
 

“As ek die Minister van Kuns en Kultuur was…”


Nadine Naude sou sommer baie vir kunstenaars gedoen het! Ons gesels met dié Atterburybeurshouer oor haar kunsstudies by TUT, haar uitstalling by Atterbury se hoofkantoor en presies wat sy sou doen as sy in die groot stoel gesit het!

Hoe het jy destyds van die Atterburybeurs te hore gekom?
Dit was danksy ’n vriendin, wat van die beurs gehoor en my daarvan gesê het.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond.
Ek het grootgeword op Oudtshoorn, waar ek in Principia was, ’n baie kuns-georiënteerde private skool. Daar het ek baie van alle vorme van kuns geleer, en omdat die skool klein is, het ek het genoeg aandag gekry om my potensiaal te kon bereik. In 2010 het my ouers besluit om Rustenburg toe te verhuis, en dis waar ek gematrikuleer het, aan Hoӫrskool Rustenburg.

Hoekom skone kunste?
Ek wou van kleins af kuns studeer, daar was nooit regtig iets anders nie. In my eerste jaar het ek baie belanggestel in drie-dimensionele kuns en klei as ’n medium. In my tweede jaar het ek beeldhou en keramiekwerk gekies as my twee vakke. Nou is my hoofvak keramiekwerk, en ek stel ook baie belang in afdrukkuns (“printmaking”). My tema vir my finale jaar is landskappe en hoe die natuur op ’n geestelike manier die mensdom beïnvloed.

Lees meer
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

Agter die skerms by Triomfkliniek



Pasiënt by die Triomfkliniek

Een goeie gebaar lei na ’n volgende, en dit is een van die mees bevredigende aspekte van die werk wat die Atterbury Trust doen. Soos die Trust se werksaamhede uitbrei, kry ons meer en meer weldoeners aan boord wat ook wil help. By die byna jaaroue Triomfkliniek sien ons dit maandeliks gebeur.

Toe ons in Februarie gaan loer het, het klinieksuster Adelene Boshoff vertel dat hulle vol hoop was dat ’n tandarts binnekort deel sou vorm van die dienste wat aangebied word vir Danville se mense. En skaars vier maande later rapporteer sy dat die Triomf-tandarts, Dr Jonker Seymore, reeds propvol bespreek is vir al sy Triomfdatums in Junie, September en Desember. Dis nou tussendeur die besoeke wat hy aan skole in die omgewing doen met sy mobiele kliniek. Ons is egter steeds op soek na nog ’n tandarts (met ’n stoel!), aangesien die behoefte onder veral die kinders baie groot is.

Sedert die begin van die jaar is daar reeds vier dermatologieklinieke gehou. Die volgende oor- neus- en keelkliniek van Dr Gerrie Moolman gebeur in September. Pasiënte met ginekologiese kwale het reeds gebaat by twee ginekologieklinieke deur Dr Liz Erasmus, en die volgende een vind in Augustus plaas. Rumatologiepasiente word gehelp met behulp van Muelmed.

Lees meer

BoekeJol en FilmRolfees in Augustus by Atterbury Teater in Pretoria


Daar word met opgewondenheid uitgesien na die eerste BoekeJol en FilmRolfees vir Pretoria. Liefhebbers van Afrikaanse boeke, skrywers, musiek en kuns sal nou hul lekkerkry-tande kan slyp vir die fees.

Die BoekeJol sal aan besoekers die geleentheid bied om met skrywers skouers te skuur en hul handtekeninge te kry, maar hul sal die skrywers se harte beter leer ken tydens groepbesprekings. Skrywers en filmmakers sal hul kundigheid met die gemeenskap kan deel.

Neem deel aan die eerste BoekeJol en FilmRolfees wat vanaf 26-29 Augustus by die Atterbury Teater by Lynnwood Bridge in Pretoria aangebied word.
Facebook
Twitter

Die herrie met Sandra Prinsloo se skoene

Paulette Reyneke, Atterbury Teaterbestuurder, vertel wat agter die skerms by die teater gebeur…

1. Hoe het jou paaie met Atterbury s’n gekruis en hoe lank is jy nou al by die Atterbury Teater?
Ek het vir 12 jaar die Centurion Teater bestuur. Terwyl die Atterbury Teater in aanbou was het Laurika Rauch vir my gevra het of ek dit sou oorweeg om dit te gaan bestuur. Ek het besef dat dit ’n wonderlike geleentheid is en hier is ek vandat die teater so vier jaar gelede geopen is.

2. Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself?
Ek bly my hele lewe lank in Pretoria en was in Pretoria-Oos Laerskool en Afrikaanse Hoër Meisiesskool. Ek is al vir 48 jaar met Koos Reyneke getroud en ons bly in die Bronberg bokant Wapadrand Landgoed saam met twee honde, drie katte, baie dassies en ystervarke…

3. Hoe vergelyk die Atterbury Teater met ander teaters waar jy al gewerk het? Wat maak dit uniek?
Die Atterbury Teater is uitstekend beplan met goeie klank en ligte en 400 sitplekke wat die regte grootte is vir die groot verskeidenheid produksies wat ons aanbied. Die ligging en mooi sentrum maak dit baie gewild by die publiek asook die kunstenaars.

Lees meer

Ons stel die Atterburyteater se nuwe webtuiste bekend

Klik hier
Kopiereg © 2015 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting