Atterbury Trust Nuusbrief
Augustus 2016
Facebook
Twitter
Google Plus
Webtuiste
E-pos

Juliemaand is Mandelamaand, en in hierdie maand raak ’n mens opnuut bewus van soveel behoeftes daarbuite, maar is ons ook dankbaar vir soveel areas waar Atterbury Trust reeds ’n impak maak. Ons is juis besig met meer as ’n 100 beursonderhoude om volgende jaar se nuwe beurshouers aan te wys.


Atterbury Trust spandeer 75% van ons jaarlikse begroting aan opvoeding en die amper 200 beurse van vanjaar asook die maandelikse hulp aan skole word hieruit befonds. Die ander 25% word vir kuns en kultuur en gemeenskapsprojekte aangewend. Atterbury Teater, projekte soos onder andere Boekejol en Filmrol, VivA, ons bydrae aan Afrikaans is Groot en Triomfkliniek word hieruit ondersteun.

Triomfkliniek is twee jaar oud hierdie maand en ons het groot planne om die kliniek binnekort te vergroot. Daarvoor het ons ongeveer R200 000 nodig. Ons doen ’n beroep op medewerkers wat ’n hart vir hierdie saak het om skenkings te maak om ons in staat te stel om die bestaande huis op die terrein in ekstra spreekkamers om te skakel. GrootFM 90.5 het reeds met ons hande gevat om fondse hiervoor te mobiliseer en ons is opgewonde om aan te kondig dat daar sopas ’n tandartsstoel van ’n anomieme skenker ontvang is! Nou is ons op soek na ’n tandarts wat bereid is om vrywillig vir een middag ’n maand by die kliniek te kom werk.
Goeie Nuus Vrydag Triomfkliniek, Die Groot Ontbyt 29 Julie 2016 op YouTube
Ek wil net baie dankie sê aan elkeen van julle wat deel gehad het aan vanjaar se Mandeladag by Booysens Beertjies. Of jy nou vroteier gespeel het, kindertjies rondgeswaai het, roomys geskep (en saamgeëet het), ’n finansiële bydrae gemaak het, naels geverf of net ’n oomblik by iemand stilgestaan en omgegee het. Dit was waarlik ’n oggend wat die Booysens Beertjies-kindertjies nie gou sal vergeet nie. Om van die juffrouens nie te praat nie – die Isa manikuur en handmassering was ’n groot bederf. Dan ook nog die splinternuwe skoene en geskenkpakkies vir die juffrouens!
 
’n Spesiale dankie aan Leonie, Karin en Louise wat al die reëlings getref het en die aankope gedoen het. Die roomys was ’n briljante idee en ons “Wakaberry ala Atterbury” was ’n wenner! Koue roomys met warm harte vol liefde uitgedeel, saam met Corlia se “tamatiesous”…
 
Dankie ook aan Isa Carstens se tweedejaars wat die juffrouens versorg het. Nog ’n groot dankie aan Lindie en Luane van GrootFM met die Cum-geskenkpakkies en Sparbewys. Ook vir Lindie se inspirerende boodskap en gebed vir die versorgers… ewigheidswaarde. Dankie ook aan Cotton Events en Twisted Toast vir hulle finansiële bydraes.
 
Ons gaan sorg dat die sandput binnekort vol sand gemaak word!
 
Madiba het gesê: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.” Dankie vir julle aandeel om dit ook in Booysens waar te maak!

Booysens Beertjies Mandeladag - yskoue roomys en warm harte!

Beurstyd, luistertyd, keurtyd…

Beurs-keurtyd is elke jaar een van die inspirerendste, maar ook van die mees emosionele tye by Atterbury Trust, wanneer net meer as ’n honderd hoopvolle studente, elkeen met sy of haar unieke roerende storie, in die raadsaal kom sit om die beurspaneel te ontmoet.

Vir die twee maande tussen wanneer die aansoeke op 30 Junie sluit, tot wanneer die lys vir 2017 einde Augustus gefinaliseer word, is daar bykans elke dag vier of vyf onderhoude met beurskandidate geskeduleer, vertel Zahn Hulme, Atterbury Trust se hoof uitvoerende trustee. En teen omtrent ’n uur per onderhoud, is dit goed honderd ure van luister na die drome en aspirasies van jongmense wat nie sonder hulp hul studiedrome sal kan waarmaak nie. “Dis nogal ’n emosionele ‘rollercoaster’, en laat mens besef hoe gelukkig jy is, en ook hoe groot die nood daarbuite is,” sê Zahn, wat self die meeste van die onderhoude lei, saam met kollegas Leonie du Preez, Karin Dercksen en Louise Viljoen.

Behalwe die hoofpaneel neem elkeen van die maatskappy se bykans 80 personeellede aan minstens een van die onderhoude deel, ’n tradisie wat volgens Zahn ’n belangrike aspek van die Atterburykultuur geword het. “Dit is iets waarop Louis (van der Watt, die medestigter) baie gesteld is – baie van ons het ook uit moeilike omstandighede gekom en ons is nou baie geseënd dat die maatskappy so suksesvol is… dis belangrik om altyd ons voete op die grond te hou en te onthou waar ons vandaan kom. Atterbury se belegging in en deelname aan ons gemeenskap is kern tot die maatskappy, en niemand wat hier werk moet dit ooit uit die oog verloor nie.”

Volgens Zahn gaan hul selfs verder en probeer sover moontlik dat die personeellede insit op ’n onderhoud met ’n beurskandidaat wie se studierigting ooreenstem met die personeellid se spesialisveld, om dit meer relevant te maak.

Lees volle storie

Nuwe begin by Isa Carstens

Die nuwe semester het vandeesweek met groot jolyt by die Isa Carstens Akademie Pretoria afgeskop, met die inlywing van die splinternuwe kampus wat Atterbury saam met Piet Jordaan van Monceros en Gerhard en Isabel Roos vir die akademie gebou het. Ons het met Isabel, die doyenne van die akademie, gepraat oor die nuwe begin.

Baie geluk met die nuwe kampus! Wat beteken dit vir jou dat Isa Carstens Akademie nou hierdie prominente nuwe posisie in Pretoria het?
Dit maak my baie trots! Ek het nie gedink dat dit moontlik was nie, maar soos Madiba gesê het, “It always seems impossible until it is done.”  Die Pretoriakampus was die natuurlike groei van die kampus en hoofkantoor in Stellenbosch wat al 38 jaar bestaan. Dit hou ons steeds nederig en maak ons versigtig opgewonde. Harde werk sal dit steeds bly.

Vertel ons hoe julle destyds by Atterbury uitgekom het?
Ons het vir Gerhard Jooste, deel van die destydse Atterbury Kaap, in 2001 ontmoet toe ons die koshuis op Stellenbosch beplan het. Hy het ons aan Atterbury bekend gestel waarna die groep saam met ons Stellenbosch se heel eerste privaatkoshuis gebou het. Sedert daardie jaar, 2004, het Lucille Louw op die direksie van die Stellenboschkoshuis gedien en daarvandaan het die besigheidsverhouding gegroei tot waar dit vandag is.

Wat dink jy van die nuwe kampus? Wat sou jou ma, die oorspronklike Isa Carstens en die stigter van die besigheid, hiervan gedink het?
Die nuwe kampus is wonderlik. Die beste is dat ons die klasse so kon ontwerp dat daar genoeg spasie is en baie lig. Die energie in die nuwe gebou is baie positief, dis ruim, die veiligheid van ons studente is goed en dit is boonop baie mooi ook. My ma sou beslis baie trots gewees het. Sy sou elke dag hier gewees het van vroegoggend tot laat saans, want sy het altyd gesê, “My work is my joy!”

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.

VarsGeBek se eerste wenners!

Dit was omtrent ’n kopkrappery om ’n weninskrywing uit bykans 700 juwele te kies. Eers is ’n kortlys opgestel, en toe het ’n paneel beoordelaars Lila Botha se inskrywing “jou kuite styf trek” as wenner aangewys. Hierdie uitdrukking beteken dat jy jou vir iets of iemand vererg. Stel jou byvoorbeeld ’n kind voor wat hom wip oor iets wat ’n ouer gesê het – kan jy al sien hoe lyk iemand wat sy kuite styftrek?

Krista Mare, ons ander wenner, het “hy kook nie sag nie” ingeskryf, ’n heerlike sêding uit Namakwaland, wat beteken hy is moeilik, ’n korrelkop.

Lila en Krista wen elkeen ’n Samsung Galaxy TAB
E-tablet ter waarde van R4 500.

In ons Kykgoedkategorie wil ons grafiese voorstellings van bestaande of nuwe woorde of idiome hê. Enigeen kan daaraan deelneem, maar vir ’n gelukkige graad 11- of 12-leerder is daar ’n studiebeurs, geborg deur Atterbury Trust, van R150 000 vir verdere studie in enige rigting aan enige tersiêre instelling in die land op die spel. Meer inligting is beskikbaar by varsgebek.org.

Rus in Vrede Iris Roscher


Dit was altyd vir Iris Roscher ’n hartsaak om pasiënte met deernis te behandel, veral diegene wat nie duur mediese dienste kon bekostig nie. Dit was tot ’n groot mate danksy haar dat die Triomfkliniek twee jaar gelede gestig is om juis vir Pretoria se behoeftiges “Uitnemende sorg met waardigheid” te verskaf. Ons neem vandeesweek met hartseer afskeid van hierdie wonderlike vrou, wat verlede naweek in die ouderdom van 84 oorlede is.

Iris Roscher het haar loopbaan aan die gesondheidsdienste gewy en was vroeër die direkteur van verpleegdienste van die Departement van Gesondheid en Welsyn, asook die president van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging. As die tante van Dr Marc Roscher, die dryfveer agter die stigting van Triomfkliniek, was sy van die begin af baie betrokke by die kliniek, en het gereeld ’n draai kom maak, of gebel om te hoor hoe dit gaan, vertel Adelene Boshoff, die klinieksuster by Triomf.

“Ek gaan haar regtig mis. Sy het so baie omgegee, en het altyd reggestaan om te help, of raad te gee, of ’n hand vas te hou as iemand bietjie bang was.”  Adelene vertel watter verrassing dit vir haar was toe sy in Oktober 2014 by Triomfkliniek begin werk het, om vir Iris raak te loop. “Sy was ons hoof toe ek destyds in die Sewentigerjare my verplegingsopleiding gedoen het, en omdat my pa hier in Pretoria ’n sjirurg was het hulle in baie dieselfde kringe beweeg. So toe ek en sy begin gesels het, het dit duidelik geraak dat ons so baie van dieselfde mense geken het. Dit was so lekker om haar weer te leer ken en al haar stories te hoor van haar verplegingsdae.”

Iris het gereeld kom kuier by die kliniek, en het elke week gebel om te hoor hoe dit gaan, en of daar enigiets was waarmee sy kon help, vertel Adelene. “En al was dit soveel jare sedert sy aktief in verpleegkunde gewerk het, het sy my geleer hoe om boek te hou van die statistieke van die kliniek, sodat ek aan die einde van elke maand ’n grafiek kon maak wat die werksaamheid en die groei aangedui het.”

Wanneer haar broerskind sy besige driemaandelikse dermatologieklinieke kom hou het, was Iris altyd byderhand om hande vas te hou as pasiënte bietjie bang was as moesietjies uitgesny is. “Sy het altyd gesorg dat daar ‘n teetjie en ‘n beskuitjie was, sy was ‘n regte vertrooster,” sê Adelene. Eerskomende Donderdag, wanneer Dr Marc sy volgende kliniek vir pasiënte met velkwale aanbied, gaan die leemte van Triomfkliniek se engel swaar gevoel word.

Boekjol en Filmrol 2016

17 tot 21 Augustus 2016, Atterburyteater

Verkope

Computicket-kantoor/Atterburyteater kantoor

Kaartjies verkoop kontant, Yoco/elektronies

012 4711700

Volle program

Ons  lief Atterbury Trust

Op Woensdag 20 Julie was ons by die kliniek met ons twee dogtertjies van vier en vyf jaar oud. Die kinders het tuisgevoel danksy die vriendelike ontvangs. Die dokter het hulle gemaklik behandel en hulle het geblom onder sy aandag.

Met die hulp van die dokter by Triomf kon die oorsaak van die kinders se mediese probleme vasgestel word sodat hulle behandeling kan kry en dan 'n normale lewe kan lei. Ons dank almal hartlik vir julle vriendelike diens. Die Cronjé-gesin 
Dankie vir al die bederf vir ons personeel by Booysens Beertjies deur Isa Carstens Akademie vir Mandeladag. Elke personeellid het so spesiaal gevoel. Dankie vir elkeen se geskenkie.  

Dankie dan ook vir ons kleuters se groot bederf met die roomys en magdom lekkergoed, en dat julle so lekker met hulle gespeel het terwyl die personeel bederf is. Bedank asseblief almal van Atterbury wat gehelp en bygedra het. Dit is altyd vir ons ‘n voorreg om julle hier te hê!
Weereens dankie.
Vriendelike groete
Elbet
Share
Tweet
+1
Forward
Kopiereg © 2016 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting