Atterbury Trust Nuusbrief
Lees op die internet
September 2014
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Jakarandastad bo!

Van films, tot digkuns en beeldende kunste, Atterbury is behoorlik betrokke by die Cool Capital 2014 biennale. Die Atterburyteater gaan deel van die filmfees aanbied; en restaurante en geboue in Atterbury se eiendomsportefeulje word gebruik vir die Capital Poetry Project, met Atterbury Trust se Zahn Hulme aan die hoof as die programdirekteur.

“Afrikaanse, Engelse en Sepedi digters het opdrag gekry om nuwe digkuns te skep en hierdie gedigte sal gedurende die biennale op geboue geprojekteer word en ook gedruk word op plekmatjies vir restaurante. Die digkunsprojek integreer lekker met Atterbury se bestaande infrastruktuur,” sê Zahn.

“Daar was ook ’n digkompetisie in samewerking met NERDAfrica, wat jong digters aangemoedig het om nuwe gedigte te skryf oor hul ervaring in die hoofstad.”

Volgens Carla Taljaard van Cool Capital is daar ’n totaal van 15 gedigte gekies vir die plekmatjies, en vanaf 29 Augustus sal hierdie openbare digkuns by al die restaurante in Atterbury se eiendomsportefeulje in gebruik wees.

Lees meer

Triomfkliniek – een maand later

Dit is n maand sedert die Triomfkliniek sy deure vir Pretoria-Wes se behoeftiges oopgemaak het en Atterbury Trust is geweldig trots om te sien hoe hierdie baken van hoop sy voete vind in die landskap. Almal wat kom aanklop vir hulp is beïndruk deur die netheid van die fasiliteit en die empatie van die versorgers.

Daar is natuurlik nog groeipyne, bevestig Dr Marc Roscher, een van die medici wat pa staan vir die oorspronklike idee wat gelei het tot die kliniek, maar daar is reeds sowat 40 pasiënte gehelp. Die suster wat die kliniek daagliks gaan beman, kon nog nie haar pos inneem nie, maar n tydelike werker is aangestel om te help met die administratiewe lading tot tyd en wyl.

Dr Roscher laat hom nie keer deur afstand nie. Hoewel sy dermatologiepraktyk in KwaZulu/Natal gebaseer is, het hy reeds een velkliniek kom aanbied en agt pasiënte op die een dag gesien. “Hulle was almal puik verwysings – twee kankeroperasies ook – ek is seker ons ingryp daar gaan n groot verskil aan mense se lewens maak,” vertel Dr Roscher. “Verder gaan ons n teledermatologie-kliniek op die been bring, waardeur ons internetkonsultasies en voorskrifte kan doen – dis uniek tot dermatologie en n internasionaal-aanvaarbare tegniek wat goed werk,” verduidelik hy.

Daar is reeds een ander dermatoloog gevind wat kan hand bysit, en hoe meer dokters op die rooster kan kom, hoe meer mense sal die kliniek natuurlik kan help, aldus Dr Roscher. “Ons het veral algemene praktisyns vir die oggendsessies nodig. Ons hoop veral dat ons binnekort gekwalifiseerde dokters van die Universiteit van Pretoria se departement van Huisartskunde kan betrek – dit gaan baie help.”

Lees meer

Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn

Leer ken ons skool - Beyers Bytjies
Pre-Primêre Skool

Van n handjievol kleuters en twee besorgde tannies in n toegeboude motorhuis, tot n volwaardige skool met 170 kinders, sewe klasse en 32 personeellede… Beyers Bytjies bewys wat kan gedoen word as individue en organisasies soos Atterbury betrokke raak by behoeftige gemeenskappe.

“Van ons eerste maatjies is nou al op universiteit, en dit maak my baie trots om te sien hoe ver ons gekom het,” sê die skoolhoof, Frances Delport, wat destyds in 2002 saam met Betsie Dreyer, n legendariese maatskaplike werker van die omgewing, by Danville se kerk n heenkome vir die kleuters van die omgewing geskep het. Destyds is die skooltjie Fraaie Pêrels genoem, en was die hoofdoel om vir die sowat 40 kleuters een maaltyd n dag te voorsien en hulle opvoedkundig te stimuleer en emosioneel te ondersteun. “Dis n hartseer feit dat die meeste mense in Danville onder die broodlyn leef, en voortslepende werkloosheid en haglike sosio-ekonomiese omstandighede beteken daar is baie min hoop op verbetering,” vertel Frances.

Die skooltjie het oor die afgelope 12 jaar daardie plek van hoop geword vir die kinders wat daagliks vir n paar uur kan ontsnap uit huislike omstandighede waar die basiese behoeftes van skuiling, kos en liefde nie altyd beskikbaar is nie.

Lees meer

Ontmoet die Bytjies…

IQY

Hoe oud is jy? Ek is vyf.

Wat is jou gunsteling liedjie? Vader Jakob.

Jou gunsteling kleur? Blou.

Wat eet jy die graagste? Ek hou baie van braaivleis.

Jou gunsteling storie? Die drie varkies.

Wat doen jy die graagste by die skool? Ek speel die graagste met die boublokke en swaai ook baie graag.

NEO

Hoe oud is jy? Ek is ses jaar oud.

Wat is jou gunsteling liedjie? Jesus Loves Me.

Jou gunsteling kleur? Pers en groen.

Wat eet jy die graagste? Ek is mal oor KFC, mamma koop amper elke dag vir my daarvan.

Jou gunsteling storie? Die een van Dawid en Goliat.

Wat doen jy die graagste by die skool? Ek hou baie daarvan om legkaarte te bou.

Leer ken nog Bytjies
Kopiereg © 2014 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting