Atterbury Trust Nuusbrief
April/Mei 2019
Webtuiste
Facebook
Instagram
Twitter
E-pos

Ek was bevoorreg om die afgelope week my oudstse seun se gradeplegtigheid in Stellenbosch by te woon. Die gevoelens van absolute dankbaarheid, trots en tevredenheid was oorweldigend. Soos die graduandi een vir een die trappies na die verhoog opstap, kop omhoog en kap oor die arm; hulle naam uitgelees word en hul dan die kap om die skouers ontvang, wonder ’n mens onwillekeurig oor elke pas gegradueerde se storie. Wat het dit geneem om vanaand daar te staan – finansieel, emosioneel – watter struikelblokke moes elkeen van hulle oorkom?


Vandat my eie kinders begin studeer het, was ek nog dieper onder die indruk van watter geweldige voorreg dit is om die finansiële vermoë te hê om ’n mens se kind te laat leer. Ook tot watter mate ’n ouer sal opoffer om alles in plek te sit vir jou kind se studies. Van die uitrus van ’n koshuiskamer, sorg vir daardie ekstra lekkerny vir ’n altyd honger student tot reisreëlings as dit vakansietyd is. So ook het die hartseerverhale van baie voornemende beursstudente tydens Atterbury Trust se jaarlikse beursonderhoude my nog meer aangegryp.

Die oorgrote meerderheid van die Atterbury Trust beursstudente het, behalwe die druk op finansies, ook baie min emosionele ondersteuning weens ’n verskeidenheid van omstandighede. In baie gevalle is daar een of twee afwesige ouers, ’n pa of ma wat ernstig siek geword het, gesterf het; ouers wat self nie die verder kon studeer nie of ander tragiese gebeurtenisse – die lewe gebeur. Behalwe akademiese vermoë, is die een eienskap wat die deurslag gee in die onderhoud die vasberadenheid en veerkragtigheid van voornemende studente om een kans te kry om iewers te kom in die lewe.

’n Kans om ’n tersiêre kwalifikasie te behaal verander ’n kind se lewe. Ook die lewens van daardie gegradueerde se eie kinders. Vir altyd.

Dani Viljoen is een van die Atterbury Trust beursstudente wat in 2008 só ’n kans gekry het. Vandag is Dani ’n GR(SA) en suksesvolle entrepreneur. Dani verpersoonlik alles wat ons vir ’n Atterbury Trust beursstudent toewens. Lees sy inspirerende storie in hierdie Omgeenuus.

In nog ’n studentestorie stel ons Eltricia Swart bekend. Sy is ’n derdejaar BCom Bemarkingsbestuurstudent aan NWU, wat die gesogte Golden Key lidmaatskap verwerf het deur in die top 15% van haar vakrigting te presteer. Eltricia doen ook haar deel vir die breër studentegemeenskap as sekretaresse van die Golden Key organisasie in Potchefstroom.

As ’n eerste inisiatief om die opbrengs van die Karoo Suite boeke aan te wend, is ’n groep Karookinders uit Beaufort-Wes, Laingsburg en Murraysburg na Stellenbosch gebring vir die Woorde Open Wêrelde (WOW) bemagtigingsprojek van die Universiteit van Stellenbosch. Ons praat met Fiona van Kerwel, WOW-projekbestuurder, oor hierdie opwindende projek.

Atterbury Trust is sedert 2013 ’n trotse aandeelhouer in GrootFM 90.5. Hierdie gemeenskapsradiostasie, wat al oor die afgelope vyf en ’n half jaar ’n wesenlike impak in Pretoria, asook landswyd met GrootOntbyt, gemaak het, is pas aangewys as die grootste radiostasie in Pretoria met luistergetalle wat sedert die ontstaan in 2013 meer as vervyfdubbel het. Luané Janse van Rensburg vertel die suksesstorie van GrootFM – ’n stasie wat streef om ’n impak op ons omgewing te hê en luisteraars te inspireer met die verlossingskrag van Jesus Christus.

’n Laaste gedagte: “Dit is wat ons nou moet doen.” Regter Zondo se onlangse woorde tydens die Zondo-kommissie het by my vasgesteek: “Ons moet iets daaraan doen. Ons moet dit self doen, niemand gaan dit vir ons doen nie.” By Atterbury Trust doen ons al vir meer as 20 jaar iets vir opvoeding van minderbevoorregte Afrikaanse studente, die behoud van die kuns en kultuur en gesondheidsorg vir minderbevoorregte gemeenskappe.

Wat moet jý nou doen? Wat wíl jy nou doen? Waaroor voel jy passievol – genoeg om ’n verskil te wil maak?

Ons nooi jou uit om by een van ons Atterbury Trustprojekte betrokke te raak: as donateur by die Atterbury Trust, as mentor vir ’n student, as vrywillegermedikus by die Triomfkliniek?

Dis gewone mense soos ek en jy wat op grondvlak ’n verskil kan en moet maak. Laat weet ons wat jy wil doen en werk saam om geleenthede in Suid-Afrika meer te maak. Vir almal.

Dít is wat ons nou moet doen.
Van rekenmeester tot entrepreneur

Alumni soos Dani Viljoen is die rede hoekom dit so ’n plesier is om betrokke te wees by die Atterbury Trust se beursfonds. Hier is ’n jongman wat op 28 reeds sy merk maak en as geoktrooïeerde rekenmeester ’n onderneming begin het wat maatskappye help om hul opleidingsmetodiek te transformeer met nuwe tegnologieë.

Vertel ons bietjie van jou agtergrond en jou persoonlike omstandighede.
Ek het grootgeword op ’n plaas in die Groblersdal area, en het onlangs verhuis na Kloof in Kwa-Zulu Natal. Ek het in 2012 my Honneurs-graad in BCom Rekeningkundige Wetenskappe by Tukkies behaal, asook my Certificate in the Theory of Accounting of CTA.  Ek het my klerkskap in 2013 by KPMG begin en einde 2015 as GR(SA) geregistreer by SAICA.

Ek het ook in 2016 verder gestudeer en ’n diploma in Finansiële Beplanning verwerf, deur die Universiteit van Vrystaat.

Ek is getroud met my wonderlike vrou, Carolyn, ’n tandarts. Ons verwag ons eerste baba einde Mei. Ek is die jongste van drie broers, en my ma gee tans nog skool aan laerskoolkinders naby Marble Hall.

En waar bevind jy jou vandag professioneel?
My dagtaak draai tans rondom die bestuur van my besigheid (Insight Online, https://www.insightonline.solutions/. Ons help organisasies om hul tradisionele opleidings-model te transformeer na ’n digitale oplossing, met die hulp van online learning tegnologie, digitale inhoud-ontwikkeling en adviserende dienste. Ons help organisies ook met sake-analise, deur data te analiseer met analitiese hulpmiddels, waarmee ons kan insig gee in die organisasie se prosesse, beleide en sakemodel om sodoende beter sakebesluite te kan neem.

Ons hoor jy het die besigheid reeds gedurende jou klerkskap op die been gebring. Vertel ons meer daarvan?
Dit is korrek. Gedurende my eerste klerkskap jaar (2013), het ek aangebly by die universiteit om ’n akademiese klerkskapjaar te voltooi. Die geleentheid om aan die ander kant van die klas te staan en vir ’n groep van 600 studente klas te gee, het ‘n heeltemal ander tipe ervaring vir my oopgesluit. Dit is hier waar ek besef het dat daar soms ’n baie groot gaping is in die manier hoe studente leer, en wat hul op die ou einde van die dag verstaan. Hierdie gaping het ek en ’n paar kollegas, gesien as ’n geleentheid om ’n besigheid te begin waar ons werksplek-scenarios met animasies ontwikkel het en dit aan die universiteite begin verkoop het. Op daardie tydstip was die fokus meer op digitale inhoud, en nie so seer rondom die manier om dit by gebruikers uit te kry nie. Dit het my meer gelei na die wêreld van aanlyn leer (online learning), wat tot die ontstaan van die huidige besigheid gelei het. Ek het dus regdeur my klerkskap ’n side hustle gehad wat my baie besig gehou het, en wat my kop meer en meer in ’n entrepreneurskaprigting eerder as ’n korporatiewe loopbaan laat gaan het. Die interressante ervaring vir my is wel dat die twee hand-aan-hand loop. As ’n entrepreneur moet jy verstaan hoe korporatiewe mense dink en besluite neem, aangesien hul in baie gevalle op die ou end die kliënt is. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat vir my oopgegaan het om iets soos dié te ontwikkel terwyl ek ‘n vaste werk gehad het, aangesien ek kon leer en my foute maak terwyl ek die vastigheid van ‘n maandelikse salaris gehad het.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust se beursprogram uitgekom?
Onderwysers by my alma mater, Hoërskool Ben Viljoen, het te hore gekom van Atterbury se beursprogram, en het op grond van meriete en nood leerders genomineer om meer uit te vind van die geleentheid. Dit was ’n wonderwerk op daardie tydstip, en ’n aangename proses van begin tot einde (ek het destyds tydens my beursonderhoud in 2008 selfs met Johan Roets se handtekening daar weggestap, ‘n sport-rolmodel vir my in daardie dae).

Lees volle storie
Deure swaai oop vir minder-bevoorregte Karookinders

Woorde Open Wêrelde (WOW) is ’n bemagtigingsprojek van die Universiteit van Stellenbosch Woordfees, wat ’n verskeidenheid van kreatiewe programme insluit gerig op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste onder die jeug uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Vanjaar het Atterbury Trust ’n groep leerders uit die Karoo befonds om ook deel te hê aan hierdie wonderlike inisiatief. WOW-projekbestuurder Fiona van Kerwel vertel meer…

Hoe lank bestaan WOW reeds, en hoe het dit destyds ontstaan?
WOW is vanjaar 16 jaar oud. Dit het ontstaan as ʼn projek van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en onder die destydse leiding van Prof Dorothea van Zyl, met die oogmerke om leerders vanuit minderbevoorregte gebiede van boeke te voorsien, maar ook om ʼn bydrae te lewer tot die diversiteitsprofiel van die US.

Hoe het WOW en Atterbury Trust se paaie gekruis?
My kollega Leslie van Rooi het Zahn Hulme aan ons bekend gestel, en na ʼn gesprek of twee het ons samewerkingsmoontlikhede ondersoek, en kon reeds in 2019 ʼn groep studente vanaf Beaufort-Wes, Laingsburg en Murraysburg na Stellenbosch bring vir die jaarlikse WOW-dag vir Graad 12 leerders. Twee van hierdie leerders het reeds hul Graad 11 rapporte aangestuur en ons is in die proses om die ander leerders ook op te volg.

Wat is vandag die belangrikste aspek van die projek – waarop is julle die heel trotsste?

Ek dink dis die moontlikheid dat leerders van ʼn baie jong ouderdom reeds van die US as tersiêre inrigting bewus gemaak kan word, en dat hul dwarsdeur hul skoolloopbaan nog steeds hiervan bewus kan wees (juis as gevolg van ons verskeie projekte vir die skole). Sodra leerders Graad 11 en 12 bereik, raak ons sterk betrokke met ondersteuning om as US student aanvaar te word. Hierdie leerders wat uiteindelik ʼn Matie word, word tydens hul studiejare ook op ander terreine deur WOW ondersteun. Een van die grootste oomblikke vir ons is om hierdie eens skugtere WOW-leerders te sien ontwikkel in ʼn professioneel-gekwalifiseerde jongmens met soveel selfvertroue en hoop om ʼn beter toekoms vir hulself en hul gemeenskappe teweeg te bring.

Lees volle storie
Maak 'n bydrae: Stuur e-pos aan Zahn
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
Lesse en suksesse van GrootFM

Atterbury Trust is baie trots op ons mediavennoot GrootFM 90.5 wat pas aangewys is as die grootste Afrikaanse radiostasie in Pretoria. Ons het met bemarkingsbestuurder Luané Janse van Rensburg gesels oor die lesse en die suksesse van die afgelope vyf en ’n half jaar. 

Hoeveel groei was daar sedert die beginjare?
GrootFM 90.5 het in Augustus 2013 begin met 8 000 luisteraars en volgens die BRC RAM listenership Report (Jul-Des 2018) staan ons nou op 47 000 luisteraars. Ons Facebookblad het in dieselfde tydperk gegroei tot 51 401 likes met ’n 20 000 groei in likes vanaf Maart 2017 tot Maart 2018. Ons ervaar reële groei in die gebied waar ons uitsaai, en ons glo dat ons musiek en programme, sowel as ons gemeenskapsprojekte, verdere groei bewerkstellig. Daar is ongeveer 1,6 miljoen Afrikaanssprekendes in ons opvangsgebied, en dus is ’n doelwit van 150 000 luisteraars nie onrealisties nie. Ons reikwydte in die wyer Pretoria-gemeenskap is egter amper onmeetbaar as mens dink aan die aantal skole, gemeenskapsorganisasies en individue wat in die afgelope paar jaar besoek is tydens GrootFM projekte.

Hoe sien julle die rol van die gemeenskapsradio – wat is julle prioriteite, en hoe het dit verander oor die amper ses jaar van julle bestaan?
As gemeenskapsradiostasie wil ons die gemeenskap dien. Deur middel van ons gemeenskapsprojekte soos die JouMenseMyMense-inisiatief, HoopStoot en insette op radio soos Goeie Nuus Vrydag kry ons dit reg om dit wat in die gemeenskap gebeur, op die lug te weerspieël en andersom. As gemeenskapstasie is ons ’n vriend/vriendin vir so baie mense – die gemeenskap moet tuis voel in die stasie se teenwoordigheid… luisteraars moet voel hulle behoeftes word gehoor en aangespreek.

Wat is die gewildste program onder julle luisteraars, en watter soort inhoud vind julle lok die meeste luisteraars-reaksie uit?
Ons kan nie een program uitsonder nie – elkeen het sy eie unieke aanslag binne die breë raamwerk en visie van die radiostasie. Elke omroeper se individualiteit word behou, terwyl ons steeds daaraan werk om ’n eenvormige klank vir die radiostasie te bewerkstellig. Ons programme moedig luisteraars aan om saam te gesels en hulle opinies te lug. Ons poog met elke program wat ons uitsaai om dit waarvoor die stasie staan uit te leef, naamlik om impak op ons omgewing te hê en luisteraars te inspireer met die verlossingskrag van Jesus Christus. Ons programme bring hoop, te midde van onsekerheid en in onseker tye… ons wil graag ons luisteraars inspireer om self ’n verskil te maak in hulle omgewing. Ons dek kwessies wat op die gemeenskap van toepassing is – die positief en die negatief, binne die konteks van hoop! Ek moet sê, wanneer jy oor mense die kinders, diere of kinderdae gesels, lok dit altyd baie reaksie uit.

Lees volle storie
Bemarking is in haar bloed

Twintigjarige Eltricia Swart is vanjaar in haar derde jaar van BCom Bemarkingsbestuur by die Noord-Wes Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy het nie net ’n Golden Key  lidmaadskap verwerf deur haar uitstekende akademiese prestasie nie; sy is ook as die organisasie se sekretaresse aangewys op haar kampus. Ons het meer by hierdie presteerder gaan hoor.

Vertel ons hoe jy en die Atterbury Trust beursfonds bymekaar uitgekom het?
Een van my vriende, wat ook ’n beurshouer is, het my vertel van Atterbury Trust, net toe ek dit nodig gehad het. Almal het soms daardie hupstoot of bietjie hulp nodig om hul drome te bereik, en ek is dankbaar Atterbury Trust was daar vir my.

Waar het jy grootgeword en gematrikuleer? Vertel ons iets van jou familieomstandighede… het jy broers en susters wat dalk ook swot?
Ek is oorspronklik in Kimberley gebore, maar ons het in 2005 na Pretoria verhuis waar ons vir ’n paar jaar gebly het. Daarna het ons Warmbad toe getrek en ek het daar die laaste ses jaar van my skoolloopbaan voltooi. Ek het ’n fantastiese gesin, wat my altyd ondersteun in alles wat ek doen. My jonger suster is tans in Graad 11.

Hoe het jy op ’n BCom besluit – en is bemarking ’n vakgebied wat jou nog altyd geïnteresseer het, of wou jy iets anders word toe jy klein was?
Ek het nog altyd in die sakewêreld belanggestel. Ek het op BCom Bemarking besluit, omdat ek voel dat bemarking deel is van die hart van elke sake-onderneming en die wese van besigheid vasvang.

Is die studentelewe op Potch alles wat jy gedink het dit sal wees? Wat was vir jou die grootste aanpassing?
Ja, beslis. Ek geniet elke oomblik daarvan. Dit was ’n aanpassing om so ver van die huis af te wees, en om vir jouself te sorg, maar mens raak dit vinnig gewoond.

Wat geniet jy die meeste van jou kursus?
Ek geniet elke deel daarvan. Dit is ’n kursus wat handel oor ’n industrie wat dinamies is en gereeld verander; mens kan nie verveeld raak nie!

Lees volle storie
Ons  Atterbury Trust

Liewe Atterbury Trustspan

Ek heg met trots my suster Shauna-Lee Kahl se finalejaar eksamenresultate aan. Ek wil ook graag van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê aan Atterbury Trust.

Die pragtige resultate van Shauna is in ’n groot mate te danke aan die fenomenale ondersteuning en hulp wat ons van julle ontvang het. Wees verseker dat hierdie ‘n familie is wat dit nooit sal vergeet nie.

Ek wil spesifiek een aspek uitlig van Atterbury Trust se personeel wat vir my totaal uitgestaan het. Dit is die respek waarmee die personeel vir Shauna behandel het, maar dat dit ook nie net daar gebly het nie. By die funksies wat Shauna bygewoon het, is sy deur my moeder vergesel en sonder uitsondering het almal van die Trust by hierdie funksies ook aan my ma aandag gegee en haar met soveel respek behandel. Ek waardeer dit opreg.

Weer eens baie dankie aan elkeen van julle met wie ons oor die laaste paar jare kontak gehad het – dit was ’n voorreg.

Beste wense
Hein Kahl
Shauna-Lee Kahl
BEd (AROS) 2018
Izel Gouws
BEd (Unisa) 2018
Goeie dag Leonie en Atterburyspan,
 
Baie, baie dankie.

As dit nie vir julle en julle span was nie, was dit nie moontlik nie.

Baie dankie vir alles. Woorde kan nie die waardering in my hart beskryf nie.

Julle was en is steeds ’n groot steunpilaar vir my. Baie dankie vir al die ondersteuning.
 
Ek is dankbaar God het die Atterburyfamilie op my pad gestuur.
 
Groete
Izel Gouws
Ek wil julle almal daar by Atterbury Trust hartlik bedank vir al julle moeite en tyd en alles wat daarmee saamgaan, met dit wat julle vir my en baie ander studente doen en gedoen het.
 
Ek het gister my gradeplegtigheid gehad by Unisa, na baie lange jare het ek my graad en ek kan eerlikwaar sê dat sonder julle sou ek nie gister oor die podium kon loop nie. Daar is nie woorde wat ek kan gebruik om my dankbaarheid teenoor julle uit te spreek nie!
 
Dankie vir die pad wat julle saam my gestap het en ook dankie vir die pad wat ons nog verder mag saam stap. 
 
Met opregte dank
Monica van den Berg
B Ed (Unisa) 2018

Optog! – April program

Drie van die Bestes (Pretoria)
9 April
Atterbury Teater
Nataniël: Unplugged (Kuruman)
10 April
Laerskool Seodin
Drie van die Bestes (Roodepoort)
10 April
Roodepoort Theatre
Nataniël: Unplugged (Upington)
11 April
Upington High School
Drie van die Bestes (Witbank)
11 April
Roodepoort Theatre
Moedertaal: Sandra Prinsloo (Bloemfontein)
12 April
Wynand Mouton Theatre
 
Drie van die Bestes (Polokwane)
13 April
Pietersburg High School
 
Drie van die Bestes (Rustenburg)
14 April
Tarrentaal Teater
 
Kombi-Nasie (Hermanus)
16 April
Curro Hermanus
Kombi-Nasie (Hartenbos)
18 April
Skoffelskuur
Klik hier vir OPTOG! Mei program
Deel
Tweet
Stuur
Kopiereg © 2019 Atterbury Trust, Alle regte voorbehou.


Kanselleer intekening    Opdateer my inligting