|
|
Nuwe lewe, nuwe kanse = hoop!
September simboliseer altyd vir my hoop, verandering, groei, ’n nuwe begin. En hoe nodig is hoop en positiwiteit nie juis nou in ons land nie?
Ek is bevoorreg om deel te wees van ’n span mense wat dinge laat gebeur, nuwe moontlikhede sien en geleenthede skep.
Ons is op die oomblik met ’n hele paar nuwe inisiatiewe besig. Een daarvan is Optog! Saam met Matthys Maree en sy kreatiewe span van die Atterbury Teater en ander ikone in die musiekbedryf kyk ons nuut na maniere om weer die kunste en goeie vertonings na dorpe en stede regoor Suid-Afrika te bring. Daarmee saam kom hoop, geleenthede en vernuwing. Lees gerus meer oor Optog! in hierdie Omgeenuus. En hou die Sarie, GrootOntbyt, kykNet en ander media dop.
|
|
Nog ’n nuutjie waaroor jy meer kan lees in hierdie uitgawe is die Noord-Suid T20 kriekettoernooi waarvan Atterbury Trust saam met Webuycars, Attacq, WAD Capital, Vibro, IXU, Puma, Pitchvision en Camp Discovery deel is. Sestien van die top krieketskole – agt uit die Noorde en agt uit die Suide – het op 6 Augustus lootjies getrek vir uitspele in die eerste Noord-Suid T20 wat vanaf 21-24 September in en om Pretoria plaasvind. Bywoning van die wedstryde is gratis.
’n Goue draad wat deur die Trust se aktiwiteite loop, is altyd die stories van hoop en oorwinning as ons met ons studente en alumnae en alumni gesels. En Anieka Malan is een van die inspirerende sterre in ons Trust arsenaal. Hierdie energieke jong ekonoom van Stellenbosch is op pad na ’n blink toekoms – met harde werk en suiwer deursettingsvermoë. Sy deel haar storie in hierdie uitgawe.
Nog ’n goue beursstudent is Joané Spies, ’n tweede-jaar mediese student by Tukkies, wat so pas die gesogte Golden Key-toekenning ontvang het. Joané het groot drome om ’n pynspesialis te word. Lees gerus van die pad wat sy tot nou toe gestap het.
Dan is daar is ’n paar lekker kultuuraktiwiteite waaraan jy kan deelneem in September. Op 9 September om 15:00 hou ons konsert in die Atterbury Teater. Saam met Coenie de Villiers, Lize Beekman, Elvis Blue, Jannie du Toit en Thean Kotze gaan ons die Lucas Maree Liedjieskryfkonsert hou saam met ’n keur van jong deelnemers wat nuwe musiek geskryf het.
Op 12 September gee Steve Hofmeyr, Robbie Wessels en Sorina ons in die Atterbury Teater ’n rede om te sing ten bate van die Triomfkliniek. Ons poog om die finale fondse bymekaar te maak om die tandartsfasiliteit by Triomf op die been te kry. Koop gerus ’n kaartjie en ondersteun so Pretoria-Wes se behoeftiges wat mediese sorg nodig het.
Ons beursaansoeke sluit einde Augustus en ons het reeds vele aansoeke van behoeftige studente ontvang. Ek doen ’n beroep op moontlike donateurs – maak nie saak of iemand met baie of net ’n klein bedrag kan help nie – elke bietjie maak ’n daadwerklike verskil. Ondersteun asseblief die Atterbury Trust met ’n donasie wat ons weer in staat stel om meer studente te ondersteun. Ons bewese stelsel van deeglike mentorskap, nagaan van resultate en emosionele en finansiële ondersteuning is ’n suksesresep – vir 20 jaar al. Vertrou ons met jou bydrae om ’n positiewe bydrae in Suid-Afrika te maak; en om hoop te gee.
|
|
Nuwe Noord-Suid T20 toernooi kom vir skolekrieket
|
|
|
Kapteine van die skole met ambassadeur, AB de Villiers, Faan van der Walt van WeBuyCars en Louis van der Watt, CEO van Atterbury.
|
|
’n Splinternuwe T20 kriekettoernooi vir skole van regoor die land word Maandag, 6 Augustus, in Pretoria bekendgestel.
Die Noord-Suid T20 skolekrieketoernooi, met AB de Villiers as die ambassadeur, vind in die September skoolvakansie in en om Pretoria plaas en gaan 16 skole in twee afdelings op die veld teen mekaar te staan bring. Die algehele wenspan sal prysgeld van R50 000 impalm vir hul skool om in krieket en krieketontwikkelingsprogramme te belê.
De Villiers, asook die kapteins van al 16 spanne, insluitende dié vanuit die suide en die platteland, wat danksy die borge ingevlieg sal word, sal by Maandag se bekendstelling by WEBUYCARS in Midstream teenwoordig wees.
Die agt Suidspanne is Bishops Diocesan College, SACS, Wynberg Boys’ High en Paarl Gimnasium uit die Kaap; St Andrew’s College van Grahamstad; en Westville Boys’ High, Northwood School en Glenwood High School van KwaZulu-Natal.
Die Noorde word verteenwoordig deur Hoërskole Centurion, Menlopark en Waterkloof van Pretoria; Volkskool in Potchefstroom; Hoërskole Nelspruit en Rustenburg; Grey College van Bloemfontein en Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley.
|
|
Skud jou vere reg vir Optog! 2019
|
|
Mens gee jou ouderdom lelik weg as jy nostalgies raak oor desjare toe toneelgeselskappe gereeld deur Suid-Afrika getoer het om opvoerings na klein dorpies op die platteland te neem… maar enigeen wat al die towerkrag van daardie aande van konserte in stowwerige skoolsale en stywerige kerksale beleef het, sal dit altyd onthou. So hou vas en raak opgewonde… die konsep van die rondreisende konsert het pas ’n moderne baadjie aangetrek, en kom na jou dorp in 2019, danksy Atterbury Trust en sy medewerker in die kunste, Matthys Maree. Ons het die details van die opwindende Optog! konserte eerstehands gaan uitsnuffel by Matthys homself…
Hoe opwindend! Presies hoe gaan Optog! 2019 werk?
Die beginsel is dat ons sowat 20 kunstenaars/produksies kies om in meer as 30 bestaande teaters en lokale regoor die land konsert te hou, met Nataniël as die gesig van die projek. Ons onderhandel met die kunstenaars en organiseer die konserte in die gekose dorpe. Gemeenskappe kan dan deur die loop van die jaar ’n keur van vertonings in hul eie omgewing sien. Ons beoog om ook met plaaslike feeste, organiseerders, sakelui en media hande te vat.
Waar kom die idee vandaan?
Veral Afrikaanse kunste kry nie meer enige regeringsondersteuning nie, en oorleef bloot danksy ingrype deur die private sektor en weldoeners. Dink maar aan KKNK, Aardklop, Innibos, Skouspel, Afrikaans is Groot, ensomeer – hul voortbestaan hang grootliks af van finansiële steun deur korporatiewe instansies, omdat kaartjieverkope alleen nie produksiekostes dek nie. Vele feeste het reeds skipbreuk gelei, dink maar aan die Kolligfees in Durban en Gariepfees wat in Kimberly gehou was. Die Optog! model bring die feeskonsep op kleiner skaal na verskillende dorpe, met ondersteuning deur nasionale en plaaslike borge, wat beteken dat aktiveringsmoontlikhede aangepas kan word by die streek op ’n manier wat gesentraliseerde produksies nie kan nadoen nie. Ons probeer dus kyk hoe aanloklik ons die bemarkingsmoontlikhede kan maak vir ons sakevennote, om die kunste weer voete te gee regoor Suid Afrika en Namibië. Verder sny ons kostes deur eenvoudig vroegtydig te beplan en reisreëlings so doeltreffend en ekonomies moontlik te skeduleer.
|
|
Tweedejaar mediese student Joané Spies het ’n droom om eendag as pynspesialis te kan help om mense in pyn se lyding te versag. Tussendeur haar veeleisende studies by Tukkies is hierdie minsame uitblinker ook gekies tot die gesogte Golden Key-vereniging. Dis mos hoe Atterbury Trust van ons beursstudente hou – vasberade, veelsydig, en met harte van goud. Sy het ’n tydjie afgeknyp sodat ons haar beter kan leer ken.
Vertel ons ietsie van jou agtergrond.
Ek is gebore en het grootgeword in Polokwane, waar ons steeds bly en waar ek met ’n beurs gematrikuleer het by Curro Heuwelkruin. Ek is die oudste van drie kinders en saam met my ouers en my oupa aan vaderskant wat ook op ons erf bly, vorm ons ‘n baie hegte spannetjie. Hulle is my grootste bron van motivering en ondersteuning.
Ons hoor jy is pas aanvaar as lid van die netwerkorganisasie Golden Key Society – baie geluk! Wat hoop jy gaan dit in jou loopbaan vir jou beteken?
Dit is ’n groot eer om ’n lid van Golden Key te kon word. Die internasionale erkenning wat daarmee gepaardgaan is vir my van groot waarde. Dit beteken dat organisasies wat op soek is na uitblinkers in spesifieke gebiede in aanraking kan kom met Golden Key en dit verhoog dus mens se kanse om ’n goeie pos te kry in ’n gerespekteerde organisasie.
Hoe het jou paadjie vir die eerste keer met Atterbury Trust s’n gekruis?
Ek het van Trust se beursfonds gehoor in matriek toe my Afrikaanse onderwyseres vir my die skakel na jul webblad gestuur het. Die beursaansoeke vir 2017 het toe pas oopgemaak. Ek ontvang die beurs nou reeds vir ’n tweede jaar.
Hoekom het jy medies gekies – wou jy van kleinsaf ’n dokter word?
Nee nogal nie… die inspirasie om ’n dokter te word het gekom toe ek in 2010 met Tipe 1 diabetes gediagnoseer is en dus baie blootstelling aan die mediese veld gekry het. Dit is ook verder aangevuur deur die feit dat my pa al vir omtrent 12 jaar rumatoïede artritis het en al verskeie operasies en behandelings moes ondergaan vir pynbestuur. Ek het hierdeur bekend geraak met die werk van die pynspesialis Dr Russell Raath en besluit dis presies die veld waarin ek eendag wil spesialiseer, om soos hy daagliks daardie groot verskil in mense se lewens te kan maak. Ek hoop om nagraads te fokus op narkose en pynbestuur.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Aanhou bou na ’n beter toekoms
|
|
Alles gebeur met ’n rede, glo beursalumna Anieka Malan, wat nog nie teruggekyk het sedert sy Kaap toe getrek het om verder te gaan swot nie. Hierdie talentvolle 23-jarige het ook nog nie opgehou nie, en is tans besig om op eie stoom haar meestersgraad klaar te maak. Daarna hoop sy om as ekonoom ’n verskil in ons land te maak. Is dit enigsins ’n wonder dat ons so trots is op Atterbury Trust se alumnae?
Deel met ons die storie van hoe jy een van die Trust se beursstudente geword het.
My ma is ’n juweliersontwerper en Zahn van Atterbury Trust was ’n kliënt van haar. My ouers kon nie regtig meer vir my studies betaal nie, en al het ek ‘n paar deeltydse studentewerke op daardie stadium gehad, sou ek moes opskop as ons nie van die Trust se beursfonds gehoor het nie. Ek was baie geseën om tot en met my B. Econ Honneursjaar een van julle beurslenings te hê.
Wat sou gebeur het as jy nie die Atterburybeurslening gekry het nie? Het jy ander beursopsies gehad?
Ek sou moes probeer het om ’n lening te kry, maar ons het nie die nodige sekuriteit gehad nie. Ek is baie dankbaar dat ek en Atterbury ’n pad saam kon stap.
Vertel ons bietjie van jou gesin.
Ek is die jongste van drie sussies en ek het ook ’n kleiner boetie. My ma ontwerp juweliersware soos ek genoem het en is ’n kunstige, kreatiewe wese met ’n ongelooflike “presence”. My pa is ’n musikant en hy woon in Duitsland. Een van my sussies speel klarinet in die vlootorkes en my ander sussie swot wiskunde by Stellenbosch. Ons gesin is baie na aan mekaaar.
|
|
Ons Atterbury Trust
Sjoe, die afgelope agt maande was regtig goed. Daar is soveel woorde wat ek kan gebruik om dit te beskryf, maar die eerste een wat by my opkom is genade.
Ek is tans tweede jaar en net om bietjie te getuig van my studies: ek het nog al my vakke geslaag en is regtig baie geseënd om dit te kan sê. Dis regtig net deur die genade van ons Vader. Ek leer baie en ek moet hard werk, maar daar kom ’n tyd wanneer ek weet ek kan laat gaan en vertrou op God. Dis maklik om hieroor vol trots te wees, maar dis regtig ’n getuienis van Sy guns en goedheid. Die eerste semester van die jaar was akademies moeilik en ek het my eerste her-eksamen afgelê, maar weereens deur genade geslaag.
Met my hart gaan dit ook goed en dis vir my lekker om ook myself uit te leef buite my akademie. Ek hou van mense en verhoudings is vir my baie lekker. Ek het die voorreg om saam een van my vriende ’n sel saam te lei en dis ’n groot voorreg om ook my grootste passie met jongmanne te deel.
Op ’n leierskap noot, ek het besluit om nie vir die huiskomitee te staan nie. Tussen baie redes is die grootste dat ek nie te veel hooi op my vurk wil laai nie. Ek het die voorreg gehad om op skool altyd in leiersposisies te wees en dit word dikwels mens se identeit. Ek voel dat ek nog nie reg is om weer daardie verantwoordelikheid te dra nie, en wil eerlik ook fokus op my graad.
Ek het die winter ook koshuisrugby vir die derde span gespeel en dit baie geniet. Ek speel ook vir die tweede span tennis. Verder het ek bietjie debat gedoen en skaak gespeel.
Dan het ek ook ’n meisie in my lewe – ons gaan al van einde matriek uit en dis lekker om ook in daardie area van my lewe iemand te hê wat baie liewer is vir die Here as vir my.
Ek weet dankie is so ‘n klein woordjie, maar baie dankie vir die geleentheid wat Atterbury my en my suster, Elmari, gee om te studeer. Dit beteken baie meer as wat ek ooit in woorde sal kan beskryf.
Vriendelike groete,
Awie Botes
|
|
|
|
|
|
|