Atterbury Trust Nuusbrief
Oktober 2016
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

My hart gaan vandag uit na die bykans 190 Atterbury Trust studente wat tans in groot onsekerheid aan ons universiteite studeer. Die gevoel is sekerlik nog meer intens omdat my eie seun ook vanjaar aan Stellenbosch begin studeer het. Veertig van ons Atterbury Trust-studente moet vanjaar graad vang, ekonomies aktief raak en hulle kosbare kundigheid terugploeg om van Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak.


Met baie van ons Suid-Afrikaanse kampusse wat tans brand, is die kwessie van gratis tersiêre onderwys opnuut weer op die tafel. Die gebrek aan daadwerklike leierskap in ons land en die manier waarop belastinggeld onregmatig bestee word, is definitief bydraende faktore.  Werkloosheid, swak basiese onderwys, gebrek aan basiese sanitasie en huisvesting vir almal, ondervoeding en die magdom ander sosiale kwessies speel definitief ook ’n rol. Geweld, intimidasie en vernietiging van eiendom en fasiliteite is egter nooit die antwoord nie. Dit is noodsaaklik dat ons kampusse oop bly sodat die oorweldigende meerderheid van studente wat wil studeer, die studiejaar onverstoord kan voltooi.

Atterbury Trust ondersteun finansieel behoeftige studente in Suid-Afrika reeds vir bykans twintig jaar. Ons kan wonderlike lewensverhale deel van studente wat uit haglike omstandighede gekom het, maar met daardie een geleentheid om hulle akademiese drome te verwesenlik en ’n kwalifikasie te behaal, is hulle hele toekoms verander. In hierdie Omgeenuus deel ons twee stories van Atterbury Trust beursstudente wat hulle kanse gebruik en ’n verskil maak. Altus maak planne saam met sy Tukkiekoshuis, Sonop, om minderbevoorregte studente met behuising te help en Charlene presteer in Potchefstroom met haar pragtige ontwerpe.

Dan is ons ook hard besig in Pretoria-Wes om die Triomfkliniek verder uit te brei met vier nuwe spreekkamers. Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie waaraan 36 belowende jong pianiste van 17 – 21 Oktober in die Atterbury Teater deelneem, is beslis ’n ligpunt in die jaar! Woon gerus die eerste rondtes by wat gratis vir die publiek oopgestel word en kry jou kaartjies vir die gala-aand wanneer die wenner aangewys word!

Besigheid het definitief ’n belangrike rol om te speel deur terug te investeer in die stelsel. Studente het positiewe rolmodelle en mentors nodig om hulle in die grootmenswêreld van werk en verantwoordelikhede te begelei. Ons nooi u uit om betrokke te raak by Atterbury Trust – as donateur, mentor of werkverskaffer vir Atterbury Trust studente. Ons het u hulp nodig. Suid-Afrika het nou u hulp nodig.
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

’n Man maak ’n plan

Een ding wat jy van Atterbury Trust-beursstudente kan sê is dat hulle altyd vol planne is, en omgee vir hulle medemens. Toe Tukkiestudent Altus Bischoff se koshuis vind dat hulle jaarlikse fondsinsamelingsprojek dreig om skipbreuk te lei, was ons man daar met ’n plan. Hy vertel ons meer.

Waarvoor samel julle geld in?
Ons koshuis, Sonop Christelike Tehuis, is opgedeel in verskillende streke (Weste, Noorde, Ooste, Sentraal en Senaat) en dis die Westemanne, van wie ek deel is, wat die insameling hou. Ons doen dit jaarliks om die Weste-ouens wat finansieël sukkel te ondersteun, en gewoonlik bied ons ’n fondsinsamelings-gholfdag aan. Hierdie jaar het ons borg op die nippertjie onttrek en toe moet ons ’n ander plan maak. Vandaar die insamelingskonsert by die Atterbury Teater.

Hoe het jy by die insamelingsprojek betrokke geraak?
Ons Weste-streeksleier het by ’n vergadering die nuus meegedeel dat die gholfdagborg onttrek het. Omdat ek vir Atterbury ken en een van hulle beurshouers is, het ek dadelik vir Zahn gebel. Die Trust het ingestem om ons te help en my in kontak met Matthys en Paulette by die Atterbury teater gesit. Nou is ek aan die stuur van sake saam met die streeksleier.

Hoeveel het julle nodig?
Ons het nie ’n spesifieke bedrag in die oog nie; maar hoe meer ons invorder hoe beter, want die nood is altyd daar en hoe meer ons het, hoe meer kan ons help.

Lees volle storie

’n Oog vir mode

Atterbury Trust-beursstudent Charlene Pretorius het ’n oog vir styl, en het onlangs ’n mode-ontwerpprys losgeslaan by die Noordwes-Universiteit op Potch. Ons het aangesit vir ’n koppie tee en modewenke saam met hierdie uitblinker…

So swot jy mode-ontwerp? Vertel ons van die prys wat jy gewen het…
Ek swot Verbruikerswetenskap en is in my derde en finale jaar. Ons fakulteit se Akademiese Studentevereniging hou altyd in die laaste semester ʼn modeparade om die studente se talente en vaardighede ten toon te stel en so ook om te spog by ouers en medestudente. Elke jaar word ʼn tema gekies – vanjaar s’n was Afrochic, omdat die modebedryf ’n sterk Afrika inspirasie voorspel vir 2017. Mens is beoordeel volgens jou interpretasie van die tema en nog ’n klomp ander kriteria.

Wat het die prys behels?
Ek het ongelooflike pryse van verskeie borge gewen… onder andere 30 dae internskap by Isabelle Lotter Juwele; sonbrille, ’n handsak, geskenkbewyse en ’n pragtige bos blomme!

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek het grootgeword teen die Magaliesberge in die Hartebeespoort area, so my liefde vir die natuur is van kleinsaf in my siel. My pa het my altyd sy kaalvoetkind genoem! Ek is vas oortuig ek moes eerder ʼn seuntjie gewees het, maar my ma sê God het nooit gesê net seuntjies mag in die modder speel of bome klim nie!  My gesin is klein, maar geseën – ek het ʼn laatlamboetie van 11, ʼn sussie van 18 in matriek en ’n ousus van 28 wat in Jeffreysbaai woon. My ma is ʼn pragtige siel, maar het soms haar hande vol met ons klomp. My wonderlike rolmodel pappa is in Oktober 2014 oorlede na ʼn lang stryd teen kanker.

Lees volle storie

Soveel oop hande vir Triomf Kliniek….

Sedert die SA Vrouefederasie hulle harte oopgemaak het en nog ’n deel van SAVF Margaretha Ackermann tehuis aan Triomf Kliniek beskikbaar gestel het, is daar omtrent planne gemaak en begin werskaf om die kliniek uit te brei. Atterbury se Zahn Hulme bring ons op datum


Wanneer maak die nuwe vleuel oop?
Op die oomblik kyk ons na so middel-November. Die opwinding is groot!

Hoe ver is die aanbouings en wat presies word gedoen?
Ons is besig om vier nuwe spreekkamers te bou, waarvan een vir ’n tandarts sal wees. Ons is so bly dat ons nou ook tandartsdienste sal kan aanbied nadat ons ’n tandartsstoel in die hande gekry het. Die badkamers word ook opgeknap, en ons sien uit daarna om vir die pasiënte ’n behoorlike wagkamer te kan aanbied om te wag vir hul afsprake, sodat hulle nie buite in die wind en weer hoef te sit nie. Ons kry selfs professionele landskapwerk aan die tuin om die hele perseel te verfraai… Atterbury het al heelwat werk met die voorste landskapsargitek Danie Rebel gedoen, en ons is baie dankbaar dat hy sy dienste aangebied het om Triomf se tuin te kom mooi maak.

Een van die wonderlike dinge omtrent Triomf is dat mense en instansies so graag ’n helpende hand uitreik…
Ja, daar is soveel goedgunstigheid en naasteliefde daar buite. Nog goeie nuus wat ons gekry het is dat die Pretoria Ooghospitaal ingestem het om 30 katarakoperasies gratis vir Triomfpasiënte te doen! Ons is dus nou besig om te kyk waar die behoefte lê en die operasies sal binne die volgende maand begin gebeur soos ons die mense identifiseer.

Dis sulke goeie nuus!
Ja en dis nog nie al nie. Ons ginekoloog, Dr Liz Erasmus, het gesukkel om haar ondersoeke effektief sonder ’n sonarmasjien te doen en ons het navrae begin doen. So het die Zuid-Afrikaanse Hospitaal tot die redding gekom en vir ons een geskenk. Dr Liz is omtrent in haar noppies! ZAH is aangewys as een van Discovery se 20 beste hospitale in die land, maar hulle hart is ook op die regte plek. Wat ’n voorreg om met hulle te kan saamwerk. Behalwe die sonarmasjien, het ZAH boonop ook vir ons teatertyd gegee sodat ons een operasie per maand gratis kan aanbied vir ’n Triomfpasiënt. Dis net so ’n ongelooflike gebaar… partykeer daag daar ’n pasiënt op wat regtig ’n operasie nodig het, maar al het ons dokters wat bereid is om die operasies sonder koste uit te voer, help dit nie as daar nie ’n teater is nie.  Nou kan ons minstens elke maand een pasiënt wat dit die nodigste het help, en wie weet hoe dit vorentoe ontwikkel. Ons sien uit daarna om soos altyd vir die mense van Danville uitnemende sorg met deernis te gee…en nou ook in ’n mooier omgewing!

Skenkings is altyd welkom, so enigiemand wat wil bydra tot die groei van Triomfkliniek, kan gerus die die SAVF kontak by 012 3253920

Ons  Atterbury Trust


Die woorde “baie dankie” word so maklik gebruik en ek wens soms daar was sterkter woorde om my opregte gevoel van waardering te kan uitdruk. Na amper nege jaar is my studiebeurs afbetaal en wil ek graag baie dankie sê vir die voorreg om ’n studielening by julle te kry. Ek het my B.Com Honneurs in Bemarking & Entrepreneurskap in 2007 by die Noordwes-Universiteit voltooi, nadat ek my B.Com Kommunikasiebestuur-graad verwerf het.

Danksy julle hulp het my kwalifikasie my reeds op hierdie lewensreis geneem:

Ek het in Desember 2007 in Kimberley by Aurecon (destyds Africon) begin werk as assistant-projekbestuurder. Ek was betrokke by gemeenskapsontwikkeling en moes vinnig verskillende kulture leer ken en verstaan. Min het ek geweet dat ek my kwalifikasie gaan begin gebruik om op my manier terug te gee aan die gemeenskap vir ’n geleentheid wat Atterbury vir my gegee het.

Die gogga het gebyt en so het ek in 2012 begin werk as “Superintendent Enterprise Development" by Assmang Khumani Myn in Kathu area. Tans leef ek my droom uit om ’n impak te maak in minderbevoorregte gemeenskappe deur gemeenskapsontwikkelingsprojekte te bestuur vir die myn se sosiale beleggings. Die myn het ook ’n studiebeursprogram wat aan kinders in die gemeenskap toegeken word. Ek was tot onlangs deel van die span om dit te help bestuur en kon hulle opgewondenheid deel, omdat julle my destyds ’n soortgelyke geleentheid gebied het.

Nie alleen is ek ’n beroepsvrou nie, maar ook getroud en al ’n mamma van twee woelwaters. Baie dankie dat julle my gehelp het om die perfekte sleutel te vind om my lewensreis in die korporatiewe wêreld te begin.

Vriendelike groete
Elrinda Rost (Brydenbach)
Elrinda met haar familie
Ek kan met trots (en blydskap) sê dat ek vanoggend my laaste paaiement op my studielening betaal het. Baie baie dankie vir al julle hulp en ondersteuning terwyl ek voorgraads gestudeer het en daarna. Julle het ’n onmeetbare bydrae gemaak tot die sukses van my studies, maar meer as dit, julle het aan my lewe ’n verskil gemaak. Die maatskappy en al die personeel met wie ek al te doen gekry het, is ’n inspirasie en stel ’n voorbeeld wat mens nie anders kan as om na te streef nie.

Vriendelike groete
Nelius Bekker
Junior lektor, Departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, Stellenbosch Universiteit.

Jong pianiste kom wys hul klavier-spiere

Vanaf 17 tot 21 Oktober is dit weer tyd vir Suid-Afrika se top jong pianiste om hul talent by die Atterbury Teater te kom ten toon stel en mee te ding in die jaarlikse Atterbury Nasionale Klavierkompetisie. Ons gesels met Marichen Kapp, een van die organiseerders van die kompetisie.

Wat maak Atterbury se Klavierkompetisie so spesiaal?
Daar is heelparty nasionale musiekkompetisies, maar hierdie is die enigste een wat spesifiek op pianiste gerig is. Dit gee dus die jong spelers kans om op gelyke vlak met mekaar mee te ding en in aanmerking te kom vir klavierpryse in meer kategorieë as by enige algemene musiekkompetisie. Die algehele wenner wen ’n kontantprys van R30 000, maar daar is nog R80 000 in pryse beskikbaar vir al die ander uitblinkers om ook te wen. Dit is dus regtig ’n wonderlike kompetisie vir klavierliefhebbers.

Hoe werk dit tipies as iemand besluit om in te skryf?
Wel, dis beslis nie ’n blitsbesluit nie. Die student en musiekonderwyser moet minstens ’n jaar vooruit die besluit neem wanneer ’n kind aan ’n kompetisie van so ’n kaliber wil deelneem. Dit is hoe lank dit neem vir die onderwyser om die student se repertoire vir die kompetisie vooruit te beplan, en dan die tyd en harde werk wat dit neem om die vyf werke op die vereiste vlak te kry. Regtig, dis ’n hele jaar se werk! Die laaste note van die een jaar se kompetisie is skaars koud, dan begin hulle met volgende jaar se stukke.

Hoe lank bestaan die kompetisie al?
Ons is vanjaar in ons sesde jaar. Ons het in Oktober 2011 begin, die jaar toe Atterbury Teater sy deure oopgemaak het.

Lees volle storie
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting