|
|
In 1998 is die heel eerste onderhoude vir Atterbury Trust se splinternuwe beursprogram gedoen. In 2018, twintig jaar later, is meer as 600 beurse reeds toegestaan en het meer as 370 studente al hulle grade behaal.
Om twee dekades van akademiese trots te vier, wil ons vanjaar graag al ons alumni bymekaar kry. Ons sien daarna uit om almal se stories te hoor en wil sukses en geleenthede vier wat hulle sedert die afloop van hul studies beleef het. Meer nog, ons wil die alumni-studente in kontak bring met huidige beursstudente, en 'n alumni-program begin sodat ons die kringloop van sukses en geleenthede kan voltooi. Ons sal graag wil sien dat elkeen van ons alumni 'n mentor word, of vir 'n huidige student vakansiewerk fasiliteer by hulle huidige plekke van werk... of self in die jare wat kom 'n donateur word. Ons alumni se sukses is 'n baken van hoop vir elke huidige student!
Carmen Wright is só ’n baken van hoop. Sy was een van die eerste groep beursstudente wat in 1999 met haar BCom Rek studies aan Tuks begin het. Sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester wat nou by Unisa klas gee. Lees haar storie in hierdie uitgawe van Omgeenuus.
’n Groot deel van die uitsonderlike hoë slaagsyfer van studente in die Atterbury Trustbeursprogram kan toegeskryf word aan die persoonlike aandag aan studente – deur die mentorskapprogram, die gereelde en noukeurige nagaan van akademiese resultate, kontaksessies en ons jaarlikse beursfunksies.
Die eerste van ons jaarlikse beursfunksies is vroeg in Maart met ons Wes-Kaapse studente in die wynkelder van die pragtige Rust en Vrede-landgoed gehou. Dit was heerlik om van die eerste Kaapse alumni tot huidige eerstejaars van 2018 te kon verwelkom.
|
|
Op 27 Maart verwag ons ongeveer 100 van ons studente van Pretoria, Potchefstroom en omstreke by Die Klubhuis, waar hulle met Atterbury se personeel gaan meng en netwerke bou.
Triomfkliniek in die weste van Pretoria het hande gevat met Operation Healing Hands. Baie van die pasiënte wat deur ons dokters by Triomfkliniek gesien word, benodig sjirurgiese prosedures – wat baie geld kos. Ons is ook baie dankbaar vir heelparty hospitale wat aan boord gekom het deur gratis teatertyd te verskaf. Daar is reeds 17 Triomfkliniekpasiënte in die afgelope jaar deur Healing Hands geopereer.
Die uitdaging van die Atterbury Trust se betrokkenheid by die Triomfkliniek is om genoegsame fondse beskikbaar te hê om die bedryfskostes van duur mediese prosedures te dra. Ons is voortdurend op soek na donateurs wat bereid sal wees om maandelikse bydraes te maak om operasionele kostes te dek. Die dokters werk vrywillig, hospitale soos ZAH, Mediclinic en Centurion daghospitaal gee teatertyd, maar medikasie, prostese en ander verbruikbare items is swaar op ’n begroting. Ons verwelkom enige bydraes met groot dankbaarheid.
Ons is baie opgewonde oor Coenie de Villiers se inisiatief, met die Lucas Maree liedjieskryfskool. Lees meer hieroor in hierdie uitgawe van Omgeenuus. Alle jong aspirant liedjieskrywers in Graad 11 en 12 word uitgenooi.
Baie seën vir die Paastyd. Ons vertrou dat elkeen opnuut ’n verdieping van jou verhouding met die gekruisigde en opgestane Jesus sal beleef.
|
|
Soos ons opbou na die 20ste herdenking van die aanvang van Atterbury Trust se beursprogram, het ons van ons eerste uitblinkers gaan opsoek en kyk met verwondering na waar hulle hulle vandag bevind. Vandeesmaand gesels ons met Carmen Wright, nog een van die Eerste Ses beursstudente, wat in 1999 met die Trust se hulp begin swot het.
Kan jy onthou hoe jy destyds van die beurs te hore gekom het?
Dit is so lank gelede dat die details nie meer vir my duidelik is nie, maar ek dink dit was deur my hoërskool. Ek het ook vir ander beurse aansoek gedoen maar is nie eers vir een ander onderhoud genooi nie…
Hoe lank was Atterbury Trust deel van jou studiepaadjie? Wat het jy geswot?
Ek het van 1999 tot 2002 BCom Rek en toe BCom (Hons) Rek deur die Universiteit van Pretoria geswot, so ek was ook in die heel eerste groep van Atterbury Trust se beursstudente. Ek het ’n beurs gehad vir die hele tydperk.
En op watter draaie het jou beroep, en die lewe, jou sedertdien geneem? Waar bevind jy jou vandag?
Ek het my klerkskap by Deloitte in Pretoria gedoen van 2003 tot 2005. Daarna het ek by Deloitte Forensic and Dispute Services aangesluit om skelms te vang. Dit was baie opwindend, maar na die geboorte van my eersteling, Jonathan, het al die reis vir werk en ad hoc ure moeilik begin raak. Ek het in 2009 by Unisa aangesluit as ’n senior lektor. Daarna het ek my MCom (forensiese rekeningkunde) by NWU voltooi en leef nou my passie uit as dosent by Unisa en ook mamma. Ek en my man, John, en Jonathan, wat nou nege is, en die sewejarige Julia woon in Magalieskruin in Pretoria.
|
|
’n Beurs met humor losgeteken…
|
|
Die wenner van VivA Afrikaans se jaarlikse skole-idioomkompetisie is onlangs aangewys, en Ilja de la Guerre van Durbanville in die Kaap het die groot prys van ’n Atterbury Trust studiebeurs losgeslaan met ’n hele sakvol oulike inskrywings. Volgens die organiseerder, Sophia Kapp van VivA, het Ilja presies gedoen wat hulle met die kompetisie beoog: sy het geleer, en sy het dit geniet om by die taal betrokke te raak. Ons het by die kunstige jong Kapenaar gaan aanklop.
Baie geluk; jou illustrasies is almal so oulik! Was dit jou eerste VivA-Skolekompetisie? Hoeveel inskrywings het jy ingestuur en hoe lank het jy hieraan gewerk?
Dankie! Dit is vir my ’n groot voorreg en ek het dit baie geniet om deel te neem. Ek het hierdie jaar vir die eerste keer deelgeneem nadat iemand my in Junie daarvan vertel het. Ek het in Julie my eerste inskrywings gestuur, en daar was op die ou end altesaam 15 (’n paar was my destres-aktiwiteite tydens my matriekeksamen), die laaste een die dag voor die kompetisie gesluit het.
Op watter van vanjaar s’n is jy die trotsste – watter een is jou gunsteling? Was daar een wat jy oor en oor gedoen het voor jy tevrede was met die konsep?
My gunsteling inskrywing was “Al dra ’n aap ’n goue ring…..”, maar die een waarop ek die trotsste is, is ’n penskets van “Haar kompas staan stil” – dit het my die langste geneem. Daar is ook ’n paar wat ek begin maar nooit klaargemaak het nie. My gesin en vriende was vreeslik meelewend en het baie kommentaar en idees gegee van die “kantlyn” af, alhoewel ek nie noodwendig daarna geluister het nie.
Jou prys is ’n Atterbury Trust studiebeurs… wanneer maak jy klaar met skool en weet jy al wat en waar jy wil gaan swot?
Ek het November 2017 met matriek klaargemaak en het hierdie jaar begin met ’n kunsgraad (BVA) deur Unisa. Kuns en Afrikaans was my beste vakke – met kuns (AS level) het ek die beste punt in Suid Afrika gekry in 2016. Ek het regtig ’n wonderlike kunsonderwyseres gehad van Graad 8 tot 12 – Desire Morton, van El Shaddai Christian School – ’n Cambridge skool in Durbanville.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Die beursfonds wat Atterbury Trust administreer, is ’n lewenslyn vir baie jong slimkoppe wat geen ander manier het om tersiëre onderrig te bekostig nie. Bolandse nooientjie Levonia Isaacs kom uit ’n familie van ongeskoolde plaaswerkers en sy is die eerste van haar familie wat ná skool verder kan gaan swot. Die 19-jarige het pas begin met haar Spa Ontvangskursus by Isa Carstens in Stellenbosch.
Jou kursus is half teorie en half prakties, sê jy. Hoe verloop ’n tipiese dag by die Isa Carstens Akademie?
Oggende is teorie, en in die middag volg die prakties. Ons leer ook skoonheidsterapievakke, soos naeltegnologie en grimering. Daar is 12 van ons in die klas, en dis ’n eenjaarkursus. Ek het met die vakke wat ek gekies het, so twee tot drie dae van die week klas. Na ure is daar natuurlik hersieningswerk en take, en ons skryf gereeld klein toetsies om seker te maak ons bly by. Ons almal gebruik ’n elektroniese, aanlyn-platform met die naam Moodle, waarop ons alles doen – ons roosters en take is daarop, ons doen ons toetse daarop en kry ook daarop ons uitslae; alle kommunikasie met ons lektore is ook daarop!
Vertel ons bietjie van jou agtergrond?
Ek het grootgeword op ’n plaas in Lynedoch, ’n klein dorpie naby die Spierwynlandgoed op Stellenbosch. Ek het gekies om eerder by my ouma en oupa te bly op die plaas waar hulle gewerk het – daar het ek na die plaasskooltjie gegaan tot Graad 7. Na laerskool het ek toe na my ma-hulle toe getrek in Eersterivier om daar hoërskool toe te gaan. My ouma en oupa het toe ook afgetree en saamgetrek Eersterivier toe. My ouers werk ook in Lynedoch op ’n plaas, en ek het een boetie van 13, wat in ’n ander plaasskooltjie is. Ons bly nou almal saam in Eersterivier.
Hoe voel dit vir jou as die eerste in jou gesin om verder te studeer – voel dit soos ’n groot verantwoordelikheid?
Ja dit is nogal. Ek het ook nie gedink ek sal die kans kry nie – my ouers werk op die plaas en het nie geld nie so ek het gedink dit sal maar net ’n droom bly. En nou my heel beste doen, sodat ek aan die einde van die dag ook vir hulle ’n beter lewe kan gee.
|
|
Triomfkliniek en Operation Healing Hands werk saam
|
|
Leonard van Rhyn is een van 10 pasiënte wat reeds vroeg vanjaar deur Healing Hands gehelp is. In Februarie is kwaadaardige gewasse van sy oor en gesig verwyder. Die lang en moeilike operasie is by Zuid Afrikaans Hospitaal (ZAH) uitgevoer, waar hy op die hande gedra is en top-klas mediese diens ontvang het. ’n Maand later is hy besig om mooi aan te sterk.
Ook in Februarie het Operation Healing Hands ’n volle tien operasies op een dag vir liefdadigheid gedoen, en nege hiervan was vir Triomfkliniek-pasiënte. Twee pasiënte is by ZAH geopereer deur die Healing Hands-span, en in albei gevalle is kommerwekkende gewasse verwyder.
Op dieselfde dag het nog ses Triomfkliniek-pasiënte by die Centurion Dag Hospitaal ’n verskeidenheid prosedures ondergaan, van mangelverwydering tot dreineringspypies in die ore en sjirurgie van die frenulum.
Evander Janse van Rensburg het vier verskillende prosedures ondergaan en sy geval was so interessant en uniek dat Jacaranda 94.2 se “Good Morning Angels” daarvan te hore gekom het en sy storie nou eersdags op die ontbytprogram uitgesaai word.
Vir meer inligting oor Operation Healing Hands en die werk wat hulle saam met inisiatiewe soos Atterbury Trust se Triomfkliniek doen, besoek https://www.ohhsa.net.
|
|
Ons Atterbury Trust
Liewe Triomfkliniek
Ons was in die loop van 2016 by julle kliniek met ons kleinkinders Chanell en Lehandri Cronjé. Hiermee wil ons julle net op hoogte bring van die twee se behandeling.
Chanell het die oogtoestand strabisme en was nou al drie keer by Steve Biko hospitaal vir oogtoetse en die voorskrif vir haar bril wat sy seker ’n hele paar jaar sal moet dra om haar oog 100% te herstel. Sy kan nou sien in die klas, wat sy voorheen nie kon doen nie.
Wat Lehandri betref het ons na toetse uitgevoer deur Prof Honey van Pretoria Universiteit en Wits Universiteit uitgevind dat sy 47 chromosome het, wat haar uniek maak, en dat die chromosoom wat te doen het met haar gesiggie identies gesplit is.
Sy het op 23 Januarie ’n drie-uur-lange operasie ondergaan wat deur Dr Naidoo by Pretoria Universiteit se mond-afdeling uitgevoer is, en is daarna oorgeplaas na Steve Biko se pediatriese afdeling vir versorging. Gedurende die operasie is daar herstelwerk gedoen om onder andere haar verhemelte te heg, en om haar spraakspiere te verstel. Die operasie was ’n sukses en ons was reeds vir een opvolgondersoek. Sy begin volgende week in Polokwane (waar ons bly) met haar spraak- en arbeidsterapie. Almal wat met Lehandri te doen het, kan baie duidelik al die verskil hoor aan haar spraak en glo my, sy babbel een strook deur!
Ons wil almal wat die behandeling van hierdie twee mensies moontlik gemaak het, opreg bedank en ons groot waardering uitspreek vir die puik diens van die Triomfkliniek.
Ons opregte dank aan almal!
Johann en Ena Cronjé
Grootouers
|
|
|
Beste Zahn,
Die toenemende storm van vreugdes uit die Trust se suksesstorie en beursalumni Jacomien se herinneringe laat my vandag ver dink. Dankie weereens vir hoe jy die Trust bedryf en uitbou. Dis ’n voorreg dat ek daarin mag deel sonder om ’n “aftreevinger” hoef te lig. Daarby die voorreg dat my kleinkinders ook lewenswaarde kan put by studente wat glad nie ’n gelykpad het nie.
Groetnis,
Francois van Niekerk
|
|
|
Leerskool vir jong aspirant liedjieskrywers
|
|
Afrikaanse kultuur en opvoeding is Atterbury Trust se groot passie, en daar is niks waarby die Trust so graag betrokke raak as iets wat albei elemente saamvoeg nie. Die ATKV se nuwe Lucas Maree-liedjieskryfskool vir hoërskoolleerders tiek al die boksies, en daarom is die Trust saam met die ATKV aan boord as een van die borge, vertel Zahn Hulme.
Wat behels die liedjieskryfskool, en op wie is dit gemik?
Coenie de Villiers het met ons kontak gemaak na Versnit 2017. Hy wou graag terugploeg in die musiekbedryf wat so goed vir hom was oor al die jare en die skat van Afrikaanse liedjies uitbou deur jongmense te inspireer om oorspronklike kwaliteit liedjies te skryf en te toonset. Die idee van ’n werkswinkel het toe ontstaan. Hierdie werkswinkel gaan vanaf 25-27 Mei by Affies plaasvind, en dit is spesiaal vir Graad 11- en 12-leerders bedoel. Talle bekende musikante en kundiges in die musiekbedryf sal klasse en praatjies aanbied, en daar sal ook individuele sessies met die leerders wees.
Kan jy deel wie die sangers is wat deelneem?
Daar is groot name… van Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Coenie de Villiers tot Karin Hougaard, Anna Davel en Jannie du Toit en meer.
|
|
Laai die ATKV Lucas Maree-liedjieskryfskoolvorms af
Inskrywingsvorm PDF
Uitnoding PDF
Program PDF
|
|
|
|
|
|
|