|
|
Aan die einde van 2017 kyk ons weer terug na ’n goeie jaar waar ons die verskil wat deur die Trust en sy mense gemaak word, elke dag kon ervaar. Daar het vanjaar verskeie nuwe donateurs en medewerkers bygekom – van die rekordbedrag bydraes wat ons in Januarie 2017 by Versnit ontvang het, Zuid-Afrikaans Hospitaal wat twee mediese en twee verpleegstudente se beurse borg, tot die ruimhartige donasies aan die Triomfkliniek en dan tussen-in wonderlike onverwagte meevallers in die vorm van kantoormeubels deur Parkdev geskenk, matrasse en kantoortoerusting van Isa Carstens in Stellenbosch of Eggbert se eiers vir die Pikanini’s in Wolmer en die Beyers Bytjies kleintjies in Danville. Dan het ons nog die Atterbury Nasionale klavierkompetisie ondersteun, die Idioomkompetisie van VivA, Cool Capital se wonderlike inisiatiewe asook die BoekeJol en Flimrolfees. Dankie ook aan medewerkers GROOTfm 90.5 en die mense van GROOT Ontbyt wat altyd bereid is om die goeie nuus te deel en gemeenskappe te mobiliseer om betrokke te raak. Julle oop harte en hande inspireer ons om elke dag met nuwe krag aan te pak!
Dankie ook aan al ons kollegas van die Atterburyfamilie – julle hande staan vir niks verkeerd nie! Julle het plantjies geplant op Mandeladag, blikkieskos vir Kersfees gegee, konsertkaartjies gekoop as ons julle geVATTSO het, en een van ons Atterburymanne, Gerhard van der Westhuizen, het tot ’n deel van sy gholfdag se opbrengs geskenk sodat ons nog ’n argitektuurstudent in Bloemfontein kon help.
Dit gaan baie goed by die Atterbury Teater – wonderlike produksies met al die kaartjies uitverkoop en Paulette se “boek” vir volgende jaar is reeds volbespreek! So van konsert gepraat, daar is konsert gehou vir die Triomfkliniek in die Atterbury Teater, Karoosuite en AfriFrans het met die Atterbury Trust se bydraes vol sale getrek, die manne het die hare laat waai in die middel van die winter ten bate van die mees behoeftige daklose mense in Sunnyside, ons studente het gecum, getoer, gelei, gespeel en gelukkig ook, hard studeer.
Soos die punte inkom teen einde November, begin Desember, het ons net weereens besef wat die impak van die geleentheid van ’n tersiêre opleiding op iemand se menswees is. Meer as 50 studente gaan weer vanjaar graad vang en die Suid-Afrikaanse arbeidsmark betree. Ons wens julle alle sterkte toe en weet dat julle ’n wesenlike impak gaan hê – waar julle ookal begin werk. As daar van ons vennote en medewerkers is wat nog werksgeleenthede vir ambisieuse, gebalanseerde jong gegradueerdes het, kontak ons gerus. Daar is onder andere regslui, rekenmeesters, ekonome, ingenieurs, onderwysers en rekenaarkundiges onder Atterbury Trust se alumni. Ons deel twee van hierdie graduandi op wie ons baie trots is, Louis en Liezel, se stories in hierdie uitgawe van Omgeenuus.
Dagbreek Trust se Trust vir Afrikaanse onderwys het die projekbestuur van ’n aantal infrastruktuurprojekte by Afrikaanse skole aan ons toevertrou en ons kan met trots terugkyk na die eerste projek - die pragtige veeldoelige kultuursentrum en sportvelde wat in Junie vanjaar by Hoërskool Nelspruit in gebruik geneem is. Daar is nog ’n hele aantal skoleprojekte in Pretoria, Rustenburg, Vryheid en Pietersburg wat huidiglik deur die Trust bestuur word.
Ons beleid by die Trust is om volgehoue ondersteuning aan organisasies te gee – ons stap die pad saam. Laerskool Westerlig is een van die skole waar ons alreeds vir meer as 15 jaar betrokke is. Lees in hierdie Omgeenuus meer van die moedige man aan die stuur van sake daar in Danville – Erich Cloete.
Ons wil elkeen van ons donateurs en medewerkers bedank vir julle volgehoue ondersteuning aan die Trust en julle vertroue in ons projekte. Met julle hulp kyk ons met dankbaarheid terug oor ’n jaar waar ons, met julle hulp, ‘n groot verskil in Suid-Afrika kon maak. Òf dit nou ’n finansiële bydrae, die aanbied van ’n werkswinkel of bokse vol brille (of pille) vir Triomfkliniek was – baie, baie dankie! Ons wens julle ’n geseënde Kerstyd toe – mag julle tot rus kom, vrede vind en die spesiale tyd met familie en geliefdes geniet en geïnspireerd terugkom in 2018.
|
|
Triomfkliniek einde van die jaar partytjie
|
|
Hulp gevra vir Triomf se tandartsdienste
|
|
Dit bly maar ’n opdraande stryd om die tandarts-dienste waaraan die Triomfkliniek se pasiënte so ’n dringende behoefte het, aan die gang te kry, want tandheelkundige toerusting is duur. Die goeie nuus is dat ons reeds deur ’n weldoener-tandarts genader is wat sy hulp gratis wil beskikbaar stel. Ons gesels met dokter Gys de Necker van Johannesburg, oor die uitdagings, en hoekom hy sterk voel oor terugploeg in die gemeenskap.
Jou praktyk is in Johannesburg… Hoe het jy by die Triomfkliniek uitgekom?
Ons het praktyke in Melville, George en Century City in Kaapstad. Lizz Meiring is ’n pasiënt van my en het my gevra om betrokke te raak by die Triomfkliniek.
Ek weet sy was seremoniemeester by die onlangse Triomfkonsert om geld in te samel vir die kliniek.
En wat het jou laat besluit om betrokke te raak? Hoe gaan jy dit bewerkstellig?
Alles is nog nie gefinaliseer nie, maar ek sal heel waarskynlik beurte maak met ander tandartse om sessies te kan doen.
Wat is nog nodig by die kliniek voor jy operasioneel kan wees? Wat is jou raad om die Triomf tandekliniek behoorlik aan die gang te kry?
Daar is nog net ’n stoel, en voor mens pasiënte kan sien moet dit volledig toegerus word met materiaal, instrumente, ’n suierpomp en ’n kompressor.
|
|
Vorentoe kyk en harde werk… die geheim vir sukses
|
|
As die lewe vir jou ’n suurlemoen gee, is ’n wenner se benadering mos om limonade te maak, en hierdie eienskap is iets wat ons by so baie van ons beursstudente sien. Die 22-jarige Pretorianer Louis Janneke is een van hierdie vorentoe-kykers wat ondanks moeilike gesinsomstandighedes sy fokus op sy studies gehou het sodat hy pas sy B.Com Honneurs in Interne Ouditkunde by Tukkies verwerf het, en volgende jaar gaan inval by ons vennote PwC. Lees sy storie, en word geïnspireer!
Hoe het jou paadjie destyds met Atterbury s’n gekruis?
Na ’n onsuksesvolle aansoek om ’n studiebeurs by ’n ander instansie het ’n direkteur van daardie maatskappy my besonderhede aan die Atterbury-familie gegee. So het ek die wonderlike mense van Atterbury leer ken en saam ‘n pad begin stap.
Vertel ons van jou gesinsomstandighede – hoekom het jy aansoek gedoen vir ’n beurs?
In 2009 (op my verjaarsdag) was my pa in ’n motorongeluk waarin hy sy been verloor het. Weens die aard van sy beserings kon hy nie meer sy werkspligte ten volle nakom nie. Hy was baie depressief aangesien hy my held is en my nie meer kon ondersteun soos hy altyd het nie. Deur dié donker tyd het baie terugslae gebeur en omstandighede was nie altyd die beste nie.
Ek is van kleinsaf geleer om te werk vir dit wat jy wil hê. Dus het ek aanhou swot en altyd my akademie prioriteit gemaak. Ek het geweet as ek nie goeie resultate kry nie, sal ek nie ’n beurs kan kry om verder te swot nie omdat dit vir my familie nie finansieel moontlik was nie.
Hoe het jy op jou vakrigting besluit – was jy reeds as kind ’n syferkop?
Van kleinsaf het álles my geïnteresseer! Ek het altyd ‘n natuurlike aanvoeling vir syfers gehad en het aan die snaaksste maniere gedink om komplekse probleme op te los. Soos ek ouer geword het, het ek al hoe meer begin belangstel in die korporatiewe wêreld. Ek het ook fout in alles gevind (en my ouers grys hare daaroor gegee). Ek kon risiko’s ’n myl ver opspoor en finansies beter as die meeste mense verstaan. Dit het my keuse om ‘n B.Com-graad te gaan studeer makliker gemaak.
Aanvanklik wou ek ’n geoktroïeerde rekenmeester word, maar met leiding en hulp het ek besef dis nie my beskore nie. Ek het toe ingeskryf vir ‘n B.Com Finansiële Wetenskappe-graad waar ek aan Interne Ouditkunde blootgestel was. Ek het net daar geweet dit is wie ek is en die beroep wat vir my bestem is. Ná my aanvanklike graad het ek vanjaar die geleentheid gekry om my Honneurs in Interne Ouditkunde te voltooi.
|
|
(Spraak)terapie vir die siel
|
|
As mens dalk voel die toekoms van die land is bleek en grimmig, hoef jy nie verder as Atterbury se beursfamilie te kyk om weer van vooraf hoop te kry nie. Neem nou maar ’n student soos Liezel Coetzee, wat pas aan haar graad in Spraak-Taal en Gehoorterapie aan die Universiteit van Stellenbosch gecum het – die enigste een in haar klas! Die Vrystatertjie het boonop die prys as beste algehele finalejaarstudent in haar kursus gewen, en het ook die pryse vir beste akademiese én praktiese finalejaarstudent ingepalm. Volgende jaar gaan die gelukkige mense van Heilbron baat vind by haar entoesiasme terwyl sy haar gemeenskapsjaar daar deurbring. Wat ’n inspirasie.
Vertel ons bietjie van jou agtergrond…
My tuisdorp is ’n klein dorpie in die Oos-Vrystaat: Bethlehem, waar ek en my ouer boetie en sussie grootgeword het – ek is die laatlammetjie! My ma is ’n onderwyseres en sy het ons drie alleen grootgemaak nadat my pa oorlede is toe ek vier was. Dit was nie vir enige een van ons maklik nie, maar ons almal het sterker aan die ander kant uitgekom.
Baie geluk met al jou pryse, wat ’n slimkop! Waarop is jy die heel trotsste?
Baie dankie. Ek dink ek is die heel trotsste op die feit dat ek net my beste gegee het, en niks terug verwag het nie. Ek het regtig nie een van die pryse wat ek ontvang het, verwag nie! Ek het vir myself ’n reël gestel dat ek my persoonlike beste gaan gee tydens my studies. Die doel was nooit om vir onderskeidings te werk of om myself met ander studente te vergelyk nie. Dit was wel ’n baie lekker gevoel om te weet dat my harde werk beloon is.
Hoe het jou paadjie met dié van Atterbury Trust gekruis?
Ek was in die helfte van my eerste jaar toe my Afrikaans-onderwyseres van hoërskool my van Atterbury Trust se beursprogram vertel het. Ek het navorsing gedoen en besef dat ek moontlik ’n kandidaat kan wees. Ek is toe van 2015 (my tweede jaar) ’n beurshouer. Ek het soveel wonderlike mense ontmoet en werklik deel geword van die Atterbury-familie.
|
|
’n Belegging in opvoeding is ’n belegging in die toekoms
|
|
Atterbury se toewyding tot opvoeding is een van ons hartspunte, en dit begin by die betrokkenheid by behoeftige skole in ons onmiddelike omgewing. Laerskool Westerlig is al vir meer as 15 jaar onder ons vlerk. Ons gesels met die skoolhoof, Erich Cloete.
Wat behels Atterbury se betrokkenheid by Laerskool Westerlig, en hoe help dit die skool?
Atterbury gee ons al sedert 2002 finansiële en ander ondersteuning, en dit stel ons in staat om volhoubare onderwys in ’n uitdagende sosio-ekonomiese gebied te lewer wat ons andersins net nie sou kon doen nie. Ek weet dat Atterbury se waarde, oor generasies heen sigbaar sal wees.
Met julle hulp doen ons so baie – van akademiese en maatskaplike ondersteuning, tot daaglikse maaltye vir leerders uit gesinne wat nie altyd kos kan bekostig nie. Leerders word verwys na maatskaplike werkers, sielkundiges en spelterapeute om hulle emosionele seer gesond te maak en ons kan ook arbeidsterapie bekostig vir diégene wat akademies sukkel. Min van ons ouers het mediese fondse om dit self vir hul kinders te kan doen.
Kinders wie se ouers dit nie kan bekostig nie, kry skryfbehoeftes – ’n pen, potlood, gom en selfs plastiek om boeke mee oor te trek, is nie ’n gegewe nie. Kinders het dit nie en ons help waar ons kan.
Met Atterbury se finansiële hulp kan ons leesboeke en handboeke aankoop, dit help ons ook om ekstra personeel te bekostig. Ons personeel-toedeling van die onderwysdepartement is nie genoeg dat ons ’n onderwyser voor elke klas het nie. Onthou – ons word deur die onderwysdepartement gesien as een van die rykste skole! Dis helaas onwaar… ons omgewing en die ouers se finansiële vermoë word nie in ag geneem nie. Hier in Danville/Elandspoort/Phillip Nel Park – is baie van ons ouers werkloos en woon in Wendyhuise. Atterbury se ondersteuning aan ons skool is van onskatbare waarde. Dankie uit die diepte van ons hart…
’n Gemeenskap sê dankie.
Hoe lank is jy al skoolhoof hier, en wat het jy voorheen gedoen?
Ek was nog altyd in die onderwys; die afgelope 22 jaar in onderwysbestuur, en is van 1997 by hierdie skool. Toe ek as adjunkhoof hier begin het, wat dit nog Laerskool Danville. Ek het in 2002 skoolhoof geword en ons naam is in 2004 verander na Laerskool Westerlig. Die grootste deel van my onderwysloopbaan is dus gewy aan die opheffing van hierdie unieke en eiesoortige gemeenskap. Die afgelope 12 jaar het ons sterk gefokus op heelbrein onderwys, en werk nou saam met Dr Kobus Neethling, president van die Kreatiwiteitsvereniging in Suid-Afrika.
|
|
Twee legendes op een verhoog, een liefde vir ’n baie spesiale deel van die wêreld; in ’n totaal unieke uitvoering soos jy nog nooit beleef het nie… Dít is Karoo Suite, die breinkind van Coenie de Villiers en Deon Meyer, ’n ode aan die Karoo in woord en musiek. Atterbury is baie trots om hierdie “brokkie egte Suid-Afrikaanse vertelkuns”, soos Coenie dit noem, by die Atterbury Teater aan te gebied het. Dit was onmisbaar! Ons het by Coenie gaan hoor hoe dit alles bymekaar gekom het
Hoe het die idee agter Karoo Suite ontstaan; hoe het jy en Deon Meyer bymekaar uitgekom? En wat wou julle hiermee bereik?
Die KKNK het my gevra om ’n oorspronklike debuutwerk te skep. Ek en Deon ken mekaar baie jare lank, en ons het gedink dis ’n lekker geleentheid om iets nuuts aan te pak. Hy is ook die verteller op die verhoog, en het ’n wonderlike teks geskryf: dis basies stories uit die hart van die Karoo. Oorspronklik wou ons die musiek en struktuur baseer op Vivaldi se Vier Seisoene, maar Deon het gelag: hy meen daar is net twee seisoene in die Karoo, en dis vrek warm en vrek koud! Maar die stories uit die Karoo is natuurlik ’n ander saak …
As iemand jou vra, “Soos wat is Karoo Suite”, wat is jou antwoord?
Moeilik om te beantwoord: dis eintlik soos geen bestaande genre nie. Daar is Deon wat sy pragtige teks en stories self op die verhoog vertel, en onder die teks het ek musiek geskryf wat ons saam met die orkes uitvoer. Dan is daar Deon se pragtige fotografie wat die stuk toelig. Dus is die Karoo Suite eintlik ’n stukkie teater, ’n brokkie egte Suid-Afrikaanse verhaalkuns uit die pen van die wêreld se mees suksesvolle spanningsskrywer, mooi beelde uit die Karoo, en les bes hopelik musiek wat mense se hartsnare sal roer!
Waar kom die naam vandaan? Was dit van die begin af wat julle hierdie projek genoem het, of was daar inkarnasies?
Hy het dadelik sy sit gekry …
|
|
Kerstyd is geetyd
Dankie aan almal wat hierdie jaar 'n bydrae aan Atterbury Trust gemaak het. Ons is lief vir julle en waardeer julle ondersteuning opreg.
|
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
|
|
|
|